Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 5/1 bl. 28-29
  • Werk God volgens “krom” weë?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Werk God volgens “krom” weë?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tyd om dinge reg te stel
  • Maak Jehovah jou vertroue
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Lyding
    Redenering uit die Skrif
  • Hoe liggaamsgebreke tot ’n einde gaan kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 5/1 bl. 28-29

Werk God volgens “krom” weë?

“DEUS ESCREVE CERTO POR LINHAS TORTAS” (“GOD SKRYF reg op krom lyne”) is ’n gesegde in Brasilië. Dit gee te kenne dat God altyd die regte ding doen, maar soms op ’n manier wat vir die mens krom lyk. Wanneer iemand byvoorbeeld in die fleur van sy lewe sterf, sê baie: ‘God het hom hemel toe geroep.’ As iemand ’n liggaamsgebrek het of met ’n tragedie te kampe het, sê party: ‘Dit is God se wil.’ Aangesien God dus vir die dood, fisiese probleme en ander oorsake van smart blameer word, impliseer sulke uitdrukkings dat God ‘krom skryf’, dat hy dinge op ’n manier doen wat die mens nie kan verstaan nie.

Waarom glo baie godsdienstige mense dat God verantwoordelik is vir die dood en ellende? Hierdie oortuigings is dikwels gegrond op ’n wanbegrip van sekere Bybeltekste. Kom ons kyk kortliks na ’n paar van hulle.

● “Wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?”—Exodus 4:11.

Beteken dit dat God die skuld moet dra vir almal wat aan verskillende gebreke ly? Nee. Dit sou nie ooreenstem met God se persoonlikheid nie. Die Bybel sê vir ons: “Elke skepping van God [is] voortreflik” (1 Timoteus 4:4). Dit is nie sy skuld as iemand blind, stom of doof gebore word nie. Hy wil net goeie dinge vir sy skepping hê, want hy is die Bron van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”.—Jakobus 1:17.

Dit was ons eerste ouers, Adam en Eva, wat uit vrye wil teen God in opstand gekom het en hulle volmaaktheid verloor het en derhalwe ook hulle vermoë om volmaakte kinders voort te bring (Genesis 3:1-6, 16, 19; Job 14:4). Namate hulle nakomelinge getrou en kinders gehad het, het al hoe meer onvolmaakthede, waaronder gebreke, onder mense begin voorkom. Hoewel Jehovah God dit nie veroorsaak het nie, het hy toegelaat dat dit gebeur. Hy kon dus van homself praat as die een wat stom, doof en blind “maak”.

● “Wat krom is, kan nie reguit word nie.”—Prediker 1:15.

Was dit God wat dinge krom gemaak het? Natuurlik nie. Prediker 7:29 sê: “God [het] die mens reg gemaak . . . , maar hulle het baie slim planne gesoek.” Die Contemporary English Version parafraseer hierdie vers só: “Ons was heeltemal eerlik toe God ons geskep het, maar nou het ons ’n verdraaide verstand.” In plaas van by God se regverdige standaarde te bly, het mans en vroue meestal opsetlik gekies om hulle eie planne, voornemens, oogmerke of weë te volg—tot hulle nadeel.—1 Timoteus 2:14.

Daarbenewens, het die apostel Paulus gesê, ‘is die skepping aan nietigheid onderwerp’ weens die mensdom se sonde (Romeine 8:20). En hierdie situasie kan nie deur mensepogings “reguit word nie”. Alle kromheid en nietigheid in die aardse aangeleenthede sal net deur Goddelike ingryping verwyder word.

● “Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?”—Prediker 7:13.

Koning Salomo vra met ander woorde: ‘Wie onder die mense kan die gebreke en onvolmaakthede regmaak wat God toelaat?’ Niemand nie, want daar is ’n rede waarom Jehovah God toelaat dat hierdie dinge gebeur.

Salomo raai ons dus aan: “Betoon jou op ’n goeie dag in goedheid, en sien op ’n rampspoedige dag dat die ware God ook dié presies soos daardie gemaak het, met die bedoeling dat die mensdom hoegenaamd niks ná hulle sal ontdek nie.” (Prediker 7:14, NW). ’n Persoon moet ’n dag waardeer wanneer dinge goed gaan en sy waardering toon deur goedheid aan die dag te lê. Hy moet ’n goeie dag as ’n gawe van God beskou. Maar gestel die dag bring teëspoed. Dit is goed as ’n persoon “sien”, dit wil sê besef, dat God toegelaat het dat die rampspoed plaasvind. Waarom het hy dit gedoen? Salomo sê: “Met die bedoeling dat die mensdom hoegeraamd niks ná hulle sal ontdek nie.” Wat beteken dit?

Die feit dat God toelaat dat ons vreugdes sowel as moeilikhede ondervind, herinner ons daaraan dat ons nie weet wat die toekoms inhou nie. Teëspoed kan die regverdiges sowel as die goddelose tref. Daar is geen uitsonderings nie. Dit moet ons laat besef hoe belangrik dit is om nie op onsself te vertrou nie, maar op God, en om te onthou dat ‘God liefde is’ (1 Johannes 4:8). Hoewel daar sekere dinge is wat ons nou dalk nie verstaan nie, kan ons seker wees dat ons, ná alles volbring is, sal kan sien dat wat God toegelaat het vir almal se beswil was.

Wat hy ook al toelaat, sal nooit ewige leed vir regskapenes tot gevolg hê nie. Die apostel Petrus het dit duidelik getoon toe hy kommentaar gelewer het oor die lyding wat medegelowiges in sy tyd moes verduur: “Nadat julle ’n klein rukkie gely het, sal die God van alle onverdiende goedhartigheid, wat julle geroep het tot sy ewige heerlikheid in eenheid met Christus, self julle opleiding voltooi; hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.”—1 Petrus 5:10.

’n Tyd om dinge reg te stel

Jehovah gee ons die krag om ons huidige beproewinge te verduur. Hy belowe ook om “alles nuut” te maak (Openbaring 21:5). Ja, dit is sy voorneme dat sy hemelse Koninkryk binnekort diegene wat gebreke het, gesond sal maak en toesig sal hou oor die opstanding van die dooies. Daardie regering sal ook die een vernietig wie se weë inderdaad krom is—Satan die Duiwel (Johannes 5:28, 29; Romeine 16:20; 1 Korintiërs 15:26; 2 Petrus 3:13). Watter seëning sal dit tog wees vir godvresende mense regoor die aarde wanneer God se tyd aanbreek om dinge reg te stel!

[Foto-erkenning op bladsy 28]

Job hoor van al sy teëspoed/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel