Darius—’n Koning met ’n sin vir geregtigheid
’N BEROEMDE koning het eenkeer oor die bouprojekte wat hy onderneem het, gespog: “Met die verskansing van Babilon het ek aan die oostekant ’n sterk muur as skans opgerig. Ek het ’n grag gegrawe . . . Ek het met asfalt en stene ’n kolossale muur gebou wat, soos ’n berg, nie beweeg kon word nie.” Ja, die Babiloniese koning Nebukadnesar het ’n uitgebreide bouprogram onderneem en hard gewerk om die hoofstad van sy ryk te versterk. Maar die stad Babilon was op die ou end nie so onverowerbaar as wat hy gedink het nie.
Op 5 Oktober 539 v.G.J is hierdie feit bewys. Saam met die leër van Medië het die Persiese heerser Kores II Babilon toe verower en sy Galdese heerser, Belsasar, om die lewe gebring. Wie sou nou die eerste heerser van hierdie pas verowerde stad word? God se profeet Daniël, wat in die stad was toe dit geval het, het geskryf: “Darius, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.”—Daniël 5:30–6:1.
Wie was Darius? Watter soort heerser was hy? Hoe het hy die profeet Daniël, wat meer as 70 jaar in ballingskap in Babilon was, behandel?
’N KONING MET ’N VAE GESKIEDENIS
Die geskiedkundige inligting oor Darius die Meder is vaag. Die Meders het feitlik geen geskrewe verslae agtergelaat nie. Daarbenewens bied die honderdduisende spykerskriftablette wat in die Midde-Ooste opgegrawe is ’n onvolledige geskiedenis met baie leemtes. Nie veel ander antieke sekulêre geskrifte het behoue gebly nie, en hulle dateer uit ’n eeu of meer ná die gebeure waarby Darius betrokke was.
Getuienis dui nietemin daarop dat die Persiese heerser Kores II in staat was om die Meders se lojaliteit te wen nadat hy Ekbatana, die hoofstad van Medië, ingeneem het. Daarna het die Meders en Perse verenig onder sy leierskap geveg. Die skrywer Robert Collins sê in sy boek The Medes and Persians aangaande hulle verhouding: “In vredestyd was die Meders op gelyke voet met die Perse. Hulle het dikwels hoë regeringsposte en hoë range in die Persiese leër beklee. Vreemdelinge het na die Meders en Perse verwys sonder om ’n onderskeid te tref tussen verowerde en veroweraar.” Medië het dus met Persië saamgesmelt om die Medo-Persiese Ryk te vorm.—Daniël 5:28; 8:3, 4, 20.
Die Meders het beslis ’n vername rol in die verowering van Babilon gespeel. Die Skrif sê dat “Darius, die seun van Ahasveros, uit die geslag van die Meders” die eerste koning was van die Medo-Persiese Ryk wat oor Babilon geheers het (Daniël 9:1). Sy koninklike mag het die gesag ingesluit om verbooie vas te stel wat “volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is” (Daniël 6:9). Wat die Bybel omtrent Darius sê, gee ons ook ’n kykie in sy persoonlikheid, asook ’n kragtige rede vir die gebrek aan sekulêre inligting oor hom.
DANIËL WORD BEGUNSTIG
Kort nadat Darius aan die bewind gekom het in Babilon, het hy “honderd-en-twintig landvoogde [aangestel] wat in die hele koninkryk sou wees”, sê die Bybel, “en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was” (Daniël 6:2, 3). Die ander ministers was egter baie ontsteld oor Daniël se hoë posisie. Sy beginselvastheid het ongetwyfeld korrupsie beperk, wat waarskynlik daartoe gelei het dat die ander ministers ’n wrok teen hom gekoester het. Die ministers moes ook jaloers gewees het, want die koning het Daniël begunstig en dit oorweeg om hom eerste minister te maak.
Die twee ministers en die landvoogde het ’n wetlike strik gestel in die hoop dat dit ’n einde aan hierdie situasie sou maak. Hulle het voor die koning verskyn en ’n verordening vir sy goedkeuring voorgelê wat bepaal het dat niemand gedurende 30 dae “’n versoek . . . aan enige god of mens” buiten Darius mag rig nie. Hulle het voorgestel dat enige oortreder in die leeukuil gegooi moes word. Darius is wys gemaak dat so ’n verordening die steun van al die hooggeplaaste regeringsamptenare sou geniet, en die voorstel het soos ’n blyk van hulle lojaliteit aan die koning gelyk.—Daniël 6:2-4, 7-9.
Darius het die verordening onderteken en gou voor die gevolge daarvan te staan gekom. Daniël het die eerste oortreder van die verordening geword, aangesien hy voortgegaan het om tot Jehovah God te bid. (Vergelyk Handelinge 5:29.) Die getroue Daniël is in die leeukuil gegooi ondanks die koning se opregte pogings om die onveranderlike verbod te omseil. Darius het die vertroue uitgespreek dat Daniël se God die mag het om die profeet te verlos.—Daniël 6:10-18.
Ná ’n slapelose nag waartydens Darius gevas het, het hy hom na die leeukuil toe gehaas. Hoe bly was hy tog om Daniël lewend en sonder ’n letsel daar te vind! As vergeldende beregting het die koning dadelik Daniël se aanklaers en hulle gesinne in die leeukuil laat gooi. Hy het ook ’n bevel uitgereik dat mense ‘in die hele magsgebied van sy koninkryk moes bewe en sidder voor die God van Daniël’.—Daniël 6:19-28.
Dit is duidelik dat Darius Daniël se God en godsdiens gerespekteer het en graag die onreg wou reg stel. Tog moes die feit dat hy Daniël se aanklaers gestraf het die oorblywende amptenare se vyandigheid tot gevolg gehad het. Daarbenewens moes Darius se bevel dat almal in die koninkryk ‘voor die God van Daniël moes sidder’ die magtige Babiloniese geestelikes baie gegrief het. Aangesien die skrifgeleerdes ongetwyfeld deur hierdie faktore beïnvloed is, sal dit nie snaaks wees as sekulêre verslae verander is om getuienis aangaande Darius uit te wis nie. Die kort verslag in die boek Daniël beeld Darius egter uit as ’n heerser met ’n sin vir regverdigheid en geregtigheid.