Hoe engele jou kan help
GOD se Woord bevestig die bestaan van engele. Dit sê vir ons dat daar miljoene van hierdie geesskepsele is. Jehovah God se kneg Daniël het ’n visioen van hemelse dinge gehad waaroor hy geskryf het: “Duisend maal duisende het [God] gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan.”—Daniël 7:10.
Let op dat Daniël nie net vir ons sê dat daar baie engele is nie. Hy toon ook dat engele God dien. Hulle is sy knegte. In ooreenstemming hiermee het die psalmis gesing: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!”—Psalm 103:20, 21.
Die Bybel verduidelik ook dat engele nie hulle lewe as mense op die aarde begin het nie. Jehovah het engele in die hemel geskep selfs voordat hy die aarde geskep het. Toe God ‘die aarde gegrond het, het al die engeleseuns van God gejuig’.—Job 38:4-7.
Engele is geesskepsele—onsigbaar, kragtig, intelligent. In die Bybel word die Hebreeuse woord mal·ʼakhʹ en die Griekse term agʹge·los as “engel” vertaal wanneer dit na ’n geesskepsel verwys. Hierdie woorde kom byna 400 keer in die Bybel voor. Albei het dieselfde betekenis, naamlik “boodskapper”.
Ontmoetings met engele
Engele is beslis boodskappers. Jy is moontlik vertroud met die Bybelverslag oor die tyd toe die engel Gabriël aan Maria verskyn het. Hy het vir haar gesê dat sy ’n seun sou hê, al was sy ’n maagd, en dat sy hom Jesus moes noem (Lukas 1:26-33). ’n Engel het ook aan ’n klompie herders verskyn wat in die veld was. Hy het aangekondig: “Daar is vandag vir julle in die stad van Dawid ’n Redder gebore, wat Christus die Here is” (Lukas 2:8-11). Engele het insgelyks boodskappe gebring aan Hagar, Abraham, Lot, Jakob, Moses, Gideon, Jesus en ander wat in die Bybel genoem word.—Genesis 16:7-12; 18:1-5, 10; 19:1-3; 32:24-30; Exodus 3:1, 2; Rigters 6:11-22; Lukas 22:39-43; Hebreërs 13:2.
Dit is opmerkenswaardig dat al hierdie boodskappe wat deur engele gebring is in ooreenstemming met die uitvoering van God se voornemens was en nie noodwendig met dié van die betrokke mense nie. Engele het as verteenwoordigers van God verskyn, volgens sy wil en tydrooster. Mense het hulle nie ontbied nie.
Moet ons ons tot engele wend om hulp?
Is dit gepas om ons in tye van nood tot engele te wend? Indien wel, sal ons wil weet wat die naam is van ’n engel wat aan ons die beste hulp kan verleen. Gevolglik gee party boeke wat te koop is ’n lys met die sogenaamde name van baie engele, tesame met hulle rang, titels en pligte. Een boek het ’n lys wat die “hemelse toptien” genoem word, die “bekendste engele in die Westerse wêreld”. Saam met die lys kom die advies om jou oë toe te maak, die engel se naam ’n paar keer stadig te herhaal, diep en stadig asem te haal, en “jou dan gereed te hou vir moontlike kontak met hulle”.
Daarenteen gee die Bybel die name van slegs twee van God se getroue engele, Migael en Gabriël (Daniël 12:1; Lukas 1:26). Die rede waarom hierdie name gegee is, was moontlik om te toon dat elke engel ’n unieke geespersoon met ’n naam is, nie bloot die een of ander onpersoonlike energie of krag nie.
Dit is merkwaardig dat party engele geweier het om hulle name aan mense bekend te maak. Toe Jakob ’n engel gevra het om sy naam bekend te maak, wou hy dit nie doen nie (Genesis 32:29). Toe ’n engel wat Josua genader het, gevra is om homself te identifiseer, het hy bloot gesê dat hy die “leërowerste van die HERE” is (Josua 5:14). Toe Simson se ouers ’n engel gevra het wat sy naam is, het hy gesê: “Presies waarom sou jy na my naam vra, terwyl dit ’n wonderlike naam is?” (Rigters 13:17, 18, NW). Deur nie ’n lys met die name van die engele te gee nie, beskerm die Bybel ons sodat ons engele nie vereer of aanbid nie. Soos ons sal sien, sê dit ook nie vir ons om hulle aan te roep nie.
Roep God aan
Die Bybel sê vir ons alles wat ons nodig het om te weet oor die geesteryk. Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig . . . sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). As God wou hê dat ons moes weet wat die name van verskeie engele is, sou hy dit in sy Woord, die Bybel, geopenbaar het. En as God vir ons instruksies wou gee oor hoe om met engele in aanraking te kom en in gebed met hulle te praat, sou hy sulke inligting in die Skrif voorsien het.
In plaas daarvan het Jesus Christus ons geleer: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader wat in die geheim is . . . Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word’” (Matteus 6:6, 9). Die skriftuurlike beskouing is: Ons moet nie engele aanroep of tot hulle bid nie, maar ons moet die Skepper van die engele, God self, biddend nader. Sy naam is nie ’n geheim nie, en dit is nie nodig vir ’n siener om dit te openbaar nie. Hoewel pogings aangewend is om die Goddelike naam ’n verborgenheid te maak, verskyn dit meer as 7000 keer in die Bybel. Dit was byvoorbeeld met verwysing na die hemelse Vader wat die psalmis gesing het: “U‚ wie se naam Jehovah is‚ u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.”—Psalm 83:18, NW.
Jehovah is nooit te besig om na ons te luister as ons hom behoorlik in gebed nader nie. Die Bybel gee hierdie versekering: “Die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.”—2 Kronieke 16:9.
Engele en sedes
In teenstelling met wat dikwels in die media uitgebeeld word, oordeel engele mense nie. Dit sal nie gepas wees nie, want engele het nie die gesag ontvang om mense te oordeel nie. Jehovah is “die Regter van almal”, hoewel ‘hy die hele oordeel aan die Seun, Jesus Christus, toevertrou het’ (Hebreërs 12:23; Johannes 5:22). Dit sal nietemin ’n fout wees om aan te neem dat engele nie omgee hoe ons ons lewens lei nie. Jesus het gesê: “Daar [ontstaan] vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het.”—Lukas 15:10.
Engele is egter nie bloot toeskouers nie. In die verlede het hulle as skerpregters gedien, wat God se oordele voltrek het. God het byvoorbeeld engele teen die eertydse Egiptenare gebruik. Volgens Psalm 78:49 “het [hy] die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, ’n uitsending van ongeluksbodes [“engele wat rampspoed bring”, NW]”. Die Bybel sê eweneens dat een engel in een nag 185 000 Assiriese soldate doodgemaak het.—2 Konings 19:35.
In die toekoms sal engele insgelyks diegene vernietig wat die welsyn van ander bedreig deur te weier om volgens God se regverdige standaarde te lewe. Jesus sal “met sy kragtige engele in ’n vlammende vuur [kom], wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie”.—2 Tessalonisense 1:7, 8.
Die Skrif toon derhalwe dat God se getroue engele altyd sy wil doen deur sy instruksies uit te voer en sy regverdige standaarde te handhaaf. Dit is dus duidelik dat ons moet weet wat God se wil is en opreg moet probeer om dit te doen as ons wil hê dat God se engele ons moet help.
Beskermengele
Gee engele vir mense om en beskerm hulle hulle? Die apostel Paulus het gevra: “Is hulle [engele] nie almal geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf nie?” (Hebreërs 1:14). Die antwoord op Paulus se vraag is beslis ja.
Omdat hulle geweier het om neer te buig voor ’n goue beeld wat deur die Babiloniese koning Nebukadnesar opgerig is, is die drie Hebreërs Sadrag, Mesag en Abednego in ’n vuurwarm oond gegooi. Daardie getroue knegte van God het egter ongeskonde uit die vuur gekom. Toe die koning in die oond inkyk, het hy “vier manne” gesien en gesê dat “die voorkoms van die vierde lyk soos die van ’n godeseun” (Daniël 3:25). ’n Paar jaar later was Daniël in ’n leeukuil as gevolg van sy getrouheid. Hy het ook ongedeerd daarvan afgekom en gesê: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit.”—Daniël 6:23.
Met die stigting van die gemeente van Christus se volgelinge in die eerste eeu G.J. het engele weer verskyn en die apostels uit die gevangenis bevry (Handelinge 5:17-24; 12:6-12). En toe Paulus se lewe op see in gevaar was, het ’n engel hom verseker dat hy veilig in Rome sou aankom.—Handelinge 27:13-24.
Hedendaagse knegte van Jehovah God is volkome oortuig dat God se onsigbare engelemagte werklik bestaan en ons kan beskerm, net soos hulle Elisa en sy dienaar beskerm het (2 Konings 6:15-17). Trouens, “die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit”.—Psalm 34:8; 91:11.
Die boodskap wat engele dra
Hoewel die engele besorg is oor die welsyn van diegene wat Jehovah God dien, sien hulle ook toe dat mense aangaande hom en sy voornemens leer. Die apostel Johannes het geskryf: “Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid.’”—Openbaring 14:6, 7.
Wil jy weet wat hierdie “ewige goeie nuus” is? Indien wel, vra Jehovah se Getuies. Hulle sal jou met graagte vertel.
[Prente op bladsy 7]
’n Engel in die middel van die hemel maak ewige goeie nuus bekend. Wil jy uitvind wat dit is?