Hulle het Jehovah se wil gedoen
Daniël het God met standvastigheid gedien
DIT gebeur selde dat die loop van die geskiedenis oornag verander. Tog het dit in 539 v.G.J. gebeur toe die Babiloniese Ryk binne ure deur die Meders en die Perse omvergewerp is. Teen daardie jaar het Jehovah se profeet Daniël byna 80 jaar as ’n Joodse balling in Babilon gewoon. Daniël, wat waarskynlik in sy negentigerjare was, sou kort voor lank voor een van die grootste toetse van sy onkreukbaarheid teenoor God te staan kom.
Net ná Babilon se val het dit blykbaar goed gegaan met Daniël. Die nuwe koning was Darius die Meder, ’n 62-jarige man wat Daniël gunstiggesind was. Een van die eerste dinge wat Darius as koning gedoen het, was om 120 satrape aan te stel en om drie manne tot die rang van minister te verhoog.a Daniël was een van daardie drie begunstigde manne. Darius het besef dat Daniël uitsonderlike potensiaal het en was selfs van plan om hom die posisie van eerste minister te gee! Net toe het iets egter gebeur wat die koning se planne onverwags verander het.
’n Slinkse plan
Daniël se medeministers, vergesel deur ’n groot groep satrape, het die koning met ’n aanloklike idee genader. Hulle het Darius gevra om ’n wet te maak wat bepaal het dat “elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word” (Daniël 6:8). Dit het miskien vir Darius gelyk of hierdie manne hulle lojaliteit aan hom betuig. Hy het dalk ook geredeneer dat hierdie wet hom, as ’n uitlander, sou help om sy posisie as hoof van die ryk te versterk.
Die ministers en die satrape het egter nie hierdie verordening om die koning se onthalwe voorgestel nie. Hulle het “gesoek om ’n grond vir ’n aanklag teen Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie”. Hierdie slinkse manne het dus geredeneer: “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Daniël 6:5, 6). Omdat hulle geweet het dat Daniël elke dag tot Jehovah bid, het hulle dit ’n halsmisdaad probeer maak.
Die ministers en die satrape was Daniël moontlik vyandiggesind aangesien hy “bo [hulle] uitgemunt [het], omdat ’n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel” (Daniël 6:4). Daniël se eerlikheid was moontlik ’n onwelkome hindernis in die weg van korrupsie en omkopery. Hoe dit ook al sy, hierdie manne het die koning oorgehaal om die verordening te onderteken, wat dit deel gemaak het van “die onveranderlike wet van Meders en Perse [wat] onherroeplik is”.—Daniël 6:9, 10.
Daniël bly standvastig
Het Daniël opgehou om tot Jehovah te bid nadat hy van die nuwe wet te wete gekom het? Hoegenaamd nie! Hy het in die bo-kamer van sy huis gekniel en drie keer per dag tot God gebid, “net soos hy tevore gedoen het” (Daniël 6:11). Terwyl hy gebid het, het sy vyande “aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek” (Daniël 6:12). Toe hulle die saak onder die koning se aandag bring, was Darius ontsteld dat die wet wat hy onderteken het Daniël geïnkrimineer het. “Tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red”, deel die verslag ons mee. Maar selfs die koning kon nie die wet herroep wat hy uitgevaardig het nie. Daniël is dus na die leeukuil geneem, blykbaar ’n versonke of ondergrondse plek. “Jou God wat jy met standvastigheid dien, hy self sal jou red”, het die koning Daniël verseker.—Daniël 6:12-16, NW.
Nadat Darius die nag slapeloos deurgebring en gevas het, het hy hom na die kuil gehaas. Daniël was lewend en ongedeerd! Die koning het onmiddellik opgetree. Hy het Daniël se vyande en hulle gesinne as vergelding in die leeukuil laat gooi. Darius het dit ook in die hele ryk bekend laat maak dat mense “in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël”.—Daniël 6:18-28.
Les vir ons
Daniël was ’n goeie voorbeeld van getrouheid. Selfs die koning, wat nie ’n aanbidder van Jehovah was nie, het opgelet dat Daniël Hom “met standvastigheid” gedien het (Daniël 6:16, 20, NW). Die Aramese grondwoord wat met “standvastigheid” vertaal word, beteken in wese om “in ’n sirkel te beweeg”. Dit dui op onafgebrokenheid. Hoe goed beskryf dit tog nie Daniël se ononderbroke onkreukbaarheid teenoor Jehovah nie!
Daniël het lank voordat hy in die leeukuil gegooi is ’n patroon van standvastigheid ontwikkel. As ’n jong gevangene in Babilon het hy geweier om kos of drank in te neem wat deur die Mosaïese Wet verbied is of deur heidense rituele verontreinig is (Daniël 1:8). Later het hy God se boodskap met vrymoedigheid aan die Babiloniese koning Nebukadnesar bekend gemaak (Daniël 4:19-25). Daniël het ure voor Babilon se val God se oordeel onbevrees aan koning Belsasar meegedeel (Daniël 5:22-28). Toe Daniël dus in die leeukuil gegooi sou word, het hy volhard in die getroue weg wat hy bewandel het.
Jy kan ook Jehovah met standvastigheid dien. Is jy ’n jong persoon? Doen dan nou reeds stappe om ’n patroon van standvastigheid te ontwikkel deur hierdie wêreld se slegte omgang en verderflike gedrag te verwerp. As jy God al ’n tyd lank dien, moet jy ’n patroon van getroue volharding handhaaf. Moenie tou opgooi nie, want elke beproewing waarvoor ons te staan kom, gee ons ’n geleentheid om aan Jehovah te toon dat ons vasbeslote is om hom met standvastigheid te dien.—Filippense 4:11-13.
[Voetnoot]
a Die woord “satraap” (wat letterlik “beskermer van die Koninkryk” beteken) verwys na ’n goewerneur wat deur die Persiese koning aangestel is om as die vernaamste vors oor ’n regsgebied te dien. As ’n amptelike verteenwoordiger van die koning was hy daarvoor verantwoordelik om belastings in te vorder en die skatting na die koninklike hof te stuur.