Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/15 bl. 28-31
  • ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Geïnspireerde vertaling?
  • Jafet in die tente van Sem?
  • Proseliete en godvresers
  • Die Septuagint het gehelp om die weg te berei
  • Die Septuagint verloor sy “inspirasie”
  • Die “Septuagint”—Destyds en vandag nuttig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Vroeë Christene in die Griekse wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hebreeus en Grieks—Moet jy dit leer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/15 bl. 28-31

’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het

Toe God se profeet Moses die Bybel sowat 3500 jaar gelede begin skryf het, kon net een klein volkie dit lees (Deuteronomium 7:7). Dit was die geval omdat die Skrif net in daardie volk se oorspronklike Hebreeuse taal beskikbaar was. Die situasie sou egter mettertyd verander.

DIE verspreiding van die Bybel se boodskap en die positiewe invloed wat dit deur die eeue heen gehad het, is in groot mate te danke aan die eerste vertaling daarvan—die Septuagint. Waarom is dit gedoen? En kan daar tereg gesê word dat dit ’n Bybel is wat die wêreld verander het?

’n Geïnspireerde vertaling?

Baie Jode het, ná hulle ballingskap in Babilon gedurende die sewende en sesde eeue v.G.J., nie na die land van eertydse Israel en Juda teruggekeer nie. Vir die Jode wat in ballingskap gebore is, het Hebreeus ’n tweede taal geword. Teen die derde eeu v.G.J. was daar ’n Joodse gemeenskap in Aleksandrië, Egipte—’n vername kultuursentrum van die Griekse Ryk. Daardie Jode het die waarde daarvan gesien om die Heilige Geskrifte in Grieks te vertaal, wat toe hulle moedertaal was.

Tot en met daardie tyd is die Bybel se geïnspireerde boodskap in Hebreeus opgeteken, met klein dele in Aramees wat nou verwant daaraan is. Sou die kragtige uitwerking van Goddelike inspirasie verminder word as die Woord van God in ’n ander taal vertaal word, wat miskien selfs tot verkeerde interpretasies kon lei? Kon die Jode, aan wie die geïnspireerde Woord toevertrou is, hulleself toelaat om die risiko te loop om daardie boodskap deur vertaling te verdraai?—Psalm 147:19, 20; Romeine 3:1, 2.

Hierdie sensitiewe sake het tot vrees gely. Maar besorgdheid oor die feit dat die Jode nie meer God se Woord sou verstaan nie, was uiteindelik van groter belang as alle ander oorwegings. Daar is besluit om die Tora—die eerste vyf boeke van die Bybel, wat deur Moses geskryf is—in Grieks te vertaal. Die werklike vertaalproses is in legende gehul. Volgens die Letter of Aristeas wou die Egiptiese heerser Ptolemeus II (285-246 v.G.J.) ’n afskrif van die Pentateug (of Tora) wat in Grieks vertaal is vir sy koninklike biblioteek hê. Hy het hierdie opdrag aan 72 Joodse geleerdes gegee, wat van Israel na Egipte gekom het en die vertaling in 72 dae voltooi het. Hierdie vertaling is toe aan die Joodse gemeenskap voorgelees, wat verklaar het dat dit pragtig sowel as akkuraat is. Volgens latere byvoegings tot hierdie verhaal is elke vertaler glo in ’n afsonderlike kamer geplaas, en tog was hulle vertalings letter vir letter dieselfde. As gevolg van die tradisie van die 72 vertalers het hierdie Griekse Bybelvertaling bekend geword as die Septuagint, wat gebaseer is op ’n Latynse woord wat “Sewentig” beteken.

Die meeste hedendaagse geleerdes stem saam dat die Letter of Aristeas ’n apokriewe geskrif is. Hulle glo ook dat die inisiatief vir die vertaling nie van Ptolemeus II gekom het nie, maar van die leiers van die Joodse gemeenskap in Aleksandrië. Maar die geskrifte van die Joodse filosoof Filo van Aleksandrië en die Joodse geskiedskrywer Josefus asook die Talmoed openbaar almal ’n algemene oortuiging onder eerste-eeuse Jode dat die Septuagint in dieselfde mate as die oorspronklike Geskrifte geïnspireer was. Sulke oorleweringe was ongetwyfeld die gevolg van ’n poging om die Septuagint vir die Joodse gemeenskap regoor die wêreld aanvaarbaar te maak.

Hoewel die aanvanklike vertaling net van die vyf boeke van Moses was, het die naam Septuagint mettertyd na al die Hebreeuse Geskrifte verwys wat in Grieks vertaal is. Die oorblywende boeke is gedurende die volgende honderd jaar of wat vertaal. Die vertaling van die hele Septuagint was nie ’n gekoördineerde poging nie, maar ’n werk wat stuksgewys voltooi is. Die vertalers se vermoëns en kennis van Hebreeus het verskil. Die meeste boeke is letterlik vertaal, soms uiters letterlik, terwyl ander vertalings taamlik vry was. Van ’n paar boeke is daar lang en kort weergawes. Teen die einde van die tweede eeu v.G.J. kon al die boeke van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks gelees word. Ten spyte van die wisselende resultate was die implikasies van die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks baie groter as wat die vertalers kon verwag het.

Jafet in die tente van Sem?

In die Talmoed se bespreking van die Septuagint haal dit Genesis 9:27 aan: “Mag . . . Jafet . . . woon in die tente van Sem” (Megilla 9b, Babiloniese Talmoed). Die Talmoed impliseer figuurlik dat Jafet (die vader van Jawan, van wie die Grieke afgestam het) deur die skoonheid van die Griekse taal van die Septuagint in die tente van Sem (die voorvader van die nasie Israel) gewoon het. Maar daar kon ook gesê word dat Sem deur die Septuagint in die tente van Jafet gewoon het. Hoe so?

Ná die verowerings van Aleksander die Grote, gedurende die laaste deel van die vierde eeu v.G.J., is ’n geweldige poging aangewend om die Griekse taal en kultuur dwarsdeur die verowerde lande te versprei. Hierdie beleid is hellenisering genoem. Die Jode het gevoel dat hulle kultuur voortdurend aangeval word. As die Griekse kultuur en filosofie die oorhand gekry het, sou selfs die godsdiens van die Jode ondermyn word. Wat kon hierdie aanval stuit?

Die Joodse Bybelvertaler Max Margolis sê van een moontlike rede waarom die Jode die Septuagint vertaal het: “As die Joodse gemeenskap enigsins vir die projek verantwoordelik was, sou nog ’n motief ’n rol daarin gespeel het, naamlik om die Joodse Wet aan die nie-Joodse bevolking beskikbaar te stel vir inspeksie en om die wêreld te oortuig dat die Jode ’n kultuur gehad het wat met die wysheid van Hellas [Griekeland] kon meeding.” Die beskikbaarstelling van die Hebreeuse Geskrifte aan die Griekssprekende wêreld was derhalwe moontlik ’n vorm van selfverdediging sowel as ’n teenaanval.

Aleksander se beleid van hellenisering het Grieks die wêreldtaal gemaak. Selfs toe sy ryk deur die Romeine verower is, het gewone (of Koine) Grieks die handels- en kommunikasietaal tussen nasies gebly. Hetsy dit die gevolg van ’n doelbewuste poging of ’n natuurlike ontwikkeling was, die Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Geskrifte het sy weg vinnig tot in die huise en harte van baie nie-Jode gevind wat God en die Wet van die Jode voorheen nie geken het nie. Die resultate was verbasend.

Proseliete en godvresers

Teen die eerste eeu G.J. kon Filo skryf dat die “skoonheid en waardigheid van die wette van Moses nie alleen onder die Jode in ere gehou word nie, maar ook deur alle ander nasies”. Aangaande Jode wat in die eerste eeu buite Palestina gewoon het, sê die Joodse geskiedkundige Joseph Klausner: “Dit is moeilik om te glo dat al hierdie miljoene Jode wat deur emigrasie versprei is net van die klein land Palestina gekom het. ’n Mens moet eenvoudig erken dat hierdie groot vermeerdering ook die gevolg was van groot getalle manlike en vroulike proseliete wat by hulle gevoeg is.”

Hierdie indrukwekkende feite vertel egter nie die volle verhaal nie. Die skrywer Shaye J. D. Cohen, professor van Joodse geskiedenis, sê: “Baie nie-Jode, manne sowel as vroue, het hulle gedurende die laaste eeue v.G.J. en die eerste twee eeue G.J. tot Judaïsme bekeer. Daar was egter selfs meer nie-Jode wat sekere aspekte van Judaïsme aanvaar het, maar hulle nie daartoe bekeer het nie.” Klausner sowel as Cohen verwys na hierdie mense wat hulle nie bekeer het nie as godvresers, ’n uitdrukking wat baie in Griekse literatuur van die tyd verskyn.

Wat is die verskil tussen ’n proseliet en ’n godvreser? Proseliete was mense wat hulle heeltemal bekeer het, en wat in elke opsig as Jode beskou is omdat hulle die God van Israel aanvaar het (en alle ander gode verwerp het), besny is en hulle by die nasie Israel aangesluit het. Cohen sê daarenteen aangaande die godvresers: “Hoewel hierdie nie-Jode heelwat van die Joodse gebruike nagekom het en die God van die Jode op die een of ander manier vereer het, het hulle nie hulleself as Jode beskou nie en is hulle nie deur ander as Jode beskou nie.” Klausner beskryf hulle as “mense wat die middeweg gekies het”, want hulle het Judaïsme aanvaar en “’n deel van sy gebruike nagekom, maar . . . hulle het nie volwaardige Jode geword nie”.

Miskien het party in God begin belangstel as gevolg van besprekings met Jode wat sendingwerk gedoen het of omdat hulle gesien het dat hulle lewenswyse, gebruike en gedrag anders was. Maar die Septuagint was die hoofinstrument wat hierdie godvresers gehelp het om van Jehovah God te leer. Hoewel daar geen manier is om vas te stel hoeveel godvresers daar in die eerste eeu was nie, het die Septuagint ongetwyfeld kennis van God deur die hele Romeinse Ryk heen versprei. Deur middel van die Septuagint is belangrike aanvoorwerk ook gedoen.

Die Septuagint het gehelp om die weg te berei

Die Septuagint het ’n belangrike rol in die verspreiding van die Christelike boodskap gespeel. Baie Griekssprekende Jode was onder diegene wat teenwoordig was toe die Christengemeente op Pinkster 33 G.J. gestig is. Daar was ook proseliete onder diegene wat in daardie vroeë stadium Christus se dissipels geword het (Handelinge 2:5-11; 6:1-6; 8:26-38). Aangesien die geïnspireerde geskrifte van Jesus se apostels en ander vroeë dissipels vir so ’n wye gehoor as moontlik bedoel is, is dit in Grieks geskryf.a Derhalwe is baie aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte wat in die Christelike Griekse Geskrifte verskyn op die Septuagint gebaseer.

Buiten natuurlike Jode en proseliete was ander ook gereed om die Koninkryksboodskap te aanvaar. Die nie-Jood Kornelius was “’n vroom man en iemand wat saam met al sy huisgenote God gevrees het, en hy het baie barmhartigheidsgawes aan die volk gegee en voortdurend smeekbedes tot God gedoen”. In 36 G.J. was Kornelius, sy gesin en ander wat by sy huis bymekaargekom het die eerste nie-Jode wat as volgelinge van Christus gedoop is. (Handelinge 10:1, 2, 24, 44-48; vergelyk Lukas 7:2-10.) Toe die apostel Paulus deur Klein-Asië en Griekeland gereis het, het hy vir baie nie-Jode getuig wat alreeds God gevrees het asook vir “Grieke wat God aanbid het” (Handelinge 13:16, 26; 17:4). Waarom was Kornelius en daardie ander nie-Jode gereed om die goeie nuus te aanvaar? Die Septuagint het gehelp om die weg te berei. Een geleerde vermoed dat die Septuagint “’n boek van sulke uiterste belang is dat die Christendom en die westerse kultuur daarsonder ondenkbaar sou wees”.

Die Septuagint verloor sy “inspirasie”

Die grootskaalse gebruik van die Septuagint het uiteindelik ’n ongunstige reaksie onder die Jode uitgelok. In besprekings met Christene het die Jode byvoorbeeld beweer dat die Septuagint ’n verkeerde vertaling is. Teen die tweede eeu G.J. het die Joodse gemeenskap hierdie vertaling heeltemal verwerp, ’n vertaling wat hulle vroeër geïnspireer genoem het. Die rabbi’s het die legende van die 72 vertalers verwerp en gesê: “Eenkeer het dit gebeur dat vyf oudstes die Tora vir koning Ptolemeus in Grieks geskryf het, en daardie dag was so onheilspellend vir Israel soos die dag waarop die goue kalf gemaak is, aangesien die Tora nie akkuraat vertaal kon word nie.” Om strenger ooreenstemming met rabbynse opvattings te verseker, het die rabbi’s opdrag gegee dat ’n nuwe vertaling in Grieks gedoen word. Dit is in die tweede eeu G.J. gedoen deur ’n Joodse proseliet met die naam Aquila, ’n dissipel van die rabbi Akiba.

Die Septuagint is nie meer deur die Jode gebruik nie, maar dit het die standaard-“Ou Testament” van die nuwe Katolieke Kerk geword totdat dit deur Hieronimus se Latynse Vulgaat vervang is. Hoewel ’n vertaling nooit die plek van die oorspronklike kan inneem nie, het die Septuagint ’n belangrike rol gespeel in die verspreiding van kennis van Jehovah God en sy Koninkryk deur middel van Jesus Christus. Die Septuagint is waarlik ’n Bybelvertaling wat die wêreld verander het.

[Voetnoot]

a Die Evangelie van Matteus is moontlik eers in Hebreeus geskryf, met ’n vertaling in Grieks wat later verskyn het.

[Prent op bladsy 31]

Baie mense vir wie Paulus getuig het, kon die “Septuagint” verstaan

[Foto-erkenning op bladsy 29]

Met vergunning van Israel Antiquities Authority

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel