Die oorlog wat die 19de eeu vernietig het
1914
’N RUBRIEKSKRYWER vir The Orlando Sentinel, Charley Reese, het in ’n artikel oor die nuwe millennium geskryf: “Die oorlog van 1914-18 wat die 19de eeu vernietig het, is nie verby nie.” Wat het hy bedoel? Hy het verduidelik: “Die geskiedenis slaan geensins ag op kalenders nie. Die 19de eeu—gedefinieer as ’n reeks opvattings, veronderstellings, gesindhede en sedes—het nie op 1 Jan. 1901 geëindig nie. Dit het in 1914 geëindig. Dit is ook toe dat die 20ste eeu, volgens dieselfde definisie, begin het. . . .
“Feitlik al die konflikte waaroor ons al ons lewe lank besorg is, het uit daardie oorlog gespruit. Byna al die intellektuele en kulturele strominge waarmee ons saamlewe, is uit daardie oorlog gebore. . . .
“Ek dink dit het soveel skade aangerig omdat dit mense se geloof in die feit dat mense hulle eie lot kan bepaal, verpletter het. . . . Die oorlog het mense ontnugter wat daardie opvatting betref. Aan beide kante daarvan was daar niemand wat gedink het dat dit sou uitloop soos dit het nie. Dit het die Britse en Franse ryk vernietig. Dit het die room van ’n hele geslag Britse, Franse en Duitse mans uitgewis. . . . In ’n kort tydjie het dit die dood van 11 miljoen mense veroorsaak.”
Jehovah se Getuies wys al meer as 120 jaar op 1914 as die einde van wat Jesus “die vasgestelde tye van die nasies” genoem het (Lukas 21:24). In daardie jaar is die verrese en verheerlikte Jesus Christus as Koning van die hemelse Koninkryk gekroon. Deur middel van daardie Koninkryk sal Jehovah God al die lyding wat hierdie eeu gekenmerk het vir goed beëindig.—Psalm 37:10, 11; Prediker 8:9; Openbaring 21:3, 4.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
U.S. National Archives photo