Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 19 bl. 152-160
  • Die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die HERE van die leërskare” hervat sy militêre bedrywighede
  • Goddelike wapens sal teen die vyand gebruik word
  • Jehovah se naam luisterryk gemaak
  • Die Stryder-Koning seëvier by Armageddon
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Die universele geskil word vir goed besleg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Sal ons altyd—leërs nodig hê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Armageddon—Van ’n God van liefde?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 19 bl. 152-160

Hoofstuk 19

Die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”

1. (a) Wat sal die nasies die almagtige God binnekort verplig om in “die Boek van die Oorloë van die HERE” te skryf, en wat was daardie boek? (b) Met watter oorlog sal daardie boek binnekort ’n wonderlike hoogtepunt bereik?

DIE nasies het uiteindelik die stadium bereik waar hulle die almagtige God verplig om die grootse slot van “die Boek van die Oorloë van die HERE” te skryf (Numeri 21:14). Daardie letterlike boek het ’n verslag bevat van die oorloë wat Jehovah ten behoewe van sy volk gevoer het. Moses het dit klaarblyklik gelees. Die boek het moontlik begin met Abraham se geslaagde oorlog teen die konings wat Lot gevangene geneem het en waar Jehovah vir Abraham geveg het (Genesis 14:1-16, 20). “Die Boek van die Oorloë van die HERE” sal binnekort tot ’n wonderlike hoogtepunt gevoer word met ’n nuwe hoofstuk—die verslag van sy glorierykste oorwinning. Dit sal “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon wees, die afsluiting vir hierdie stelsel (Openbaring 16:14, 16). Die hele “Boek” sal toon dat die almagtige God nog nooit ’n geveg, of veldslag, verloor het nie.

2, 3. (a) Het Jehovah sedert die begin van die Christelike godsdiens militêre “oorloë” gevoer? (b) Wat sal Jehovah beweeg om in ons dag vir sy knegte te veg?

2 Van die begin van die Christelike godsdiens af tot nou toe het Jehovah weliswaar nie militêre oorloë gebruik om sy volk te beveilig nie. Jehovah het nooit vir sy Christengetuies geveg soos hy vir Israel onder die Mosaïese Wet geveg het nie. Maar in die nabye toekoms sal die tyd aanbreek wanneer hy vir sy hedendaagse, toegewyde knegte ’n militêre stryd sal voer. Wat sal tot daardie oorlog te Armageddon aanleiding gee?

3 Voordat God se oorlog uitbreek, sal Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, vernietig word. Satan die Duiwel en die ongodsdienstige, politieke verwoesters van Babilon die Grote sal gebelg wees oor die feit dat Jehovah se Getuies die enigste godsdiensgroep is wat behoue gebly het. Wêreldheersers sou nie hulle doel bereik het om ’n godlose wêreld te skep nie. Daarom volg die volskaalse aanval op die aanbidders van Jehovah, wie se universele soewereiniteit die heersers loën en trotseer! Hulle sal gevolglik in werklikheid teen God veg.—Openbaring 17:14, 16; vergelyk Handelinge 5:39.

“Die HERE van die leërskare” hervat sy militêre bedrywighede

4. (a) Hoe reageer Jehovah op Gog se aanval? (b) Wat sal daardie reaksie bewys, in ooreenstemming met die naam “[Jehovah] van die leërskare”?

4 Satan die Duiwel, die simboliese Gog van Magog, sal hierdie aanval op Jehovah se volk dirigeer. Wanneer Gog sy ateïstiese hordes gebruik om Jehovah se volk aan te val ten einde hulle te plunder en te vernietig, sal Jehovah ingryp en vir sy volk veg, soos in Esegiël 38:2, 12, 18-20 voorspel is. Jehovah se reaksie is ook in Sagaria 14:3 voorspel: “Die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.” So sal die God van die Bybel aan al die hedendaagse nasies bewys lewer dat hy steeds ’n Stryder-God is, net soos hy in die dae van eertydse Israel was, toe hy, soos in die Hebreeuse Skrifte opgeteken, 260 keer as “die HERE [“Jehovah”, NW] van die leërskare” beskryf is.—Psalm 24:10; 84:13.

5, 6. (a) Watter oorlog breek dan uit, en wie voer die hemelse leërs in die stryd aan? (b) Watter verslag lewer die apostel Johannes van hoe die hemelse leërs tot die aanval oorgaan?

5 Wanneer “daardie groot dag van die almagtige God” aanbreek, sal dit die tyd wees vir “die oorlog” wat daardie dag gaan kenmerk. Jehovah gee die teken vir sy Veldmaarskalk, Jesus Christus. In die naam van Jehovah werp hy en die hemelse leërs wat uit miriades engele bestaan hulle in die stryd asof hulle op strydrosse ry (Judas 14, 15). Soos ’n oorlogskorrespondent gee die apostel Johannes ons vooraf ’n verslag van die klinkende oorwinning wat Jehovah se Veldmaarskalk in “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” gaan behaal:

6 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone . . . En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”—Openbaring 19:11-16.

7. Wat beteken dit vir die nasies wanneer die simboliese parskuip van die grimmigheid van God getrap word?

7 Die koninklike Veldmaarskalk, Jesus Christus, voer die hemelse leërs aan in ’n seëvierende aanslag teen al die gekombineerde vyande by Armageddon. Hy skep daardie slagveld om in ’n yslike parskuip! Aangesien die Koning van die konings “die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige”, trap, toon dit dat die nasies behoorlik verbrysel gaan word. Hulle sal soos ryp druiwe in die ontsaglike “parskuip” gegooi word waar “die grimmigheid en . . . die toorn van God, die Almagtige”, hulle sal tref en vermorsel. Die hemelse leërs sal help om “die groot parskuip van die grimmigheid van God” te trap.—Openbaring 14:18-20.

8. Hoe beskryf Jehovah sy oorlogstaktiek?

8 Jehovah se Getuies op aarde neem nie die “swaard” teen Gog se hordes op nie, maar Jehovah wel. Dit is sy stryd! En nou sal die nasies van hierdie wetenskaplik gevorderde wêreld hom uiteindelik sien veg! Luister na hoe hy sy oorlogstaktiek beskryf: “Ek sal die swaard oproep teen hom [Gog] na al my berge, spreek die Here HERE; die swaard van die een sal teen die ander wees. En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is. So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek [Jehovah] is.”—Esegiël 38:21-23, vgl. NW.

Goddelike wapens sal teen die vyand gebruik word

9. Wat is sommige van die oorlogswapens wat Jehovah teen sy vyande gaan gebruik?

9 Wat wapens vir die stryd betref, sal Jehovah die natuurkragte gebruik: stromende wolkbreuke, haelstene met dodelike grootte, stortreën van flitsende vuur en swawel, waters wat diep uit die aarde gulp en krakende weerligstrale. Wanneer die middele wat God gaan gebruik om sy vyande ter dood te bring flits, sal die lig bedags en snags so intens wees dat dit sal lyk of ons nie meer die natuurlike son en maan nodig het om lig te verskaf nie. Dit sal wees asof hulle stilstaan en nie as ligte funksioneer nie, maar Jehovah se flikkerende pyle ’n vertoning van verligtende krag laat lewer (Habakuk 3:10, 11). Jehovah het ’n oorvloed natuurverskynsels tot sy beskikking waarmee hy kan veg.—Josua 10:11; Job 38:22, 23, 29.

10. Wat nog gaan Jehovah volgens Sagaria 14:12 in die komende “dag van oorlog” gebruik?

10 In die komende “dag van oorlog” sal Jehovah ook pessiekte en “die plaag” gebruik. Die profeet Sagaria het hieromtrent geskryf: “Dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond.”—Sagaria 14:12.

11. Wat sal gebeur wanneer “die plaag” die krygers tref wat Jehovah se volk aanval?

11 Hetsy “die plaag” letterlik gaan wees of nie, dit sal die monde snoer wat geopen word om skrikwekkende dreigemente te uiter! Tonge het weggeteer! Gesig sal verdof, sodat die aanvallers met hulle wrede oë slegs blindelings houe kan uitdeel. Oë het weggeteer! Die spiere van magtige krygers sal hulle krag verloor terwyl hulle op hulle voete staan—nie terwyl hulle as lyke op die grond lê nie. Die vlees wat hulle skelet oordek, het weggeteer!—Vergelyk Habakuk 3:5.

12. Hoe sal “die plaag” die vyand se militêre kampe en toerusting affekteer?

12 “Die plaag” breek skielik in hulle militêre kampe uit. Mobiele toerusting vir die aanval is heeltemal immobiel gemaak! (Sagaria 14:15; vergelyk Exodus 14:24, 25.) Die woorde van Sagaria 14:6 (NW) toon hoe nutteloos hulle krygstuig sal wees: “Op dié dag sal daar geen kosbare lig wees nie—dinge sal gestol wees.” Geen hemelse lig van goddelike guns sal op hulle skyn nie. Die kunsmatige ligte van die hedendaagse wetenskap sal nie die duisternis van goddelike misnoeë verdryf nie. Operasionele dinge sal geïmmobiliseer wees, asof vasgeys—gestol.

13. Wat sal die angs vergroot wat Jehovah onder die aanvallers veroorsaak?

13 Al hierdie dinge is skrikwekkend genoeg! Maar die verwarring wat God onder die aanvallers gaan veroorsaak, sal die angs vergroot. Hulle eendragtige optrede teen Jehovah se Getuies sal verbrokkel. Soos swaardvegters met ’n verblindende helm op hulle hoof in ’n Romeinse arena sal hulle blindelings na mekaar slaan. Die dodelike verwarring sal algemeen word namate hulle aan wedersydse slagting deelneem.—Sagaria 14:13.

14. (a) Hoe omvattend sal die slagting dan wees, en hoe sal die voëls en die diere ook baat vind by Jehovah se oorwinning? (b) Wat sal die oorlewendes se gesindheid wees teenoor “die wat deur die HERE verslaan is”?

14 Die grootskaalse slagting op daardie dag der dae sal geweldig wees, want die magte wat in daardie stryd aan Gog se kant opgestel is, sal ontsaglik groot wees (Openbaring 19:19-21). Dit sal inderdaad ’n wêreldbotsing wees, want geen deel van die aarde sal die vernietiging vryspring nie. Daarbenewens sal die wat tydens Armageddon sneuwel nie begrawe word in grafte met tekens om hulle in gedagtenis te hou nie. Allerhande voëls en diere van die veld sal baat vind by God se sege en terselfdertyd help om die aarde te reinig van die talle karkasse wat soos messtof oor die grond gestrooi sal lê, onbeklae, onbegrawe, ’n bron van walging vir die oorlewendes (Esegiël 39:1-5, 17-20; Openbaring 19:17, 18). “Die wat deur die HERE verslaan is”, sou vir hulself ewige skande verdien het.—Jeremia 25:32, 33; Jesaja 66:23, 24.

Jehovah se naam luisterryk gemaak

15. Watter besondere gebeurtenis sou dan plaasgevind het, en met watter uitwerking op Jehovah se naam?

15 Deur middel van sy Veldmaarskalk, Jesus Christus, sal “[Jehovah] van die leërskare” gevolglik ewige heerlikheid vir homself verkry. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die heelal sou dan plaasgevind het—die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit en die heiliging van sy naam (Esegiël 38:23; 39:6, 7, vgl. NW). Jehovah sal vir homself ’n naam maak op ’n wyse wat enigiets oortref wat beskryf is in “die Boek van die Oorloë van [Jehovah]” en in die Hebreeuse Skrifte van die Heilige Bybel. (Vergelyk Jesaja 63:12-14.) Watter luisterryke naam sal Jehovah tog vir homself maak deur middel van sy ontsagwekkende oorwinning in “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”! Alle liefhebbers van daardie naam sal dit dan vir ewig jubelend prys en die lof daarvan besing!

16. Watter gebed word vir die “groot menigte” gedoen met die oog op die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”?

16 Ruk dus op na die stryd, o Jehovah van die leërskare, met u koninklike Seun Jesus Christus aan u sy! (Psalm 110:5, 6). Laat u getroue getuies op aarde die vreugdevolle getuies word van u weergalose oorwinning deur middel van u Koning Jesus Christus tydens “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Laat die “groot menigte” juigend “uit die groot verdrukking kom” om vir ewig u aardse getuies te wees (Openbaring 7:14). Laat hulle, onder u liefdevolle sorg, behoue bly tot in die oorlogvrye Duisendjarige Heerskappy van u seëvierende “Vredevors”. Laat hulle vir die verresenes ’n sigbare bewys wees ter regverdiging van die soewereiniteit oor die ganse heelal wat tereg aan u behoort. Dankie dat u die grootse slot geskryf het vir “die Boek van die Oorloë van die HERE”. Laat hierdie verslag van u weergalose oorwinning tot in alle ewigheid in die annale van die universele geskiedenis bly!

[Prent op bladsy 156, 157]

‘Jehovah van die leërskare’ sal teen die nasies oorlog voer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel