Vrae van lesers
Wat sê die Bybel oor die doodstraf vir misdadigers?
Dit is te verstane dat elkeen van ons dalk ons persoonlike menings hieromtrent sal hê, wat gegrond is op ons ondervindinge of lewensomstandighede. Maar as Jehovah se Getuies moet ons ons by God se gedagtes oor die doodstraf probeer aanpas, terwyl ons neutraal bly met betrekking tot die politieke standpunte wat baie mense ten opsigte van hierdie kwessie inneem.
Kortom: God dui nie in sy geskrewe Woord aan dat die doodstraf verkeerd is nie.
Jehovah het hom vroeg in die mensegeskiedenis oor hierdie saak uitgespreek, soos ons in Genesis hoofstuk 9 lees. Dit is die verslag van Noag en sy gesin, wat die voorouers van die hele mensdom geword het. Nadat hulle uit die ark gekom het, het God gesê dat hulle diere kon eet—dit wil sê, hulle kon diere doodmaak, hulle bloed aftap en hulle eet. Daarna het God in Genesis 9:5, 6 gesê: “Wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” Jehovah het dus die doodstraf in die geval van moordenaars goedgekeur.
Terwyl God met Israel as sy volk gehandel het, was verskeie ander ernstige oortredinge teen die Goddelike wet strafbaar met die dood. In Numeri 15:30 lees ons hierdie algemene stelling: “Die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.”
Maar wat van ná die Christengemeente gestig is? Wel, ons weet dat Jehovah menseregerings die reg gegee het om te bestaan, en hy het hulle die hoër owerhede genoem. Trouens, nadat die Bybel Christene aanspoor om aan sulke regeringsowerhede gehoorsaam te wees, sê dit hulle dien as “God se dienaar vir jou, tot jou beswil. Maar as jy doen wat sleg is, vrees dan: want dit is nie verniet dat hy die swaard dra nie; want hy is God se dienaar, ’n wreker om gramskap te bring oor die een wat beoefen wat sleg is.”—Romeine 13:1-4.
Beteken dit dat regerings gemagtig is om selfs die lewe te neem van misdadigers wat aan ernstige oortredinge skuldig is? Ons moet uit die woorde in 1 Petrus 4:15 aflei dat dit wel so is. In daardie vers het die apostel sy broers gemaan: “Laat niemand van julle . . . ly as ’n moordenaar of ’n dief of ’n boosdoener of as iemand wat hom met ander mense se sake bemoei nie.” Het jy gelet op die woorde ‘laat niemand van julle ly as ’n moordenaar nie’? Petrus het nie te kenne gegee dat regerings geen reg gehad het om ’n moordenaar vir sy misdaad te laat ly nie. Inteendeel, hy het getoon dat ’n moordenaar dalk tereg gepaste straf sal ontvang. Sluit dit die doodstraf in?
Dit kan. Dit is duidelik uit Paulus se woorde in Handelinge hoofstuk 25. Sekere Jode het Paulus van oortredinge teen hulle Wet beskuldig. Toe die militêre bevelvoerder sy gevangene, Paulus, na die Romeinse goewerneur gestuur het, het hy volgens Handelinge 23:29 gesê: “Ek het gevind dat hy beskuldig word oor vraagstukke van hulle Wet, maar nie aangekla word van ’n enkele ding wat die dood of boeie verdien nie.” Ná twee jaar het Paulus hom voor goewerneur Festus bevind. Ons lees in Handelinge 25:8: “Paulus het ter verdediging gesê: ‘Ek het nie teen die Wet van die Jode of teen die tempel of teen Caesar enige sonde gepleeg nie.’” Maar let nou op wat hy oor straf, selfs die doodstraf, sê. Ons lees in Handelinge 25:10, 11:
“Paulus het gesê: ‘Ek staan voor die regterstoel van Caesar, waar ek geoordeel behoort te word. Ek het die Jode geen onreg aangedoen nie, soos u ook heel goed vasstel. As ek dan werklik ’n kwaaddoener is en enigiets gedoen het wat die dood verdien, vra ek nie om die dood vry te spring nie; maar as nie een van dié dinge waarvan hierdie manne my beskuldig waar is nie, kan geen mens my as guns aan hulle oorlewer nie. Ek beroep my op Caesar!’”
Terwyl Paulus voor regmatig aangestelde gesag gestaan het, het hy erken dat Caesar die reg gehad het om kwaaddoeners te straf, selfs om hulle tereg te stel. Hy het nie in sy geval kapsie gemaak teen straf as hy skuldig was nie. Daarbenewens het hy nie gesê dat Caesar slegs in die geval van moordenaars die doodstraf kon oplê nie.
Die Romeinse regstelsel was weliswaar nie volmaak nie; en menslike regstelsels van vandag is ook nie. Party onskuldige mense is destyds en in hedendaagse tye skuldig bevind en gestraf. Selfs Pilatus het van Jesus gesê: “Ek het niks in hom gevind wat die dood verdien nie; ek sal hom dus kasty en vrylaat.” Ja, al het die regeringsowerheid erken dat Jesus onskuldig was, is hierdie onskuldige man tereggestel.—Lukas 23:22-25.
Sulke onregte het nie vir Paulus of Petrus laat redeneer dat die doodstraf in beginsel immoreel is nie. God se beskouing oor die saak is eerder dat die hoër owerhede van Caesar, solank as wat hulle bestaan, ‘die swaard dra om gramskap te bring oor diegene wat beoefen wat sleg is’. En dit sluit in die gebruik van die swaard om die doodstraf op te lê. Maar met betrekking tot die omstrede kwessie of enige regering van hierdie wêreld sy reg moet uitoefen om moordenaars tereg te stel of nie, bly ware Christene neutraal. In teenstelling met die geestelikes van die Christendom bemoei hulle hulle nie met enige debat oor hierdie onderwerp nie.