“Dien die Heer, Christus, soos slawe”
DEUR die geskiedenis heen het miljoene mense onder die las van slawerny gebuk gegaan. Duisende jare gelede het die Israeliete byvoorbeeld baie swaar gekry onder Egiptiese opsigters. Volgens die Bybel het hulle “slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk”, veral deur hulle stene te laat maak.—Exodus 1:11, NAV.
In baie lande dien mense deesdae miskien nie as letterlike slawe nie, maar talle moet lang ure onder moeilike—soms ongunstige—toestande werk. Hulle gaan gebuk onder die swaar las wat ekonomiese slawerny genoem kan word.
Daar is egter een soort slawerny wat nie ’n las is nie. Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor: “Dien die Heer, Christus, soos slawe” (Kolossense 3:24). Diegene wat kies om slawe van Christus te word, word van hulle swaar vragte verlig. Jesus self het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.
As ’n mens Christus se juk op jou neem, onthef dit jou nie van die verpligting om materieel vir jou gesin te sorg nie (1 Timoteus 5:8). Maar dit bied wel vryheid van baie van die verstrikkinge van materiële strewes. Christene maak nie ’n lewe van gemak hulle vernaamste strewe nie, maar is eerder tevrede met basiese benodigdhede.—1 Timoteus 6:6-10; vergelyk 1 Korintiërs 7:31.
Christene vind ook verkwikking in die nakoming van hulle verantwoordelikheid om die “goeie nuus” van God se Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Dit bring ware geluk en tevredenheid mee!
Ons behoort dankbaar te wees dat ons ‘die Heer, Christus, soos slawe kan dien’!
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.