Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/8 bl. 22-23
  • Moet Christene die doodstraf steun?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet Christene die doodstraf steun?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die swaard” in die hand van menslike owerhede
  • “Die swaard” word misbruik
  • Christelike neutraliteit
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die rol van die hoër owerhede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • In die wêreld maar geen deel daarvan nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 3/8 bl. 22-23

Die Bybelse beskouing

Moet Christene die doodstraf steun?

“DIT is sedelik en eties verkeerd.” “Dit is billik en regverdig.” Hierdie teenstrydige oogpunte het van twee geestelikes gekom, en albei bely dat hulle Christene is. Hulle het getwis oor een van vandag se brandende geskilpunte—die doodstraf. Die koerantberig waarin hulle aangehaal is, het gesê: “Wanneer godsdiensleiers oor die doodstraf debatteer, haal beide kante Bybeltekste aan om hulle standpunt te steun.”

Party voer aan dat die doodstraf die onskuldiges beskerm, geregtigheid bevorder en ernstige misdaad ontmoedig. Ander hou vol dat dit onsedelik is—’n manier om met meer geweld op geweld te reageer en ver benede die edeler taak om misdadigers te rehabiliteer en hulle te help om nuttige lede van die samelewing te word.

Hierdie debat is veral hewig in die politieke arena in die Verenigde State, en godsdiensleiers het nie gehuiwer om daarby betrokke te raak nie. Maar jy wonder miskien: ‘Sê die Bybel enigiets oor die doodstraf?’ Ja, beslis.

“Die swaard” in die hand van menslike owerhede

Kort ná die Vloed van Noag se dag het Jehovah God die kosbaarheid van menselewe bevestig en toe gesê: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word” (Genesis 9:6). Dit het mense natuurlik nie die reg gegee om na willekeur wraak te neem nie. Dit het eerder beteken dat behoorlik ingestelde menslike owerhede voortaan toegelaat sou word om diegene tereg te stel wat ander se lewe neem.

In eertydse Israel het die Wet wat God deur Moses gegee het, bepaal dat die doodsvonnis vir sekere ernstige oortredings opgelê word (Levitikus 18:29). Maar die Wet het ook voorsiening gemaak vir onpartydige regsbeslissings, getuienis deur ooggetuies en die bekamping van korrupsie (Levitikus 19:15; Deuteronomium 16:18-20; 19:15). Die regters moes godvrugtige manne wees en aan God self rekenskap gee! (Deuteronomium 1:16, 17; 2 Kronieke 19:6-10). Daar was dus voorsorgmaatreëls teen die misbruik van die doodstraf.

Vandag is daar geen regering op hierdie aarde wat waarlik Goddelike geregtigheid verteenwoordig soos in die geval van eertydse Israel nie. Maar regerings tree wel op talle maniere as God se ‘dienaars’, of agente, op deurdat hulle ’n mate van orde en bestendigheid handhaaf en belangrike openbare dienste verskaf. Die apostel Paulus het Christene daaraan herinner om aan hierdie “hoër owerhede” gehoorsaam te wees en het toe bygevoeg: “As jy doen wat sleg is, vrees dan: want dit is nie verniet dat hy [die regering] die swaard dra nie; want hy is God se dienaar, ’n wreker om gramskap te bring oor die een wat beoefen wat sleg is.”—Romeine 13:1-4.

“Die swaard” wat Paulus genoem het, simboliseer die regering se reg om misdadigers te straf—selfs met die dood. Christene respekteer daardie reg, maar moet hulle probeer om ’n sê te hê in hoe dit uitgeoefen word?

“Die swaard” word misbruik

Menseregerings het gewis “die swaard” menigmaal ter wille van geregtigheid gebruik. Daar moet egter erken word dat hulle hulle ook aan die misbruik daarvan skuldig gemaak het (Prediker 8:9). Die regering van eertydse Rome het hom skuldig gemaak aan die gebruik van “die swaard” van geregtelike teregstelling teen onskuldige knegte van God. Johannes die Doper, Jakobus en selfs Jesus Christus was onder sy slagoffers.—Matteus 14:8-11; Markus 15:15; Handelinge 12:1, 2.

In hedendaagse tye het iets soortgelyks gebeur. Onskuldige knegte van Jehovah is al in verskeie lande tereggestel—voor die vuurpeloton, deur die guillotine, aan die galg, in gaskamers—dit was alles “wettiglik” uitgevoer deur regerings wat die Christelike godsdiens probeer onderdruk het. Alle owerhede wat hulle gesag misbruik, sal aan God verantwoording moet doen. Hoe ontsettend bloedskuldig is hulle tog nie!—Openbaring 6:9, 10.

Ware Christene sidder by die gedagte aan bloedskuld voor Jehovah God. Terwyl hulle ’n regering se reg respekteer om “die swaard” te gebruik, is hulle dus pynlik bewus van hoe dit al misbruik is. Dit het as ’n werktuig van vervolging gedien en is ook by tye met bevooroordeelde hardvogtigheid teenoor sommige gebruik en met ongepaste toegeeflikheid teenoor ander.a Hoe moet Christene dus reageer op die debat oor die doodstraf? Raak hulle daarby betrokke en dring hulle op ’n verandering aan?

Christelike neutraliteit

In teenstelling met daardie geestelikes wat aan die begin genoem is, probeer ware Christene ’n belangrike beginsel in gedagte hou: Jesus Christus het sy volgelinge aangesê om “geen deel van die wêreld” te wees nie.—Johannes 15:19; 17:16.

Kan ’n Christen daardie opdrag gehoorsaam en steeds aan die debat oor die doodstraf deelneem? Blykbaar nie. Dit is op stuk van sake ’n sosiale en politieke geskil. In die Verenigde State is dit algemeen vir politieke kandidate om hulle standpunt oor die doodstraf—hetsy daarvoor of daarteen—te gebruik as ’n belangrike beleid in hulle veldtog. Hulle voer ’n vurige debat oor die onderwerp en gebruik die intense emosies wat hierdie onderwerp gewoonlik ontketen as ’n hefboom om kiesers ten gunste van hulle saak te laat draai.

Die vraag waaroor ’n Christen dalk moet peins, is: Sou Jesus betrokke geraak het by die geskil oor hoe hierdie wêreld se regerings “die swaard” gebruik? Onthou, toe sy volksgenote hom by die politiek probeer betrek het, het Jesus “weer na die berg weggegaan, heeltemal alleen” (Johannes 6:15). Dit lyk dus of hy veel eerder die saak sou gelaat het waar God dit geplaas het—in die hande van die regerings.

Vandag sal ’n mens insgelyks verwag dat Christene sal oppas dat hulle nie betrokke raak by argumente oor hierdie onderwerp nie. Hulle sal die reg van regerings erken om te doen soos hulle goeddink. Maar as Christenbedienaars wat geen deel van die wêreld is nie, sal hulle nóg hulle ondersteuning vir die doodstraf uitspreek nóg die afskaffing daarvan aanmoedig.

Hulle hou eerder die woorde van Prediker 8:4 in gedagte: “Die woord van die koning is magtig, en wie kan vir hom sê: Wat doen u?” Ja, die wêreld se ‘konings’, of politieke heersers, is die mag gegee om hulle wil uit te voer. Geen Christen het die gesag om hulle voor stok te kry nie. Maar Jehovah kan. En hy sal. Die Bybel laat ons uitsien na die dag wanneer God finaal reg sal laat geskied vir elke misdaad en vir elke misbruik van “die swaard” in hierdie ou wêreld.—Jeremia 25:31-33; Openbaring 19:11-21.

[Voetnoot]

a Die Amerikaanse gevangeniswese is byvoorbeeld al gekritiseer omdat dit elke jaar minder as 2 persent van die misdadigers in die dodeselle teregstel. Meer van hulle sterf as gevolg van natuurlike oorsake as deur teregstelling. Daar was ook al aantygings van vooroordeel—aangesien statistiek daarop dui dat die kanse groter is dat ’n moordenaar die doodsvonnis sal kry as die slagoffer wit was as wanneer die slagoffer swart was.

[Foto-erkenning op bladsy 22]

The Bettmann Archive

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel