’n Besoek aan ons sendingveld in ons tuisland
DIE groep Christengemeentes wat ek besoek, neem my van Portugal na China—of altans, dit is hoe dit voel. En tog gaan ek en my vrou, Olive, nooit uit Brittanje uit nie.
Ons besoek die toenemende aantal anderstalige gemeentes van Jehovah se Getuies wat oor die land versprei is. Van die eiland Jersey, sowat 20 kilometer van die Normandiese kus van Frankryk, waar ons ’n Portugese groep het, tot die dorp Sunderland in die noorde van Engeland, waar ons belangstellende Chinese mense besoek, werk ons in ’n florerende, geestelik voorspoedige, veeltalige veld. Hoe het dit gebeur dat ons hierdie ongewone toewysing gekry het? En wat vind in ons sendingveld in ons tuisland plaas? Laat ek verduidelik.
Ek en Olive dien al ongeveer 20 jaar in die reisende werk, wat behels dat ons elke week ’n ander gemeente besoek. Ons reise het ons van noord tot suid en van oos tot wes deur Brittanje geneem en onlangs na ons Christenbroers op die Mediterreense eiland Malta, waar uitsonderlike Christelike gasvryheid aan ons betoon is. (Vergelyk Handelinge 28:1, 2.) Ná drie jaar in Malta het ons begin wonder waar ons volgende toewysing sou wees. Ons het gedink dat ons waarskynlik na ’n plattelandse gebied in Engeland gestuur sou word, en ons het ons verstandelik vir hierdie moontlikheid begin voorberei. Wat ’n verrassing was dit tog toe ons ons toewysing ontvang om hierdie nuwe kring te bedien wat uit groepe en gemeentes bestaan wat 23 verskillende tale praat!
Ons het gewonder hoe ons sou regkom. Afgesien van ons ondervinding in Malta het ons nog nooit baie te doen gehad met mense met ’n ander agtergrond en kultuur nie. Sou ons werklik diegene kon aanmoedig wat nie baie Engels verstaan nie? Hoe sou ons kommunikeer sonder om ander tale te ken? Wat van die kosse en uiteenlopende gebruike van ander? Sou ons aanpasbaar genoeg wees? Vrae soos dié het deur ons gedagtes gegaan terwyl ons biddend oorweging geskenk het aan hierdie Masedoniese oproep.—Handelinge 16:9, 10; 1 Korintiërs 9:19-22.
Ons oorkom die taalgrens
“Ek het aanvanklik onbekwaam gevoel omdat ek geen kennis van tale gehad het nie”, verduidelik Olive. “Ek kon nie sien hoe ek die susters sou kon help nie. Toe het ek onthou hoe die egpaar wat aanvanklik met ons ’n Bybelstudie gehou het ons aangemoedig het om nooit ’n toewysing te weier nie. Hulle het ons geleer dat Jehovah ons nooit vra om iets te doen wat ons nie kan doen nie.” Ons het dus albei gewillig die toewysing aanvaar.
As ons nou daaraan dink, besef ons dat ons gebrek aan kennis van ander tale ons gehelp het om alle mense presies dieselfde te behandel. Om byvoorbeeld elke week vergaderinge by te woon wat in ’n ander taal gehou word, het ons laat besef hoe broers gevoel het wanneer hulle Engelse vergaderinge bygewoon het terwyl hulle min verstaan het van wat gesê is. Ons moet werklik goed voorberei vir die vergaderinge sodat ons die sin kan begryp van wat bespreek word. Olive antwoord altyd een van die vrae in die vergadering. Sy berei die antwoord in Engels voor en laat ’n suster dit vir haar vertaal deur die vertaling foneties uit te skryf. Sy erken dat sy ietwat huiwerig is wanneer sy haar hand opsteek om te antwoord. Partymaal lag mense wanneer sy probeer. Maar dit skrik haar nie af nie. “Ek weet dat die broers my pogings waardeer”, sê sy. “Trouens, my antwoorde spoor diegene wat die taal beter ken aan om aan die vergadering deel te neem.”
Dit is ook vir my anders om toesprake te hou, want ek moet ná elke sin tyd toelaat vir die tolk. Dit is so maklik om my gedagtegang te verloor. Ek vind dat ek baie harder moet konsentreer en baie van my materiaal moet uitlaat. Maar ek geniet dit.
Ons uiteenlopende bediening
In baie stedelike gebiede van Brittanje is die mense wat vreemde tale praat deur die gebied versprei, miskien twee in een straat, en dan moet jy ’n hele ent reis om ander te vind. Maar wanneer jy hulle in hulle eie taal groet en sien hoe hulle daarop reageer, voel jy dit is die moeite werd. As die broer saam met wie ek werk die Koninkryksboodskap in die huisbewoner se eie taal oordra, word dit dikwels met groot vreugde ontvang.
Trouens, die bediening in die anderstalige veld is van die opwindendste wat ons gedurende ons 40 jaar van Koninkryksdiens ondervind het. Daar is baie potensiaal vir verdere groei. Baie mense leer die waarheid ongetwyfeld vinniger en met dieper waardering wanneer hulle in hulle moedertaal onderrig word (Handelinge 2:8, 14, 41). Dit is baie roerend om broers en susters aan die einde van ’n vergadering trane van vreugde te sien stort nadat hulle in sommige gevalle vir die eerste keer die hele program kon volg en verstaan.
Wanneer ons van huis tot huis getuig, probeer ons om ten minste ’n inleiding in die huisbewoner se taal te doen, selfs al kry dit ons soms in die moeilikheid. ’n Voorbeeld hiervan is ’n algemene groet in Goedjarati, Kemtsjo, wat bloot “Hallo” beteken. Blykbaar het hoe ek dit eenmaal verkeerdelik uitgespreek het, geklink asof ek ’n bekende soort koffie adverteer. By een huis het die man en vrou nietemin geglimlag toe ek hulle in Goedjarati gegroet het. Hulle het ons onmiddellik ingenooi en vriendelik ’n koppie koffie aangebied—dit was nie as gevolg van enige uitspraakfout nie. Dit blyk toe dat hulle verwant is aan Getuies van Jehovah in die groep wat ons besoek het, en hulle het ’n opregte belangstelling in die waarheid geopenbaar.
Een Engelse suster het oor ’n klompie jare gereeld tydskrifte by ’n Chinese vrou gelaat. Sy het van tyd tot tyd vir die vrou ’n gratis tuisbybelstudie aangebied, maar dit is van die hand gewys. Eendag het ’n suster wat besig was om Chinees te leer praat saam met haar gegaan en die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in daardie taal vir haar aangebied, en die belangstellende huisbewoner het dit geredelik geneem.a Omdat sy nou die boek in haar eie taal gehad het, het sy tot ’n Bybelstudie ingestem. Daardie paar woorde wat die vrou in haar eie taal gehoor het, het die verskil gemaak.
’n Verskeidenheid kulture
Ons het nie geweet dat mans in sommige kulture nie daarvan hou as hulle vrou in die aand alleen uitgaan nie. Dit maak dit vir talle susters baie moeilik om die vergaderinge by te woon wat in die aand gehou word. Party Asiatiese gemeenskappe glo dat jong vroue wat verkies om nie te trou nie en by die huis bly die gesin beledig. Een jong suster se vader wou hom vergiftig toe sy geweier het om met die man te trou wat die gesin vir haar gekies het. Ja, wat sulke susters moet verduur, is waarlik merkwaardig! Dit is nietemin wonderlik om die uitwerking te sien wat die waarheid op hulle gesinslewe het en hoe die susters se lojaliteit aan Jehovah die ouers beïndruk.
Hierdie toewysing het geverg dat ons sekere aanpassings moes maak. Voordat ons in die reisende werk begin het, moes my kos eenvoudig en op die gewone Engelse manier voorberei gewees het, maar nou is dit ’n saak van hoe meer speserye hoe lekkerder. Ons is spyt oor al die jare wat ons laat verbygaan het voordat ons hierdie verskeidenheid kosse begin geniet het—van rou vis tot kerries.
Gunstige vooruitsigte
Dit is duidelik dat dit nóú die tyd is waarin die anderstalige veld in baie gebiede vrug oplewer. Al hoe meer publikasies is nou in verskillende tale beskikbaar. ’n Mens kan Jehovah se seën aanvoel namate nuwe gemeentes georganiseer word. Broers wat ander tale magtig is, kom van ver af om te help.
’n Uitstekende voorbeeld was die reaksie op die oproep om die goeie nuus van die Koninkryk in Frans te help verkondig. Baie Franssprekende vlugtelinge uit Zaïre en ander Afrikalande het in onlangse jare na Brittanje gekom. Toe die eerste Franse gemeente in Londen gestig is, het sowat 65 Koninkryksverkondigers met die gemeente geassosieer. ’n Jaar later het die getal toegeneem tot 117, en 48 van hulle het voltyds as gewone pioniers gedien. Kort voor lank is ’n tweede gemeente gestig om na die groeiende aantal belangstellendes om te sien. Nou kan meer aandag aan die belangstellendes geskenk word, waarvan 345 die Gedenkmaalviering in 1995 bygewoon het. Voormalige Gileadgegradueerdes wat in Benin, Côte d’Ivoire, Marokko en Zaïre gedien het, gebruik nou hulle ondervinding om na hierdie groeiende veld te help omsien, en die reaksie is verbasend.
Tydens een besoek aan die Franse gemeente het ek iemand vergesel na ’n Bybelstudie met ’n jong vrou wat van Afrika kom. Toe ons moes gaan, het die jong vrou uitgeroep: “Moet asseblief nie gaan nie. Bly langer.” Sy wóú eenvoudig meer weet. Sy het my aan Lidia in die eerste eeu laat dink.—Handelinge 16:14, 15.
Ons aanvanklike werk was om die klein anderstalige groepe te help om gemeentes te word. Waar die broers ’n weeklikse Gemeentelike Boekstudie gehad het, het ons ’n verkorte Teokratiese Bedieningskool een keer per maand ingestel. Dit help hulle om hulle goed uit te druk in die veldbediening. Hulle probeer dan geleidelik om al vyf weeklikse gemeentelike vergaderinge te hou. Ons het reeds nuwe gemeentes wat Chinees (Kantonees), Frans, Goedjarati, Japannees, Pandjabi, Portugees, Tamil en Wallies praat.
Ons het ook die voorreg gehad om die vergaderinge van dowe broers by te woon. Dit is baie treffend om te sien hoe die broers met hulle hande sing. Omdat hulle in hulle bediening deur middel van gebare praat, waardeer ek hulle uitstekende pogings om aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem. Daar is selfs tolke vir diegene wat doof sowel as blind is. Dit lyk of Jehovah seker maak dat niemand oorgeslaan word nie.
As ons ’n spesifieke versoek moes rig, sou dit dieselfde as dié van Jesus wees: “Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matteus 9:38). Baie van ons broers neem die uitdaging aan om die taal van die etniese groepe in hulle gemeente se gebied te leer. Hoewel ons nie wonderdadig begaaf is met die vermoë om verskillende tale te praat nie, is Jehovah beslis besig om die bediening in hierdie plaaslike sendingveld te seën—’n land wat wit is om geoes te word (Johannes 4:35, 36).—Soos vertel deur Colin Seymour.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.