Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 10/15 bl. 10-14
  • Die ongetroude lewe—’n Deur tot diens sonder om afgelei te word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ongetroude lewe—’n Deur tot diens sonder om afgelei te word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Aanbeveling van die ongetroude lewe
  • Geen dwang om ongetroud te bly nie
  • Maak plek vir die gawe om ongetroud te kan bly
  • Ongetroud met ’n doel
  • Diens sonder om afgelei te word
  • Geen eed om vir altyd ongetroud te bly nie
  • Die voordele en geleenthede wat die ongehude staat bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Ongetroud en tevrede in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Ongetroud, maar volkome vir God se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wyse raad oor die ongetroude lewe en die huwelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 10/15 bl. 10-14

Die ongetroude lewe—’n Deur tot diens sonder om afgelei te word

“[Dit beteken] volgehoue diens aan die Here . . . sonder om afgelei te word.”—1 KORINTIËRS 7:35.

1. Watter ontstellende nuus het Paulus oor die Christene in Korinte bereik?

DIE apostel Paulus was besorg oor sy Christenbroers in Korinte, Griekeland. Omtrent vyf jaar tevore het hy die gemeente in daardie welvarende stad, wat berug was vir sy onsedelikheid, gestig. Terwyl hy omstreeks 55 G.J. in Efese, Klein-Asië, was, het hy ontstellende berigte uit Korinte gehoor oor verdeeldheid omdat hulle mense nagevolg het en dat hulle ’n ernstige geval van onsedelikheid daar geduld het. Daarbenewens het Paulus ’n brief van die Korintiese Christene ontvang waarin hulle riglyne gevra het oor geslagsake, die ongehude staat, die huwelik, skeiding en hertroue.

2. Watter invloed het die onsedelikheid wat iets algemeens in Korinte was blykbaar op die Christene in daardie stad gehad?

2 Die growwe onsedelikheid wat iets algemeens in Korinte was, het die plaaslike gemeente blykbaar op twee maniere beïnvloed. Party Christene het hulle deur die atmosfeer van sedelike laksheid laat beïnvloed en het onsedelikheid geduld (1 Korintiërs 5:1; 6:15-17). Ander het blykbaar in reaksie op die vleeslike genietinge wat in die stad hoogty gevier het tot die ander uiterste oorgeslaan en die algehele onthouding van alle geslagsomgang voorgestaan, selfs vir egpare.—1 Korintiërs 7:5.

3. Aan watter sake het Paulus eers aandag gegee in sy eerste brief aan die Korintiërs?

3 In die lang brief wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het, het hy eers aan die probleem van verdeeldheid aandag gegee (1 Korintiërs, hoofstukke 1-4). Hy het hulle gemaan om nie mense te volg nie, wat net tot skadelike skeuringe kan lei. Hulle moet verenig wees as “medewerkers” van God. Daarna het hy hulle spesifieke instruksies gegee oor hoe om die gemeente sedelik rein te hou (Hoofstukke 5, 6). Toe het die apostel aan hulle brief aandag gegee.

Aanbeveling van die ongetroude lewe

4. Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat ‘dit goed is vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie’?

4 Hy het begin: “En wat die dinge betref waaroor julle geskryf het: dit is goed vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie” (1 Korintiërs 7:1). Die uitdrukking “om ’n vrou nie aan te raak nie” beteken hier om fisiese kontak met ’n vrou vir seksuele bevrediging te vermy. Aangesien Paulus reeds hoerery veroordeel het, het hy op hierdie stadium van geslagsomgang binne die huwelik gepraat. Paulus het nou dus die ongetroude lewe aanbeveel. (1 Korintiërs 6:9, 16, 18; vergelyk Genesis 20:6; Spreuke 6:29.) ’n Bietjie verder aan het hy geskryf: “En vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is as hulle bly soos ek is” (1 Korintiërs 7:8). Paulus was ongetroud, moontlik ’n wewenaar.—1 Korintiërs 9:5.

5, 6. (a) Waarom is dit duidelik dat Paulus nie ’n kloosterlike lewenswyse aanbeveel het nie? (b) Waarom het Paulus die ongetroude lewe aanbeveel?

5 Die Christene in Korinte het waarskynlik met Griekse filosofie in aanraking gekom, waarvan sekere denkrigtings strenge onthouding, of selfverloëning, voorgestaan het. Was dit dalk waarom die Korintiërs Paulus gevra het of dit “goed” is vir Christene om alle geslagsomgang te vermy? Paulus se antwoord was nie ’n weerspieëling van die Griekse filosofie nie (Kolossense 2:8). Anders as Katolieke teoloë het hy nooit ’n ongetroude asketiese lewe in ’n klooster voorgestaan, asof ongetroudes besonder heilig sou wees en hulle eie redding kon verdien deur hulle lewenswyse en gebede nie.

6 Paulus het die ongetroude lewe aanbeveel “met die oog op die noodsaak wat hier by ons bestaan” (1 Korintiërs 7:26). Hy het dalk gepraat van die moeilike tye wat Christene destyds moes deurmaak, wat vererger kon word deur die huwelik (1 Korintiërs 7:28). Sy raad aan ongetroude Christene was: ‘Dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek is.’ Vir wewenaars het hy gesê: “Is jy losgemaak van ’n vrou? Hou op om ’n vrou te soek.” Van ’n Christenweduwee het hy geskryf: “Sy is, na my mening, gelukkiger as sy bly soos sy is. Ek dink beslis dat ek ook God se gees het.”—1 Korintiërs 7:8, 27, 40.

Geen dwang om ongetroud te bly nie

7, 8. Wat toon dat Paulus geen Christen gedwing het om ongetroud te bly nie?

7 Jehovah se heilige gees het Paulus ongetwyfeld gerig toe hy hierdie raad gegee het. Sy hele bespreking van die ongetroude lewe en die huwelik toon balans en matigheid. Hy maak dit nie ’n saak van getrouheid of ontrouheid nie. Dit is eerder ’n saak van vrye keuse, hoewel hy die ongehude staat aanbeveel vir diegene wat in daardie toestand kuis kan bly.

8 Onmiddellik nadat hy gesê het dat ‘dit goed is vir ’n man om ’n vrou nie aan te raak nie’, het Paulus bygevoeg: “Maar laat elke man weens die algemeenheid van hoerery sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man” (1 Korintiërs 7:1, 2). Nadat hy ongetroude persone en weduwees aangeraai het om te “bly soos ek is”, het hy direk daarna bygevoeg: “Maar as hulle nie selfbeheersing het nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van hartstog te brand” (1 Korintiërs 7:8, 9). Sy raad aan wewenaars was weer: “Hou op om ’n vrou te soek. Maar selfs as jy sou trou, sou jy geen sonde pleeg nie” (1 Korintiërs 7:27, 28). Hierdie gebalanseerde raad toon dat ons keusevryheid het in hierdie saak.

9. In watter opsig is die huwelik sowel as die ongetroude lewe volgens Jesus en Paulus gawes van God?

9 Paulus het getoon dat die huwelik sowel as die ongetroude lewe gawes van God is. “Ek wens dat alle mense soos ek is. Nietemin het elkeen sy eie gawe wat van God kom, die een op hierdie manier, die ander op daardie manier” (1 Korintiërs 7:7). Hy het ongetwyfeld in gedagte gehad wat Jesus gesê het. Nadat Jesus bevestig het dat die huwelik van God kom, het hy getoon dat dit ’n spesifieke gawe is as ’n mens bereid is om ongetroud te bly ter wille van Koninkryksbelange: “Nie almal maak plek vir die woord nie, maar net dié wat die gawe het. Want daar is eunugs wat uit hulle moeder se skoot so gebore is, en daar is eunugs wat deur die mense eunugs gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself eunugs gemaak het weens die koninkryk van die hemele. Wie daarvoor plek kan maak, laat hom daarvoor plek maak.”—Matteus 19:4-6, 11, 12.

Maak plek vir die gawe om ongetroud te kan bly

10. Hoe kan iemand “plek maak” vir die gawe om ongetroud te kan bly?

10 Terwyl Jesus sowel as Paulus die ongetroude lewe ’n “gawe” genoem het, het nie een van hulle gesê dat dit ’n wonderdadige gawe is wat net party besit nie. Jesus het gesê dat ‘nie almal plek maak’ vir daardie gawe nie, en hy het dié vir wie dit moontlik is, aangespoor om ‘daarvoor plek te maak’, soos Jesus en Paulus ook gedoen het. Paulus het weliswaar geskryf: “Dit is beter om te trou as om van hartstog te brand”, maar hy het gepraat van dié wat “nie selfbeheersing het nie” (1 Korintiërs 7:9). In vroeëre briewe het Paulus getoon dat Christene dit kan vermy om van hartstog te brand (Galasiërs 5:16, 22-24). Om deur die gees te wandel, beteken dat ons Jehovah se gees sal toelaat om ons in alles te rig. Kan jong Christene dit doen? Ja, as hulle Jehovah se Woord noukeurig volg. Die psalmis het geskryf: “Waarmee sal die jongeling sy [of haar] pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.”—Psalm 119:9.

11. Wat beteken dit om ‘in ooreenstemming met die gees te wandel’?

11 Dit beteken dat ’n mens moet waak teen permissiewe idees wat versprei word deur baie TV-programme, rolprente, tydskrifartikels, boeke en woorde van liedjies. Sulke idees is op die vlees gerig. ’n Jong Christenman of -vrou wat vir die ongetroude lewe plek wil maak, moet “nie in ooreenstemming met die vlees wandel nie, maar in ooreenstemming met die gees. Want dié wat in ooreenstemming met die vlees is, rig hulle verstande op die dinge van die vlees, maar dié wat in ooreenstemming met die gees is, [rig hulle verstande] op die dinge van die gees” (Romeine 8:4, 5). Dinge van die gees is regverdig, kuis, lieflik, deugsaam. Christene, oud en jonk, doen goed as hulle ‘aanhou om hierdie dinge te bedink’.—Filippense 4:8, 9.

12. Wat is hoofsaaklik daarby betrokke om plek te maak vir die gawe om ongetroud te kan bly?

12 Om plek te maak vir die gawe om ongetroud te kan bly, beteken hoofsaaklik dat ’n mens jou hart op daardie doel moet sit en tot Jehovah moet bid vir hulp om dit na te streef (Filippense 4:6, 7). Paulus het geskryf: “As iemand in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar gesag oor sy eie wil het en hierdie besluit, om sy eie maagdelikheid te bewaar, in sy eie hart geneem het, sal hy goed doen. Gevolglik doen ook hy wat sy maagdelikheid in die huwelik gee goed, maar hy wat dit nie in die huwelik gee nie, sal beter doen.”—1 Korintiërs 7:37, 38.

Ongetroud met ’n doel

13, 14. (a) Watter vergelyking het die apostel Paulus tussen getroude en ongetroude Christene gemaak? (b) Slegs hoe kan ’n ongetroude Christen “beter doen” as dié wat getroud is?

13 Die ongetroude lewe is nie op sigself lofwaardig nie. In watter sin kan dit dan “beter” wees? Dit hang alles af van hoe ’n mens die vryheid wat dit bied, gebruik. Paulus het geskryf: “Ja, ek wil hê dat julle sonder sorge moet wees. Die ongetroude man is besorg vir die dinge van die Here, hoe hy die Here se goedkeuring kan verkry. Maar die getroude man is besorg vir die dinge van die wêreld, hoe hy sy vrou se goedkeuring kan verkry, en hy is verdeeld. Verder is die ongetroude vrou, en die maagd, besorg vir die dinge van die Here, sodat sy in haar liggaam sowel as in haar gees heilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man se goedkeuring kan verkry. Maar dit sê ek tot julle eie voordeel, nie om ’n strop om julle te werp nie, maar om julle te beweeg tot wat betaamlik is en wat volgehoue diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word.”—1 Korintiërs 7:32-35.

14 ’n Ongetroude Christen wat sy ongehude staat gebruik om selfsugtige doelwitte na te jaag, doen nie “beter” as getroude Christene nie. Hy bly ongetroud, nie “weens die koninkryk” nie, maar om persoonlike redes (Matteus 19:12). Die ongetroude man of vrou moet ‘besorg wees vir die dinge van die Here’, gretig wees ‘om die Here se goedkeuring te verkry’ en moet ‘volgehoue diens aan die Here lewer sonder om afgelei te word’. Dit beteken dat hy onverdeelde aandag gee aan sy diens aan Jehovah en Christus Jesus. Slegs as ongetroude Christenmans en -vroue dit doen, doen hulle “beter” as getroude Christene.

Diens sonder om afgelei te word

15. Wat is die kern van Paulus se redenasie in 1 Korintiërs hoofstuk 7?

15 Paulus se hele redenasie in hierdie hoofstuk is: Hoewel die huwelik geoorloof en, in sekere omstandighede, vir party raadsaam is, is die ongetroude lewe ongetwyfeld voordelig vir die Christenman of -vrou wat Jehovah met die minste afleiding wil dien. Waar die getroude persoon “verdeeld” is, is die ongetroude Christen vry om sy aandag op “die dinge van die Here” toe te spits.

16, 17. Hoe kan ’n ongetroude Christen meer aandag aan “die dinge van die Here” gee?

16 Wat is die Here se dinge waaraan ’n ongetroude Christen meer aandag kan gee as getroudes? In ’n ander konteks het Jesus van dinge gepraat “wat aan God behoort”—dinge wat ’n Christen nie aan Caesar kan gee nie (Matteus 22:21). Hierdie dinge het hoofsaaklik te doen met ’n Christen se lewe, aanbidding en bediening.—Matteus 4:10; Romeine 14:8; 2 Korintiërs 2:17; 3:5, 6; 4:1.

17 Ongetroude persone het gewoonlik meer vryheid om tyd aan Jehovah se diens te wy, wat ’n goeie uitwerking kan hê op hulle geestelikheid en die omvang van hulle bediening. Hulle kan meer tyd aan persoonlike studie en bepeinsing bestee. Ongetroude Christene kan dikwels hulle Bybellees makliker in hulle rooster inpas as getroudes. Hulle kan beter vir vergaderinge en velddiens voorberei. Dit is alles tot hulle “eie voordeel”.—1 Korintiërs 7:35.

18. Hoe kan baie ongetroude broers toon dat hulle Jehovah wil dien “sonder om afgelei te word”?

18 Baie ongetroude broers wat reeds bedieningsknegte is, is vry om vir Jehovah te sê: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Hulle kan aansoek doen om die Bedieningsopleidingskool by te woon, wat slegs vir ongetroude bedieningsknegte en ouer manne is wat vry is om te dien waar hulp nodig is. Selfs broers wat nie vry is om hulle gemeente te verlaat nie, kan hulle beskikbaar stel om hulle broers as bedieningsknegte of ouer manne te dien.—Filippense 2:20-23.

19. Hoe word baie ongetroude susters geseën, en wat is een manier waarop hulle ’n seëning vir die gemeentes kan wees?

19 Aangesien ongetroude susters nie ’n mens as hoof het wat hulle kan raadpleeg en wat hulle in hulle vertroue kan neem nie, sal hulle dalk meer geneig wees om ‘hulle sorge op Jehovah te werp’ (Psalm 55:23; 1 Korintiërs 11:3). Dit is veral belangrik vir susters wat uit liefde vir Jehovah ongetroud is. As hulle wel later trou, sal dit “net in die Here” wees, dit wil sê net met iemand wat aan Jehovah toegewy is (1 Korintiërs 7:39). Ouer manne is dankbaar om ongetroude susters in die gemeente te hê; hulle besoek en help dikwels die siekes en bejaardes. Dit maak almal gelukkig.—Handelinge 20:35.

20. Hoe toon baie Christene dat hulle ‘volgehoue diens aan die Here lewer sonder om afgelei te word’?

20 Talle jong Christene het hulle sake so gereël dat hulle “volgehoue diens aan die Here [kan lewer], sonder om afgelei te word” (1 Korintiërs 7:35). Hulle dien Jehovah as voltydse pionierbedienaars, sendelinge of by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore. En wat ’n gelukkige groep is hulle tog nie! Hulle teenwoordigheid is voorwaar verfrissend! In Jehovah en Jesus se oë is hulle “net soos doudruppels”.—Psalm 110:3, NW.

Geen eed om vir altyd ongetroud te bly nie

21. (a) Waarom is dit duidelik dat Paulus Christene nie aangespoor het om ’n eed af te lê om ongetroud te bly nie? (b) Wat het hy geïmpliseer toe hy gesê het dat ’n mens “verby die bloei van die jeug” moet wees?

21 ’n Sleutelgedagte in Paulus se raad is dat Christene “goed” sal doen as hulle in hulle lewe plek maak om ongetroud te bly (1 Korintiërs 7:1, 8, 26, 37). Maar hy spoor hulle geensins aan om ’n eed te neem om ongetroud te bly nie. Inteendeel, hy skryf: “As iemand dink dat hy hom onbehoorlik gedra ten opsigte van sy maagdelikheid, as dit verby die bloei van die jeug is, en dit is hoe dit moet geskied, laat hom doen wat hy wil; hy sondig nie. Laat hulle trou” (1 Korintiërs 7:36). Die een Griekse woord (hu·peʹra·kmos) wat met “verby die bloei van die jeug” vertaal word, beteken letterlik “verby die hoogste punt” en verwys na die feit dat die grootste golf van seksuele begeerte verbygegaan het. Diegene wat reeds ’n paar jaar ongetroud gebly het en wat later voel dat hulle wil trou, is dus heeltemal vry om met ’n medegelowige te trou.—2 Korintiërs 6:14.

22. Waarom is dit uit elke oogpunt voordelig as ’n Christen nie te jonk is wanneer hy trou nie?

22 Die jare wat ’n jong Christen gebruik om Jehovah te dien sonder om afgelei te word, is ’n verstandige belegging. Dit stel hom of haar in staat om praktiese wysheid, ervaring en insig te verkry (Spreuke 1:3, 4, vgl. NW). Iemand wat ter wille van die Koninkryk ongetroud gebly het, is baie beter toegerus om later die verantwoordelikhede van die huwelik en moontlik selfs ouerskap te dra, as hy besluit om dit te doen.

23. Wat dink party wat die huwelik oorweeg dalk, maar watter vraag gaan in die volgende artikels bespreek word?

23 Party Christene wat Jehovah etlike jare lank in die ongehude staat voltyds gedien het, is versigtig hoe hulle hulle toekomstige maat kies sodat hulle in die een of ander vorm van die voltydse diens kan voortgaan. Dit is beslis baie prysenswaardig. Party dink selfs dat hulle sal kan trou sonder dat hulle huwelik enige uitwerking op hulle diens sal hê. Maar moet ’n getroude Christen voel dat hy nog net so vry is om hom op sy diens aan Jehovah toe te lê as toe hy of sy ongetroud was? Hierdie vraag sal in die volgende artikels bespreek word.

Ter hersiening

◻ Waarom het die apostel Paulus dit nodig gevind om aan die gemeente in Korinte te skryf?

◻ Hoe weet ons dat Paulus nie ’n kloosterlike lewe aanbeveel het nie?

◻ Hoe kan ’n mens “plek maak” vir die ongetroude lewe?

◻ Hoe kan ongetroude susters hulle ongetroude lewe ten beste benut?

◻ Op watter maniere kan ongetroude broers gebruik maak van hulle vryheid om Jehovah te dien “sonder om afgelei te word”?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel