Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/1 bl. 10-16
  • Die voordele en geleenthede wat die ongehude staat bied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die voordele en geleenthede wat die ongehude staat bied
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Groter geleenthede
  • Waarom so ’n sterk begeerte?
  • Put krag uit wedersydse bemoediging
  • Kry krag van bo
  • Selfbeheersing
  • Die inspanning is die moeite werd!
  • Maak die beste gebruik van die ongetroude lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die ongetroude lewe—’n Deur tot diens sonder om afgelei te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Wyse raad oor die ongetroude lewe en die huwelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wanneer die ongetroude lewe ’n gawe is
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/1 bl. 10-16

Die voordele en geleenthede wat die ongehude staat bied

1. Hoe beskou baie die ongehude staat, en waarom huldig party hierdie mening?

’N OUER vriendin het vir ’n een-en-twintigjarige onderwyseres gevra: “Wil jy nie trou nie?” Hierdie jong onderwyseres, wat die voordele van haar ongehude staat waardeer het, het geantwoord: “Ek het dit nog nie eintlik ernstig oorweeg nie.” Verbaas oor haar antwoord het die vriendin gesê: “Wel, wanneer jy ouer word, sal jy spyt wees dat jy nie getrou het nie. Almal behoort te trou.” As jy dink aan die magdom van God se knegte wat getroud is, kan jy begryp waarom baie, soos hierdie welmenende vriendin, meen dat die ongehude staat ’n onwenslike toestand is en ’n persoon se lewe onvolledig maak.

2. Waarom behoort ongetroude sowel as getroude Christene in die onderwerp belang te stel?

2 ’n Persoon is miskien ongetroud omdat hy of sy te jonk is of andersins nie in staat is om huweliksverantwoordelikhede te aanvaar nie. Ander het hul maat as gevolg van ’n egskeiding of die dood verloor. In die Verenigde State het een uit elke drie gesinne tans ’n ongetroude broodwinner. In net 10 jaar was daar ’n vermeerdering van 64 persent in die aantal mense wat alleen woon. Selfs al is jy getroud, is die moontlikheid groot dat iemand na aan jou ongetroud is. Hoe kan jy as ’n getroude Christen meer ‘medelye’ hê met ongetroude persone wat ’n groot deel van God se huisgesin uitmaak? As jy natuurlik ongetroud is, besef jy hoe moeilik dit is om gelukkig en ongetroud te wees in ’n gemeenskap waar die huwelik as die norm beskou word. Hoe moet jy nou eintlik jou ongehude staat beskou?—1 Petrus 3:8.

3. (a) Hoe is die ongehude staat in Jesus se dag beskou? (b) Hoe het Jesus die ongehude staat “ter wille van die koninkryk” beskou?

3 Jesus Christus het getoon dat die ongehude staat “ter wille van die koninkryk” ’n gawe van God is. Dit was ’n splinternuwe begrip, want die Jode van sy dag het die huwelik as ’n “universele verpligting” beskou en die ongehude staat as ’n skande. “Hy wat nie ’n vrou het nie, is nie waarlik ’n man nie” was een van die gesegdes van die Joodse rabbi’s. Maar Jesus het sy dissipels aangespoor om ‘plek te maak’ vir die ongehude staat en nie verplig te voel om te trou nie.—Mattheüs 19:10-12, vgl. NW.

4. Watter weg het baie Christene ingeslaan, en wat dink hulle van hulle omstandighede?

4 Die huwelik en die ongehude staat is dus albei gawes van God. In die vroeë dae van die Christelike godsdiens, sowel as in ons dag, het baie ongetroud gebly “ter wille van die koninkryk”.a In plaas daarvan om hulle lot te betreur, is baie dieselfde mening toegedaan as een een-en-veertigjarige Christin wat nooit getrou het nie en wat onlangs gesê het: “Ek sal my jare as ’n ongetroude persoon vir niks verruil nie.” Waarom voel baie mense so?

Groter geleenthede

5. Hoe kan ongetroude Christene die geleenthede wat hulle omstandighede hulle bied, benut?

5 Die voorbeelde van getroude Christene soos die apostels van Jesus, asook Aquila en Priscilla, toon dat egpare ’n waardevolle bydrae in God se diens kan lewer (Handelinge 18:26-28; 1 Korinthiërs 9:5). Die apostel Paulus het egter getoon dat ’n ongetroude persoon ’n groter arbeidsveld kan hê. Hy het geskryf: “Die ongetroude man [of vrou] gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy [of sy] die Here kan behaag. Die getroude man [of vrou] gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou [sy haar man] kan behaag, en sy [of haar] aandag is verdeel” (1 Korinthiërs 7:32-34, NTP). ’n Ongetroude persoon is nie “verdeel” as gevolg van huweliksverantwoordelikhede wat “verdrukking . . . vir die vlees” meebring nie en kan gevolglik besorg oor of ywerig vir geestelike sake wees. Let op tot watter mate heilige werke die lewens gevul het van diegene wat in die venstertjie gemeld word. Die vermoë om ‘onverdeeld’ deel te neem aan God se diens, waarvan die predikingswerk die vernaamste deel is, is ’n groot skat. Ongetroude persone het gewoonlik meer tyd vir studie en bepeinsing. Dit kan die “gees” of innerlike beweegrede verbeter sodat daardie persoon nader aan Jehovah kom namate hy of sy daarop konsentreer om “heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees”. Omdat hulle nie ’n huweliksmaat het nie, leer baie om swaar op God te steun en hulle na hom te wend vir voorligting en raad. Ongetroude Christene kan dikwels diensvoorregte aanvaar wat egpare nie kan aanvaar nie. Geen wonder dat Jesus hierdie voorreg om ’n ongetroude Christen te bly ’n “gawe” genoem het nie!—Mattheüs 28:19, 20; 1 Korinthiërs 7:28, 35, vgl. NTP.

6, 7. (a) Beteken dit dat ’n persoon nie langer tot die ander geslag aangetrokke voel nie en nooit sal trou nie as hy die ongehude staat as gawe ontvang het? (b) Wat word bedoel met ‘’n besluit in ’n mens se eie hart’? (c) Watter vraag kan by party ongetroude persone opkom?

6 Diegene wat ‘plek maak vir die gawe’ is nie noodwendig persone met ’n spesiale “gawe” in hulle emosionele samestelling wat meebring dat hulle nie meer tot die ander geslag aangetrokke voel nie. Hulle het nie ’n selibaatgelofte afgelê asof dit hulle plan is om nooit te trou nie, maar het in hulle harte “besluit” om sukses met hulle ongehude staat te behaalb (1 Korinthiërs 7:37, NTP). Hierdie persone het die voordele van die ongehude staat in hulle harte oorweeg. Op grond van hierdie ‘getuienis’ begin hulle harte om te ‘oordeel’ dat die ongehude staat ’n “gawe” is en ‘maak hulle plek’ daarvoor.—1 Korinthiërs 7:38.

7 Maar gestel jy het ’n sterk begeerte om te trou. Het Paulus dan nie gesê dat dit beter is om te trou as om van begeerte te brand nie?—1 Korinthiërs 7:9.

Waarom so ’n sterk begeerte?

8. (a) Waarom het party jong, ongetroude persone ’n sterk begeerte om te trou? (b) Watter voordele hou dit in as ’n mens die huwelik uitstel totdat jy “oor die bloei van die jeug is”?

8 Dit is net natuurlik om te wil trou. God het ons met daardie begeerte geskep (Genesis 2:18). Maar het ’n persoon hierdie sterk hunkering omdat hy in die “bloei van die jeug” is wanneer die geslagsdrang aanvanklik opwel? Paulus het aanbeveel dat ’n mens die huwelik uitstel totdat hierdie tydperk “oor” is. Dit lyk miskien vir ’n jong persoon onmoontlik om te wag. Party in die eerste eeu het ook gemeen dat hulle eenvoudig moes trou. Maar terwyl hulle ‘’n vrou gesoek’ het, het ander wat getroud was “losmaking” van hulle situasie gesoek! Hoewel die huwelik ’n beskerming teen onsedelikheid is, los dit nie alle probleme op nie. Een vyf-en-dertigjarige ongetroude Christen het gesê: “Wanneer ek as ’n ouere man sien hoedat mense se lewens deur ’n slegte huwelik verpletter word, is dit ontnugterend. Ek is nie teen die huwelik gekant nie, maar ek meen dat dit nie nodig is om haastig te wees nie.” Navorsing toon dat die moontlikheid drie keer groter is dat Amerikaanse vroue wat getroud is voordat hulle 18 was in die skeihof sal beland as diegene wat gewag het totdat hulle 24 is! Die egskeidingsyfer vir tienderjarige mans in die Verenigde State is drie keer hoër as dié vir die algemene bevolking. Jong, ongetroude persone kan hulle tyd nuttig gebruik om ’n goeie verhouding met Jehovah te verkry asook om die eienskappe en vaardighede te verkry wat nodig is om eendag ’n goeie huweliksmaat te wees.—1 Korinthiërs 7:27, 36, vgl. NW.

9. (a) Wat het party gedoen weens ’n begeerte na kameraadskap, en wat was dikwels die gevolg? (b) Voor watter vraag kom ongetroude persone te staan?

9 Baie Christene het ouer geword sonder om te trou. Mettertyd het party van hulle, weens ’n sterk begeerte na kameraadskap, oorhaastig met ’n ongelowige getrou omdat hulle gedink het dat enige huweliksmaat beter as glad geen huweliksmaat is nie. Maar jy weet dalk van party wat dit gedoen het slegs om te vind dat hulle net so eensaam is met ’n maat met wie hulle nie kan kommunikeer nie. Hoe kan ’n ongetroude persoon egter “in sy eie gemoed oortuig” bly?—1 Korinthiërs 7:28, 37, 39, vgl. NTP.

Put krag uit wedersydse bemoediging

10. Wat was volgens Romeine 1:11, 12 die apostel Paulus se begeerte, en hoe het hy daarby baat gevind?

10 Suksesvolle, ongetroude Christene is lief vir mense. Die apostel Paulus, self ’n ongetroude man, het geskryf: “Ek verlang daarna om julle te sien, want ek wil ’n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word” (Romeine 1:11, 12, NTP). Paulus het intens belang gestel in mense en wou ’n “geestelike gawe” aan medegelowiges gee. Hy is op sy beurt bemoedig. Dit is ook vandag die geval.

11. Watter ondervinding lig toe hoe ’n persoon bemoedig kan word deur ’n “geestelike gawe” te gee?

11 ’n Agt-en-twintigjarige ongetroude Christin het talle van die jonger susters in die gemeente na haar huis genooi vir ’n klein geselligheid omdat sy ’n “geestelike gawe” deur middel van heilsame omgang aan hulle wou gee. Die volgende dag het een tienderjarige haar arms om hierdie suster geslaan en gesê: “Jy sal nooit weet hoe baie daardie geselligheid vir my beteken het en hoe ek die bemoediging nodig gehad het nie. Die probleme tuis met my stiefma het my begin onderkry. Nou het ek weer nuwe moed.” Terwyl die ongetroude suster hierdie ondervinding vertel het, het sy met trane in haar oë gesê: “Ek het dit nooit vergeet nie. Op die lange duur was dit sy wat my ’n groot guns bewys het, want haar woorde het my so goed laat voel.” Wanneer ons, waar gepas, ’n persoonlike belangstelling in ander lede van ons ‘geestelike gesin’ aankweek, kan dit ons help om eensaamheid die hoof te bied. Maar dit verg inspanning om sinvolle vriendskappe op te bou.c—Markus 10:29, 30.

12. Watter geleenthede bied die dissipelmaakwerk?

12 Benewens die geleenthede in die Christengemeente om ‘geestelike gawes’ te gee, is daar ook die wat deur die dissipelmaakwerk geskep word. Die gewer word dikwels verkwik wanneer hy die vordering van die leerling waarneem en die duursame troos sien wat Bybelwaarheid kan verskaf. Wanneer jy ander voorgaan in liefdebetoning binne sowel as buite God se huisgesin, sal jou lewe ryker wees en sal jy dit makliker vind om ‘in jou eie gemoed oortuig te bly’.—Romeine 12:2; Prediker 11:1; Lukas 6:38.

Kry krag van bo

13. Hoe kan 2 Timotheüs 4:17 veral ongetroude Christene bemoedig?

13 Terwyl die apostel Paulus in Rome in die gevangenis was, moes hy ’n moeilike situasie alleen onder die oë sien. Hy het geskryf: “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee” (2 Timotheüs 4:17). Hierdie krag het Paulus in staat gestel om getrou te wees en het hom letterlik of simbolies “uit die bek van die leeu verlos”. Wend jy jou tot jou tere Vader om hulp wanneer daar simboliese “leeus” in jou lewe kom? Stort jy jou hart voor hom uit met die wete dat hy verstaan wat jy nodig het en jou sal bystaan, selfs al doen niemand anders dit nie?—1 Petrus 5:6-9.

14. (a) Aan watter druk is een ongetroude suster onderwerp, en hoe is sy geseën? (b) Watter vertroue moet 1 Korinthiërs 10:13 ons gee?

14 Een drie-en-vyftigjarige ongetroude suster was verpletter toe sy afgedank is. “Ek het Jehovah gesmeek om my te help om die een of ander werk te kry en om die pot aan die kook te hou. Voor die einde van die week het ek ’n nuwe betrekking gehad! Ek het my daardie dag voorgeneem om voortaan net van dag tot dag te lewe en op Jehovah se sorg te vertrou. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie.” Nadat sy 26 jaar lank pionierdiens gedoen het, is haar gebed om ’n geestelik bekwame maat in 1982 verhoor toe sy getrou het met ’n reisende opsiener wat ’n wewenaar was. Jehovah verhoor weliswaar nie altyd ons gebede presies op hierdie maniere nie, maar hy sal ons die krag gee om hardnekkige probleme die hoof te bied.—1 Korinthiërs 10:13.

Selfbeheersing

15. (a) Wat moet ’n persoon besef om sy geslagsdrang te beheers? (b) Hoe word dit in Spreuke hoofstuk 7 toegelig?

15 “Ek kan net eenvoudig nie meer die mas alleen opkom nie” het een Christin geskryf. “Ek het ’n sterk geslagsdrang en dit is nou al jare lank dat ek nie ’n geskikte Christeneggenoot kan vind nie. Ek is aangesê om huis toe te gaan en selfbeheersing te beoefen. Maar hoe?” Dit is nie maklik om sulke emosies te beheers nie. Om die geslagsdrang te beheers, moet ’n ongetroude persoon besef wanneer hy of sy selfdissipline streng moet begin toepas. In Spreuke 7:6-23 verloor ’n jongman byvoorbeeld sy selfbeheersing en, oorweldig deur geslagsdrif, ‘gaan hy agter’ ’n hoer aan. Maar hy het nie dadelik hierdie stadium bereik nie. Die voorafgaande stappe het die volgende ingesluit: (1) hy het in die aand met haar straat langs geloop, (2) hy het toegelaat dat sy hom soen, en (3) hy het na haar onsedelike voorstelle geluister. Elke stap het dit moeiliker gemaak om selfbeheersing te beoefen, totdat hy hom nie meer kon keer nie. Hy moes opgehou het sodra hy besef het dat hy die eerste stap doen!—Galasiërs 5:22.

16. Wat kan ’n ware Christen moontlik doen, selfs al volg hy nie die handelwyse van die onsedelike man na nie?

16 Geen ware Christen sal letterlik die stappe doen wat hierdie man gedoen het nie. Maar wat van ’n mens se gedagtes? Kan ’n persoon verstandelik begin om ‘in die rigting van haar huis te stap’ deur onsedelike gedagtes te koester? Sulke gedagtes moet onmiddellik verwerp word! As hy dit nie doen nie, kan hy verstandelik verdere stappe doen en hom skuldig maak aan selfbevlekking of selfs geslagsonsedelikheid.

17. (a) Waarom moet ons die vlees met sy hartstogte aan die paal nael? (b) Hoe doen ’n Christen dit?

17 Omdat verkeerde begeertes vir ons onvolmaakte vlees aangenaam is, is dit nie maklik om van hulle ontslae te raak nie. “Die wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes aan die paal genael” (Galasiërs 5:24, NW). Paalstraf was ’n wrede, pynlike vorm van teregstelling. Jy moet dus streng met jouself wees en sulke verkeerde begeertes ‘doodmaak’—hulle in die kiem smoor voordat hulle wortelskiet. Wanneer ’n TV-program begin om geslagsdrif te wek, moet jy dit dadelik afskakel of na ’n ander program oorskakel. Kies die rolprente waarna jy kyk of die lektuur wat jy lees versigtig. Pas op waaroor jy gesels en ook hoe jy lede van die ander geslag beskou.—Mattheüs 5:28-30; Kolossense 3:5.

18. Wat het party ongetroude Christene gedoen om verkeerde geslagsdrange dood te maak, en met watter gevolg?

18 Weerstaan ons enige drang om persoonlike of gemeentelike Bybelstudie te verwaarloos wanneer die tyd daarvoor aanbreek? Om onrein drange aan die paal te nael wanneer hierdie emosies besonder sterk was, het een Christen homself gedwing om snags op te staan en hardop uit die Bybel te lees en elke paragraaf mondelings op te som totdat sulke drange bedaar het. Christene het hulself soms gedwing om op die plek vurig tot Jehovah te bid om hulp. Solank ’n Christen opreg probeer om “hartstog” aan die paal te nael, is dit onwaarskynlik dat hy hom aan hoerery skuldig sal maak.—Hebreërs 4:16.

Die inspanning is die moeite werd!

19. Hang ons verhouding met God daarvan af of ons getroud of ongetroud is?

19 Die ongehude staat ‘ter wille van die Koninkryk’ en die huwelik is albei gawes van God. Maar albei verg inspanning as ’n Christen sukses wil behaal. Ons kan, ongeag ons status, ’n intieme verhouding met God opbou en bevrediging uit die lewe put. Al maak jy net ’n rukkie “plek” vir die ongehude staat, is die belangrike saak dat jy dit wyslik gebruik.

20. (a) Hoe moet alle ryp Christene die ongehude staat beskou? (b) Watter versekering kan ongetroude persone oor die toekoms hê?

20 Ons moet besef dat Jesus dit as iets baie edels beskou het wanneer iemand uit sy eie besluit het om ongetroud te bly. Elke ryp Christen moet die saak soos Jesus sien en dit nie as ’n bejammerenswaardige toestand beskou nie. Jehovah stel die opofferings van ongetroude persone wat verkies om te doen wat hom behaag hoog op prys. (Vergelyk Jesaja 56:4, 5.) Jehovah sal hulle nie vergeet nie. Party wat tot in die nuwe aarde behoue bly, sal moontlik die voorregte van die huwelik geniet en net soos Noag se kinders na die globale vloed die geleentheid hê om uitvoering te gee aan die goddelike opdrag om ‘die aarde te vul’ (Genesis 9:1). Dit kan ’n seën wees bo en behalwe dié wat ongetroude Christene reeds geniet. In God se nuwe orde sal hy ‘alles wat lewe met welbehae versadig’ en aan almal ‘die begeertes van hul hart’ gee. Ons kan dus daarvan seker wees dat almal dan volkome geluk ooreenkomstig God se wil sal smaak.—Psalm 37:3, 4; 145:16.

21. (a) Hoe het die ongetroude onderwyseres wat vroeër gemeld is, haar lewe gebruik? (b) Wat kan ander ongetroude Christene doen om dieselfde mening te huldig?

21 Die voormalige onderwyseres wat in die eerste paragraaf van hierdie artikel gemeld is, is nou 83 jaar oud en steeds ongetroud. Sy is al 57 jaar in die voltydse Koninkryksdiens, onder meer 56 jaar by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies. Wat dink sy van haar lewe? “Ek is ten volle tevrede met my lewe en my werk. Ek is nou besiger as ooit tevore in ’n werk wat ek innig liefhet” het hierdie lewendige Christin gesê. “Ek is nie spyt daaroor nie. As ek dit weer moes doen, sou ek dieselfde besluit geneem het.” As jy ongetroud is, kan jy ook sulke tevredenheid smaak deur sukses met jou ongehude staat te behaal en die voordele en geleenthede daarvan ten volle te benut.

[Voetnote]

a Erkende Christenskrywer Athenagoras het omstreeks 175 G.J. geskryf: “Jy sal baie manne sowel as vroue onder ons vind wat oud word sonder om te trou in die hoop om nader aan God te lewe.”—A Plea for the Christians, hoofstuk 33.

b Die oorspronklike Griekse woord, krino, wat met “besluit” vertaal word, beteken “om te oordeel, om ’n mening te lug”. Die woord word in Johannes 7:51 gebruik waar Nikodemus sê dat getuienis eers aangehoor moet word voordat ’n persoon geoordeel word. Dit sou tyd verg.

c Kyk asseblief die artikels “‘Maar wat moet ek sê?’—Hoe om die geselskuns aan te leer” en “Hoe kan ek ware vriende kry?” in Ontwaak! van 22 Mei en 22 Julie 1982.

◻ Hoe moet die ongehude staat ‘ter wille van die Koninkryk’ beskou word?

◻ Watter groter geleenthede het ongetroude Christene?

◻ Waarom is dit beter om ’n mens se ongehude staat nie oorhaastig prys te gee nie?

◻ Watter drie dinge moet ’n ongetroude persoon doen om ‘in sy eie gemoed oortuig te bly’?

[Venster op bladsy 11]

’N PAAR ONGETROUDE PERSONE IN DIE BYBEL

Jesus: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”—Johannes 4:34.

Paulus: ‘Ek het die Here gedien en kragtig getuig. Ek het my lewe vir myself nie dierbaar geag nie.’—Handelinge 20:19-24.

Jeremia: “O [Jehovah], my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid.”—Jeremia 16:19.

Jefta se dogter: ‘Sy het geen man beken nie. Jaar vir jaar het die vroue van Israel haar by die heiligdom besoek om haar te prys.’—Rigters 11:39, 40.

Anna: “Sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.”—Lukas 2:37.

Dorkas: “Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.”—Handelinge 9:36.

[Prent op bladsy 13]

OM IN JOU EIE GEMOED OORTUIG TE BLY

1. Moet jy geestelik aan ander gee

2. Moet jy krag van bo vra wanneer daar baie probleme is

3. Verkeerde begeertes dadelik weerstaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel