Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 8/15 bl. 9-14
  • Jesus se koms of Jesus se teenwoordigheid—Watter een?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus se koms of Jesus se teenwoordigheid—Watter een?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat het hulle gevra?
  • Wat Matteus in Grieks geskryf het
  • Aspekte van die Hebreeuse taal
  • Ons wag op die klimaks van sy teenwoordigheid
  • Lig op Christus se teenwoordigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Christus is teenwoordig!
    Ontwaak!—1993
  • Die Messias se teenwoordigheid en sy heerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wederkoms
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 8/15 bl. 9-14

Jesus se koms of Jesus se teenwoordigheid—Watter een?

“Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—MATTEUS 24:3.

1. Watter rol het vrae in Jesus se bediening gespeel?

JESUS se vaardige gebruik van vrae het sy hoorders laat dink en hulle selfs dinge uit ’n nuwe oogpunt laat beskou (Markus 12:35-37; Lukas 6:9; 9:20; 20:3, 4). Ons kan dankbaar wees dat hy ook vrae beantwoord het. Sy antwoorde het lig op waarhede gewerp wat ons andersins dalk nie sou geken of verstaan het nie.—Markus 7:17-23; 9:11-13; 10:10-12; 12:18-27.

2. Aan watter vraag moet ons nou aandag skenk?

2 In Matteus 24:3 vind ons een van die belangrikste vrae wat Jesus nog beantwoord het. Met die einde van sy aardse lewe op hande het Jesus kort tevore gewaarsku dat Jerusalem se tempel vernietig sou word, wat die einde van die Joodse stelsel sou aandui. Matteus se verslag voeg by: “Terwyl hy op die Olyfberg gesit het, het die dissipels alleen na hom toe gekom en gesê: ‘Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid [“koms”, AB] en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?’”—Matteus 24:3.

3, 4. Watter belangrike verskil is daar in die manier waarop Bybels ’n sleutelwoord in Matteus 24:3 weergee?

3 Miljoene Bybellesers het al gewonder: ‘Waarom het die dissipels daardie vraag gevra, en hoe moet Jesus se antwoord my raak?’ In sy antwoord het Jesus gepraat van blare wat verskyn en toon dat die somer “naby is” (Matteus 24:32, 33). Gevolglik leer baie kerke dat die apostels vir ’n teken van Jesus se “koms” gevra het, die teken wat as bewys sou dien dat hy kort daarna sou terugkeer. Hulle glo dat die “koms” die tyd sal wees wanneer hy Christene hemel toe neem en dan die wêreld tot ’n einde bring. Glo jy dat hierdie beskouing korrek is?

4 In plaas van die vertaling “koms” te gebruik, gebruik sommige Bybelweergawes, onder andere die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte, die woord “teenwoordigheid”. Is dit moontlik dat dít waaroor die dissipels gevra het en wat Jesus in antwoord daarop gesê het, verskil van wat in die kerke geleer word? Wat is werklik gevra? En wat was Jesus se antwoord?

Wat het hulle gevra?

5, 6. Wat kan ons aangaande die apostels se denke aflei toe hulle die vraag gevra het wat ons in Matteus 24:3 vind?

5 In die lig van wat Jesus oor die tempel gesê het, het die dissipels waarskynlik aan die Joodse reëling gedink toe hulle gevra het vir ‘’n teken van sy teenwoordigheid [of “koms”] en die voleinding van die stelsel van dinge [letterlik “tydperk”]’.—Vergelyk “wêreld” in 1 Korintiërs 10:11 en Galasiërs 1:4, King James Version.

6 Op daardie tydstip het die apostels maar ’n beperkte begrip van Jesus se leringe gehad. Hulle het vroeër gedink dat “die koninkryk van God hom oombliklik gaan vertoon” (Lukas 19:11; Matteus 16:21-23; Markus 10:35-40). En selfs ná die bespreking op die Olyfberg, maar voor hulle met die heilige gees gesalf is, het hulle gevra of Jesus die Koninkryk in daardie tyd vir Israel herstel.—Handelinge 1:6.

7. Waarom het die apostels Jesus oor sy toekomstige rol uitgevra?

7 Hulle het egter geweet dat hy sou weggaan, want hy het kort tevore gesê: “Die lig sal nog ’n klein rukkie onder julle wees. Wandel terwyl julle die lig het” (Johannes 12:35; Lukas 19:12-27). Hulle kon dus wel gewonder het: ‘As Jesus ons gaan verlaat, hoe sal ons weet wanneer hy teruggekeer het?’ Toe hy as die Messias verskyn het, het die meeste hom nie herken nie. En meer as ’n jaar later het mense nog steeds gewonder of hy alles sou vervul wat die Messias moes doen (Matteus 11:2, 3). Die apostels het dus rede gehad om oor die toekoms uit te vra. Maar het hulle vir ’n teken gevra wat sou toon dat hy kort daarna sou kom of het hulle iets anders gevra?

8. In watter taal het die apostels waarskynlik met Jesus gepraat?

8 Verbeel jou dat jy ’n voëltjie was wat na die gesprek op die Olyfberg geluister het. (Vergelyk Prediker 10:20.) Jy sou Jesus en die apostels waarskynlik in Hebreeus hoor praat het (Markus 14:70; Johannes 5:2; 19:17, 20; Handelinge 21:40). Maar hulle het waarskynlik ook Grieks geken.

Wat Matteus in Grieks geskryf het

9. Waarop is die meeste hedendaagse vertalings van Matteus gebaseer?

9 Bronne uit die tweede eeu G.J. toon dat Matteus sy Evangelie eers in Hebreeus geskryf het. Later het hy dit blykbaar in Grieks geskryf. Baie manuskripte in Grieks het tot in ons tyd toe behoue gebly en het as grondslag gedien vir die vertaling van sy Evangelie in hedendaagse tale. Wat het Matteus in Grieks oor daardie gesprek op die Olyfberg geskryf? Wat het hy omtrent die “koms” of “teenwoordigheid” geskryf waaroor die dissipels gevra het en waaroor Jesus kommentaar gelewer het?

10. (a) Watter Griekse woord vir “kom” het Matteus dikwels gebruik, en wat kan dit beteken? (b) Watter ander Griekse woord is van belang?

10 In die eerste 23 hoofstukke van Matteus kom ’n algemene Griekse werkwoord vir “kom”, naamlik erʹkho·mai, meer as 80 keer voor. Dit beteken dikwels om te nader of om nader te kom, soos in Johannes 1:47: “Jesus het Natanael na hom toe sien kom.” Die werkwoord erʹkho·mai kan na gelang van die gebruik “aankom”, “gaan”, “opdaag”, “bereik” of “op pad wees” beteken (Matteus 2:8, 11; 8:28; Johannes 4:25, 27, 45; 20:4, 8; Handelinge 8:40; 13:51). Maar in Matteus 24:3, 27, 37, 39 het Matteus ’n ander woord gebruik, ’n selfstandige naamwoord wat nêrens anders in die Evangelies gevind word nie: pa·rou·siʹa. Waarom het God, aangesien hy die Bybel geïnspireer het, Matteus beweeg om hierdie Griekse woord in hierdie verse te gebruik toe hy sy Evangelie in Grieks geskryf het? Wat beteken dit, en waarom behoort ons hierin belang te stel?

11. (a) Wat beteken pa·rou·siʹa? (b) Hoe bevestig voorbeelde uit Josefus se werke ons begrip van pa·rou·siʹa? (Sien voetnoot.)

11 Kortom: pa·rou·siʹa beteken “teenwoordigheid”. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words sê: “PAROUSIA, . . . lett[erlik] ’n teenwoordigheid, para, met, en ousia, ’n toestand van wees (van eimi, om te wees), beteken ’n aankoms sowel as ’n gevolglike teenwoordigheid saam met. In ’n papirusbrief praat ’n vrou byvoorbeeld van die noodsaaklikheid van haar parousia in ’n plek sodat sy na sake in verband met haar eiendom kan omsien.” Ander woordeboeke verduidelik dat pa·rou·siʹa op ‘die besoek van ’n heerser’ dui. Dit is derhalwe nie net die oomblik van aankoms nie, maar ’n teenwoordigheid wat van die aankoms af voortduur. Interessant genoeg, dit is hoe die Joodse geskiedskrywer Josefus, ’n tydgenoot van die apostels, pa·rou·siʹa gebruik het.a

12. Hoe help die Bybel ons om die betekenis van pa·rou·siʹa te staaf?

12 Die betekenis “teenwoordigheid” word onweerlegbaar deur antieke literatuur bevestig, maar Christene stel veral belang in die manier waarop God se Woord pa·rou·siʹa gebruik. Die antwoord is dieselfde—teenwoordigheid. Ons sien dit uit voorbeelde in Paulus se briewe. Hy het byvoorbeeld aan die Filippense geskryf: “Soos julle altyd gehoorsaam was, nie net gedurende my teenwoordigheid nie, maar nou baie geredeliker gedurende my afwesigheid, [hou aan] om julle eie redding . . . te bewerk.” Hy het ook gesê dat hy by hulle sal vertoef sodat hulle hulle kan verbly “deur [sy] teenwoordigheid [pa·rou·siʹa] weer by [hulle]” (Filippense 1:25, 26; 2:12). Ander weergawes lui “deurdat ek weer by julle is” (Weymouth; New International Version); “wanneer ek weer by julle is” (Jerusalem Bible; New English Bible) en “wanneer julle my weer eens in julle midde het” (Twentieth Century New Testament). In 2 Korintiërs 10:10, 11 stel Paulus “sy persoonlike teenwoordigheid” teenoor sy ‘afwesigheid’. In hierdie voorbeelde het hy beslis nie van sy nadering of aankoms gepraat nie; hy het pa·rou·siʹa gebruik in die sin dat hy teenwoordig was.b (Vergelyk 1 Korintiërs 16:17.) Maar wat van verwysings na Jesus se pa·rou·siʹa? Beteken dit sy “koms” of dui dit op ’n teenwoordigheid wat ’n tyd lank duur?

13, 14. (a) Waarom moet ons tot die slotsom kom dat ’n pa·rou·siʹa oor ’n tydperk strek? (b) Wat moet oor die lengte van Jesus se pa·rou·siʹa gesê word?

13 Geesgesalfde Christene in Paulus se dag het in Jesus se pa·rou·siʹa belanggestel. Maar Paulus het hulle gewaarsku om nie ‘van hulle rede afgebring te word’ nie. “Die mens van wetteloosheid”, die geestelikes van die Christendom, moes eers verskyn. Paulus het geskryf dat “die wettelose se teenwoordigheid . . . volgens die werking van Satan met elke kragtige werk en leuenagtige tekens” is (2 Tessalonisense 2:2, 3, 9). Die pa·rou·siʹa, oftewel teenwoordigheid, van “die mens van wetteloosheid” was beslis nie net ’n kortstondige aankoms nie; dit sou oor ’n tydperk strek waartydens leuenagtige tekens voortgebring sou word. Waarom is dit betekenisvol?

14 Kyk na die vers net voor hierdie een: “Die wettelose [sal] . . . geopenbaar word, met wie die Here Jesus sal wegdoen deur die gees van sy mond en wat hy tot niet sal maak deur die openbaarwording van sy teenwoordigheid.” Net soos die teenwoordigheid van “die mens van wetteloosheid” oor ’n tydperk sou strek, sou Jesus se teenwoordigheid ook oor ’n tydperk strek en ’n klimaks bereik met die vernietiging van daardie wettelose “seun van vernietiging”.—2 Tessalonisense 2:8.

Aspekte van die Hebreeuse taal

15, 16. (a) Watter spesifieke woord word in baie Hebreeuse vertalings van Matteus gebruik? (b) Hoe word bohʼ in die Skrif gebruik?

15 Soos daar gesê is, het Matteus blykbaar sy Evangelie eers in Hebreeus geskryf. Watter Hebreeuse woord het hy dus in Matteus 24:3, 27, 37, 39 gebruik? Weergawes van Matteus wat in hedendaagse Hebreeus vertaal is, gebruik ’n vorm van die werkwoord bohʼ, in die apostels se vraag asook in Jesus se antwoord. Dit kan daartoe lei dat die teks soos volg lees: “Wat sal die teken van u [bohʼ] en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” en: “Soos die dae van Noag was, só sal die [bohʼ] van die Seun van die mens wees.” Wat beteken bohʼ?

16 Hoewel dit verskillende betekenisse het, beteken die Hebreeuse werkwoord bohʼ basies “kom”. Die Theological Dictionary of the Old Testament sê: ‘Bohʼ kom 2 532 keer voor en is dus een van die mees dikwels gebruikte werkwoorde in die Hebreeuse Geskrifte en is bo aan die lys van werkwoorde wat beweging aandui’ (Genesis 7:1, 13; Exodus 12:25; 28:35; 2 Samuel 19:30; 2 Konings 10:21; Psalm 65:3; Jesaja 1:23; Esegiël 11:16; Daniël 9:13; Amos 8:11). As Jesus en die apostels ’n woord met soveel verskillende betekenisse gebruik het, sou die betekenis daarvan betwis kon word. Maar het hulle?

17. (a) Waarom sê hedendaagse Hebreeuse vertalings van Matteus nie noodwendig wat Jesus en die apostels gesê het nie? (b) Waar anders kan ons ’n leidraad vind wat toon watter woord Jesus en die apostels moontlik gebruik het, en om watter ander rede is hierdie bron vir ons van belang? (Sien voetnoot.)

17 Hou in gedagte dat hedendaagse Hebreeuse weergawes vertalings is wat dalk nie presies sê wat Matteus in Hebreeus geskryf het nie. Feit is dat Jesus wel ’n ander woord as bohʼ kon gebruik het, ’n woord wat met die betekenis van pa·rou·siʹa ooreenstem. Ons sien dit uit die boek Hebrew Gospel of Matthew, deur professor George Howard, wat in 1995 uitgegee is. Die boek het die aandag gevestig op ’n 14de-eeuse twisgeskrif teen die Christelike godsdiens deur die Joodse geneesheer Sjem-Tob ben Isaac Ibn Sjaproet. Daardie dokument het ’n Hebreeuse teks van Matteus se Evangelie ingesluit. Daar is getuienis wat daarop dui dat hierdie teks van Matteus nie in die tyd van Sjem-Tob uit Latyn of Grieks vertaal is nie, maar dat dit baie oud was en oorspronklik in Hebreeus geskryf is.c Miskien sal dit ons dus nader bring aan wat op die Olyfberg gesê is.

18. Watter interessante Hebreeuse woord gebruik Sjem-Tob, en wat beteken dit?

18 In Matteus 24:3, 27, 39 gebruik Sjem-Tob se teks van Matteus nie die werkwoord bohʼ nie. In plaas daarvan gebruik dit die verwante selfstandige naamwoord bi·ʼahʹ. In die Hebreeuse Geskrifte kom daardie selfstandige naamwoord slegs in Esegiël 8:5 voor, waar dit “ingang” beteken. Hier verwys bi·ʼahʹ nie na aankoms nie, maar na die begin van ’n gebou; wanneer jy in die ingang of op die drumpel staan, is jy in die gebou. Nie-Bybelse godsdiensdokumente wat deel is van die Dooie See-rolle gebruik ook dikwels bi·ʼahʹ met verwysing na die aankoms of aanvang van priesterlike afdelings. (Sien 1 Kronieke 24:3-19; Lukas 1:5, 8, 23.) En ’n Hebreeuse vertaling van 1986 van die eertydse Siriese (oftewel Aramese) Pesjitta gebruik bi·ʼahʹ in Matteus 24:3, 27, 37, 39. Daar is dus getuienis wat daarop dui dat die selfstandige naamwoord bi·ʼahʹ dalk in die ou tyd ’n betekenis gehad het wat ietwat verskil het van die werkwoord bohʼ wat in die Bybel gebruik word. Waarom is dit van belang?

19. Tot watter slotsom kan ons kom as Jesus en die apostels bi·ʼahʹ gebruik het?

19 Bi·ʼahʹ is dalk die selfstandige naamwoord wat die apostels in hulle vraag en Jesus in sy antwoord gebruik het. Selfs as die apostels bloot Jesus se toekomstige aankoms in gedagte gehad het, het Christus dalk bi·ʼahʹ gebruik om meer in te sluit as waaraan hulle gedink het. Jesus kon gewys het na sy aankoms om in ’n nuwe amp te tree; sy aankoms sou die begin van sy nuwe rol wees. Dit sou ooreenkom met die betekenis van pa·rou·siʹa, wat Matteus later gebruik het. So ’n gebruik van bi·ʼahʹ sal begryplikerwys dit moet ondersteun wat Jehovah se Getuies al lank leer, dat die saamgestelde “teken” wat Jesus gegee het ’n aanduiding van sy teenwoordigheid is.

Ons wag op die klimaks van sy teenwoordigheid

20, 21. Wat kan ons uit Jesus se kommentaar oor die dae van Noag leer?

20 Ons studie van Jesus se teenwoordigheid moet ’n direkte invloed op ons lewe en ons verwagtinge hê. Jesus het sy volgelinge aangespoor om wakker te bly. Hy het ’n teken gegee sodat sy teenwoordigheid duidelik gesien kon word, hoewel die meeste mense geen ag daarop sou slaan nie: “Soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:37-39.

21 Gedurende die dae van Noag het die meeste mense van daardie geslag eenvoudig met hulle alledaagse bedrywighede voortgegaan. Jesus het voorspel dat dit dieselfde met “die teenwoordigheid van die Seun van die mens” sou wees. Die mense van Noag se dag het dalk gemeen dat niks sou gebeur nie. Jy weet wat gebeur het. Daardie dae, wat oor ’n tydperk gestrek het, het tot ’n klimaks gelei; “die vloed [het] gekom en hulle almal weggesleur”. Lukas gee ’n soortgelyke verslag waarin Jesus “die dae van Noag” met “die dae van die Seun van die mens” vergelyk het. Jesus maan: “Net so sal dit wees op daardie dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar gaan word.”—Lukas 17:26-30.

22. Waarom moet ons veral in Jesus se profesie in Matteus hoofstuk 24 belangstel?

22 Al hierdie dinge is vir ons van spesiale belang omdat ons in ’n tyd lewe waarin ons die gebeure sien wat Jesus voorspel het—oorloë, aardbewings, peste, voedseltekorte en die vervolging van sy dissipels (Matteus 24:7-9; Lukas 21:10-12). Sulke toestande is aan die orde van die dag sedert die konflik wat ’n omwenteling in die geskiedenis veroorsaak het en gepas die Eerste Wêreldoorlog genoem word, hoewel die meeste mense dit as ’n normale deel van die geskiedenis beskou. Ware Christene verstaan egter die betekenis van hierdie belangrike gebeure, net soos oplettende mense weet dat die somer naby is wanneer ’n vyeboom blare kry. Jesus het gewaarsku: “So moet julle, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, ook weet dat die koninkryk van God naby is.”—Lukas 21:31.

23. Vir wie het Jesus se woorde in Matteus hoofstuk 24 spesiale betekenis, en waarom?

23 Jesus het ’n groot deel van sy antwoord op die Olyfberg aan sy volgelinge gerig. Hulle was die persone wat aan die lewensreddende werk sou deelneem om die goeie nuus oor die hele aarde te verkondig voor die einde kom. Hulle sou die persone wees wat ‘die walglike ding wat verwoesting veroorsaak en wat in ’n heilige plek staan’, sou kon identifiseer. Hulle sou die persone wees wat sou reageer deur te “vlug” voor die groot verdrukking aanbreek. En hulle sou die persone wees wat veral deur hierdie verdere woorde geraak sou word: “As daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matteus 24:9, 14-22). Maar presies wat beteken daardie gedagteprikkelende woorde, en waarom kan daar gesê word dat dit vir ons ’n rede gee om nou groter geluk, vertroue en ywer te hê? Die volgende studie van Matteus 24:22 sal die antwoorde verskaf.

[Voetnote]

a Voorbeelde uit Josefus se werke: By die berg Sinai het weerlig en donder “bekend gemaak dat God daar teenwoordig [pa·rou·siʹa] was”. Die wonderdadige verskynsel in die tabernakel “het die teenwoordigheid [pa·rou·siʹa] van God geopenbaar”. Deur vir Elisa se dienskneg die strydwaens rondom hom te wys, het God “sy krag en teenwoordigheid [pa·rou·siʹa] aan sy kneg geopenbaar”. Toe die Romeinse amptenaar Petronius die Jode tot bedaring probeer bring het, het Josefus beweer dat ‘God sy teenwoordigheid [pa·rou·siʹa] aan Petronius geopenbaar het’ deur dit te laat reën. Josefus het nie pa·rou·siʹa op ’n blote nadering of kortstondige aankoms toegepas nie. Dit het ’n voortgesette, selfs onsigbare, teenwoordigheid beteken (Exodus 20:18-21; 25:22; Levitikus 16:2; 2 Konings 6:15-17).—Vergelyk Antiquities of the Jews, Boek 3, hoofstuk 5, paragraaf 2 [80]; hoofstuk 8, paragraaf 5 [203]; Boek 9, hoofstuk 4, paragraaf 3 [55]; Boek 18, hoofstuk 8, paragraaf 6 [284].

b In A Critical Lexicon and Concordance to the English and Greek New Testament wys E. W. Bullinger daarop dat pa·rou·siʹa ‘om teenwoordig te wees of te word beteken, derhalwe, teenwoordigheid, aankoms; ’n koms wat die gedagte van permanente verblyf van die tyd van daardie koms af insluit’.

c Een bewys is dat die Hebreeuse uitdrukking “Die Naam” uitgeskryf of afgekort, 19 keer daarin voorkom. Professor Howard skryf: “Die voorkoms van die Goddelike Naam in ’n Christelike dokument wat deur ’n Joodse polemis aangehaal word, is merkwaardig. As dit ’n Hebreeuse vertaling van ’n Christelike dokument in Grieks of Latyns was, sou ’n mens verwag om adonai [Here] in die teks te vind, nie ’n simbool vir die onuitspreeklike Goddelike naam JHWH nie. . . . Om te sê dat hy die onuitspreeklike naam bygevoeg het, is onverklaarbaar. Die getuienis dui sterk daarop dat Sjem-Tob sy afskrif van Matteus met die Goddelike Naam reeds as deel van die teks ontvang het en dat hy dit waarskynlik behou het eerder as om die gevaar te loop om hom aan die verwydering daarvan skuldig te maak.” Die New World Translation of the Holy Scriptures—With References gebruik Sjem-Tob se Matteus (J2) ter ondersteuning van die gebruik van die Goddelike naam in die Christelike Griekse Geskrifte.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom is dit belangrik om die verskil te sien tussen hoe Bybels Matteus 24:3 weergee?

◻ Wat is die betekenis van pa·rou·siʹa, en waarom is dit van belang?

◻ Watter moontlike parallel bestaan daar in Matteus 24:3 in Grieks en in Hebreeus?

◻ Van watter faktor met betrekking tot tyd moet ons bewus wees om Matteus hoofstuk 24 te verstaan?

[Prent op bladsy 10]

Die Olyfberg wat oor Jerusalem uitkyk

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel