Sal jy gered word wanneer God optree?
“As daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—MATTEUS 24:22.
1, 2. (a) Waarom is dit normaal om in ons toekoms belang te stel? (b) Tot watter lewensbelangrike vrae het normale belangstelling dalk aanleiding gegee?
IN WATTER mate stel jy in jouself belang? Vandag voer baie mense eiebelang tot die uiterste; hulle is met ander woorde egosentries. Maar die Bybel veroordeel nie gepaste belangstelling in die dinge wat ons raak nie (Efesiërs 5:33). Dit sluit belangstelling in ons toekoms in. Dit sal dus normaal wees vir jou om te wil weet wat jou toekoms inhou. Stel jy daarin belang?
2 Ons kan daarvan seker wees dat Jesus se apostels sulke belangstelling in hulle toekoms gehad het (Matteus 19:27). Dit was waarskynlik ’n faktor toe vier van hulle saam met Jesus op die Olyfberg was. Hulle het gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken wees wanneer al hierdie dinge bestem is om tot ’n voleinding te kom?” (Markus 13:4). Jesus het nie normale belangstelling in die toekoms geïgnoreer nie—nie húlle belangstelling of ons s’n nie. Hy het telkens beklemtoon hoe sy volgelinge geraak sou word en wat die finale uitkoms sou wees.
3. Waarom verbind ons Jesus se antwoord met ons tyd?
3 Jesus het in sy antwoord ’n profesie uiteengesit wat ’n groot vervulling in ons tyd het. Ons kan dit sien uit die wêreldoorloë en ander konflikte in ons eeu, die aardbewings wat tallose lewens eis, die voedseltekorte wat siekte en dood veroorsaak en die pessiektes—van die Spaanse grieppandemie van 1918 tot die huidige vigs-plaag. ’n Groot deel van Jesus se antwoord het egter ook ’n vervulling gehad in die gebeure voor en met die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. deur die Romeine. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Gee ag op julleself; mense sal julle oorlewer aan plaaslike geregshowe, en julle sal in sinagoges geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, tot ’n getuienis vir hulle.”—Markus 13:9.
Wat Jesus voorspel het en wat gebeur het
4. Wat is sommige van die waarskuwings wat in Jesus se antwoord ingesluit word?
4 Jesus het meer as net voorspel hoe ander sy dissipels sou behandel. Hy het vir hulle gesê hoe húlle moes optree. Byvoorbeeld: “Wanneer julle die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, sien staan waar dit nie behoort te staan nie (laat die leser onderskeidingsvermoë gebruik), laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug” (Markus 13:14). Die parallelle verslag in Lukas 21:20 sê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien.” Hoe is dit in die eerste geval bewaarheid?
5. Wat het in 66 G.J. onder die Jode in Judea gebeur?
5 The International Standard Bible Encyclopedia (1982) sê vir ons: “Die Jode het al hoe opstandiger onder Romeinse beheer geword en die prokurators het al hoe gewelddadiger, wreder en oneerliker geword. Openlike opstand het in 66 AD uitgebreek. . . . Die oorlog het begin toe die Selote Masada ingeneem het en daarna, onder Menahem, na Jerusalem opgeruk het. Terselfdertyd is Jode in die goewerneurstad Sesarea wreed vermoor, en nuus van hierdie wreedheid het deur die hele land versprei. Nuwe munte is as Jaar 1 tot Jaar 5 van die opstand gemerk.”
6. Hoe het die Romeine op die Joodse opstand gereageer?
6 Die Romeinse Twaalfde Legioen onder Cestius Gallus het van Sirië af gemarsjeer, Galilea en Judea geplunder en toe die hoofstad aangeval en selfs die boonste deel van “die heilige stad Jerusalem” beset (Nehemia 11:1; Matteus 4:5; 5:35; 27:53). Ter opsomming van wat gebeur het, sê die boek The Roman Siege of Jerusalem: “Die Romeine het vyf dae lank oor die muur probeer kom en is keer op keer teruggedryf. Die verdedigers is uiteindelik deur die voortdurende aanslag van projektiele oorweldig en het teruggeval. Deur ’n testudo te vorm—met ander woorde, deur hulle skilde teen mekaar bo hulle koppe te hou om hulleself te beskerm—het die Romeinse soldate die muur ondermyn en die hek aan die brand probeer steek. Die verdedigers het verskriklik paniekbevange geraak.” Christene in die stad kon Jesus se woorde onthou en sien dat ’n walglike ding in ’n heilige plek gestaan het.a Maar hoe kon daardie Christene vlug, soos Jesus gesê het, in die lig van die feit dat die stad omsingel was?
7. Wat het die Romeine in 66 G.J. gedoen toe die oorwinning binne hulle bereik was?
7 Die geskiedskrywer Flavius Josefus sê: “Cestius [Gallus] het, onbewus van die wanhoop of die gevoelens van die beleërdes, sy manne skielik teruggeroep en die stryd gewonne gegee, hoewel hy geen terugslag gehad het nie, en teen alle verwagting die Stad verlaat” (The Jewish War, II, 540 [xix, 7]). Waarom het Gallus teruggetrek? Wat die rede ook al is, die feit dat hy teruggetrek het, het Christene toegelaat om Jesus se opdrag te gehoorsaam om na die berge en na veiligheid te vlug.
8. Wat was die tweede fase van die Romeine se optrede teen Jerusalem, en wat het met die oorlewendes gebeur?
8 Gehoorsaamheid was lewensreddend. Kort daarna het die Romeine opgetree om die opstand te smoor. Die kampanje onder generaal Titus het ’n klimaks bereik toe Jerusalem van April tot Augustus 70 G.J. beleër is. Dit gee ’n mens koue rillings om Josefus se beskrywing van die Jode se lyding te lees. Buiten dié wat in gevegte teen die Romeine gesneuwel het, is ander Jode deur strydende Joodse groepe vermoor en hongersnood het tot kannibalisme gelei. Teen die tyd van die Romeinse oorwinning het 1 100 000 Jode gesterf.b Van die 97 000 oorlewendes is party onmiddellik tereggestel; ander is tot slawe gemaak. Josefus sê: “Diegene ouer as sewentien is geboei en as dwangarbeiders na Egipte gestuur, terwyl Titus ’n groot getal aan die provinsies oorgelewer het om in die teaters deur die swaard of deur wilde diere te sterf.” Selfs terwyl hierdie sortering plaasgevind het, het 11 000 gevangenes van die honger omgekom.
9. Waarom het die Christene nie dieselfde lot as die Jode gehad nie, maar watter vrae moet nog beantwoord word?
9 Christene kon dankbaar wees dat hulle op die Here se waarskuwing ag gegee en uit die stad gevlug het voordat die Romeinse leër teruggekeer het. Hulle is sodoende gered van ’n deel van wat Jesus genoem het ‘groot verdrukking soos daar sedert die begin van die wêreld tot op daardie tyd toe nie plaasgevind het nie, en ook nie weer oor Jerusalem sou plaasvind nie’ (Matteus 24:21). Jesus het bygevoeg: “Trouens, as daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matteus 24:22). Wat het dit destyds beteken, en wat beteken dit nou?
10. Hoe het ons Matteus 24:22 voorheen verduidelik?
10 In die verlede is daar verduidelik dat die ‘vlees wat gered moes word’ na Jode verwys het wat die verdrukking oor Jerusalem in 70 G.J. oorleef het. Die Christene het gevlug en daarom kon God die Romeine gebruik om ’n vinnige vernietiging teweeg te bring. Met ander woorde, weens die feit dat die “uitverkorenes” buite gevaar was, kon die dae van die verdrukking verkort word, wat toegelaat het dat Joodse “vlees” gered word. Daar is gemeen dat die oorlewende Jode diegene voorafgeskadu het wat die komende groot verdrukking in ons dag sal oorleef.—Openbaring 7:14.
11. Waarom lyk dit asof die verduideliking van Matteus 24:22 hersien moet word?
11 Maar stem daardie verduideliking ooreen met wat in 70 G.J. gebeur het? Jesus het gesê dat die menslike “vlees” uit die verdrukking “gered” moes word. Sou jy die woord “gered” gebruik om die 97 000 oorlewendes te beskryf as ’n mens in aanmerking neem dat duisende van hulle weldra van die honger omgekom het of in ’n teater gesterf het? Josefus sê aangaande ’n teater in Sesarea: “Die getal van diegene wat gesterf het in gevegte met wilde diere of teen mekaar of wat lewendig verbrand is, was meer as 2 500.” Hoewel hulle nie tydens die beleëring gesterf het nie, was hulle beslis nie “gered” nie. En sou Jesus hulle in dieselfde lig beskou as oorlewendes van die komende “groot verdrukking”?
Vlees gered—Hoe?
12. Wie was die eerste-eeuse “uitverkorenes” in wie God belanggestel het?
12 Teen 70 G.J. het God nie meer die natuurlike Jode as sy uitverkore volk beskou nie. Jesus het getoon dat God daardie nasie verwerp het en sou toelaat dat hulle hoofstad, tempel en stelsel van aanbidding tot ’n einde kom (Matteus 23:37–24:2). God het ’n nuwe nasie, geestelike Israel, gekies (Handelinge 15:14; Romeine 2:28, 29; Galasiërs 6:16). Dit het uit mans en vrouens bestaan wat uit alle nasies uitgekies is en met heilige gees gesalf is (Matteus 22:14; Johannes 15:19; Handelinge 10:1, 2, 34, 35, 44, 45). ’n Aantal jare voor die aanval deur Cestius Gallus het Petrus geskryf aan “dié wat uitgekies is volgens die voorkennis van God die Vader, met heiliging deur die gees”. Sulke geesgesalfdes was “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie” (1 Petrus 1:1, 2; 2:9). God sou sulke uitverkorenes hemel toe neem om saam met Jesus te regeer.—Kolossense 1:1, 2; 3:12; Titus 1:1; Openbaring 17:14.
13. Watter betekenis kon Jesus se woorde in Matteus 24:22 gehad het?
13 Dit is nuttig dat ons die uitverkorenes geïdentifiseer het, aangesien Jesus voorspel het dat die dae van verdrukking “weens die uitverkorenes” verkort sou word. Die Griekse woord wat met “weens” vertaal word, kan ook vertaal word as “ter wille van” of “om . . . onthalwe” (Markus 2:27; Johannes 12:30; 1 Korintiërs 8:11; 9:10, 23; 11:9; 2 Timoteus 2:10; Openbaring 2:3). Jesus kon dus gesê het: ‘As daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word’ (Matteus 24:22).c Het iets tot voordeel van of ‘ter wille van’ die uitverkore Christene plaasgevind wat in Jerusalem vasgekeer was?
14. Hoe is “vlees” gered toe die Romeinse leër onverwags in 66 G.J. van Jerusalem af teruggetrek het?
14 Onthou dat die Romeine in 66 G.J. deur die land getrek het, die boonste deel van Jerusalem beset het en die muur begin ondermyn het. Josefus lewer kommentaar hieroor: “As hy maar net die Stad ’n bietjie langer beleër het, sou dit nie lank gewees het voordat hy dit ingeneem het nie.” Vra jou af: ‘Waarom het die magtige Romeinse leër skielik die kampanje laat vaar en “teen alle verwagting” teruggetrek?’ Rupert Furneaux, ’n spesialis in die interpretering van krygsgeskiedenis, sê: “Geen geskiedkundige het al daarin geslaag om enige voldoende rede vir Gallus se ongewone en rampspoedige besluit te verskaf nie.” Hoe dit ook al sy, die gevolg was dat die verdrukking verkort is. Die Romeine het teruggetrek, en die Jode het hulle aangeval terwyl hulle dit gedoen het. Wat van die gesalfde Christene, oftewel die “uitverkorenes”, wat vasgekeer was? Die einde van die beleëring het beteken dat hulle van enige slagting gered is wat tydens die verdrukking gedreig het. Daardie Christene wat voordeel getrek het uit die verkorting van die verdrukking in 66 G.J. was dus die “vlees” van Matteus 24:22 wat gered is.
Wat hou jou toekoms in?
15. Waarom sou jy sê, moet Matteus hoofstuk 24 in ons dag van spesiale belang wees?
15 Iemand vra dalk: ‘Waarom moet ek veral belangstel in hierdie duideliker begrip van Jesus se woorde?’ Wel, daar is oorvloedige redes wat ons tot die slotsom laat kom dat Jesus se profesie ’n groter vervulling sal hê, meer as wat tot en met 70 G.J. gebeur het.d (Vergelyk Matteus 24:7; Lukas 21:10, 11; Openbaring 6:2-8.) Jehovah se Getuies verkondig nou al dekades lank dat die groot vervulling wat in ons tyd plaasvind, bewys dat ons binnekort ’n grootskaalse “groot verdrukking” kan verwag. Hoe sal die profetiese woorde in Matteus 24:22 dan vervul word?
16. Watter aanmoedigende feit voorsien Openbaring aangaande die komende groot verdrukking?
16 Ongeveer twee dekades ná die verdrukking oor Jerusalem het die apostel Johannes die boek Openbaring geskryf. Dit het bevestig dat groot verdrukking nog voorlê. En aangesien ons belangstel in wat ons persoonlik raak, sal ons dalk verlig wees om te weet dat Openbaring ons profeties daarvan verseker dat mensevlees hierdie komende groot verdrukking sal oorleef. Johannes het “’n groot skare . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” voorspel. Wie is hulle? ’n Stem uit die hemel antwoord: “Hulle is dié wat uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9, 14). Ja, hulle sal oorlewendes wees! Openbaring gee ons ook insig in hoe dinge in die komende groot verdrukking sal ontvou en hoe Matteus 24:22 vervul sal word.
17. Wat sal die eerste deel van die groot verdrukking insluit?
17 Die eerste deel van hierdie verdrukking sal ’n aanval op ’n simboliese prostituut wees wat “Babilon die Grote” genoem word (Openbaring 14:8; 17:1, 2). Sy verteenwoordig die wêreldwye ryk van valse godsdiens, waarvan die Christendom die laakbaarste is. Volgens die woorde van Openbaring 17:16-18 sal God dit in die hart van die politieke elemente sit om hierdie simboliese hoer aan te val.e Dink net hoe dit dalk vir God se gesalfde “uitverkorenes” en hulle metgeselle, die “groot skare”, sal lyk. Namate hierdie verwoestende aanval op godsdiens voortwoed, sal dit dalk lyk asof dit alle godsdiensorganisasies, onder andere Jehovah se volk, sal uitwis.
18. Waarom sal dit dalk lyk asof geen “vlees” gedurende die eerste deel van die groot verdrukking gered sal word nie?
18 Dit is wanneer Jesus se woorde in Matteus 24:22 op ’n groot skaal vervul sal word. Net soos dit gelyk het asof die uitverkorenes in Jerusalem in gevaar verkeer het, sal dit lyk asof Jehovah se knegte die gevaar loop om tydens die aanval op godsdiens vernietig te word, asof daardie aanval alle “vlees” van God se volk sal uitwis. Laat ons egter in gedagte hou wat in 66 G.J. gebeur het. Die verdrukking wat deur die Romeine veroorsaak is, is verkort, en dit het God se gesalfde uitverkorenes die geleentheid gebied om te ontsnap en te bly lewe. Ons kan dus seker wees dat die vernietigende aanval op godsdiens nie toegelaat sal word om die wêreldwye gemeente van ware aanbidders uit te wis nie. Dit sal vinnig verloop, asof “in een dag”. Maar dit sal op die een of ander manier verkort word en nie toegelaat word om sy oogmerk te bereik nie, sodat God se volk “gered” kan word.—Openbaring 18:8.
19. (a) Wat sal ná die eerste deel van die groot verdrukking opmerklik wees? (b) Waartoe sal dit aanleiding gee?
19 Ander elemente van Satan die Duiwel se aardse organisasie sal daarna nog ’n tyd lank bestaan en die verlies van hulle betrekkinge met hulle ou godsdiensminnares betreur (Openbaring 18:9-19). Op die een of ander tydstip sal hulle opmerk dat God se ware knegte oorgebly het en ‘in veiligheid woon; dat almal sonder muur woon’, oënskynlik maklike prooi. Wat ’n verrassing wag op hulle! Gedurende die finale deel van die groot verdrukking sal God in reaksie op ’n werklike of dreigende aanval op sy knegte opstaan om oordeel oor sy vyande te voltrek.—Esegiël 38:10-12, 14, 18-23.
20. Waarom sal die tweede deel van die groot verdrukking nie God se volk in gevaar stel nie?
20 Hierdie tweede fase van die groot verdrukking sal ooreenkom met wat in 70 G.J. met Jerusalem en sy inwoners in die tweede aanval deur die Romeine gebeur het. Dit sal “groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot [op daardie tyd] toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Ons kan egter daarvan seker wees dat God se uitverkorenes en hulle metgeselle nie in die gevaargebied sal wees nie, nie in gevaar om hulle lewens te verloor nie. Nee, hulle sal nie na een geografiese plek gevlug het nie. Eerste-eeuse Christene in Jerusalem kon van daardie stad af na die bergagtige gebied vlug, soos na Pella aan die oorkant van die Jordaan. In die toekoms sal God se getroue Getuies egter regoor die aarde versprei wees, en gevolglik sal veiligheid en beskerming nie van ’n geografiese ligging afhang nie.
21. Wie sal in die finale stryd veg, en wat sal dit tot gevolg hê?
21 Die vernietiging sal nie deur die leërs van Rome of enige ander menslike instelling teweeggebring word nie. Die boek Openbaring sê eerder dat die teregstellingsmagte uit die hemel afkomstig is. Ja, daardie finale deel van die groot verdrukking sal nie deur enige menslike leër voltrek word nie, maar deur “Die Woord van God”, die Koning Jesus Christus, bygestaan deur ‘die leërs wat in die hemel is’, onder meer verrese gesalfde Christene. Die “Koning van die konings en Here van die here” sal ’n baie deegliker oordeel voltrek as dié van die Romeine in 70 G.J. Dit sal alle menslike teenstanders van God uitwis—konings, militêre bevelvoerders, vrygeborenes en slawe, klein sowel as groot. Selfs menseorganisasies van Satan se wêreld sal aan hulle einde kom.—Openbaring 2:26, 27; 17:14; 19:11-21; 1 Johannes 5:19.
22. In watter ander sin sal “vlees” gered word?
22 Onthou dat “vlees”, van die gesalfde oorblyfsel sowel as van die “groot skare”, reeds gered sal wees wanneer Babilon die Grote vinnig en finaal in die eerste deel van die verdrukking aan haar einde kom. Net so sal “vlees” wat hulle aan Jehovah se kant geskaar het in die finale fase van die verdrukking gered word. Hoe sal dit tog nie verskil van wat met die opstandige Jode in 70 G.J. gebeur het nie!
23. Waarna kan “vlees” wat behoue bly, uitsien?
23 Met die moontlikhede van jou eie toekoms en dié van jou geliefdes in gedagte, let op wat in Openbaring 7:16, 17 belowe word: “Hulle sal nie meer honger of dors wees nie, en ook sal die son nie op hulle neerbrand of enige verskroeiende hitte nie, want die Lam, wat in die middel van die troon is, sal as herder oor hulle optree en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee.” Dít is ongetwyfeld wat dit beteken om “gered” te word in ’n wonderlike, blywende sin.
[Voetnote]
b Josefus sê: “Toe Titus die stad binnegegaan het, was hy verstom oor die sterkte daarvan . . . Hy het uitgeroep: ‘God was aan ons kant; dit is God wat die Jode van hierdie vestings afgebring het; want wat kan mensehande of -werktuie teen sulke torings doen?’”
c Dit is interessant dat Sjem-Tob se teks van Matteus 24:22 die Hebreeuse woord ʽa·vurʹ gebruik, wat “ter wille van, weens, sodat” beteken.—Sien vorige artikel, bladsy 13.
d Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1994, bladsye 11 en 12, en die tabel op bladsye 14 en 15 wat Jesus se profetiese antwoord in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 in parallelle kolomme uiteensit.
e Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 235-58, in 1988 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Uit watter twee dele het die aanval deur die Romeinse leër op Jerusalem bestaan?
◻ Waarom is dit onwaarskynlik dat die 97 000 Joodse oorlewendes in 70 G.J. die “vlees” uitgemaak het wat in Matteus 24:22 gemeld word?
◻ Hoe is die dae van Jerusalem se verdrukking verkort, en hoe is “vlees” dus gered?
◻ Hoe sal die dae verkort en “vlees” gered word in die komende groot verdrukking?
[Prent op bladsy 16]
Joodse muntstuk wat ná die opstand geslaan is. Die Hebreeuse omskrif sê “Jaar twee”, wat 67 G.J. beteken, die tweede jaar van hulle selfregering
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 17]
Romeinse muntstuk wat in 71 G.J. geslaan is. Aan die linkerkant is ’n gewapende Romein; aan die regterkant is ’n Jodin wat rou. Die woorde “IVDAEA CAPTA” beteken “Gevange Judea”
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.