Vertrou op Jehovah en sy Woord
“Hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou.”—PSALM 9:11.
1. Waarom kan ons in ons moderne tyd nog steeds vertroue in Jehovah en sy Woord hê?
IN HIERDIE moderne wêreld lyk die uitnodiging om op God en sy Woord, die Bybel, te vertrou dalk onprakties en onrealisties. Tog het die wysheid van God die toets van die tyd deurstaan. Die Skepper van die man en vrou is die Insteller van die huwelik en die gesin, en hy ken ons behoeftes beter as enigiemand anders. Net soos die mens se basiese behoeftes nie verander het nie, so het die fundamentele maniere waarop daardie behoeftes bevredig word dieselfde gebly. Die Bybel se wyse raad, hoewel dit eeue gelede neergeskryf is, voorsien steeds die beste riglyne om die lewe suksesvol te maak en probleme op te los. As ons daarop ag slaan, sal dit tot groot geluk lei—selfs in die gesofistikeerde, wetenskaplike wêreld waarin ons lewe!
2. (a) Watter goeie vrugte het gehoorsaamheid aan God se gebooie in die lewe van Jehovah se volk voortgebring? (b) Wat anders belowe Jehovah vir diegene wat aan hom en sy Woord gehoorsaam is?
2 Om op Jehovah te vertrou en die Bybel se beginsels toe te pas, bring daagliks praktiese voordele mee. Ons vind bewys hiervan in die lewe van miljoene Getuies van Jehovah oor die wêreld wat die oortuiging en moed gehad het om die Bybel se raad toe te pas. Vir hulle was vertroue in die Skepper en sy Woord nie misplaas nie (Psalm 9:10, 11). Gehoorsaamheid aan God se gebooie het beter mense van hulle gemaak wat reinheid, eerlikheid, arbeidsaamheid, respek vir ander se lewe en besittings en die matige gebruik van voedsel en drank betref. Dit het tot gepaste liefde en opvoeding binne die gesinskring gelei—hulle is gasvry, geduldig, barmhartig en vergewensgesind—en nog ’n menigte ander dinge. Hulle was in staat om slegte vrugte soos woede, haat, moord, afguns, vrees, luiheid, trots, leuentaal, skinderpraatjies, promiskuïteit en onsedelikheid al in groot mate te vermy (Psalm 32:10). Maar God doen meer as om te belowe dat dinge goed sal afloop vir diegene wat sy wette hou. Jesus het gesê dat diegene wat die Christelike weg volg “nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: . . . moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe”.—Markus 10:29, 30.
Moenie op wêreldse wysheid vertrou nie
3. Voor watter probleme kom Christene soms te staan terwyl hulle voortgaan om hulle vertroue in Jehovah en sy Woord te stel?
3 ’n Probleem vir onvolmaakte mense is dat hulle geneig is om dít wat God vereis, gering te ag of daarvan te vergeet. Dit is vir hulle maklik om te begin dink dat hulle beter weet of dat die wysheid van die intellektuele van hierdie wêreld verhewe is bo God s’n, dat dit meer op die hoogte van die tyd is. Aangesien knegte van God in hierdie wêreld lewe, kan hulle ook hierdie gesindheid ontwikkel. Toe ons hemelse Vader aan mense die liefdevolle uitnodiging gerig het om na sy raad te luister, het hy dus ook gepaste waarskuwings ingesluit: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad.”—Spreuke 3:1, 2, 5-7.
4. Hoe deurdringend is “die wysheid van hierdie wêreld”, en waarom is dit “dwaasheid by God”?
4 Die wysheid van hierdie wêreld is oorvloedig en uit baie bronne beskikbaar. Daar is baie opvoedkundige inrigtings en “aan baie boeke maak kom geen einde nie” (Prediker 12:12). Nou belowe die so genoemde inligtingsnelweg van die rekenaarwêreld om onbeperkte data oor feitlik enige onderwerp te verskaf. Maar al hierdie beskikbare kennis maak die wêreld nie wyser nie of los nie sy probleme op nie. Die wêreldsituasie word eerder by die dag slegter. Dit is dus te verstane dat die Bybel vir ons sê: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.”—1 Korintiërs 3:19, 20.
5. Watter waarskuwings gee die Bybel wat “die wysheid van hierdie wêreld” betref?
5 Ons kan dit beslis te wagte wees dat die aartsbedrieër, Satan die Duiwel, gedurende hierdie laaste deel van die laaste dae ’n stortvloed van leuens sal uitstuur in ’n poging om vertroue in die Bybel se waaragtigheid te ondermyn. Hoër kritici het ’n magdom spekulatiewe boeke uitgegee wat die egtheid en betroubaarheid van die Bybel betwis. Paulus het sy mede-Christen gewaarsku: “O Timoteus, bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’. Deur met sulke kennis te pronk, het party van die geloof afgewyk” (1 Timoteus 6:20, 21). Die Bybel waarsku vervolgens: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.
Veg teen die neiging om te twyfel
6. Waarom is waaksaamheid nodig om te verhoed dat twyfelgedagtes in ons hart wortelskiet?
6 Nog ’n slinkse taktiek van die Duiwel is om twyfelgedagtes te saai. Hy is altyd op die uitkyk na die een of ander swakheid in jou geloof, en hy is gereed om dit uit te buit. Enigeen wat twyfel, moet onthou dat die een agter sulke twyfelgedagtes die een is wat vir Eva gesê het: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Toe die Verleier eers twyfelgedagtes by haar gesaai het, was die volgende stap om vir haar ’n leuen te vertel, wat sy geglo het (Genesis 3:1, 4, 5). As ons wil verhoed dat twyfelgedagtes ons geloof vernietig, soos in Eva se geval, moet ons waaksaam bly. As daar enige twyfelgedagtes oor Jehovah, sy Woord, of sy organisasie in jou hart begin posvat, moet jy vinnig stappe doen om dit in die kiem te smoor voordat dit tot iets ontwikkel wat jou geloof kan vernietig.—Vergelyk 1 Korintiërs 10:12.
7. Wat kan gedoen word om twyfelgedagtes uit te roei?
7 Wat kan gedoen word? Die antwoord is weer: vertrou op Jehovah en sy Woord. “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word” (Jakobus 1:5, 6; 2 Petrus 3:17, 18). Innige gebed tot Jehovah is dus die eerste stap (Psalm 62:9). Daarna moet jy nie huiwer om liefdevolle opsieners in die gemeente om hulp te vra nie (Handelinge 20:28; Jakobus 5:14, 15; Judas 22). Hulle sal jou help om die oorsaak van jou twyfelgedagtes vas te stel wat dalk die gevolg van trots of die een of ander verkeerde denkwyse is.
8. Hoe begin afvallige denke dikwels, en wat is die oplossing?
8 Het afvallige idees wat jy gelees of waarna jy geluister het of wêreldse filosofieë giftige twyfelgedagtes laat posvat? Die Bybel gee ons verstandige raad: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer. Maar vermy leë praatjies wat skend wat heilig is; want hulle sal tot al hoe groter goddeloosheid voortgaan, en hulle woord sal soos gangreen versprei” (2 Timoteus 2:15-17). Dit is interessant dat baie wat slagoffers van afvalligheid geword het die verkeerde weg ingeslaan het deur eers te begin kla oor hoe hulle na hulle mening in Jehovah se organisasie behandel word (Judas 16). Later het hulle met opvattings begin fout vind. Net soos ’n chirurg vinnig optree om gangreen uit te sny, moet jy vinnig optree om enige neiging om te kla, om ontevrede te wees met die manier waarop dinge in die Christengemeente gedoen word, uit jou gedagtes te verdryf (Kolossense 3:13, 14). Verwyder enigiets wat sulke twyfel voed.—Markus 9:43.
9. Hoe sal ’n goeie teokratiese roetine ons help om gesond in die geloof te bly?
9 Bly na aan Jehovah en sy organisasie. Volg Petrus getrou na wat met beslistheid gesê het: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:52, 60, 66-68). Volg ’n goeie rooster vir die studie van Jehovah se Woord sodat jy jou geloof sterk kan hou, soos ’n groot skild wat “al die brandende projektiele van die bose sal kan blus” (Efesiërs 6:16). Bly bedrywig in die Christenbediening deur liefdevol die Koninkryksboodskap aan ander te verkondig. Peins elke dag met waardering oor hoe Jehovah jou geseën het. Wees dankbaar dat jy ’n kennis van die waarheid het. As jy al hierdie dinge in ’n goeie Christelike roetine doen, sal dit jou help om gelukkig te wees, te volhard en vry van enige twyfel te bly.—Psalm 40:5; Filippense 3:15, 16; Hebreërs 6:10-12.
Volg Jehovah se riglyne in die huwelik
10. Waarom is dit veral belangrik om op Jehovah te vertrou vir leiding in die Christenhuwelik?
10 Toe Jehovah gereël het dat die man en die vrou as ’n egpaar sou saamlewe, was dit nie net sy voorneme om die aarde gerieflik te vul nie, maar ook om hulle geluk te vergroot. Sonde en onvolmaaktheid het egter ernstige probleme in die huweliksverhouding laat ontstaan. Christene is nie vry van sulke probleme nie, aangesien hulle ook onvolmaak is en die druk van die hedendaagse lewe ondervind. Tog kan Christene, in die mate waarin hulle op Jehovah en sy Woord vertrou, welslae in die huwelik en in die grootmaak van hulle kinders behaal. Daar is geen plek in die Christenhuwelik vir wêreldse gebruike en gedrag nie. God se Woord maan ons: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.
11. Wat moet albei huweliksmaats besef wanneer hulle huweliksprobleme wil oplos?
11 ’n Huwelik waarin die Bybel se raad uitgevoer word, het ’n atmosfeer van liefde, verbondenheid en geborgenheid. Die man sowel as die vrou verstaan en respekteer die beginsel van hoofskap. Wanneer probleme ontstaan, is dit dikwels omdat hulle op die een of ander manier versuim het om die Bybel se raad toe te pas. Om ’n langdurige probleem op te los, is dit noodsaaklik dat albei maats hulle aandag eerlik op die ware probleem vestig en eerder van die oorsake werk maak as van die simptome. As onlangse besprekings nie tot enige noemenswaardige ooreenkoms gelei het nie, kan die egpaar ’n liefdevolle opsiener om onpartydige hulp vra.
12. (a) Oor watter algemene huweliksprobleme gee die Bybel raad? (b) Waarom is dit belangrik dat albei maats dinge op Jehovah se manier doen?
12 Behels die probleem kommunikasie, respek vir mekaar se gevoelens, respek vir hoofskap of hoe besluite geneem word? Het dit te doen met die grootmaak van kinders of om die balans te vind wat seksuele behoeftes betref? Of is dit die gesinsbegroting, ontspanning, assosiasie, of die vrou moet werk of waar julle moet woon? Wat die probleem ook al is, die Bybel gee praktiese raad—direk deur middel van wette of indirek deur middel van beginsels (Matteus 19:4, 5, 9; 1 Korintiërs 7:1-40; Efesiërs 5:21-23, 28-33; 6:1-4; Kolossense 3:18-21; Titus 2:4, 5; 1 Petrus 3:1-7). Wanneer albei maats dit vermy om selfsugtige eise te stel en ware liefde in hulle huwelik betoon, bring dit groter geluk mee. Daar moet ’n oorweldigende begeerte by albei huweliksmaats wees om die nodige veranderinge aan te bring, om dinge op Jehovah se manier te doen. “Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig.”—Spreuke 16:20.
Jongmense—luister na God se Woord
13. Waarom is dit nie maklik vir jong Christene om met ’n sterk geloof in Jehovah en sy Woord groot te word nie?
13 Dit is nie vir jong Christene maklik om sterk in die geloof groot te word terwyl hulle deur die goddelose wêreld omring word nie. Een van die redes is dat ‘die hele wêreld in die mag lê van die bose’, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Jongmense word aangeval deur hierdie boosaardige vyand wat die kwaad goed kan laat lyk. Die “ek eerste”-gesindheid, selfsugtige ambisies, die begeerte na wat onsedelik en wreed is, die abnormale najaging van plesier—al hierdie dinge vorm een algemene, oorheersende denkwyse wat in die Bybel beskryf word as “die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:1-3). Satan het op geslepe wyse hierdie “gees” in skoolhandboeke, in baie van die musiek wat beskikbaar is, in sport en in ander vorme van vermaak bevorder. Ouers moet waaksaam wees sodat hulle sulke invloede kan teëwerk deur hulle kinders te help om met vertroue op Jehovah en sy Woord groot te word.
14. Hoe kan jongmense ‘vlug vir die begeertes wat eie is aan die jeug’?
14 Paulus het vaderlike raad aan sy jong metgesel Timoteus gegee: “Vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug, maar streef na regverdigheid, geloof, liefde, vrede, saam met dié wat die Here uit ’n rein hart aanroep” (2 Timoteus 2:22). Hoewel nie alle “begeertes wat eie is aan die jeug” op sigself sleg is nie, moet jongmense daarvoor “vlug” in die sin dat hulle nie so behep met hierdie dinge moet wees dat daar min of geen tyd vir goddelike strewes oorbly nie. Spierontwikkeling, sport, musiek, vermaak, stokperdjies en reis kan, hoewel dit nie noodwendig verkeerd is nie, ’n strik word as dit die belangrikste plek in ons lewe begin beklee. Vlug geheel en al vir doellose gesprekke, vir ’n gerondslenter, ’n abnormale belangstelling in seks, vir ledig sit en verveeld wees en vir ’n gekla dat jou ouers jou nie verstaan nie.
15. Watter dinge kan in die privaatheid van die huis gebeur wat daartoe kan bydra dat jongmense ’n dubbele lewe lei?
15 Selfs in die privaatheid van die huis kan daar gevare wees vir jongmense. As daar na onsedelike of gewelddadige TV-programme en video’s gekyk word, kan dit die begeerte laat ontstaan om slegte dinge te doen (Jakobus 1:14, 15). Die Bybel maan: “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!” (Psalm 97:10; 115:11). Jehovah weet as iemand ’n dubbele lewe probeer lei (Spreuke 15:3). Jong Christene, kyk in julle kamers rond. Het jy plakkate teen die muur van onsedelike sterre van die sport- of musiekwêreld, of het jy heilsame dinge wat jou aan goeie dinge herinner? (Psalm 101:3). Het jy beskeie klere in jou kas, of weerspieël van jou kledingstukke die uitspattige style van hierdie wêreld? Die Duiwel kan jou op subtiele maniere verstrik as jy toegee aan die versoeking om dít wat sleg is te beproef. Die Bybel gee verstandige raad: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 Petrus 5:8.
16. Hoe kan die Bybel se raad ’n jong persoon help sodat almal wat saak maak trots sal wees op hom?
16 Die Bybel sê dat jy op jou omgang moet let (1 Korintiërs 15:33). Jou vriende moet persone wees wat Jehovah vrees. Moenie voor portuurdwang swig nie (Psalm 56:12; Spreuke 29:25). Wees gehoorsaam aan jou godvresende ouers (Spreuke 6:20-22; Efesiërs 6:1-3). Vertrou op die ouer manne vir leiding en aanmoediging (Jesaja 32:1, 2). Hou jou verstand en oë op geestelike waardes en doelwitte gerig. Soek na geleenthede om geestelike vooruitgang te maak en om aan gemeentelike bedrywighede deel te neem. Leer hoe om dinge met jou hande te doen. Word sterk en gesond in die geloof, en dan sal jy bewys dat jy werklik iemand is—iemand wat die lewe in Jehovah se nuwe wêreld waardig is! Ons hemelse Vader sal trots wees op jou, jou aardse ouers sal behae in jou skep en jy sal vir jou Christenbroers en -susters ’n aanmoediging wees. Dít is wat saak maak!—Spreuke 4:1, 2, 7, 8.
17. Watter voordele geniet diegene wat op Jehovah en sy Woord vertrou?
17 Die psalmis is geïnspireer om in digterlike taal te skryf: “Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie. HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!” (Psalm 84:12, 13). Ja, almal wat op Jehovah en sy Woord, die Bybel, vertrou, sal geluk en voorspoed, nie teleurstelling en mislukking nie, geniet.—2 Timoteus 3:14, 16, 17.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom moet Christene nie hulle vertroue in “die wysheid van hierdie wêreld” stel nie?
◻ Wat moet gedoen word as jy twyfelgedagtes het?
◻ Hoe bring dit voorspoed en geluk in die huwelik mee as ons dinge op Jehovah se manier doen?
◻ Hoe help die Bybel jongmense om te ‘vlug vir die begeertes wat eie is aan die jeug’?
[Prent op bladsy 23]
Christene wend hulle tot Jehovah en sy Woord terwyl hulle “die wysheid van hierdie wêreld” as iets dwaas verwerp
[Prent op bladsy 25]
Gesinne wat op Jehovah en sy Woord vertrou, geniet voorspoed en geluk