God se Koninkryk—Begryp jy die sin daarvan?
“Wat die een betref wat op die goeie grond gesaai is, dit is die een wat die woord hoor en die sin daarvan begryp.”—MATTEUS 13:23.
1. Wat is ’n paar algemene opvattings aangaande ‘die koninkryk van die hemele’?
‘BEGRYP jy die sin van’ God se Koninkryk? Beskouings oor ‘die koninkryk van die hemele’ het deur die eeue heen grootliks verskil. ’n Algemene opvatting onder sommige hedendaagse kerklidmate is dat die Koninkryk iets is wat God tydens bekering in ’n persoon se hart plaas. Ander meen dat dit ’n plek is waarheen goeie mense ná hulle dood gaan om ewige geluk te geniet. Ander weer beweer dat God dit aan mense oorgelaat het om die Koninkryk op aarde tot stand te bring deur self die Christelike leer en gebruike in maatskaplike en regeringsake te vestig.
2. Hoe verduidelik die Bybel die Koninkryk van God, en wat sal dit tot stand bring?
2 Die Bybel toon egter duidelik dat die Koninkryk van God nie ’n aardse instelling is nie. Dit is nie ’n toestand van die hart nie en ook nie die kerstening van die mensegemeenskap nie. ’n Juiste begrip van wat hierdie Koninkryk is, het weliswaar groot veranderinge tot gevolg in die lewe van diegene wat geloof daarin beoefen. Maar die Koninkryk self is ’n hemelse regering wat deur God opgerig is om sy wil te laat geskied, die gevolge van sonde en die dood uit die weg te ruim en regverdige toestande op die aarde te herstel. Hierdie Koninkryk is reeds in die hemel aan bewind, en binnekort sal dit “al daardie [mense]koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.—Daniël 2:44; Openbaring 11:15; 12:10.
3. Watter weg is vir mense gebaan toe Jesus sy bediening begin het?
3 Die geskiedskrywer H. G. Wells het geskryf: “Hierdie leerstelling van die Koninkryk van die Hemele, wat Jesus se vernaamste lering was en wat so ’n geringe rol in die Christelike geloofsbelydenisse speel, is beslis een van die mees revolusionêre leerstellings wat ooit die mens se denke aangegryp en verander het.” Die tema van Jesus se bediening was reg van die begin af: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Hy was hier op aarde as die gesalfde Koning, en wat ’n groot vreugde was dit tog dat die weg toe gebaan is vir mense om nie alleen in die seëninge van daardie Koninkryk te deel nie, maar ook om medeheersers en priesters saam met Jesus in daardie Koninkryk te wees!—Lukas 22:28-30; Openbaring 1:6; 5:10.
4. Hoe het die menigtes in die eerste eeu op die “goeie nuus van die koninkryk” gereageer, en watter oordeel het dit tot gevolg gehad?
4 Hoewel menigtes die opwindende “goeie nuus van die koninkryk” gehoor het, het slegs ’n paar geloof daarin gestel. Dit was deels omdat die godsdiensleiers ‘die koninkryk van die hemele voor die mense toegesluit het’. Hulle “het die sleutel van die kennis weggeneem” deur hulle valse leerstellings. Omdat die meeste mense Jesus as die Messias en die gesalfde Koning van God se Koninkryk verwerp het, het Jesus vir hulle gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en vir ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring.”—Matteus 4:23; 21:43; 23:13; Lukas 11:52.
5. Hoe het die meeste mense wat Jesus se illustrasies gehoor het, getoon dat hulle nie met insig geluister het nie?
5 Toe Jesus eenkeer ’n groot skare onderrig het, het hy, soos gewoonlik, ’n reeks illustrasies gebruik om die skare te toets en diegene wat net ’n oppervlakkige belangstelling in die Koninkryk gehad het van die ander af te skei. Die eerste illustrasie was van ’n saaier wat saad op vier soorte grond gesaai het. Die eerste drie soorte was nie gunstig vir die groei van plante nie, maar die laaste een was “goeie grond” wat goeie vrug voortgebring het. Die kort illustrasie is met dié vermaning afgesluit: “Laat hom wat ore het, luister” (Matteus 13:1-9). Die meeste van die aanwesiges het hom gehoor, maar hulle het nie ‘geluister’ nie. Hulle het geen dryfkrag gehad nie, geen belangstelling om te weet in watter opsig saad wat onder verskillende toestande gesaai is soos die Koninkryk van die hemele is nie. Hulle het na hulle daaglikse roetine teruggekeer en waarskynlik gedink dat Jesus se illustrasies maar net goeie stories met sedelesse was. Watter rykdom van begrip, en watter groot voorregte en geleenthede het hulle verbeur omdat hulle harte nie ontvanklik was nie!
6. Waarom is begrip van “die heilige geheime van die koninkryk” slegs aan Jesus se dissipels gegee?
6 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van die hemele te verstaan, maar aan daardie mense word dit nie gegee nie.” Hy het Jesaja aangehaal en bygevoeg: “‘Want die hart van hierdie volk het onontvanklik geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer, en hulle het hulle oë gesluit; sodat hulle nooit met hulle oë sou sien en met hulle ore sou hoor en met hulle hart die sin daarvan sou begryp en terugdraai en ek hulle genees nie.’ Maar gelukkig is julle oë omdat hulle sien, en julle ore omdat hulle hoor.”—Matteus 13:10-16; Markus 4:11-13.
‘Begryp die sin van’ die Koninkryk
7. Waarom is dit belangrik om ‘die sin van’ die Koninkryk te begryp?
7 Jesus het die vinger op die probleem gelê. Hulle moes ‘die sin van’ die Koninkryksboodskap begryp. Toe hulle alleen was, het hy vir sy dissipels gesê: “Luister dan na die illustrasie van die man wat gesaai het. Wanneer iemand die woord van die koninkryk hoor, maar nie die sin daarvan begryp nie, kom die bose en ruk wat in sy hart gesaai is weg.” Hy het vervolgens verduidelik dat die vier soorte grond verskillende hartstoestande verteenwoordig waarop “die woord van die koninkryk” gesaai sou word.—Matteus 13:18-23; Lukas 8:9-15.
8. Wat het verhoed dat die “saad” wat op die eerste drie soorte grond gesaai is, vrug voortbring?
8 Die “saad” was in elke geval goeie saad, maar die opbrengs sou van die toestand van die grond afhang. As die grond van die hart soos ’n besige, vasgetrapte pad was, verhard deur talle niegeestelike bedrywighede, sou dit vir die persoon wat die Koninkryksboodskap hoor maklik wees om hom te verskoon en te sê dat daar nie tyd vir die Koninkryk is nie. Die verwaarloosde saad kon maklik weggeruk word voordat dit kon wortelskiet. Maar veronderstel die saad is gesaai in ’n hart wat soos rotsagtige grond was? Die saad sou dalk ontkiem het, maar dit sou sukkel om wortels diep af te stuur vir voedingskrag en stabiliteit. Die vooruitsig om ’n gehoorsame kneg van God te wees, veral in die hitte van vervolging, sou ’n oorweldigende uitdaging wees, en die individu sou struikel. Dan weer, as die grond van die hart so vol doringagtige bekommernisse of die materiële begeerte na rykdom was, sou die tenger Koninkryksplantjie verstik word. In hierdie drie tipiese situasies in die lewe sou geen Koninkryksvrug voortgebring kon word nie.
9. Waarom kon die saad wat op goeie grond gesaai is goeie vrug voortbring?
9 Maar wat van die Koninkryksaad wat op goeie grond gesaai is? Jesus antwoord: “Wat die een betref wat op die goeie grond gesaai is, dit is die een wat die woord hoor en die sin daarvan begryp, wat werklik vrug dra en voortbring, hierdie een honderd-, daardie een sestig-, die ander dertigvoudig” (Matteus 13:23). As hulle ‘die sin van’ die Koninkryk begryp, sal hulle goeie vrug voortbring volgens hulle individuele omstandighede.
Begrip gaan met verantwoordelikheid gepaard
10. (a) Hoe het Jesus getoon dat dit seëninge sowel as verantwoordelikhede meebring as ons ‘die sin van’ die Koninkryk begryp? (b) Het Jesus se opdrag om te gaan en dissipels te maak net vir die eerste-eeuse dissipels gegeld?
10 Nadat Jesus ’n verdere ses illustrasies gegee het om verskeie aspekte van die Koninkryk te verduidelik, het hy sy dissipels gevra: “Het julle die sin van al hierdie dinge begryp?” Toe hulle “ja” antwoord, het hy gesê: “In dié geval is elke openbare onderrigter, wanneer hy van die koninkryk van die hemele geleer is, soos ’n man, ’n huisheer, wat uit sy skatkamer nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” Die onderrigting en opleiding wat Jesus voorsien het, sou sy dissipels tot ryp Christene opbou wat uit hulle “skatkamer” ’n eindelose voorraad ryk geestelike voedsel te voorskyn kon bring. Baie hiervan het met God se Koninkryk verband gehou. Jesus het onomwonde gesê dat dit nie net seëninge nie, maar ook verantwoordelikhede sal meebring as ons ‘die sin van’ die Koninkryk begryp. Hy het hulle beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en . . . leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 13:51, 52; 28:19, 20.
11. Watter gebeure wat met die Koninkryk verband hou, het in 1914 plaasgevind?
11 Soos Jesus belowe het, het hy voortgegaan om deur die eeue heen en tot vandag toe met sy ware dissipels te wees. In hierdie laaste dae het hy op progressiewe wyse vir hulle insig gegee, en hy hou hulle ook verantwoordelik vir die gebruik van die toenemende waarheidslig (Lukas 19:11-15, 26). In 1914 het Koninkryksgebeure vinnig en op dramatiese wyse begin plaasvind. In daardie jaar het nie net die “geboorte” van die langverwagte Koninkryk plaasgevind nie, maar dit was ook die begin van die “voleinding van die stelsel van dinge” (Openbaring 11:15; 12:5, 10; Daniël 7:13, 14, 27). Ware Christene het die grootste Koninkrykspredikings- en -onderrigtingskampanje in die geskiedenis uitgevoer, omdat hulle die betekenis van huidige gebeure begryp het. Jesus het dit voorspel deur te sê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.
12. (a) Wat is die gevolg van die omvangryke hedendaagse Koninkryksgetuienis? (b) Watter gevaar is daar vir Christene in hierdie skeptiese wêreld?
12 Hierdie uitgebreide Koninkryksgetuienis het meer as 230 lande bereik. Meer as vyfmiljoen ware dissipels neem reeds aan hierdie werk deel, en daar word steeds meer ingesamel. Maar as ons die aantal dissipels met die aarde se 5,6 miljard bewoners vergelyk, is dit duidelik dat die oorgrote meerderheid, soos in Jesus se dag, nie ‘die sin van’ die Koninkryk begryp nie. Soos voorspel is, is daar baie wat spot en sê: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan?” (2 Petrus 3:3, 4). Die gevaar wat dit vir ons as Christene inhou, is dat hulle oorgeruste, skeptiese, materialistiese gesindheid geleidelik ons beskouing van ons Koninkryksvoorregte kan beïnvloed. Omdat ons deur mense van hierdie wêreld omring word, kan ons maklik van hulle gesindhede en gebruike begin aanneem. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons ‘die sin van’ God se Koninkryk begryp en daaraan vashou!
Doen selfondersoek met betrekking tot die Koninkryk
13. Hoe kan ons bepaal of ons steeds met onderskeidingsvermoë die opdrag ‘hoor’ om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig?
13 Jesus het van die oestyd waarin ons lewe, gesê: “Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal alles wat struikeling veroorsaak en mense wat wetteloosheid bedryf uit sy koninkryk bymekaarmaak . . . In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader. Laat hom wat ore het, luister” (Matteus 13:41, 43). Hou jy aan om die opdrag te ‘hoor’ om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak deur gehoorsaam daarop te reageer? Onthou, ‘die een wat op die goeie grond gesaai is’, het ‘die woord gehoor en die sin daarvan begryp’ en goeie vrug voortgebring.—Matteus 13:23.
14. Hoe toon ons dat ons ‘die sin van’ die raad begryp wanneer raad gegee word?
14 Wanneer ons persoonlike studie doen en Christelike vergaderinge bywoon, moet ons ‘ons hart tot onderskeidingsvermoë neig’ (Spreuke 2:1-4, NW). Wanneer raad aangaande gedrag, kleredrag, musiek en vermaak gegee word, moet ons dit in ons hart laat insink sodat dit ons kan beweeg om enige nodige veranderinge aan te bring. Moet nooit rasionaliseer, verskonings maak of andersins versuim om te reageer nie. As die Koninkryk ’n werklikheid in ons lewe is, sal ons volgens die standaarde daarvan lewe en dit ywerig aan ander verkondig. Jesus het gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Matteus 7:21-23.
15. Waarom is dit belangrik om ‘eers die koninkryk en God se regverdigheid te soek’?
15 Dit is die menslike neiging om besorg te wees oor die nodige voedsel, klere en onderdak, maar Jesus het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy [God se] regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33, 34). Wanneer jy prioriteite stel, moet jy die Koninkryk die eerste plek in jou lewe laat beklee. Hou jou lewe eenvoudig en wees vergenoeg met noodsaaklikhede. Dit sal dwaas wees om ons lewe met onbelangrike bedrywighede en die verkryging van onbelangrike dinge te vul en dalk te rasionaliseer dat dit aanvaarbaar is aangesien hierdie dinge op sigself nie noodwendig sleg is nie. Al is dit moontlik waar, wat sal die verkryging en gebruik van sulke onbelangrike dinge aan ons rooster vir persoonlike studie, die bywoning van Christelike vergaderinge en die deelname aan die predikingswerk doen? Jesus het gesê dat die Koninkryk soos ’n koopman is wat een ‘pêrel van groot waarde vind, en weggaan en dadelik alles verkoop wat hy het en dit koop’ (Matteus 13:45, 46). Dit is hoe ons oor God se Koninkryk moet voel. Ons moet Paulus navolg, nie Demas wat die bediening verlaat het “omdat hy die teenswoordige stelsel van dinge liefgehad het” nie.—2 Timoteus 4:10, 18; Matteus 19:23, 24; Filippense 3:7, 8, 13, 14; 1 Timoteus 6:9, 10, 17-19.
‘Onregverdiges sal God se Koninkryk nie beërf nie’
16. Hoe sal dit ons help om verkeerde gedrag te vermy as ons ‘die sin van’ God se Koninkryk begryp?
16 Toe die gemeente in Korinte onsedelikheid geduld het, het Paulus onomwonde gesê: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). As ons ‘die sin van’ God se Koninkryk begryp, sal ons nie onsself mislei deur te dink dat Jehovah die een of ander vorm van onsedelikheid sal duld solank hy ons in die Christelike diens besig sien nie. Onreinheid moet selfs nie onder ons genoem word nie (Efesiërs 5:3-5). Bespeur jy dat van hierdie wêreld se vuil denke of gebruike in jou lewe begin inkruip? Sny dit onmiddellik uit jou lewe uit! Die Koninkryk is heeltemal te kosbaar om dit weens sulke dinge te verloor.—Markus 9:47.
17. In watter opsigte sal waardering vir God se Koninkryk nederigheid bevorder en struikelblokke uit die weg ruim?
17 Jesus se dissipels het gevra: “Wie is werklik die grootste in die koninkryk van die hemele?” Jesus het geantwoord deur ’n jong kind in hulle midde te laat staan en te sê: “Voorwaar, ek sê vir julle: Tensy julle omdraai en soos jong kinders word, sal julle hoegenaamd nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Elkeen dan wat hom soos hierdie jong kind sal verneder, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele” (Matteus 18:1-6). Diegene wat trots, veeleisend, ongevoelig en wetteloos is, sal nie in God se Koninkryk wees nie, en hulle sal ook nie onderdane van die Koninkryk wees nie. Beweeg jou liefde vir jou broers, jou nederigheid en jou godvrugtige vrees jou om nie ander deur jou gedrag te laat struikel nie? Of dring jy op jou “regte” aan, ongeag hoe hierdie gesindheid en gedrag ander mag raak?—Romeine 14:13, 17.
18. Wat sal dit vir die gehoorsame mensdom beteken wanneer God se Koninkryk Sy wil laat geskied “soos in die hemel, so ook op die aarde”?
18 Ons hemelse Vader, Jehovah, sal binnekort hierdie vurige gebed beantwoord: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Binnekort gaan die heersende Koning, Jesus Christus, kom in die sin dat hy op sy oordeelstroon sal gaan sit om die “skape” van die “bokke” af te skei. Op daardie bestemde tyd “sal die koning vir dié aan sy regterhand sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is.’” Die bokke “sal weggaan, die ewige afsnyding in, maar die regverdiges die ewige lewe in” (Matteus 6:10; 25:31-34, 46). “Die groot verdrukking” sal die ou stelsel en almal wat weier om ‘die sin van’ die Koninkryk te begryp uit die weg ruim. Maar die miljoene wat die “groot verdrukking” sal oorleef en die miljarde wat opgewek sal word, sal die ewige Koninkrykseëninge op die herstelde aardse Paradys beërf (Openbaring 7:14). Die Koninkryk is die nuwe regering van die aarde wat vanuit die hemele regeer. Dit sal Jehovah se voorneme met die aarde en die mensdom ten volle uitvoer—alles tot die heiliging van sy allerheiligste naam. Is dit nie ’n erfenis wat beslis die moeite werd is om voor te werk, voor op te offer en voor te wag nie? Dit is wat dit vir ons moet beteken om ‘die sin van’ die Koninkryk te begryp!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is die Koninkryk van God?
◻ Waarom het die meeste wat na Jesus geluister het nie ‘die sin van’ die Koninkryk begryp nie?
◻ Hoe bring dit seëninge sowel as verantwoordelikhede mee as ons ‘die sin van’ die Koninkryk begryp?
◻ Wat toon of ons ‘die sin van’ die Koninkryk begryp wat die predikingswerk betref?
◻ Hoe toon ons deur ons gedrag dat ons ‘die sin van’ raad begryp wat gegee word?
[Prente op bladsy 17]
Jesus se dissipels het ‘die sin van’ die Koninkryk begryp en goeie vrug voortgebring