My lewenslange hoop—om nooit te sterf nie
SOOS VERTEL DEUR HECTOR R. PRIEST
“Die kanker is ongeneeslik”, het die dokter gesê. “Daar is niks meer wat ons vir jou kan doen nie.” Daardie diagnose is meer as tien jaar gelede gemaak. En tog koester ek steeds die Bybelse hoop om vir ewig op die aarde te lewe sonder om ooit te sterf.—Johannes 11:26.
MY OUERS was vroom Metodiste wat gereeld kerk toe gegaan het in ’n klein plattelandse dorpie, nie ver van ons familieplaas af nie. Ek is gebore in die mooi landbouvallei van die Wairarapa, ongeveer 130 kilometer noordoos van Wellington, Nieu-Seeland. Daar het ons ’n uitsig oor sneeubedekte berge, helder bergstrome, golwende heuwels en vrugbare vlaktes gehad.
In die Metodistekerk is ons geleer dat alle goeie mense hemel toe gaan, maar dat die slegtes hel toe gaan, wat ’n plek van vurige foltering is. Ek kon nie verstaan waarom God mense nie in die eerste plek in die hemel gesit het as hy wou gehad het dat hulle daar moes woon nie. Ek was altyd bang vir die dood en het dikwels gewonder waarom ons moet sterf. In 1927, toe ek 16 was, het ’n tragedie ons gesin getref. Dít het my na antwoorde op my vrae laat soek.
Waarom het Reg gesterf?
Toe my broer Reg 11 was, het hy ernstig siek geword. Die dokter kon nie vasstel wat fout was nie en kon hom nie help nie. My ma het die Metodistepredikant laat kom. Hy het vir Reg gebid, maar dit het my ma nie vertroos nie. Trouens, sy het vir die predikant gesê dat sy gebede niks gehelp het nie.
Toe Reg gesterf het, het my ma met ’n ieder en ’n elk gepraat om haar dors na betroubare antwoorde oor die rede vir haar seuntjie se dood te probeer bevredig. Terwyl sy met ’n sakeman in die dorp gesels het, het sy hom gevra of hy enigiets omtrent die toestand van die dooies weet. Hy het niks daarvan geweet nie, maar hy het gesê: “Iemand het ’n boek hier gelaat wat jy met plesier kan kry.”
My ma het die boek huis toe geneem en dit begin lees. Sy kon dit nie neersit nie. Haar hele gemoedstoestand het geleidelik verander. Sy het vir ons gesin gesê: “Hierdie is die waarheid.” Die boek was The Divine Plan of the Ages, die eerste deel van Studies in the Scriptures. Ek was eers skepties en het teen die boek se voorstelling van die Skepper se voorneme probeer argumenteer. My argumente het uiteindelik opgeraak.
Ek neem Bybelwaarhede aan
Ek het gedink: ‘Stel jou voor dat jy vir ewig lewe en nooit hoef te sterf nie!’ So ’n hoop sal ’n mens van ’n liefdevolle God verwag. ’n Paradysaarde! Ja, hiervan het ek gehou.
Nadat my ma hierdie wonderlike waarhede geleer het, het sy en drie Christensusters van Wellington—susters Thompson, Barton en Jones—soms dae lank weggegaan en die saadjies van die Koninkryk wyd en syd in die plattelandse gebiede versprei. Hoewel my pa nie my ma se sendinggees gehad het nie, het hy haar in haar bedrywighede ondersteun.
Ek was oortuig dat dit die waarheid is, maar ek het ’n tyd lank nie veel omtrent my opvattings gedoen nie. In 1935 het ek met Rowena Corlett getrou, en met verloop van tyd is ons geseën met ’n dogter, Enid, en ’n seun, Barry. Ek het as veekoper gewerk en duisende stuks vee by die plaasboere in die omgewing gekoop. Wanneer hierdie boere oor die politiek gesels het, het ek dit geniet om vir hulle te sê: “Nie een van hierdie pogings van mense sal sukses behaal nie. God se Koninkryk is die enigste regering wat sal slaag.”
Ongelukkig het ek aan tabak verslaaf geraak; ek het gedurig ’n sigaar in my mond gehad. Ná verloop van tyd het my gesondheid versleg, en ek is met ’n pynlike maagaandoening in die hospitaal opgeneem. Daar is vir my gesê dat ek akute maagdermontsteking het wat die gevolg van my rookgewoonte was. Hoewel ek met die gewoonte gebreek het, was dit vir my niks ongewoons om te droom dat ek ’n nimmereindigende sigaar of sigaret rook nie. Hoe verskriklik is tabakverslawing tog!
Nadat ek ophou rook het, het ek ander belangrike veranderinge aangebring. In 1939, toe ek 28 was, is ek in die Mangatai-rivier naby ons huis op die platteland gedoop. Robert Lazenby, wat later oor die predikingswerk in Nieu-Seeland toesig gehou het, het die hele ent van Wellington af gekom om die toespraak in ons huis te hou en my te doop. Van toe af het ek ’n moedige Getuie van Jehovah geword.
Organisering van die predikingswerk
Ná my doop is ek as die opsiener van die Eketahuna-gemeente aangestel. My vrou, Rowena, het toe nog nie Bybelwaarhede aangeneem nie. Maar ek het vir haar gesê dat ek van plan was om Alf Bryant te nooi om van Pahiatua te kom en vir my te wys hoe om behoorlik van huis tot huis te getuig. Ek wou die predikingswerk organiseer en ons gebied stelselmatig dek.
Rowena het gesê: “Hector, as jy van huis tot huis gaan getuig, sal ek nie hier wees wanneer jy terugkom nie. Ek verlaat jou. Jou verantwoordelikheid is hier—by die huis saam met jou gesin.”
Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het aarselend aangetrek. ‘Ek móét dit doen’, het ek by myself bly dink. ‘My lewe hang daarvan af en ook dié van my gesin.’ Ek het dus vir Rowena daarvan verseker dat ek haar geensins wou seermaak nie. Ek het vir haar gesê dat ek haar baie liefhet, maar dat ek eenvoudig op hierdie manier moes getuig omdat Jehovah se naam en soewereiniteit, sowel as ons lewe, hierby betrokke was.
Ek en Alf het na die eerste deur gegaan, en hy het die gesprek begin. Maar toe ek my kom kry, het ek die gesprek oorgeneem en vir die huisbewoner gesê dat daar ’n parallel is tussen wat in Noag se dag gebeur het en wat in ons dag plaasvind en dat ons iets moet doen om ons redding te verseker (Matteus 24:37-39). Ek het ’n paar boekies daar gelaat.
Toe ons uitstap, het Alf gesê: “Waar het jy al daardie kennis gekry? Jy het my nie nodig nie. Gaan jy op jou eie, en dan sal ons twee maal soveel gebied dek.” En dit is wat ons gedoen het.
Op pad huis toe het ek nie geweet wat op ons wag nie. Tot my verbasing en vreugde het Rowena ’n koppie tee vir ons gereed gehad. Twee weke later het my vrou in die openbare bediening by my aangesluit en ’n goeie voorbeeld van Christelike ywer geword.
Onder die eerstes in ons landbouvallei wat Jehovah se Getuies geword het, was Maud Manser, haar seun William en haar dogter Ruby. Maud se man was kwaai en het nors gelyk. Eendag het ek en Rowena by hulle plaas aangekom om Maud in die bediening uit te neem. Jong William het gereël dat ons sy motor kon gebruik, maar sy pa het ander planne gehad.
Die situasie was gespanne. Ek het Rowena gevra om ons babadogtertjie, Enid, vas te hou. Ek het in William se motor geklim en vinnig by die garage uitgery terwyl mnr. Manser gou die garagedeur probeer toemaak het voordat ons kon uitkom. Maar hy het dit nie reggekry nie. Nadat ons ’n entjie met die oprit op gery het, het ons stilgehou, en ek het uit die motor geklim en ’n woedende mnr. Manser ontmoet. Ek het vir hom gesê: “Ons gaan in die veldbediening uit en mev. Manser kom saam met ons.” Ek het mooi met hom gepraat, en sy woede het bietjie bedaar. As ek nou terugkyk, moes ek seker anders opgetree het, maar later was hy Jehovah se Getuies meer goedgesind, hoewel hy nooit ’n Getuie geword het nie.
Daar was nog maar min van Jehovah se volk in daardie jare, en ons het waarlik die besoeke van voltydse bedienaars wat by ons op ons plaas kom kuier het, geniet en daarby baat gevind. Hierdie besoekers het Adrian Thompson en sy suster Molly ingesluit, wat albei by die vroeë klasse van die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir sendelinge was en in buitelandse toewysings in Japan en Pakistan gedien het.
Ondervindinge gedurende oorlogstyd
In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en in Oktober 1940 het die regering van Nieu-Seeland die werk van Jehovah se Getuies verbied. Baie van ons Christenbroers is voor die howe van die land gebring. Party is in werkkampe gesit en van hulle vrouens en kinders afgesonder. Terwyl die oorlog voortgewoed het, het ek, al het ons ’n melkplaas gehad, gewonder of ek vir militêre diens opgeroep sou word. Toe is die aankondiging gedoen dat geen plaasboere meer vir militêre diens van hulle plase weggeneem sou word nie.
Ek en Rowena het met ons Christelike bediening voortgegaan en ons het elkeen meer as 60 uur per maand aan die predikingswerk bestee. Gedurende hierdie tyd het ek die voorreg gehad om jong Getuies te help wat hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Ek het ten behoewe van hulle voor die howe van Wellington, Palmerston-Noord, Pahiatua en Masterton verskyn. ’n Geestelike het gewoonlik op die dienspligraad gedien, en ek het graag hulle onchristelike steun van die oorlogspoging aan die kaak gestel.—1 Johannes 3:10-12.
Terwyl ek en Rowena een aand Die Wagtoring bestudeer het, het speurders ’n klopjag op ons huis uitgevoer. In die soektog is Bybellektuur in ons huis gevind. “Julle kan hiervoor tronk toe gaan”, is daar vir ons gesê. Toe die speurders in hulle motor klim om te ry, het hulle gevind dat die remme vasgeslaan het en die motor nie kon ry nie. William Manser het die motor help regmaak en ons het nooit weer van die mans gehoor nie.
Gedurende die verbod het ons Bybellektuur in ’n gebou op ’n afgesonderde deel van ons plaas weggesteek. Ek het gewoonlik in die middel van die nag die Nieu-Seelandse takkantoor besoek en my motor vol lektuur gelaai. Dan het ek dit huis toe gebring en dit in ons afgesonderde bergplek gebêre. Toe ek een aand by die takkantoor aankom om ’n geheime vrag op te laai, is al die ligte skielik aangeskakel! Die polisie het geskreeu: “Ons het jou betrap!” Maar verbasend genoeg het hulle my sonder ’n groot bohaai laat gaan.
In 1949 het ek en Rowena die plaas verkoop en besluit om pionierdiens te doen totdat ons geld opraak. Ons het na ’n huis in Masterton verhuis en in die Masterton-gemeente as pioniers gedien. Binne twee jaar is die Featherston-gemeente met 24 bedrywige verkondigers gestig, en ek het as die presiderende opsiener gedien. Toe, in 1953, het ek die voorreg geniet om na die Verenigde State te reis om die agt dae lange internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies by die Yankee-stadion in die stad New York by te woon. Rowena kon my nie vergesel nie omdat sy na ons dogter, Enid, moes omsien wat aan serebrale verlamming gely het.
Ná my terugkeer na Nieu-Seeland moes ek sekulêre werk begin doen. Ons het na die Masterton-gemeente teruggegaan, waar ek as die presiderende opsiener aangestel is. Dit was omtrent hierdie tyd dat William Manser die Little Theater in Masterton gekoop het, en dit het die eerste Koninkryksaal in die Wairarapa geword. Gedurende die vyftigerjare het ons gemeente geestelik, sowel as in getalle, grootliks gegroei. Wanneer die kringopsiener ons besoek het, het hy dus dikwels ryp persone aangemoedig om na ander dele van die land te verhuis om met die predikingswerk daar te help, en ’n hele paar het dit gedoen.
Ons gesin het in Masterton gebly, en gedurende die daaropvolgende dekades het ek nie net baie voorregte in die gemeente geniet nie, maar ook toewysings by nasionale sowel as internasionale byeenkomste gehad. Rowena het ywerig aan die velddiens deelgeneem en voortdurend ander gehelp om dieselfde te doen.
Ek verduur toetse van geloof
Soos ek aan die begin gemeld het, is my siekte in 1985 as ongeneeslike kanker gediagnoseer. Hoe graag wou ek en my getroue vrou, Rowena, saam met ons kinders, tog onder die miljoene wees wat nou lewe en nooit sal sterf nie! Maar die dokters het my huis toe gestuur om te sterf. Hulle het egter eers vir my gevra hoe ek oor die diagnose voel.
“Ek gaan ’n rustige hart behou en optimisties wees”, het ek geantwoord. Trouens, die Bybelspreuk het my gehelp om my ewewig te behou: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees.”—Spreuke 14:30.
Die kankerspesialiste het daardie Bybelraad geprys. “Daardie geestesgesindheid is 90 persent van die genesing vir kankerpasiënte”, het hulle gesê. Hulle het ook aanbeveel dat ek oor ’n tydperk van sewe weke bestraling ontvang. Ek het gelukkig uiteindelik die stryd teen die kanker gewen.
Gedurende hierdie uiters moeilike tyd het ’n verskriklike ramp my getref. My mooi, getroue vrou het bloeding op die brein gekry en gesterf. Ek het vertroosting geput uit die voorbeelde van getroue persone wat in die Skrif opgeteken staan en in hoe Jehovah dinge vir hulle laat afloop het terwyl hulle hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het. My hoop op die nuwe wêreld het dus helder gebly.—Romeine 15:4.
Ek het nietemin neerslagtig geword en wou nie meer as ’n ouer man dien nie. Die plaaslike broers het my aangemoedig totdat ek weer die krag gehad het om voort te gaan. Gevolglik kon ek die afgelope 57 jaar ononderbroke as ’n Christen- ouer man en -opsiener dien.
Ek sien met vertroue uit na die toekoms
Dit was ’n wonderlike voorreg om Jehovah al hierdie jare te kon dien. Hoeveel seëninge het ek tog nie gehad nie! Dit voel of dit nie lank gelede was nie dat ek, as ’n 16-jarige, my ma hoor uitroep het: “Hierdie is die waarheid!” My ma het ’n getroue, ywerige Getuie gebly tot haar dood in 1979, toe sy oor die 100 jaar oud was. Haar dogter en ses seuns het ook getroue Getuies geword.
My brandende begeerte is om te lewe sodat ek kan sien hoe Jehovah se naam van alle blaam gesuiwer word. Sal my lewenslange hoop om nooit te sterf nie verwesenlik word? Dit moet ons natuurlik nog sien. Maar ek is oortuig dat baie, ja miljoene, uiteindelik daardie seën sal ontvang. So lank as wat ek bly lewe, sal ek dus die vooruitsig koester om gereken te word onder diegene wat nooit sal sterf nie.—Johannes 11:26.
[Prent op bladsy 28]
My ma
[Prent op bladsy 28]
Saam met my vrou en kinders