Koninkryksverkondigers berig
‘Skyn as ligte in die wêreld’
JEHOVAH SE GETUIES is opvallend anders en kry dikwels slegte publisiteit omdat hulle nie bloedoortappings aanvaar nie. Maar hierdie standpunt is geheel en al op die Bybel gegrond. Dit toon dat God die misbruik van bloed veroordeel, aangesien bloed in sy oë kosbaar is (Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:14). Omdat Jehovah se Getuies ondersoek het wat die Skrif oor hierdie onderwerp sê, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat die Bybel se opdrag om ‘hulle van bloed te onthou’ beslis die hedendaagse gebruik van bloedoortappings insluit.—Handelinge 15:19, 20, 28, 29.
In die laaste jare het lede van die mediese gemeenskap, asook die howe in party lande, Jehovah se Getuies begin ondersteun wat hierdie saak betref. Byvoorbeeld, in Denemarke het ’n jong moeder wat vertroud was met die Bybel se beskouing oor bloed weens ’n motorongeluk gesterf. Omdat sy geweier het om ’n bloedoortapping te aanvaar, het haar dokters ’n maand lange vyandige veldtog deur middel van die media teen Jehovah se Getuies aangestook.
Die jong vrou se ouers het ’n ondersoek aangevra, en in April 1994 is die bevinding deur Denemarke se Kommissie van Pasiënteklagtes bekend gemaak. Dit het gesê dat die pasiënt gesterf het as gevolg van mediese wanpraktyk en nie omdat sy bloed geweier het nie. Die bevinding was gebaseer op ondersoeke deur die Raad van Geregtelike Geneeskunde en die gesondheidsowerhede. In ’n omsendbrief aan alle gesondheidsinstellings in Denemarke het die Nasionale Gesondheidsraad gesê dat dokters verplig is om Jehovah se Getuies se weiering om bloed te aanvaar in ag te neem en hulle die beste beskikbare alternatiewe behandeling te gee.
In ’n ander geval het Dan, ’n 15-jarige Getuie, aan leukemie gesterf. In hierdie geval het die dokters Dan se moedige besluit om ’n bloedoortapping te weier, gerespekteer. Dit het ’n wydverspreide veldtog in die pers tot gevolg gehad waarin die media die dokters vir Dan se dood blameer het. Maar baie mense het nie met die negatiewe propaganda saamgestem nie.
Dan se skoolhoof het byvoorbeeld die begrafnis in die Koninkryksaal bygewoon. Hy het sy verbasing uitgespreek oor die onregverdige nuusdekking van Dan se dood. Nadat hy ’n Getuiekollega ’n aantal vrae oor Jehovah se Getuies gevra het, het hy die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name geneem. Hy was so beïndruk deur die video dat hy reëlings getref het vir al die onderwysers in die skool om dit te sien. Die video is later aan al die leerlinge vertoon, een klas op ’n slag.
Denemarke se Minister van Gesondheid het ook nie met die slegte publisiteit saamgestem wat Dan se dokters ontvang het nie. Hy het gesê dat die dokters die regte ding gedoen het deur Dan se volwasse besluit en vaste geloof te respekteer.
Daar is miljoene Koninkryksverkondigers wat aan God se wette gehoorsaam is. Weens hulle gehoorsaamheid is hulle opvallend anders en ‘skyn hulle as ligte in die wêreld’.—Filippense 2:12, 15.