Hulle het as vreugdevolle lowers byeengekom
JEHOVAH GOD se eertydse volk is beveel om “net maar vrolik [te] wees” wanneer hulle vir aanbidding byeengekom het (Deuteronomium 16:15). Die “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkomste vir 1995/96 het Jehovah se Getuies beslis goeie redes gegee om vreugdevol te wees.
Sedert hierdie reeks streekbyeenkomste begin het, het dit geloof opgebou. Dit het ook getoon hoe ’n mens vreugde in ’n vreugdelose wêreld kan vind. Kom ons bespreek die byeenkoms dag vir dag.
‘Loof Jehovah . . . Wees vreugdevol!’
Die bostaande tema van die byeenkoms se eerste dag was op Psalm 149:1, 2 (NW) gebaseer. Die toespraak “Ons het rede om van vreugde uit te roep” het die toepassing van die profesie in Jesaja hoofstuk 35 ondersoek. Dit het in eertydse Israel ’n vervulling gehad en veral in ons dag met die herstel van aanbidders van Jehovah tot ’n toestand van voorspoed en gesondheid in ’n geestelike paradys. Die byeenkomsgangers het dus rede gehad om van vreugde uit te roep oor wat God hom voorgeneem het om vir sy volk in ’n geestelike paradys te doen en in die komende fisiese Paradys wat op hande is.
Die programrede, “In die hele wêreld as vreugdevolle lowers afgesonder”, het ’n antwoord gegee op die vraag: Wat onderskei ons van hierdie wêreld? Dit is ons verenigde aanbidding van Jehovah. Ongeag waar Jehovah se Getuies op hierdie aarde woon, hulle spreek en onderrig in eenheid. Hulle verheug hulle ook in Jehovah se luisterryke voorneme om deur middel van sy Koninkryk sy groot naam te heilig en sy soewereiniteit te regverdig. Maar hoe help Jehovah ons om ’n plek in sy voorneme te hê? Hy het die waarheid van sy heilige Woord aan ons toevertrou. God het aan ons sy heilige gees gegee. Hy het ons met ’n wêreldwye broederskap en ’n reëling vir ware aanbidding geseën. Ons internasionale gesin help ons om Jehovah met groot vreugde van hart te dien.
“Bly afgeskeie en bewaar jou sonder vlek van die wêreld” het die belangrikheid daarvan beklemtoon om ons nie met partydigheid en klasseverskille te bevlek nie (Jakobus 2:5-9). Party gaan dalk net met diegene om wat dieselfde agtergrond of finansiële status as hulle het en skeep mede-Christene af wat arm of minder bevoorreg is. Ander is dalk geneig om diegene te begunstig wat verantwoordelike posisies in die gemeente het. Hulle vergeet dat die grootste voorreg wat enigiemand kan hê, is om ’n Getuie van Jehovah te wees. Daarom moet ons nie toelaat dat wêreldse neigings ons bevlek en die vrede van die gemeente versteur nie.—2 Petrus 3:14.
Die toespraak “Is ek gereed om te trou?” het daarop gewys dat baie oorhaastig in die huwelik tree. Party trou om van ’n moeilike situasie by die huis weg te kom of omdat hulle vriende trou. Maar geldige redes om te trou is onder meer ’n gemeenskaplike begeerte om teokratiese doelwitte na te streef, ware liefde, ’n behoefte aan kameraadskap en sekuriteit asook die begeerte om kinders groot te maak. Geestelike opleiding is noodsaaklike voorbereiding vir die huwelik. Dit is onder andere nodig dat ’n mens wenslike eienskappe moet aankweek deur jou met die nuwe persoonlikheid te beklee. Dit is ook verstandig om vas te stel of ’n voorgenome maat toon dat hy of sy ’n werklike verhouding met Jehovah het en ander met respek behandel. Om raad by ryp Christene te gaan vra, sal ook verstandig wees.—Spreuke 11:14.
Hierdie insiggewende bespreking is gevolg deur die toespraak met die titel “Ouers wat in hulle kinders behae skep”. Die geboorte van ’n kind is gewoonlik ’n tyd van groot vreugde. Maar om kinders te hê, bring ook groot verantwoordelikheid mee (Psalm 127:3). Dit is dus belangrik dat kinders geleer word om Jehovah lief te hê. Ouers kan dit doen deur gereeld met hulle kinders oor Jehovah te praat en deur die beginsels van sy Woord in die gesin toe te pas.
Die eerste dag van die byeenkoms is afgesluit met ’n verrassing—die vrystelling van die nuwe brosjure Jehovah se Getuies en opvoeding. Dit verduidelik dat die Getuies ‘hulle kinders aanmoedig om hard te werk en om die take wat hulle op skool kry ernstig op te neem’. Hierdie publikasie vertel ook van die merkwaardige resultate van die lees-en-skryf-klasse wat Jehovah se Getuies al baie jare lank in Nigerië, Mexiko en ander lande hou. Die brosjure behoort onderwysers te help besef dat ons baie waarde aan opvoeding heg.
‘Bring altyd aan God ’n lofofferande’
Die voorgaande tema van die tweede dag was op Hebreërs 13:15 gebaseer. Die oggendprogram het ’n simposium ingesluit met die titel “Gee gehoor aan die oproep om Jehovah te loof”. Ouderdom is nie ’n hindernis om aan hierdie oproep gehoor te gee nie. Psalm 148:12, 13 spoor jongelinge, jongedogters, oues sowel as jonges aan om Jehovah te loof. Baie van Jehovah se vreugdevolle knegte was in staat om selfs meer lof tot hom te bring. Wêreldwyd neem meer as 600 000 aan die voltydse predikingswerk, of pionierdiens, deel. Meer as 15 000 is spesiale pioniers, en oor die 15 000 is in Betheldiens.
Die toespraak “Dien lojaal saam met Jehovah se organisasie” het getoon dat lojaliteit lewensbelangrik vir God se knegte is. Om lojaal teenoor Jehovah te wees, beteken om hom aan te hang met ’n toegewydheid wat so sterk is dat dit soos ’n kragtige kleefmiddel werk. Lojaliteit vereis dat ons nie opsetlik Bybelse gebooie verbreek nie, hetsy ander ons sien of nie. Dit vereis ook dat ons lojaal bly by die Bybelleringe wat in Die Wagtoring en Ontwaak! gevind word sowel as by alle ander geestelike voedsel wat deur die Wagtoringgenootskap voorsien word. Hierdie toespraak is deur die dooptoespraak gevolg. Watter vreugde was daar tog toe doopkandidate bewys gelewer het van hulle toewyding aan Jehovah!
Die woorde van Hosea 4:1-3 was die grondslag van die middag se toespraak “Deug of verdorwenheid—Wat streef jy na?” Hoewel die wêreld se beskouing van deug agteruitgegaan het, moet Christene hulle ‘ywerig inspan’ om sedelike voortreflikheid na te streef (2 Petrus 1:5). Dit begin by ’n mens se denkwyse. As sy gedagtes deugsaam is, sal hy rein, heilsame en opbouende woorde spreek en sal hy daarna streef om eerlik in sy handelinge met ander te wees. Om deugsaamheid na te streef, behels ook dat ’n mens mede-Christene wat weens angstigheid ly of aan depressie ly met begrip en medelye probeer behandel.—1 Tessalonisense 5:14.
’n Ander toespraak, “Waak teen strikke van die Duiwel”, het Christene gewaarsku om hulle nie aan demoniese invloede bloot te stel nie. Wat die behandeling van siektes betref, moet Christene versigtig wees vir tegnieke, soos hipnotisme, wat spiritistiese elemente bevat. Dit is andersins ’n persoonlike saak wat persone doen om na hulle fisiese gesondheid om te sien.
Die tweede dag het met ’n vreugdevolle verrassing geëindig—die vrystelling van ’n nuwe sakformaatboek wat bedoel is om opregtes van hart te help om vinnig tot toewyding en doop te vorder. Die titel van hierdie nuwe boek met 192 bladsye is Kennis wat tot die ewige lewe lei. Die Kennis-boek bied die waarheid op ’n positiewe wyse aan. Dit wei nie uit oor valse leerstellings nie. Die duidelike taal en logiese ontwikkeling behoort dit maklik te maak om hierdie boek te gebruik om Bybelstudies te hou en mense te help om die hartverblydende kennis van God te verstaan.
“Wees julle bly en juig vir ewig”
Hierdie woorde uit Jesaja 65:18 was die tema van die byeenkoms se derde dag. Die vervulling van Bybelprofesieë dui op 1914 as die jaar waarin hierdie goddelose stelsel sy laaste dae ingegaan het. Gevolglik het die simposium met die titel “Vreugdevolle lowers tydens die voleinding van hierdie stelsel” die volle aandag van die gehoor geniet. Die sprekers het getoon hoe miljarde mense deur die gierige en gewelddadige gees van hierdie wêreld meegesleur word. Hulle sal mettertyd geoordeel word as ’n deel van die wêreld waarvan Satan die heerser is. Dit is dus nou die tyd om te kies. Aan watter kant wil ons wees? Wil ons Jehovah aanbid en sy soewereiniteit ondersteun of gaan ons Satan toelaat om ons heerser te wees deur die dinge te doen wat hom behaag? Ons moet almal ons standpunt onteenseglik aan Jehovah se kant inneem.
Die byeenkoms se openbare toespraak, “Loof die Koning van die ewigheid!” het die hele gehoor stof tot nadenke gegee. Hoewel die idee van die ewigheid blykbaar die mens se beperkte verstand te bowe gaan, verstaan Jehovah dit ten volle. “Die HERE is Koning vir ewig en altyd”, het die psalmis gesing (Psalm 10:16). Hierdie Koning van die ewigheid het deur sy Seun, Jesus Christus, die weg gebaan sodat die mensdom die ewige lewe kan geniet (Johannes 17:3). “Ja, ons as sondige mense kan die ewige lewe deur Goddelike onderrigting en geloof in Jesus se losprysofferande verkry”, het die spreker gesê.
Aan die einde van die byeenkoms is die aanwesiges aangemoedig deur die slottoespraak, “Loof Jehovah van dag tot dag met vreugde”. Dit was bemoedigend om verslae te ontvang van hoe die dissipelmaakwerk wêreldwyd vordering maak. En die byeenkomsgangers is beweeg om Jehovah ‘elke dag te loof en sy Naam vir ewig en altyd te prys’.—Psalm 145:2.
Onbeskryflike dade van onmenslikheid beroof die wêreld van vreugde. Mense wat hulle volle geloof in Jehovah stel, kan nietemin godvrugtige vreugde geniet. As ’n wêreldwye broederskap kan Jehovah se Getuies derhalwe die volgende woorde in Psalm 35:27, 28 herhaal: “Laat hulle jubel en bly wees wat ’n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die HERE wat ’n welbehae het in die vrede van sy kneg! En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.”
[Prente op bladsy 7]
Gesinne sal baat vind by die brosjure “Jehovah se Getuies en opvoeding”
[Prente op bladsy 8, 9]
Die nuwe boek, “Kennis wat tot die ewige lewe lei”, bied Bybelwaarhede op ’n positiewe wyse aan
[Prente op bladsy 9]
Baie is gedoop as simbool van hulle toewyding aan Jehovah
[Prent op bladsy 9]
Die byeenkomsgangers is diep geraak deur die drama “Eer bejaarde waardiges”