Moenie die “Vreugdevolle Lowers”- Streekbyeenkoms mis nie
Drie opbouende dae van Bybelonderrigting wag op jou. Wees daar wanneer die program Vrydagoggend om 9:40 met musiek begin. Geniet die openingstoespraak, “Welkom, alle vreugdevolle lowers van Jehovah!”, sowel as die programrede, “In die hele wêreld as vreugdevolle lowers afgesonder”.
Vrydagmiddag se program sal die aandag vestig op jongmense, hulle ouers en opvoeding. “Is ek gereed om te trou?” is ’n toespraak wat baie sal wil hoor. Ouers moet goed luister na die bespreking “Ouers wat in hulle kinders behae skep”. Die middag se program sal afsluit met die toespraak “Opvoeding—Gebruik dit om Jehovah te loof”. Dit wat voorsien gaan word, behoort jongmense te help om ’n sukses van hulle skoolopleiding te maak.
Saterdagoggend se simposium, “Gee gehoor aan die oproep om Jehovah te loof”, behoort ’n aanmoediging vir baie te wees. Die oggendsessie sal met die dooptoespraak eindig. In die middag sal daar ’n openhartige bespreking wees van hoe Satan van die vroegste tye af seksuele begeertes gebruik het om mense te verlok. Die dag se program sal afsluit met die aanbieding van inligting wat God se volk sal toerus om hulle bediening doeltreffender uit te voer.
Sondagoggend se sessie sal gedagteprikkelende inligting bevat wat die aandag sal vestig op die dringendheid daarvan om onmiddellik na veiligheid te vlug voor die “groot verdrukking” aanbreek (Matteus 24:21). Die sessie sal eindig met die belangrike drama “Eer bejaarde waardiges”. In die middag sal die openbare toespraak “Loof die Koning van die ewigheid!” nog ’n byeenkomshoogtepunt wees.
Aangesien daar 30 byeenkomste vir Suidelike Afrika alleen beplan word, sal daar ’n byeenkoms naby jou huis wees. Vra die plaaslike Getuies van Jehovah om vir jou te sê wat die tyd en plek van die een naaste aan jou is.