Vreugdevol in ’n vreugdelose wêreld
“OP SY ergste was hierdie eeu Satan se eeu”, het ’n hoofartikel in The New York Times van 26 Januarie 1995 begin. “Nog nooit tevore in die mensegeskiedenis het mense so ’n sterk neiging, en drang, geopenbaar om miljoene ander mense weens hulle ras, geloof of stand dood te maak nie.”
Die 50ste herdenking van die bevryding van onskuldige slagoffers wat in Nazi-doodskampe gevange gehou is, het tot hoofartikels soos die voorgaande aanleiding gegee. Maar soortgelyke barbaarse slagtings vind steeds in dele van Afrika en Oos-Europa plaas.
Pogroms, etniese suiwerings, stamslagtings—wat dit ook al genoem word—het baie hartseer tot gevolg. Tog word daar te midde van hierdie bloedvergieting harde, vreugdevolle stemme gehoor. Kom ons kyk byvoorbeeld na Duitsland in die dertigerjare.
Teen April 1935 het Hitler en sy Nazi-party Jehovah se Getuies verbied om vir die staatsdiens te werk. Die Getuies is ook in hegtenis geneem, in die tronk gestop en na konsentrasiekampe gestuur omdat hulle hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf het (Johannes 17:16). Teen die einde van Augustus 1936 was daar massa-inhegtenisnemings van Jehovah se Getuies. Duisende van hulle is na konsentrasiekampe gestuur, waar die meeste tot 1945 gevange gehou is as hulle dit oorleef het. Maar hoe het die Getuies op die onmenslike behandeling gereageer wat hulle in die kampe ontvang het? Hoe verbasend dit ook al klink, hulle het hulle vreugde behou ondanks hulle vreugdelose omgewing.
“’n Rots in die modder”
Die Britse geskiedskrywer Christine King het ’n onderhoud met ’n Katolieke vrou gevoer wat in die kampe was. “Sy het ’n uitdrukking gebruik wat ek nooit vergeet het nie”, het dr. King gesê. “Sy het tot in besonderhede vertel van die verskrikking van die lewe, die afgryslike toestande waarin sy gelewe het. En sy het gesê dat sy Getuies geken het, en daardie Getuies was ’n rots in die modder. ’n Vaste plek in al daardie slyk. Sy het gesê dat hulle die enigste mense was wat nie gespoeg het wanneer die wagte verbygeloop het nie. Hulle was die enigste mense wat nie met haat op hierdie situasie gereageer het nie, maar met liefde en hoop asook die gevoel dat daar ’n doel was.”
Wat het Jehovah se Getuies in staat gestel om ‘rotse in die modder’ te wees? Onwrikbare geloof in Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus. Dit is waarom Hitler se pogings om hulle Christelike liefde en vreugde te smoor, misluk het.
Luister terwyl twee oorlewendes van die kampe ons van hulle herinneringe vertel vyf dekades ná hulle hierdie toets van hulle geloof suksesvol deurstaan het. Een sê: “Ek loop oor van vreugde omdat ek weet dat ek die besondere voorreg gehad het om my liefde en dankbaarheid teenoor Jehovah in die onmenslikste omstandighede te bewys. Niemand het druk op my uitgeoefen om dit te doen nie! Inteendeel, diegene wat druk op ons geplaas het, was ons vyande wat ons deur dreigemente probeer dwing het om aan Hitler meer gehoorsaam te wees as aan God—maar tevergeefs! Ek is nie net nóú gelukkig nie, maar weens ’n goeie gewete was ek gelukkig selfs terwyl ek in die tronk was.”—Maria Hombach, 94 jaar oud.
’n Ander Getuie sê: “Ek kyk met dankbaarheid en vreugde terug op die dae wat ek in die tronk was. Die jare wat ek onder Hitler in tronke en konsentrasiekampe deurgebring het, was moeilik en vol beproewinge. Maar ek is bly dat ek dit deurgemaak het, want dit het my geleer om volkome op Jehovah te vertrou.”—Johannes Neubacher, 91 jaar oud.
“Om volkome op Jehovah te vertrou”—dit was die geheim van die vreugde wat Jehovah se Getuies ondervind het. Hulle is dus vreugdevol, hoewel hulle deur ’n vreugdelose wêreld omring word. Hulle vreugde was duidelik te sien by die “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkomste wat die afgelope paar maande gehou is. Kom ons hersien kortliks hierdie vreugdevolle byeenkomste.
[Prent op bladsy 4]
Maria Hombach