’n Tyd om wakker te bly
“Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word. . . . Maar wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—MARKUS 13:10, 13.
1. Waarom moet ons volhard en moed skep?
ONS móét volhard—te midde van ’n ongelowige en verdraaide geslag! Sedert 1914 het ’n geslag mense, net soos in Jesus se dag, verdorwe geraak. En vandag is die verdorwenheid op ’n wêreldwye skaal. Die mensdom word in hierdie “laaste dae” geteister deur die ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ waarvan die apostel Paulus gepraat het. ‘Goddelose mense en bedrieërs gaan steeds voort van kwaad tot erger.’ Dit is duidelik dat ‘die hele wêreld in die mag lê van die bose’, Satan die Duiwel, wat nou sy laaste poging aanwend om die aarde te verderf. Maar skep moed! Daar is ’n naderende “groot verdrukking” wat blywende verligting sal bring aan almal wat regverdigheid liefhet.—2 Timoteus 3:1-5, 13; 1 Johannes 5:19; Openbaring 7:14.
2. Hoe is ’n profesie in 1914 vervul?
2 Gelukkig het Jehovah nou die Here Jesus Christus in die hemel gekroon, ter voorbereiding vir die verwydering van die mensdom se verdrukkende vyande (Openbaring 11:15). Soos met die Messias se eerste koms is nog ’n merkwaardige profesie wat deur Daniël neergeskryf is in hierdie eeu vervul. In Daniël 4:16, 17, 32 word ons vertel dat regmatige koningskap oor die aarde vir “sewe tydperke” onderbreek word. In hulle groter vervulling maak hierdie sewe tydperke sewe Bybelse jare van 360 ‘dae’ elk, of altesaam 2 520 jaar, uit.a Dit het gestrek van 607 v.G.J., toe Babilon die koninkryk van Israel begin vertrap het, tot 1914 G.J., die jaar toe Jesus in die hemel as die mensdom se regmatige Koning gekroon is. Toe het “die vasgestelde tye van die nasies” geëindig (Lukas 21:24). Maar die nasies het geweier om hulle aan die inkomende Messiaanse Koninkryk te onderwerp.—Psalm 2:1-6, 10-12; 110:1, 2.
3, 4. (a) Watter vergelyking kan gemaak word tussen eerste-eeuse gebeure en dié in ons dag? (b) Watter gepaste vrae kan gevra word?
3 Toe die 70ste week van jare (29-36 G.J.) nader gekom het, en weer kort voor die jaar 1914, het godvresende mense die Messias se koms verwag. En hy het beslis gekom! Maar in albei gevalle het die manier waarop hy gekom het, verskil van hoe mense dit verwag het. En in albei gevalle word ’n bose “geslag”, ná ’n betreklike kort tydperk, uiteindelik deur ’n Goddelike verordening tereggestel.—Matteus 24:34.
4 In ons vorige artikel het ons gesien hoe die goddelose Joodse geslag wat Jesus se bloed geëis het aan sy einde gekom het. Wat dan van die verderflike mensegeslag wat hom nou nog teëstaan of ignoreer? Wanneer sal oordeel aan hierdie ongelowige geslag voltrek word?
“Hou aan waak!”
5. (a) Om watter goeie rede het ons nie nodig om die tyd van Jehovah se “dag en uur” te weet nie? (b) Met watter goeie raad het Jesus sy profesie volgens Markus afgesluit?
5 Nadat Jesus gebeure voorspel het wat tot ’n tyd van “groot verdrukking” sou lei, het hy bygevoeg: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:3-36; Markus 13:3-32). Ons het nie nodig om te weet presies wanneer gebeure gaan plaasvind nie. Ons moet ons eerder daarop toespits om waaksaam te wees, sterk geloof aan te kweek en besig te bly in Jehovah se diens—nie om ’n datum te bereken nie. Jesus het sy groot profesie afgesluit deur te sê: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie. . . . Hou dus aan waak . . . Wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak” (Markus 13:33-37). Gevaar skuil in die skaduwees van vandag se wêreld. Ons moet wakker bly!—Romeine 13:11-13.
6. (a) Waarop moet ons geloof geanker wees? (b) Hoe kan ons ‘ons dae tel’? (c) Wat bedoel Jesus eintlik met ’n “geslag”?
6 Ons moet nie alleen ag slaan op die geïnspireerde profesieë aangaande hierdie laaste dae van ’n goddelose stelsel nie, maar ons moet ook ons geloof hoofsaaklik anker op die kosbare offerande van Christus Jesus en die wonderlike beloftes van God wat daarop gegrond is (Hebreërs 6:17-19; 9:14; 1 Petrus 1:18, 19; 2 Petrus 1:16-19). Omdat Jehovah se volk gretig is om die einde van hierdie bose stelsel te sien, het hulle soms gespekuleer oor wanneer die “groot verdrukking” sal uitbreek en dit selfs met berekeninge oor die lewensduur van ’n geslag sedert 1914 in verband gebring. Maar ons ‘bekom ’n wyse hart’, nie deur te spekuleer oor die aantal jare of dae waaruit ’n geslag bestaan nie, maar deur na te dink oor hoe ons ‘ons dae tel’ deur vreugdevolle lof aan Jehovah te bring (Psalm 90:12). Die term “geslag” soos Jesus dit gebruik het, voorsien nie ’n maatstaf vir tydsbepaling nie, maar verwys hoofsaaklik na tydgenote van ’n sekere geskiedkundige tydperk, met hulle kenmerkende karaktertrekke.b
7. Wat skryf ’n geskiedenisprofessor oor “die geslag van 1914”, en hoe hou dit met Jesus se profesie verband?
7 In ooreenstemming met wat hierbo gemeld word, het geskiedenisprofessor Robert Wohl in sy boek The Generation of 1914 geskryf: “’n Geskiedkundige geslag word nie deur sy chronologiese grense afgebaken nie . . . Dit is nie ’n tydperk wat deur datums bepaal word nie.” Maar hy het daarop gewys dat die Eerste Wêreldoorlog “’n oorweldigende gevoel van losskeuring van die verlede” geskep het, en hy het bygevoeg: “Diegene wat die oorlog oorleef het, kon nooit van die gedagte ontslae raak dat een wêreld in Augustus 1914 geëindig het en ’n ander een begin het nie.” Hoe waar is dit tog nie! Dit vestig die aandag op die kern van die saak. “Hierdie [mense]geslag” sedert 1914 het al verskriklike veranderinge ondervind. Dit het gesien hoe die aarde met die bloed van miljoene deurweek word. Oorlog, volksmoord, terrorisme, misdaad en wetteloosheid het wêreldwyd uitgebreek. Hongersnood, siekte en onsedelikheid oorweldig ons aarde. Jesus het geprofeteer: “Julle [moet], wanneer julle [sy dissipels] hierdie dinge sien gebeur, ook weet dat die koninkryk van God naby is. Voorwaar, ek sê vir julle: Hierdie geslag sal hoegenaamd nie verbygaan voordat alles plaasgevind het nie.”—Lukas 21:31, 32.
8. Hoe beklemtoon Jehovah se profete die belangrikheid daarvan om wakker te bly?
8 Ja, die algehele oorwinning van die Messiaanse Koninkryk is op hande! Kan ons dan enigiets bereik deur na datums te soek of deur te spekuleer oor die letterlike lewensduur van ’n “geslag”? Hoegenaamd nie! Habakuk 2:3 sê onomwonde: “Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.” Jehovah se dag van afrekening spoed al hoe nader.—Jeremia 25:31-33; Maleagi 4:1.
9. Watter gebeure sedert 1914 toon dat die tyd kort is?
9 Toe Christus se Koninkryksheerskappy in 1914 begin het, is Satan na die aarde neergeslinger. Die gevolg was “wee [vir] die aarde . . . , want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het” (Openbaring 12:12). Daardie tyd is inderdaad kort in vergelyking met die duisende jare van Satan se heerskappy. Die Koninkryk is op hande, en so ook Jehovah se dag en uur waarop hy oordeel aan hierdie goddelose geslag gaan voltrek!—Spreuke 3:25; 10:24, 25.
Die “geslag” wat verbygaan
10. Hoe kom “hierdie geslag” met dié van Noag se dag ooreen?
10 Kom ons ondersoek Jesus se stelling in Matteus 24:34, 35 van naderby: “Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie geslag hoegenaamd nie sal verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie. Hemel en aarde sal verbygaan, maar my woorde sal hoegenaamd nie verbygaan nie.” Jesus se volgende woorde toon dat ‘niemand daardie dag en uur weet nie’. Nog baie belangriker, hy toon dat ons die strikke moet vermy wat ons in hierdie geslag omring. Jesus sê dus voorts: “Want net soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees” (Matteus 24:36-39). Hier het Jesus die geslag van sy dag met dié van Noag se dag vergelyk.—Genesis 6:5, 9, voetnoot in NW.
11. Watter vergelyking het Jesus volgens Matteus en Lukas tussen ‘geslagte’ gemaak?
11 Dit was nie die eerste keer dat die apostels gehoor het hoe Jesus hierdie ‘geslagte’ met mekaar vergelyk nie, want ’n paar dae tevore het hy oor homself gesê: “Die Seun van die mens . . . moet . . . baie lyding ondergaan en deur hierdie geslag verwerp word. En net soos dit in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook in die dae van die Seun van die mens wees” (Lukas 17:24-26). Matteus hoofstuk 24 en Lukas hoofstuk 17 maak dus dieselfde vergelyking. In Noag se dag was “hierdie geslag” ‘alle vlees wat sy wandel op die aarde verderwe’ het en wat in die Vloed vernietig is. In Jesus se dag was “hierdie geslag” die afvallige Joodse volk wat Jesus verwerp het.—Genesis 6:11, 12; 7:1.
12, 13. (a) Wat is vandag “hierdie geslag” wat moet verbygaan? (b) Wat doen Jehovah se volk nou ondanks hierdie “krom en verdraaide geslag”?
12 Gevolglik verwys “hierdie geslag” in die finale vervulling van Jesus se profesie in ons dag blykbaar na die volke van die aarde wat die teken van Christus se teenwoordigheid sien, maar versuim om te verander. In teenstelling hiermee weier ons as dissipels van Jesus om deur die lewenswyse van “hierdie geslag” gevorm te word. Hoewel ons in die wêreld is, moet ons geen deel daarvan wees nie, “want die vasgestelde tyd is naby” (Openbaring 1:3; Johannes 17:16). Die apostel Paulus maan ons: “Hou aan om alles sonder murmurering en redekaweling te doen, sodat julle onberispelik en onskuldig kan word, kinders van God sonder ’n smet te midde van ’n krom en verdraaide geslag, onder wie julle as ligte in die wêreld skyn.”—Filippense 2:14, 15; Kolossense 3:5-10; 1 Johannes 2:15-17.
13 Om ‘as ligte te skyn’, behels nie net dat ons ’n rein Christelike persoonlikheid openbaar nie, maar dat ons bowenal Jesus se profetiese opdrag vervul: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Geen mens kan sê wanneer daardie einde sal wees nie, maar ons weet dat die einde van “hierdie geslag” goddelose mense sal kom sodra God tevrede is dat die getuienis “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” gegee is.—Handelinge 1:8.
“Daardie dag en uur”
14. Watter vermaning het Jesus sowel as Paulus aangaande “die tye en die tydperke” gegee, en hoe behoort ons daarop te reageer?
14 Wanneer die aardwye getuienis gegee is in die mate wat Jehovah se voorneme volbring, sal dit sy “dag en uur” wees om hierdie wêreld se stelsel te vernietig. Ons het nie nodig om die datum vooruit te weet nie. In navolging van Jesus se voorbeeld het die apostel Paulus dus gemaan: “En wat die tye en die tydperke betref, broers, het julle nie nodig dat iets aan julle geskryf word nie. Want julle weet self heel goed dat Jehovah se dag presies soos ’n dief in die nag kom. Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie.” Kyk waarop vestig Paulus die aandag: ‘Dit is wanneer hulle sê.’ Ja, wanneer daar oor “vrede en veiligheid” gepraat word, wanneer dit die minste verwag word, sal God se oordeel skielik voltrek word. Hoe gepas is Paulus se raad tog: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly”!—1 Tessalonisense 5:1-3, 6; sien ook verse 7-11; Handelinge 1:7.
15, 16. (a) Waarom moet ons nie dink dat Armageddon verder weg is as wat ons moontlik geglo het nie? (b) Hoe moet Jehovah se soewereiniteit in die nabye toekoms verheerlik word?
15 Beteken ons noukeuriger beskouing oor “hierdie geslag” dat Armageddon verder weg is as wat ons gedink het? Glad nie! Hoewel ons nog nooit die “dag en uur” geweet het nie, het Jehovah God dit nog altyd geweet, en hy verander nie (Maleagi 3:6). Dit is duidelik dat die wêreld al hoe nader aan dodelike ondergang beweeg. Dit is belangriker as ooit dat ons wakker bly. Jehovah het ‘die dinge wat binnekort moet plaasvind’ aan ons geopenbaar, en ons moet met ’n intense gevoel van dringendheid daarop reageer.—Openbaring 1:1; 11:18; 16:14, 16.
16 Bly wakker namate die tyd nader kom, want Jehovah staan op die punt om rampspoed oor Satan se hele stelsel te bring! (Jeremia 25:29-31). Jehovah sê: “Ek sal my beslis groot maak en my heilig en my bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 38:23, NW). Daardie beslissende “dag van Jehovah” kom al hoe nader!—Joël 1:15, NW; 2:1, 2; Amos 5:18-20; Sefanja 2:2, 3.
Regverdige “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”
17, 18. (a) Hoe gaan “hierdie geslag” volgens Jesus en Petrus verby? (b) Waarom moet ons aanhou waak ten opsigte van ons gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid?
17 Aangaande ‘al hierdie dinge wat moet plaasvind’, het Jesus gesê: “Hemel en aarde sal verbygaan, maar my woorde sal hoegenaamd nie verbygaan nie” (Matteus 24:34, 35). Jesus het waarskynlik “hierdie geslag” se “hemel en aarde”—die heersers en dié waaroor daar geheers word—in gedagte gehad. Die apostel Petrus het soortgelyke woorde gebruik toe hy verwys het na “die hemele en die aarde wat nou is”, wat ‘vir die vuur weggelê is en bewaar word tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense’. Vervolgens beskryf hy hoe “Jehovah se dag soos ’n dief [sal] kom, waarop die [regerende] hemele sal verbygaan” saam met ’n verdorwe mensegemeenskap, of “aarde”, en sy sondige werke. Dan spoor die apostel ons aan tot “heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl [ons] die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou, waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt!” Wat volg daarop? Petrus vestig ons aandag op ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin regverdigheid sal woon’.—2 Petrus 3:7, 10-13.c
18 Daardie “nuwe hemele”, die Koninkryksheerskappy deur Christus Jesus en sy medekonings, sal seëninge oor die regverdige “nuwe aarde”-mensegemeenskap uitstort. Is jy ’n toekomstige lid van daardie gemeenskap? Indien wel, het jy rede om te juig oor die wonderlike toekoms wat voor die deur staan!—Jesaja 65:17-19; Openbaring 21:1-5.
19. Watter groot voorreg kan ons nou geniet?
19 Ja, ’n regverdige “[mense]geslag” word nou reeds versamel. Vandag voorsien die “getroue en verstandige slaaf” Goddelike onderrigting in ooreenstemming met die woorde van Psalm 78:1, 4: ‘My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond, en vertel aan die volgende geslag die roemryke dade van Jehovah en sy mag en sy wonders wat hy gedoen het’ (Matteus 24:45-47). Op 14 April vanjaar het meer as 12 000 000 mense regoor die aarde die herdenking van Christus se dood in meer as 75 500 gemeentes en in ongeveer 230 lande bygewoon. Was jy onder hulle? Mag jy jou geloof op Christus Jesus vestig en ‘die naam van Jehovah aanroep om gered te word’.—Romeine 10:10-13.
20. Hoe moet ons wakker bly, aangesien ‘die oorblywende tyd kort is’, en met watter vooruitsig?
20 “Die oorblywende tyd is kort”, het die apostel Paulus gesê. Dit is dus nou die tyd om immer wakker en besig te bly in Jehovah se werk, terwyl ons die beproewinge en haat van ’n goddelose mensegeslag verduur (1 Korintiërs 7:29; Matteus 10:22; 24:13, 14). Laat ons bly waak, terwyl ons al die dinge sien wat die Bybel voorspel het oor “hierdie geslag” gaan kom (Lukas 21:31-33). Deur aan al hierdie dinge te ontkom en met Goddelike goedkeuring voor die Seun van die mens te staan, kan ons uiteindelik die ewige lewe as prys verkry.
[Voetnote]
a Sien bladsye 127-39, 186-9 van die boek “Let Your Kingdom Come”, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir breedvoerige inligting oor die “sewe tydperke”.
b Sien Deel 1, bladsy 918, van Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
c Sien ook bladsye 151-5 en 180-1 van Ons inkomende wêreldregering—God se koninkryk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hersieningsvrae:
◻ Hoe moet ons ‘aanhou waak’ noudat ons gesien het hoe Daniël 4:32 vervul is?
◻ Hoe identifiseer die evangelies van Matteus en Lukas “hierdie geslag”?
◻ Wat sien ons terwyl ons op “daardie dag en uur” wag, en hoe moet ons daarop reageer?
◻ Wat moet die vooruitsig op ’n regverdige “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” ons aanspoor om te doen?
[Prente op bladsy 17]
Wanneer hierdie gewelddadige, goddelose geslag verbygaan, sal die mensdom wat so ly verligting vind
[Erkenning]
Alexandra Boulat/Sipa Press
[Erkenning]
Links en onder: Luc Delahaye/Sipa Press
[Prent op bladsy 18]
Glorieryke “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” staan vir alle rasse van die mensdom voor die deur