Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 11/1 bl. 10-15
  • Gered uit ’n “goddelose geslag”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gered uit ’n “goddelose geslag”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die einde”—Wanneer?
  • “Hierdie geslag”—Wat is dit?
  • “Hierdie goddelose geslag”
  • “Hierdie geslag” geïdentifiseer
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Tyd om wakker te bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Christus se teenwoordigheid—Wat beteken dit vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 11/1 bl. 10-15

Gered uit ’n “goddelose geslag”

“O ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank moet ek by julle bly en julle verdra?”—LUKAS 9:41.

1. (a) Waarvan is ons rampspoedige tye ’n voorteken? (b) Wat sê die Skrif aangaande oorlewendes?

ONS lewe in rampspoedige tye. Aardbewings, oorstromings, hongersnode, siekte, wetteloosheid, bomaanvalle, verskriklike oorlogvoering—dít en meer het gedurende ons 20ste eeu die mensdom oorweldig. Maar die grootste ramp van alle tye gaan die mens in die nabye toekoms tref. Wat is dit? Dit is ’n “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Nogtans kan baie van ons uitsien na ’n vreugdevolle toekoms! Waarom? Want God se eie Woord beskryf “’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale . . . ‘Hulle is dié wat uit die groot verdrukking kom . . . Hulle sal nie meer honger of dors wees nie . . . En God sal elke traan van hulle oë afvee.’”—Openbaring 7:1, 9, 14-17.

2. Wat was die eerste profetiese vervulling van die inleidingsverse van Matteus 24, Markus 13 en Lukas 21?

2 Die geïnspireerde verslag in Matteus 24:3-22, Markus 13:3-20 en Lukas 21:7-24 lei Jesus se profetiese beskrywing van “die voleinding van die stelsel van dinge” in.a Hierdie profesie het ’n eerste vervulling ten opsigte van die verdorwe Joodse stelsel van dinge van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling gehad, en dit het ’n hoogtepunt bereik in ’n ongeëwenaarde “groot verdrukking” oor die Jode. Die hele godsdiens- en politieke struktuur van die Joodse stelsel, waarvan Jerusalem se tempel die middelpunt was, is omvergegooi en sou nooit weer herstel word nie.

3. Waarom is dit dringend dat ons vandag op Jesus se profesie ag slaan?

3 Kom ons beskou nou die omringende omstandighede van die eerste vervulling van Jesus se profesie. Dit sal ons help om die parallelle vervulling in ons dag beter te verstaan. Dit sal ons wys hoe dringend dit is om nou positiewe stappe te doen sodat ons die allergrootste verdrukking wat die ganse mensdom bedreig, kan oorleef.—Romeine 10:9-13; 15:4; 1 Korintiërs 10:11; 15:58.

“Die einde”—Wanneer?

4, 5. (a) Waarom het godvresende Jode van die eerste eeu G.J. in die profesie van Daniël 9:24-27 belanggestel? (b) Hoe is hierdie profesie vervul?

4 In ongeveer 539 v.G.J. is God se profeet Daniël ’n visioen gegee van gebeure wat gedurende die laaste “week” van ’n tydperk van “sewentig weke” van jare sou plaasvind (Daniël 9:24-27, NW). Hierdie “weke” het in 455 v.G.J. begin toe koning Artasasta van Persië beveel het dat die stad Jerusalem herbou moes word. Die laaste “week” het begin met die verskyning van die Messias, Jesus Christus, met sy doop en salwing in 29 G.J.b Godvresende Jode van die eerste eeu G.J. was deeglik bewus van hierdie tydsaspek van Daniël se profesie. Lukas 3:15 sê byvoorbeeld aangaande die skare wat saamgedrom het om die prediking van Johannes die Doper in 29 G.J. te hoor: ‘Die volk het in afwagting verkeer en almal het in hulle harte oor Johannes geredeneer: “Is hy miskien die Christus?”’

5 Die 70ste “week” sou sewe jaar wees waarin daar spesiale guns aan die Jode bewys sou word. Dit het in 29 G.J. begin en Jesus se doop en bediening, sy offerdood teen “die helfte van die week” in 33 G.J. en nog ’n ‘halwe week’ tot 36 G.J. ingesluit. Gedurende hierdie “week” is die geleentheid om gesalfde dissipels van Jesus te word uitsluitlik aan godvresende Jode en Joodse proseliete gebied. Toe, in 70 G.J., ’n jaartal wat nie vooraf bekend was nie, het die Romeinse leër onder Titus die afvallige Joodse stelsel uitgewis.—Daniël 9:26, 27.

6. Tot watter handeling het “die walglike ding” in 66 G.J. oorgegaan, en hoe het die Christene gereageer?

6 So is die Joodse priesterdom, wat Jerusalem se tempel verontreinig het en saamgesweer het om God se eie Seun te vermoor, vernietig. Ook die volks- en stamregisters is tot niet gemaak. Daarna kon geen Jood wetlik op ’n priesterlike of koninklike erfenis aanspraak maak nie. Maar gelukkig was gesalfde geestelike Jode reeds as ’n koninklike priesterdom afgeskei om ‘die voortreflikhede van Jehovah God alom bekend te maak’ (1 Petrus 2:9). Toe die Romeinse leër in 66 G.J. Jerusalem die eerste keer omsingel het en selfs die tempelgebied ondergrawe het, het Christene daardie militêre mag herken as “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, waarvan daar deur middel van Daniël, die profeet, gespreek is, [en wat] in ’n heilige plek . . . staan”. Uit gehoorsaamheid aan Jesus se profetiese bevel het die Christene in Jerusalem en Judea na die bergstreke gevlug vir beskerming.—Matteus 24:15, 16; Lukas 21:20, 21.

7, 8. Watter “teken” het die Christene gesien, maar wat het hulle nie geweet nie?

7 Daardie getroue Joodse Christene het die vervulling van Daniël se profesie gesien en was ooggetuies van die tragiese oorloë, hongersnode, peste, aardbewings en wetteloosheid wat Jesus as deel van die “teken . . . van die voleinding van die stelsel van dinge” voorspel het (Matteus 24:3). Maar het Jesus vir hulle gesê presies wanneer Jehovah sy oordeel aan daardie verdorwe stelsel sou voltrek? Nee. Wat hy oor die hoogtepunt van sy toekomstige koninklike teenwoordigheid geprofeteer het, was sekerlik ook op die eerste-eeuse “groot verdrukking” van toepassing: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.”—Matteus 24:36.

8 Met behulp van Daniël se profesie kon die Jode uitgewerk het wanneer Jesus as die Messias sou verskyn (Daniël 9:25). Maar hulle is geen jaartal gegee vir die “groot verdrukking” wat uiteindelik die afvallige Joodse stelsel van dinge sou verwoes nie. Dit was slegs ná die vernietiging van Jerusalem en sy tempel dat hulle besef het dat daardie jaartal 70 G.J. was. Tog was hulle bewus van Jesus se profetiese woorde: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie” (Matteus 24:34). Die toepassing van “geslag” verskil blykbaar hier van dié in Prediker 1:4, wat praat van opeenvolgende geslagte wat oor ’n tydperk kom en gaan.

“Hierdie geslag”—Wat is dit?

9. Hoe definieer leksikons die Griekse woord ge·ne·aʹ?

9 Hoe sou die vier apostels wat saam met Jesus op die Olyfberg gesit het en sy profesie aangaande “die voleinding van die stelsel van dinge” gehoor het die uitdrukking “hierdie geslag” verstaan? In die Evangelies word die woord “geslag” uit die Griekse woord ge·ne·aʹ vertaal, wat hedendaagse leksikons soos volg definieer: “Lett[erlik] diegene wat v[an] ’n gemeenskaplike voorouer afstam” (Walter Bauer se Greek-English Lexicon of the New Testament). “Dit wat verwek is, ’n familie; . . . opeenvolgende lede in ’n geslagslyn . . . of van ’n menseras . . . of van al die mense wat op dieselfde tyd lewe, Matt. 24:34; Mark. 13:30; Luk. 1:48; 21:32; Fil. 2:15, en veral van diegene van die Joodse ras wat op dieselfde tyd lewe” (W. E. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words). “Dit wat verwek is, mense van dieselfde stamvader, ’n familie; . . . al die mense wat op dieselfde tyd lewe: Mt. xxiv. 34; Mr. xiii. 30; Lu. i. 48 . . . gebruik veral ten opsigte van die Joodse ras wat op presies dieselfde tyd lewe.”—J. H. Thayer se Greek-English Lexicon of the New Testament.

10. (a) Watter identiese omskrywing gee twee kenners wanneer hulle Matteus 24:34 aangee? (b) Hoe ondersteun ’n teologiese naslaanwerk en party Bybelvertalings hierdie definisie?

10 Vine en Thayer gee dus albei Matteus 24:34 aan wanneer hulle “hierdie geslag” (he ge·ne·aʹ hauʹte) definieer as “al die mense wat op dieselfde tyd lewe”. Die Theological Dictionary of the New Testament (1964) ondersteun hierdie definisie deur te sê: “Die gebruik van ‘geslag’ deur Jesus druk sy omvattende oogmerk uit: hy rig dit tot die hele volk en is bewus van hulle samehorigheid in sonde.” “Samehorigheid in sonde” was voorwaar duidelik in die Joodse nasie toe Jesus op aarde was, net soos dit vandag die wêreldstelsel kenmerk.c

11. (a) Deur watter gesag moet ons hoofsaaklik gerig word as ons wil vasstel hoe he ge·ne·aʹ hauʹte toegepas moet word? (b) Hoe het hierdie gesag die term gebruik?

11 Christene wat hierdie saak bestudeer, rig natuurlik hulle denke hoofsaaklik volgens hoe die geïnspireerde evangelieskrywers die Griekse uitdrukking he ge·ne·aʹ hauʹte, of “hierdie geslag”, in hulle verslae gebruik het waar hulle Jesus se woorde opgeteken het. Hierdie uitdrukking is elke keer in ’n negatiewe sin gebruik. Jesus het gevolglik die Joodse godsdiensleiers “slange, addergebroedsel” genoem en voorts gesê dat die oordeel van Gehenna aan “hierdie geslag” voltrek sou word (Matteus 23:33, 36). Maar was hierdie oordeel tot die skynheilige geestelikes beperk? Glad nie. By ’n hele paar geleenthede het Jesus se dissipels hom hoor praat van “hierdie geslag”, waar hy die term deurgaans in ’n baie breër sin gebruik het. Wat was dit?

“Hierdie goddelose geslag”

12. Hoe het Jesus “die skare” met “hierdie geslag” in verband gebring terwyl sy dissipels geluister het?

12 In 31 G.J., gedurende Jesus se uitgebreide Galilese bediening en kort ná die Pasga, het sy dissipels hom vir “die skare” hoor sê: “Met wie sal ek hierdie geslag vergelyk? Dit is soos jong kinders wat op die markpleine sit en hulle speelmaats toeroep en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, maar julle het nie gedans nie; ons het geweeklaag, maar julle het julle nie in droefheid geslaan nie.’ Dienooreenkomstig het Johannes die doper gekom en nie geëet of gedrink nie, en tog sê mense: ‘Hy het ’n demoon’; die Seun van die mens [Jesus] het gekom en wel geëet en gedrink, en nogtans sê mense: ‘Kyk! ’n Mens wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars.’” Daardie beginsellose “skare” kon net nie tevrede gestel word nie!—Matteus 11:7, 16-19.

13. Wie het Jesus, in die teenwoordigheid van sy dissipels, as “hierdie goddelose geslag” geïdentifiseer en veroordeel?

13 Later in 31 G.J., toe Jesus en sy dissipels op hulle tweede predikingsreis deur Galilea vertrek het, “het party van die skrifgeleerdes en Fariseërs” Jesus om ’n teken gevra. Hy het vir hulle en “die skare” wat teenwoordig was, gesê: “’n Goddelose en owerspelige geslag hou aan om ’n teken te soek, maar dit sal geen teken gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die reusagtige vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. . . . Só sal dit ook met hierdie goddelose geslag wees” (Matteus 12:38-46). “Hierdie goddelose geslag” het klaarblyklik die godsdiensleiers sowel as “die skare” ingesluit wat nooit die teken verstaan het wat in Jesus se dood en opstanding vervul is nie.d

14. Watter veroordeling van die Sadduseërs en die Fariseërs het Jesus se dissipels hom hoor uitspreek?

14 Ná die Pasga van 32 G.J., toe Jesus en sy dissipels in die Galilese streek van Magadan gekom het, het die Sadduseërs en die Fariseërs Jesus weer eens om ’n teken gevra. Hy het weer vir hulle gesê: “’n Goddelose en owerspelige geslag hou aan om ’n teken te soek, maar dit sal geen teken gegee word nie, behalwe die teken van Jona” (Matteus 16:1-4). Daardie godsdienshuigelaars was inderdaad as leiers onder die ontroue “skare” wat Jesus as “hierdie goddelose geslag” veroordeel het uiters laakbaar.

15. Watter ondervinding het Jesus en sy dissipels net voor en toe weer net ná die verheerliking met ‘hierdie geslag’ gehad?

15 Teen die einde van sy Galilese bediening het Jesus die skare en sy dissipels na hom toe geroep en gesê: “Elkeen wat hom in hierdie owerspelige en sondige geslag vir my en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom ook skaam” (Markus 8:34, 38). Die menigte onberouvolle Jode van daardie tyd het dus klaarblyklik “hierdie owerspelige en sondige geslag” uitgemaak. ’n Paar dae later, ná Jesus se verheerliking, het Jesus en sy dissipels ‘na die skare toe aangekom’, en ’n man het hom gevra om sy seun te genees. Jesus het gesê: “O ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank moet ek by julle bly? Hoe lank moet ek julle verdra?”—Matteus 17:14-17; Lukas 9:37-41.

16. (a) Watter veroordeling van “die skare” het Jesus in Judea herhaal? (b) Hoe het “hierdie geslag” later die goddeloosste misdaad van alle tye gepleeg?

16 Dit was waarskynlik in Judea, ná die Huttefees in 32 G.J., ‘toe die skare om Jesus saamgestroom het’, dat hy sy veroordeling van hulle herhaal het deur te sê: “Hierdie geslag is ’n goddelose geslag; dit soek ’n teken. Maar dit sal geen teken gegee word nie, behalwe die teken van Jona” (Lukas 11:29). Laastens, toe die godsdiensleiers Jesus voor die gereg gebring het, het Pilatus aangebied om hom vry te laat. Die verslag sê: “Die hoofpriesters en die ouer manne het die skare oorreed om Barabbas te vra, maar om Jesus te laat vernietig. . . . Pilatus het vir hulle gesê: ‘Wat moet ek dan met Jesus doen, wat die Christus genoem word?’ Hulle het almal gesê: ‘Laat hom aan die paal gehang word!’ Hy het gesê: ‘Wat het hy dan gedoen wat sleg is?’ Maar hulle het des te meer bly uitroep: ‘Laat hom aan die paal gehang word!’” Daardie “goddelose geslag” het Jesus se bloed geëis!—Matteus 27:20-25.

17. Hoe het party van “hierdie krom geslag” op Petrus se prediking op Pinkster gereageer?

17 ’n “Ongelowige en verdraaide geslag”, wat deur hulle godsdiensleiers opgesteek is, het dus ’n sleutelrol gespeel om die dood van die Here Jesus Christus teweeg te bring. Vyftig dae later, op Pinkster in 33 G.J., het die dissipels heilige gees ontvang en in verskillende tale begin praat. Toe hulle die geluid hoor, “het die menigte bymekaargekom”, en die apostel Petrus het hulle as “manne van Judea en al julle inwoners van Jerusalem” aangespreek en gesê: “Hierdie man [Jesus] . . . het julle deur die hand van wettelose mense aan ’n paal vasgemaak en om die lewe gebring.” Hoe het party van daardie toehoorders gereageer? “Hulle [is] diep in die hart getref.” Petrus het toe by hulle aangedring om berou te toon. Hy het “deeglik getuig en hulle bly vermaan en gesê: ‘Laat julle uit hierdie krom geslag red.’” In reaksie hierop het ongeveer drieduisend “sy woord van harte aangeneem [en is hulle] gedoop”.—Handelinge 2:6, 14, 23, 37, 40, 41.

“Hierdie geslag” geïdentifiseer

18. Waarna verwys Jesus se gebruik van die term “hierdie geslag” elke keer?

18 Wat is die “geslag” dan waarna Jesus so dikwels in sy dissipels se teenwoordigheid verwys het? Hoe het hulle sy woorde verstaan: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie”? Jesus het sekerlik nie afgewyk van sy gevestigde gebruik van die term “hierdie geslag” nie, wat hy elke keer toegepas het op die eietydse volksmassa met hulle “blinde gidse” wat saam die Joodse nasie uitgemaak het (Matteus 15:14). “Hierdie geslag” het al die benoudheid ervaar wat Jesus voorspel het en het toe in ’n ongeëwenaarde “groot verdrukking” oor Jerusalem verbygegaan.—Matteus 24:21, 34.

19. Wanneer en hoe het die “hemel en aarde” van die Joodse stelsel verbygegaan?

19 In die eerste eeu het Jehovah die Joodse volk geoordeel. Berouvolles, wat geloof in Jehovah se barmhartige voorsiening deur Christus begin beoefen het, is uit daardie “groot verdrukking” gered. Net soos Jesus gesê het, het alles plaasgevind wat geprofeteer is, en toe het die “hemel en aarde” van die Joodse stelsel van dinge—die hele nasie, met sy godsdiensleiers en goddelose mensegemeenskap—verbygegaan. Jehovah het sy oordeel voltrek!—Matteus 24:35; vergelyk 2 Petrus 3:7.

20. Watter tydige waarskuwing is dringend op alle Christene van toepassing?

20 Daardie Jode wat aandag aan Jesus se profetiese woorde geskenk het, het besef dat hulle redding nie daarvan afgehang het om die duur van ’n “geslag” of van sekere gedateerde “tye of tydperke” uit te werk nie, maar om afgeskeie van die bose, eietydse geslag te bly en God se wil ywerig te doen. Hoewel die laaste woorde van Jesus se profesie van toepassing is op die groter vervulling in ons dag, moes eerste-eeuse Joodse Christene ook ag slaan op die waarskuwing: “Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:32-36; Handelinge 1:6-8.

21. Watter skielike gebeurtenis kan ons in die nabye toekoms verwag?

21 Vandag ‘is die groot dag van die HERE naby en baie haastig’ (Sefanja 1:14-18; Jesaja 13:9, 13). Skielik, op Jehovah se eie voorafbepaalde “dag en uur”, sal sy woede losbreek oor die wêreld se godsdiens-, politieke en handelselemente, asook die eiesinnige mense waaruit hierdie eietydse “goddelose en owerspelige geslag” bestaan (Matteus 12:39; 24:36; Openbaring 7:1-3, 9, 14). Hoe kan jy uit “die groot verdrukking” gered word? Ons volgende artikel sal die antwoord verskaf en die wonderlike hoop vir die toekoms bespreek.

[Voetnote]

a Sien asseblief die tabel op bladsye 14, 15 van Die Wagtoring van 15 Februarie 1994 vir ’n uitvoerige uiteensetting van hierdie profesie.

b Sien bladsye 130-2 van die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere inligting oor die “weke” van jare.

c Sekere Bybels gee he ge·ne·aʹ hauʹte in Matteus 24:34 as volg weer: “hierdie mense” (The Holy Bible in the Language of Today [1976], deur W. F. Beck); “hierdie nasie” (The New Testament—An Expanded Translation [1961], deur K. S. Wuest); “hierdie volk” (Jewish New Testament [1979], deur D. H. Stern).

d Hierdie ontroue “skare” moet nie verwar word met die ʽam-ha·ʼaʹrets, of “mense van die land”, met wie die trotse godsdiensleiers geweier het om te assosieer, maar vir wie Jesus ‘medelye gevoel het’ nie.—Matteus 9:36; Johannes 7:49.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat leer ons uit die vervulling van Daniël 9:24-27?

◻ Hoe definieer hedendaagse leksikons “hierdie geslag” soos dit in die Bybel gebruik word?

◻ Hoe het Jesus die term “geslag” elke keer gebruik?

◻ Hoe is Matteus 24:34, 35 in die eerste eeu vervul?

[Prent op bladsy 12]

Jesus het “hierdie geslag” met ’n skare onhebbelike kinders vergelyk

[Prent op bladsy 15]

Slegs Jehovah het vooraf die uur geweet waarin oordeel aan die goddelose Joodse stelsel voltrek sou word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel