“Neergewerp, maar nie vernietig nie”
SOOS VERTEL DEUR ULF HELGESSON
In Julie 1983 het die dokters wat oor my gebuig het, uitgeroep: “Hy is wakker!” ’n Gewas van 12 sentimeter is gedurende ’n ingewikkelde operasie van 15 uur uit my rugmurg verwyder. Ek was daarna heeltemal verlam.
EK IS ’n paar dae later na ’n hospitaal byna 60 kilometer van my tuisdorp Hälsingborg, in die suide van Swede, oorgeplaas. Daar het ek ’n rehabilitasieprogram begin volg. Die fisioterapeut het gesê dat dit uiters veeleisend sou wees, maar ek was gretig om te begin. Ek wou werklik graag weer loop. Deur ’n oefenprogram van vyf uur per dag ywerig te volg, het ek vinnig vordering gemaak.
’n Maand later, toe die reisende opsiener ons gemeente besoek het, het hy en die ander Christen- ouer manne die lang rit onderneem om die gemeentelike ouermanvergadering in my hospitaalkamer te hou. Hoe verheug was ek tog oor hierdie blyk van broederliefde! Die verpleegsters in die saal het ná die vergadering vir die hele groep tee en toebroodjies bedien.
Die dokters was aanvanklik verstom oor my vordering. Ná drie maande kon ek regop in my rystoel sit en selfs vir ’n rukkie staan. Ek was bly en werklik vasbeslote om weer te loop. My gesin en mede-Christene het my gedurende hulle besoeke baie bemoedig. Ek kon selfs vir kort tye huis toe gaan.
’n Groot terugslag
Daarna het ek egter geen verdere vordering gemaak nie. Kort hierna het die fisioterapeut my die pynlike boodskap gegee: “Jy sal nie verder as dit verbeter nie!” Die doelwit was nou om my sterker te maak sodat ek op my eie in ’n rystoel kon rondbeweeg. Ek het gewonder wat van my sou word. Hoe sou my vrou oor die weg kom? Sy het self ’n groot operasie gehad en het my hulp nodig gehad. Sou ek permanente verpleging in ’n inrigting nodig hê?
Ek het baie neerslagtig geword. My sterkte, moed en krag het stadig verdwyn. Dae het verbygegaan, en ek het bewegingloos gebly. Ek was nie net fisies verlam nie, maar ook emosioneel en geestelik sonder gevoel. Ek was “neergewerp”. Ek het my altyd as geestelik sterk beskou. Ek het nog altyd ’n onwankelbare geloof in God se Koninkryk gehad (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Ek was oortuig van die Bybel se belofte dat alle siektes en gebreke in God se regverdige nuwe wêreld genees sal word en dat die hele mensdom daar tot volmaakte lewe herstel sal word (Jesaja 25:8; 33:24; 2 Petrus 3:13). Nou het ek nie net fisies verlam gevoel nie, maar ook geestelik. Ek het “vernietig” gevoel.—2 Korintiërs 4:9.
Voordat ek enigsins verder gaan, wil ek julle eers ’n bietjie van my agtergrond vertel.
’n Gelukkige gesin
Ek is in 1934 gebore, en my gesondheid was nog altyd goed. In die vroeë vyftigerjare het ek Ingrid ontmoet, en ons is in 1958 getroud en het ons in die stad Östersund, in Sentraal-Swede, gevestig. In 1963 het daar ’n keerpunt in ons lewe gekom toe ons die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Teen dié tyd het ons drie klein kindertjies gehad—Ewa, Björn en Lena. Weldra het ons hele gesin gestudeer en goeie vordering in die kennis van Bybelwaarhede gemaak.
Kort nadat ons begin studeer het, het ons na Hälsingborg verhuis. Daar het ek en my vrou ons aan Jehovah toegewy, en ons is in 1964 gedoop. Ons blydskap het toegeneem toe ons oudste dogter, Ewa, in 1968 gedoop is. Sewe jaar later, in 1975, is Björn en Lena ook gedoop, en die daaropvolgende jaar is ek as ’n ouer man in die Christengemeente aangestel.
My sekulêre werk het my in staat gestel om goed in die materiële behoeftes van my gesin te voorsien. En ons blydskap het groter geword toe Björn en Lena die voltydse bediening betree het. Björn is kort daarna genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Arboga te gaan dien. Die lewe het ons as ’t ware toegelag. Toe, vroeg in 1980, het ek die fisiese uitwerking van die gewas begin voel wat uiteindelik in 1983 tydens daardie groot operasie verwyder is.
Ek oorkom geestelike verlamming
Toe daar vir my gesê is dat ek nie weer sou loop nie, het dit gelyk of die lewe om my in duie stort. Hoe het ek my geestelike krag herwin? Dit was makliker as wat ek gedink het. Ek het eenvoudig my Bybel opgetel en begin lees. Hoe meer ek gelees het, hoe meer geestelike krag het ek ontvang. Ek het bowenal Jesus se Bergpredikasie begin waardeer. Ek het dit oor en oor gelees en daaroor gepeins.
My gelukkige uitkyk op die lewe is herstel. Deur te lees en deur bepeinsing het ek geleenthede in plaas van struikelblokke begin sien. Ek het my begeerte teruggekry om Bybelwaarhede aan ander oor te dra, en ek het hierdie begeerte bevredig deur vir die hospitaalpersoneel te getuig, asook vir ander wat ek ontmoet het. My gesin het my ten volle ondersteun en hulle is opgelei om my te versorg. Uiteindelik kon ek die hospitaal verlaat.
Ek was eindelik by die huis. Wat ’n heuglike dag was dit tog vir ons almal! My gesin het ’n rooster opgestel wat my versorging ingesluit het. My seun, Björn, het besluit om sy diens by die takkantoor van Jehovah se Getuies te beëindig, en hy het huis toe gekom om my te help versorg. Dit was baie vertroostend om soveel liefde en besorgdheid van my gesin te ontvang.
Nog ’n terugslag word oorkom
Maar mettertyd het my gesondheid agteruitgegaan, en dit was vir my moeilik om te beweeg. Eindelik, ondanks my gesin se toegewyde pogings, kon hulle my nie meer tuis versorg nie. Ek het dus gedink dat dit vir my beter sou wees om na ’n verpleeginrigting te gaan. Weer eens het dit veranderinge en ’n nuwe roetine beteken. Maar ek het nie toegelaat dat dit ’n geestelike terugslag word nie.
Ek het nooit opgehou om die Bybel te lees en navorsing te doen nie. Ek het bly dink aan wat ek kan doen, en nie aan die dinge wat ek nie kan doen nie. Ek het gepeins oor die geestelike seëninge wat alle Getuies van Jehovah geniet. Ek het na aan Jehovah gebly in gebed en elke geleentheid gebruik om vir ander te getuig.
Nou bring ek my nagte en deel van my dae in die verpleeginrigting deur. Die middae en aande bring ek óf tuis óf by ons Christenvergaderinge deur. ’n Munisipale diens reël gereelde vervoer van en na die vergadering en na my huis toe en terug. My toegewyde gesin, die broers in die gemeente en die personeel by die verpleeginrigting sorg baie goed vir my.
Ek doen wat ek kan
Ek beskou myself nie as ’n invalide nie, en my gesin en my Christenbroers behandel my nie soos een nie. Ek word liefdevol versorg, wat my in staat stel om suksesvol as ouer man te bly dien. Ek hou elke week ’n Gemeentelike Boekstudie, sowel as die gemeente se weeklikse studie van Die Wagtoring by die Koninkryksaal. Dit is vir my moeilik om in die Bybel te blaai, en daarom is iemand toegewys om my by die vergaderinge daarmee te help. Ek hou vergaderinge en toesprake in my rystoel.
Sodoende kan ek steeds baie dinge doen wat ek voorheen geniet het om te doen, en dit sluit herdersbesoeke in (1 Petrus 5:2). Ek doen dit wanneer broers en susters na my toe kom vir hulp of raad. Ek gebruik ook die telefoon en neem die inisiatief deur ander te bel. Dit lei tot wedersydse aanmoediging (Romeine 1:11, 12). ’n Vriend het onlangs gesê: “Sodra ek mismoedig voel, bel jy om my op te beur.” Maar ek word ook bemoedig in die wete dat Jehovah my pogings seën.
Voor en ná die vergaderinge geniet ek aangename omgang met die kinders in die gemeente. Aangesien ek in my rystoel sit, kan ons mekaar in die oë kyk wanneer ons gesels. Ek waardeer hulle opregtheid en eerlikheid. ’n Seuntjie het eenkeer vir my gesê: “Oom is nogal ’n mooi invalide!”
Deur my aandag toe te spits op wat ek kan doen en nie te tob oor die dinge wat ek nie kan doen nie, geniet ek dit om Jehovah te dien. Ek het baie geleer uit dit wat met my gebeur het. Ek het tot die besef gekom dat ons opgelei en sterk gemaak word deur die beproewinge wat ons deurmaak.—1 Petrus 5:10.
Ek het al gemerk dat talle gesonde mense nie besef dat ons altyd die aanbidding van ons hemelse Vader ernstig moet opneem nie. As ons dit nie doen nie, kan ons program vir studie, vergaderinge en die veldbediening bloot ’n roetine word. Ek besef dat hierdie voorsienings lewensbelangrik is as ’n mens deur die einde van hierdie wêreld heen tot in God se beloofde aardse Paradys behoue wil bly.—Psalm 37:9-11, 29; 1 Johannes 2:17.
Ons moet altyd die hoop om in God se komende nuwe wêreld te lewe in ons hart lewendig hou (1 Tessalonisense 5:8). Ek het ook geleer om nie tou op te gooi in die stryd teen enige neiging om mismoedig te word nie. Ek het geleer om Jehovah as my Vader en sy organisasie as my Moeder te beskou. Ek het tot die besef gekom dat Jehovah enigeen van ons kan gebruik om ’n bekwame kneg van hom te wees as ons die poging aanwend.
Selfs al het ek soms gevoel dat ek as ’t ware “neergewerp” is, is ek “nie vernietig nie”. Ek is nooit deur Jehovah en sy organisasie of deur my gesin en my Christenbroers verlaat nie. Danksy die feit dat ek my hand uitgesteek het om die Bybel te vat en dit te begin lees, het ek geestelike krag herwin. Ek is dankbaar teenoor Jehovah God, wat “krag wat bo die normale is”, gee wanneer ons op hom vertrou.—2 Korintiërs 4:7.
Met volle vertroue en ’n vaste geloof in Jehovah sien ek gretig uit na die toekoms. Ek voel oortuig dat Jehovah God binnekort sy belofte sal vervul van ’n herstelde paradys hier op aarde tesame met al die wonderlike seëninge wat dit sal meebring.—Openbaring 21:3, 4.