Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/15 bl. 14-19
  • Liefde oorwin ongepaste jaloesie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde oorwin ongepaste jaloesie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jaloesie onder Christene
  • In die gemeente
  • In julle gesin
  • Mense wat jaloesie te bowe gekom het
  • Die uitsonderlikste voorbeelde
  • Kom jou jaloesie te bowe
  • Wat jy omtrent jaloesie behoort te weet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Moet Christene jaloers wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Josef word ’n slagoffer van jaloesie
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/15 bl. 14-19

Liefde oorwin ongepaste jaloesie

“Die liefde is nie jaloers nie.”—1 KORINTIËRS 13:4.

1, 2. (a) Wat het Jesus vir sy dissipels oor liefde gesê? (b) Kan ’n mens liefdevol sowel as jaloers wees, en waarom antwoord jy so?

LIEFDE is ’n kenmerk van die ware Christelike geloof. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”, het Jesus Christus gesê (Johannes 13:35). Die apostel Paulus is geïnspireer om te verduidelik hoe liefde Christelike verhoudinge behoort te beïnvloed. Hy het onder andere geskryf: “Die liefde is nie jaloers nie.”—1 Korintiërs 13:4.

2 Toe Paulus daardie woorde geskryf het, het hy na ongepaste jaloesie verwys. Anders sou hy nie vir dieselfde gemeente kon sê nie: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloesie” (2 Korintiërs 11:2). Sy “goddelike jaloesie” is gewek as gevolg van mense wat ’n verderflike invloed in die gemeente was. Dit het Paulus beweeg om ’n tweede geïnspireerde brief met heelwat liefdevolle raad aan die Christene in Korinte te skryf.—2 Korintiërs 11:3-5.

Jaloesie onder Christene

3. Hoe het ’n probleem met betrekking tot jaloesie onder die Christene in Korinte ontstaan?

3 In sy eerste brief aan die Korintiërs moes Paulus aandag skenk aan ’n probleem wat verhinder het dat hierdie nuwe Christene met mekaar oor die weg kom. Hulle het sekere manne verhef en was ‘individueel opgeblase ten gunste van die een teen die ander’. Dit het tot verdeeldheid in die gemeente gelei, en verskillendes het gesê: “Ek behoort aan Paulus”, “Maar ek aan Apollos”, “Maar ek aan Sefas” (1 Korintiërs 1:12; 4:6). Onder leiding van die heilige gees kon die apostel Paulus tot die kern van die probleem deurdring. Die Korintiërs het soos vleeslik gesinde mense opgetree, nie soos “geestelike mense” nie. Daarom het Paulus geskryf: “Julle is nog vleeslik. Want is julle nie vleeslik en wandel julle nie soos mense, aangesien daar jaloesie en twis onder julle is nie?”—1 Korintiërs 3:1-3.

4. Watter illustrasie het Paulus gebruik om sy broers te help om die regte beskouing van mekaar te verkry, en watter les kan ons hieruit leer?

4 Paulus het die Korintiërs gehelp om te besef wat die regte beskouing is van die talente en vermoëns van die verskillende persone in die gemeente. Hy het gevra: “Wie maak jou anders as ’n ander? Ja, wat het jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan inderdaad ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7). In 1 Korintiërs hoofstuk 12 het Paulus verduidelik dat diegene wat deel van die gemeente is soos die verskillende lede van ’n menseliggaam is, soos die hand, die oog en die oor. Hy het daarop gewys dat God die lede van die liggaam só gemaak het dat hulle vir mekaar sorg. Paulus het ook geskryf: “As ’n lid verheerlik word, verheug al die ander lede hulle saam met hom” (1 Korintiërs 12:26). Al God se hedendaagse knegte moet hierdie beginsel in hulle verhoudinge met mekaar toepas. Hulle moet nie jaloers wees op iemand anders as gevolg van sy toewysing of prestasies in God se diens nie, maar moet hulle eerder saam met hom verheug.

5. Wat word in Jakobus 4:5 geopenbaar, en hoe bevestig die Skrif die waarheid van hierdie woorde?

5 Dit is weliswaar makliker gesê as gedaan. Die Bybelskrywer Jakobus herinner ons daaraan dat daar in elke sondige mens “’n neiging tot afguns” is (Jakobus 4:5). Die eerste mensedood het plaasgevind omdat Kain aan sy ongepaste jaloesie toegegee het. Die Filistyne het Isak vervolg omdat hulle afgunstig was op sy toenemende voorspoed. Ragel was jaloers oor haar suster se vermoë om kinders te hê. Jakob se seuns was jaloers oor die guns wat aan hulle jonger broer Josef betoon is. Mirjam was blykbaar jaloers op haar nie-Israelitiese skoonsuster. Korag, Datan en Abiram het uit afguns ’n sameswering teen Moses en Aäron gesmee. Koning Saul het jaloers geword oor Dawid se militêre oorwinnings. Jaloesie was ongetwyfeld ook ’n faktor wat daartoe aanleiding gegee het dat Jesus se dissipels herhaaldelik geargumenteer het oor wie van hulle die grootste was. Feit is dat geen onvolmaakte mens heeltemal vry is van die sondige “neiging tot afguns” nie.—Genesis 4:4-8; 26:14; 30:1; 37:11; Numeri 12:1, 2; 16:1-3; Psalm 106:16; 1 Samuel 18:7-9; Matteus 20:21, 24; Markus 9:33, 34; Lukas 22:24.

In die gemeente

6. Hoe kan ouer manne die neiging tot afguns bedwing?

6 Alle Christene moet teen afguns en ongepaste jaloesie waak. Dit sluit die liggame van ouer manne in wat aangestel is om na die gemeentes van God se volk om te sien. As ’n ouer man ootmoedig is, sal hy nie op ambisieuse wyse bo ander probeer uitblink nie. As ’n sekere ouer man daarenteen uitsonderlike vermoëns as ’n organiseerder of ’n openbare spreker het, sal die ander hulle hieroor verheug en dit as ’n seën vir die gemeente beskou (Romeine 12:15, 16). ’n Broer maak dalk goeie vooruitgang en toon dat hy die vrugte van God se gees in sy lewe openbaar. Wanneer die ouer manne sy kwalifikasies oorweeg, moet hulle oppas dat hulle nie die een of ander geringe tekortkoming vergroot in ’n poging om te regverdig waarom hulle hom nie as ’n bedieningskneg of ’n ouer man aanbeveel nie. Dit sou dui op ’n gebrek aan liefde en redelikheid.

7. Watter probleem kan ontstaan wanneer ’n Christen die een of ander teokratiese toewysing ontvang?

7 As iemand ’n teokratiese toewysing of ’n geestelike seën ontvang, moet ander in die gemeente teen afguns waak. Byvoorbeeld, ’n bekwame suster word dalk meer dikwels as ander gebruik om demonstrasies by Christelike vergaderinge te doen. Dit kan jaloesie onder party susters laat ontstaan. Miskien het ’n soortgelyke probleem tussen Euodia en Sintige in die gemeente in Filippi bestaan. Sulke hedendaagse vroue het dalk liefdevolle aanmoediging van die ouer manne nodig om nederig en ‘eendersdenkend in die Here’ te wees.—Filippense 2:2, 3; 4:2, 3.

8. Tot watter sondige dade kan jaloesie lei?

8 ’n Christen weet dalk van ’n vorige tekortkoming van iemand wat nou voorregte in die gemeente geniet (Jakobus 3:2). Weens jaloesie kan die versoeking ontstaan om met ander daaroor te praat en om daardie persoon se toewysing in die gemeente te betwis. Dít sou in stryd wees met liefde, wat ‘’n menigte sondes bedek’ (1 Petrus 4:8). Jaloerse praatjies kan die vrede van ’n gemeente versteur. “As julle bittere jaloesie en twisgierigheid in julle hart het”, het die dissipel Jakobus gewaarsku, “moet julle nie grootpraat en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo neerdaal nie, maar is die aardse, dierlike, demoniese.”—Jakobus 3:14, 15.

In julle gesin

9. Hoe kan huweliksmaats jaloerse gevoelens bedwing?

9 Baie huwelike verbrokkel weens ongepaste jaloesie. Dit is nie liefdevol om ’n gebrek aan vertroue in ’n huweliksmaat te toon nie (1 Korintiërs 13:7). Daarenteen is die een maat moontlik ongevoelig vir die jaloerse gevoelens van die ander. Byvoorbeeld, ’n vrou is dalk jaloers oor die aandag wat haar man aan iemand van die ander geslag skenk. Of ’n man word miskien jaloers oor die hoeveelheid tyd wat sy vrou aan die versorging van ’n behoeftige familielid bestee. Omdat hulle verleë is oor sulke gevoelens, bly huweliksmaats dalk stil en openbaar hulle frustrasie op maniere wat die probleem vererger. ’n Jaloerse huweliksmaat moet eerder kommunikeer en eerlik wees oor sy of haar gevoelens. Die ander maat weer moet begrip toon en die jaloerse maat van sy of haar liefde verseker (Efesiërs 5:28, 29). Albei moet moontlik jaloerse gevoelens stil deur situasies te vermy wat daartoe aanleiding gee. Soms moet ’n Christenopsiener dalk sy vrou help om te verstaan dat hy beperkte, gepaste aandag aan lede van die ander geslag skenk om sy verantwoordelikheid as ’n herder van God se kudde na te kom (Jesaja 32:2). ’n Ouer man moet natuurlik oppas dat hy nooit grondige rede vir jaloesie gee nie. Dit beteken dat hy gebalanseerd moet wees en moet seker maak dat hy tyd daaraan bestee om sy eie huweliksverhouding te verstewig.—1 Timoteus 3:5; 5:1, 2.

10. Hoe kan ouers hulle kinders help om jaloerse gevoelens die hoof te bied?

10 Ouers moet ook hulle kinders help om die begrip van ongepaste jaloesie te verstaan. Kinders raak dikwels in rusies gewikkel wat op ’n bakleiery uitloop. Jaloesie is dikwels die grondoorsaak. Omdat elke kind unieke behoeftes het, kan kinders nie eenders behandel word nie. Daarbenewens moet kinders verstaan dat elkeen van hulle verskillende sterk en swak punte het. As een kind altyd aangespoor word om so goed soos die ander een te doen, kan dit afguns in die een en trots in die ander een kweek. Ouers moet dus hulle kinders leer om hulle vooruitgang te meet deur na die voorbeelde in God se Woord te kyk, nie deur met mekaar te wedywer nie. Die Bybel sê: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie.” Laat elkeen eerder “sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie” (Galasiërs 5:26; 6:4). Christenouers moet bowenal hulle kinders deur ’n gereelde Bybelstudie help en die aandag op die goeie en die slegte voorbeelde in God se Woord vestig.—2 Timoteus 3:15.

Mense wat jaloesie te bowe gekom het

11. Hoe was Moses ’n goeie voorbeeld van iemand wat jaloesie die hoof gebied het?

11 In teenstelling met die magsugtige leiers van hierdie wêreld was “Moses . . . verreweg die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aardbodem was” (Numeri 12:3, NW). Toe leierskap oor die Israeliete vir Moses te moeilik geraak het om alleen te behartig, het Jehovah Sy gees oor 70 ander Israeliete werksaam laat word en hulle in staat gestel om Moses te help. Toe twee van hierdie manne soos profete begin optree het, het Josua gemeen dat dit verkeerdelik afbreuk doen aan Moses se leierskap. Josua wou die manne dit belet, maar Moses het nederig geredeneer: “Is jy jaloers oor my? Nee, ek wens dat Jehovah se hele volk profete was, want Jehovah sou sy gees op hulle plaas!” (Numeri 11:29, NW). Ja, Moses was bly wanneer ander diensvoorregte ontvang het. Hy het nie op jaloerse wyse eer vir homself gesoek nie.

12. Wat het Jonatan in staat gestel om jaloerse gevoelens te vermy?

12 ’n Goeie voorbeeld van hoe liefde moontlike ongepaste gevoelens van jaloesie oorwin, is voorsien deur Jonatan, die seun van die Israelitiese koning Saul. Jonatan was sy vader se troonopvolger, maar Jehovah het Dawid, die seun van Isai, gekies om die volgende koning te wees. Talle in Jonatan se posisie sou jaloers gewees het op Dawid en hom as ’n mededinger beskou het. Maar Jonatan se liefde vir Dawid het voorkom dat so ’n gevoel hom ooit oorheers het. Toe Dawid van Jonatan se dood verneem het, kon hy sê: “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.”—2 Samuel 1:26, NAV.

Die uitsonderlikste voorbeelde

13. Wie is die beste voorbeeld ten opsigte van jaloesie, en waarom?

13 Jehovah God is die uitsonderlikste voorbeeld van iemand wat oor selfs gepaste jaloesie beheer het. Hy oefen volmaakte beheer oor sulke gevoelens uit. Enige kragtige blyk van Goddelike jaloesie is altyd in harmonie met God se liefde, geregtigheid en wysheid.—Jesaja 42:13, 14.

14. Watter voorbeeld het Jesus in teenstelling met Satan gestel?

14 Die tweede uitsonderlike voorbeeld van iemand wat gevoelens van jaloesie onder beheer het, is God se geliefde Seun, Jesus Christus. Jesus het, “hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg [nie]” (Filippense 2:6). Wat ’n skerp teenstelling vorm dit tog met die weg wat die eersugtige engel ingeslaan het wat Satan die Duiwel geword het! Soos “die koning van Babel” het Satan uit jaloesie begeer om hom ‘met die Allerhoogste gelyk te stel’ deur hom as ’n mededingende god in verset teen Jehovah op te stel (Jesaja 14:4, 14; 2 Korintiërs 4:4). Satan het selfs probeer om Jesus te kry om ‘neer te val en ’n daad van aanbidding teenoor hom te verrig’ (Matteus 4:9). Maar niks kon Jesus van sy nederige weg van onderworpenheid aan Jehovah se soewereiniteit laat afwyk nie. In teenstelling met Satan het Jesus “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en die gelykenis van mense verkry. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.” Jesus het die regmatigheid van sy Vader se heerskappy ondersteun en die Duiwel se weg van trots en jaloesie heeltemal verwerp. Weens Jesus se getrouheid “het God hom . . . tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader.”—Filippense 2:7-11.

Kom jou jaloesie te bowe

15. Waarom moet ons sorg dat ons jaloerse gevoelens bedwing?

15 Christene is nie volmaak soos God en Christus nie. Omdat hulle sondig is, tree hulle dalk soms uit sondige jaloesie op. In plaas van toe te laat dat jaloesie ons beweeg om ’n medegelowige oor die een of ander geringe tekortkoming of denkbeeldige onreg te kritiseer, is dit dus belangrik dat ons oor hierdie geïnspireerde woorde peins: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?”—Prediker 7:16.

16. Watter uitstekende raad oor jaloesie is in ’n vorige nommer van hierdie tydskrif gegee?

16 The Watch Tower van 15 Maart 1911 het in ’n bespreking van jaloesie gewaarsku: “Hoewel ons baie ywerig, baie jaloers ten opsigte van die Here se saak moet wees, moet ons nietemin baie seker wees dat dit nie ’n persoonlike kwessie is nie; en ons moet daaroor dink of ons ons nie dalk ‘met ’n ander se sake bemoei nie’. Dan moet ons dit ook oorweeg of dit iets gepas is vir die ouer manne om te behartig en of dit ons plig sou wees om na die ouer manne te gaan of nie. Ons behoort almal groot jaloesie ten opsigte van die Here se saak en die Here se werk te hê, maar wees baie versigtig dat dit nie die bitter soort is nie . . . met ander woorde, ons moet baie seker wees dat dit nie jaloesie op ’n ander is nie, maar jaloesie ten opsigte van ’n ander, ten opsigte van sy belange en welsyn.”—1 Petrus 4:15.

17. Hoe kan ons sondige dade van jaloesie vermy?

17 Hoe kan ons as Christene trots, jaloesie en afguns vermy? Die oplossing lê daarin dat ons God se heilige gees vryelik in ons lewe moet laat vloei. Ons moet byvoorbeeld om God se gees bid en om hulp om die goeie vrugte daarvan te openbaar (Lukas 11:13). Ons moet Christelike vergaderinge bywoon, wat met gebed geopen word en God se gees en seën daarop het. Daarbenewens moet ons die Bybel bestudeer, wat deur God geïnspireer is (2 Timoteus 3:16). En ons moet deelneem aan die Koninkrykspredikingswerk wat met die krag van Jehovah se heilige gees gedoen word (Handelinge 1:8). Nog ’n manier waarop ons ons aan die goeie invloed van God se gees kan onderwerp, is deur mede-Christene te help wat deur ’n slegte ondervinding verpletter is (Jesaja 57:15; 1 Johannes 3:15-17). Die ywerige nakoming van al hierdie Christelike verpligtinge sal help om ons teen sondige dade van jaloesie te beskerm, want God se Woord sê: “Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie.”—Galasiërs 5:16.

18. Waarom sal ons nie altyd teen ongepaste gevoelens van jaloesie hoef te stry nie?

18 Liefde word eerste onder die vrugte van God se heilige gees genoem (Galasiërs 5:22, 23). As ons liefde beoefen, sal dit ons help om nóú sondige neigings te bedwing. Maar wat van die toekoms? Miljoene knegte van Jehovah het die hoop op lewe in die komende aardse Paradys, waar hulle daarna kan uitsien om tot menslike volmaaktheid verhef te word. In daardie nuwe wêreld sal liefde heers en sal niemand toegee aan ongepaste gevoelens van jaloesie nie, omdat “die skepping self ook van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê”.—Romeine 8:21.

Punte om oor te peins

◻ Watter illustrasie het Paulus gebruik om jaloesie te help bestry?

◻ Hoe kan jaloesie die vrede van die gemeente versteur?

◻ Hoe kan ouers hulle kinders leer om jaloesie die hoof te bied?

◻ Hoe kan ons sondige dade van jaloesie vermy?

[Prent op bladsy 16]

Moenie dat jaloesie die vrede van die gemeente versteur nie

[Prent op bladsy 17]

Ouers kan hulle kinders leer om jaloerse gevoelens die hoof te bied

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel