Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/15 bl. 8-14
  • Jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die goue kalf
  • Baäl-Peor
  • ’n Waarskuwende les
  • Latere voorbeelde van goddelike jaloesie
  • God se jaloesie strek sy volk tot voordeel
  • Toekomstige dade van Goddelike jaloesie
  • Liefde oorwin ongepaste jaloesie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Moet Christene jaloers wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Wat jy omtrent jaloesie behoort te weet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Josef word ’n slagoffer van jaloesie
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/15 bl. 8-14

Jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah

“Jehovah, wie se naam Jaloers is, hy is ’n jaloerse God.”—EXODUS 34:14, NW.

1. Wat is God se oorheersende eienskap, en hoe hou dit verband met sy jaloesie?

JEHOVAH beskryf homself as “’n jaloerse God”. Jy wonder dalk waarom, aangesien die woord “jaloesie” negatiewe konnotasies het. God se oorheersende eienskap is natuurlik liefde (1 Johannes 4:8). Enige gevoel van jaloesie aan sy kant moet dus in die mensdom se belang wees. Trouens, ons sal sien dat God se jaloesie onontbeerlik is vir die vrede en harmonie van die heelal.

2. Wat is party van die maniere waarop die Hebreeuse woorde vir “jaloesie” vertaal word?

2 Die verwante Hebreeuse woorde vir “jaloesie” kom meer as 80 keer in die Hebreeuse Geskrifte voor. Feitlik die helfte van hierdie verwysings is na Jehovah God. “Wanneer dit op God toegepas word”, verduidelik G. H. Livingston, “bevat die begrip jaloesie nie die konnotasie van ’n verwronge emosie nie, maar eerder van ’n aandrang op die uitsluitlike aanbidding van Jehovah” (The Pentateuch in Its Cultural Environment). Daarom vertaal die New World Translation die Hebreeuse selfstandige naamwoord soms met “aandrang op uitsluitlike toegewydheid” (Esegiël 5:13). ’n Ander gepaste vertaling is “ywer”.—Psalm 79:5; Jesaja 9:6.

3. In watter opsigte kan jaloesie soms voordelig wees?

3 Die mens is geskep met die vermoë om jaloers te wees, maar die mensdom se sondeval het tot verwronge jaloesie gelei. Menslike jaloesie kan nietemin ’n krag ten goede wees. Dit kan ’n mens beweeg om ’n geliefde teen slegte invloede te beskerm. Daarbenewens kan mense jaloesie gepas ten opsigte van Jehovah en sy aanbidding toon (1 Konings 19:10, NW). Om die regte begrip van sulke jaloesie ten opsigte van Jehovah oor te dra, kan die Hebreeuse selfstandige naamwoord vertaal word met ‘geen mededinging duld’ ten opsigte van hom nie.—2 Konings 10:16, NW.

Die goue kalf

4. Watter gebod met betrekking tot regverdige jaloesie was prominent in God se Wet aan Israel?

4 Die gebeure nadat die Israeliete die Wet by die berg Sinai ontvang het, voorsien ons van ’n voorbeeld van regverdige jaloesie. Hulle is herhaaldelik gewaarsku om nie mensgemaakte gode te aanbid nie. Jehovah het vir hulle gesê: “Ek, Jehovah, jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis [of “’n God wat jaloers (ywerig) is; ’n God wat nie mededinging duld nie”].” (Exodus 20:5, voetnoot in NW-naslaanuitgawe; vergelyk Exodus 20:22, 23; 22:20; 23:13, 24, 32, 33.) Jehovah het ’n verbond met die Israeliete gesluit en belowe om hulle te seën en hulle in die Beloofde Land in te bring (Exodus 23:22, 31). En die volk het gesê: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.”—Exodus 24:7.

5, 6. (a) Hoe het die Israeliete ernstig gesondig terwyl hulle laer by die berg Sinai was? (b) Hoe het Jehovah en sy lojale aanbidders regverdige jaloesie by Sinai getoon?

5 Maar die Israeliete het weldra teen God gesondig. Hulle laer was nog aan die voet van die berg Sinai. Moses was al baie dae lank op die berg terwyl hy verdere instruksies van God ontvang het, en die volk het druk op Moses se broer, Aäron, uitgeoefen om vir hulle ’n god te maak. Aäron het ingewillig en ’n kalf gemaak van goud wat die volk voorsien het. Daar is beweer dat hierdie afgod Jehovah voorgestel het (Psalm 106:20, vgl. NW). Die volgende dag het hulle offerandes gebring en hulle aanhoudend “daarvoor neergebuig”. Toe het hulle ‘hulle vermaak’.—Exodus 32:1, 4, 6, 8, 17-19, vgl. NW.

6 Moses het van die berg afgekom terwyl die Israeliete feesgevier het. Toe hy hulle skandelike gedrag sien, het hy uitgeroep: “Wie is aan Jehovah se kant?” (Exodus 32:25, 26, NW). Die seuns van Levi het hulle by Moses versamel, en hy het hulle beveel om swaarde te neem en die feesvierende afgodedienaars om die lewe te bring. Die Leviete het hulle jaloesie ten opsigte van God se rein aanbidding getoon deur nagenoeg 3 000 van hulle skuldige broers dood te maak. Jehovah het hierdie optrede bekragtig deur ’n plaag oor die oorlewendes te stuur (Exodus 32:28, 35). Toe het God die gebod herhaal: “Jy mag jou nie neerbuig voor ’n ander god nie, want Jehovah, wie se naam Jaloers is, hy is ’n jaloerse God.”—Exodus 34:14, NW.

Baäl-Peor

7, 8. (a) Hoe het baie Israeliete hulle aan ernstige afgodery in verband met Baäl-Peor skuldig gemaak? (b) Hoe het die plaag wat Jehovah gestuur het tot ’n einde gekom?

7 Veertig jaar later, toe die nasie Israel op die punt gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het aantreklike Moabitiese en Midianitiese vroue talle Israeliete verlok om hulle gasvryheid te kom geniet. Hierdie mans moes intieme omgang met aanbidders van valse gode verwerp het (Exodus 34:12, 15). In plaas daarvan het hulle soos ‘beeste na die slagpale’ gehardloop deur hulle met die vroue aan hoerery skuldig te maak en hulle saam met hulle voor Baäl-Peor neer te buig.—Spreuke 7:21, 22; Numeri 25:1-3.

8 Jehovah het ’n plaag gestuur om dié dood te maak wat by hierdie skandelike seksaanbidding betrokke geraak het. God het ook die onskuldige Israeliete beveel om hulle skuldige broers dood te maak. Met openlike minagting het ’n owerste van Israel met die naam Simri ’n Midianitiese prinses in sy tent ingebring om omgang met haar te hê. Toe die godvresende priester Pinehas dit sien, het hy die onsedelike paar tereggestel. Die plaag het toe opgehou en God het gesê: “Pinehas . . . het my gramskap van die Israeliete afgewend; hy het dieselfde jaloerse toorn onder hulle geopenbaar wat my beweeg het, en daarom het ek die Israeliete nie in my jaloesie uitgewis nie” (Numeri 25:11, The New English Bible). Hoewel die nasie van vernietiging gered is, het minstens 23 000 Israeliete gesterf (1 Korintiërs 10:8). Hulle het hulle langverwagte hoop om die Beloofde Land binne te gaan, verbeur.

’n Waarskuwende les

9. Wat het die volk van Israel en Juda oorgekom omdat hulle nie jaloers was ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah nie?

9 Ongelukkig het die Israeliete hierdie lesse gou vergeet. Hulle was nie jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah nie. “Hulle het . . . deur hul gesnede beelde [God se] jaloersheid gewek” (Psalm 78:58). Gevolglik het Jehovah toegelaat dat tien stamme van Israel in 740 v.G.J. deur die Assiriërs gevange geneem word. Die oorblywende tweestammeryk van Juda het ’n soortgelyke straf ondergaan toe hulle hoofstad Jerusalem in die jaar 607 v.G.J. vernietig is. Talle is gedood en die oorlewendes is as gevangenes na Babilon weggevoer. Wat ’n waarskuwende voorbeeld is dit tog vir alle hedendaagse Christene!—1 Korintiërs 10:6, 11.

10. Wat sal met onberouvolle afgodedienaars gebeur?

10 ’n Derde van die aarde se bevolking—sowat 1 900 miljoen—beweer nou dat hulle Christene is (1994 Britannica Book of the Year). Die meeste van hulle behoort aan kerke wat ikone, beelde en kruise in hulle aanbidding gebruik. Jehovah het nie lede van sy eie volk gespaar wat sy jaloesie deur hulle afgodery gewek het nie. Ook sal hy nie verklaarde Christene spaar wat materiële voorwerpe in hulle aanbidding gebruik nie. “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid”, het Jesus Christus gesê (Johannes 4:24). Daarbenewens waarsku die Bybel Christene om teen afgodery te waak (1 Johannes 5:21). Onberouvolle afgodedienaars is onder dié wat nie God se Koninkryk sal beërf nie.—Galasiërs 5:20, 21.

11. Hoe kan ’n Christen hom aan afgodery skuldig maak sonder om hom voor ’n afgod neer te buig, en wat sal ’n mens help om sulke afgodery te vermy? (Efesiërs 5:5).

11 Hoewel ’n ware Christen hom nooit voor ’n afgod sal neerbuig nie, moet hy alles vermy wat God as afgodies, onrein en sondig beskou. Die Bybel waarsku byvoorbeeld: “Maak . . . julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is. Weens dié dinge kom die gramskap van God” (Kolossense 3:5, 6). Gehoorsaamheid aan hierdie woorde vereis dat onsedelike gedrag verwerp moet word. Dit beteken dat vermaak vermy moet word wat bedoel is om onreine geslagslus te prikkel. Ware Christene bevredig nie so ’n lus nie, maar is eerder jaloers ten opsigte van God se rein aanbidding.

Latere voorbeelde van goddelike jaloesie

12, 13. Hoe het Jesus ’n uitsonderlike voorbeeld gestel deur jaloesie ten opsigte van God se rein aanbidding te toon?

12 Die uitsonderlikste voorbeeld van ’n man wat jaloesie ten opsigte van God se rein aanbidding getoon het, was Jesus Christus. In die eerste jaar van sy bediening het hy gierige handelaars in die voorhowe van die tempel sien handel dryf. Besoekende Jode het moontlik die dienste van geldwisselaars nodig gehad om hulle buitelandse geld te wissel vir geld wat as tempelbelasting aanvaarbaar sou wees. Hulle moes ook diere en voëls koop om die offerandes te bring wat deur God se Wet vereis is. Sulke saketransaksies moes buite die tempel se voorhowe plaasgevind het. Nog erger, die handelaars het blykbaar die godsdiensbehoeftes van hulle broers uitgebuit deur buitensporige pryse te vra. Jesus, wat vervul was met jaloesie ten opsigte van God se rein aanbidding, het ’n sweep gebruik om die skape en die beeste uit te dryf. Hy het ook die geldwisselaars se tafels omgekeer en gesê: “Hou op om die huis van my Vader ’n handelshuis te maak!” (Johannes 2:14-16). So het Jesus die woorde van Psalm 69:10 vervul: “Die ywer [of “jaloesie”, Byington] vir u huis het my verteer.”

13 Drie jaar later het Jesus weer gierige handelaars sake in Jehovah se tempel sien doen. Sou hy dit ’n tweede keer reinig? Sy jaloesie ten opsigte van God se rein aanbidding was toe nog net so sterk soos toe hy sy bediening begin het. Hy het die verkopers sowel as die kopers uitgedryf. En hy het ’n selfs kragtiger rede vir sy optrede verstrek en gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak” (Markus 11:17). Wat ’n wonderlike voorbeeld van volgehoue goddelike jaloesie!

14. Hoe moet Jesus se jaloesie ten opsigte van rein aanbidding ons raak?

14 Die persoonlikheid van die tans verheerlikte Here Jesus Christus het nie verander nie (Hebreërs 13:8). Hy is in hierdie 20ste eeu nog net so jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van sy Vader soos toe hy op aarde was. Dit blyk uit Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes wat in die boek Openbaring opgeteken staan. Hulle is hoofsaaklik nou, in “die dag van die Here”, van toepassing (Openbaring 1:10; 2:1–3:22). In ’n visioen het die apostel Johannes die verheerlikte Jesus Christus met “oë soos ’n vuurvlam” gesien (Openbaring 1:14). Dit toon dat daar niks is wat Christus nie raaksien terwyl hy die gemeentes inspekteer om te verseker dat hulle rein en geskik vir Jehovah se diens bly nie. Hedendaagse Christene moet Jesus se waarskuwing in gedagte hou dat ’n mens nie twee here—God en rykdom—moet probeer dien nie (Matteus 6:24). Jesus het vir materialistiese lede van die gemeente in Laodisea gesê: “Omdat jy . . . lou is en nóg warm nóg koud, gaan ek jou uit my mond uitbraak. . . . Wees dus ywerig en toon berou” (Openbaring 3:14-19). Aangestelde gemeentelike ouer manne moet hulle medegelowiges deur woord en voorbeeld help om die strik van materialisme te vermy. Die ouer manne moet ook die kudde teen die sedelike verdorwenheid van hierdie seksgeoriënteerde wêreld beskerm. Boonop durf God se volk nie enige Isebel-invloed in die gemeente duld nie.—Hebreërs 12:14, 15; Openbaring 2:20.

15. Hoe het die apostel Paulus Jesus nagevolg deur jaloesie ten opsigte van Jehovah se aanbidding te toon?

15 Die apostel Paulus was ’n navolger van Christus. Om pas gedoopte Christene teen geestelik onheilsame invloede te beskerm, het hy gesê: “Ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloesie” (2 Korintiërs 11:2). Vroeër het Paulus se jaloesie ten opsigte van rein aanbidding hom beweeg om dieselfde gemeente te beveel om ’n onberouvolle hoereerder uit te sit wat ’n verderflike invloed was. Die geïnspireerde instruksies wat by daardie geleentheid gegee is, help ouer manne vandag grootliks in hulle strewe om die meer as 75 500 gemeentes van Jehovah se Getuies rein te hou.—1 Korintiërs 5:1, 9-13.

God se jaloesie strek sy volk tot voordeel

16, 17. (a) Watter gesindheid het die nasies geopenbaar toe God eertydse Juda gestraf het? (b) Hoe het Jehovah ná Juda se 70 jaar van gevangenskap sy jaloesie ten opsigte van Jerusalem getoon?

16 Toe God die volk van Juda gestraf het deur toe te laat dat hulle as gevangenes na Babilon weggevoer word, is hulle bespot (Psalm 137:3, vgl. NW). Uit jaloerse haat het die Edomiete die Babiloniërs selfs gehelp om onheil oor God se volk te bring, en Jehovah het hiervan kennis geneem (Esegiël 35:11, vgl. NW; 36:15). In gevangenskap het die oorlewendes berou getoon, en ná 70 jaar het Jehovah hulle in hulle land herstel.

17 Die volk van Juda was aanvanklik in ’n benarde toestand. Die stad Jerusalem en sy tempel het in puin gelê. Maar die omliggende nasies het alle pogings om die tempel te herbou, teëgestaan (Esra 4:4, 23, 24). Hoe het Jehovah hieroor gevoel? Die geïnspireerde verslag sê: “Dit is wat Jehovah van die leërs gesê het: ‘Ek was jaloers ten opsigte van Jerusalem en ten opsigte van Sion met groot jaloesie. Met groot verontwaardiging voel ek verontwaardig teen die nasies wat sorgloos is; want ek het, wat my betref, net in geringe mate verontwaardig gevoel, maar hulle het, wat hulle betref, tot die onheil bygedra.’ Dít is derhalwe wat Jehovah gesê het: ‘Ek sal beslis met barmhartighede na Jerusalem terugkeer. My eie huis sal daarin gebou word’, is die uiting van Jehovah van die leërs” (Sagaria 1:14-16, NW). Net soos hier belowe is, is die tempel en die stad Jerusalem met welslae herbou.

18. Wat het ware Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog ondervind?

18 Die ware Christengemeente het in die 20ste eeu ’n soortgelyke ondervinding gehad. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah sy volk gedissiplineer omdat hulle nie absoluut neutraal in daardie wêreldse konflik gebly het nie (Johannes 17:16). God het die politieke magte toegelaat om hulle te verdruk, en die geestelikes van die Christendom het hulle oor hierdie onheil verheug. Trouens, geestelikes het die voortou geneem met die pogings om die politieke element sover te kry om die werk van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, te verbied.—Openbaring 11:7, 10.

19. Hoe het Jehovah sedert 1919 jaloesie ten opsigte van sy aanbidding getoon?

19 Jehovah het egter jaloesie ten opsigte van sy aanbidding getoon en sy berouvolle volk in die naoorlogse jaar 1919 in sy guns herstel (Openbaring 11:11, 12). Gevolglik het die getal van Jehovah se lowers van minder as 4 000 in 1918 tot ongeveer 5 miljoen vandag toegeneem (Jesaja 60:22). Binnekort sal Jehovah se jaloesie ten opsigte van sy rein aanbidding op dramatieser maniere geopenbaar word.

Toekomstige dade van Goddelike jaloesie

20. Wat sal God binnekort doen om sy jaloesie ten opsigte van rein aanbidding te toon?

20 Die kerke van die Christendom volg al eeue lank die weg van die afvallige Jode wat Jehovah tot jaloesie opgewek het (Esegiël 8:3, 17, 18, vgl. NW). Jehovah God sal binnekort optree deur ’n drastiese gedagte in die harte van lede van die Verenigde Nasies te sit. Dit sal hierdie politieke magte beweeg om die Christendom en die res van valse godsdiens te verwoes (Openbaring 17:16, 17). Ware aanbidders sal daardie verskriklike voltrekking van Goddelike oordeel oorlewe. Hulle sal gehoor gee aan die woorde van hemelse wesens wat sê: “Loof Jah! . . . Want hy het oordeel voltrek aan die groot hoer [valse godsdiens] wat die aarde met haar hoerery [haar valse leringe en ondersteuning van die verdorwe politiek] verderf het, en hy het die bloed van sy slawe op haar hand gewreek.”—Openbaring 19:1, 2.

21. (a) Wat sal Satan en sy stelsel doen nadat valse godsdiens vernietig is? (b) Hoe sal God reageer?

21 Wat sal ná die vernietiging van die wêreldryk van valse godsdiens gebeur? Satan sal die politieke magte aanhits om ’n wêreldwye aanval op Jehovah se volk te doen. Hoe sal die ware God reageer op hierdie poging van Satan om ware aanbidding op die aarde uit te wis? Esegiël 38:19-23 sê vir ons: “In my ywer [of jaloesie] spreek Ek [Jehovah], in die vuur van my grimmigheid . . . Ek sal met hom [Satan] in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is. So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek [Jehovah, NW] is.”—Sien ook Sefanja 1:18; 3:8.

22. Hoe kan ons toon dat ons jaloers is ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah?

22 Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat die Soewerein van die heelal op jaloerse wyse na sy ware aanbidders omsien! Laat ons, uit innige waardering vir sy onverdiende goedhartigheid, jaloers wees ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah God. Laat ons met ywer voortgaan om die goeie nuus te verkondig en met vertroue wag vir die grootse dag wanneer Jehovah sy groot naam verheerlik en heilig.—Matteus 24:14.

Punte om oor te peins

◻ Wat beteken dit om jaloers te wees ten opsigte van Jehovah?

◻ Wat kan ons leer uit die voorbeeld wat die eertydse Israeliete gestel het?

◻ Hoe kan ons dit vermy om Jehovah tot jaloesie op te wek?

◻ Hoe het God en Christus jaloesie ten opsigte van rein aanbidding getoon?

[Venster op bladsy 12]

Die liefde is nie jaloers nie

DIE 19de-eeuse Bybelgeleerde Albert Barnes het omtrent afguns geskryf: “Dit is een van die algemeenste blyke van goddeloosheid en toon duidelik hoe erg verdorwe die mens is.” Hy het verder gesê: “Hy wat al die oorloë en onenighede en wêreldse planne tot hulle oorsprong sou kon terugvoer—asook al die planne en oogmerke van selfs verklaarde Christene, wat in so ’n groot mate afbreuk aan hulle godsdiens doen en hulle wêreldsgesind maak, tot hulle eintlike begin—sou verbaas wees om te vind hoeveel daarvan aan afguns toe te skryf is. Dit ontstel ons dat ander voorspoediger as ons is; ons wil besit wat ander het, hoewel dit ons nie toekom nie; en dit lei tot die aanwending van allerhande laakbare metodes om hulle genot daarvan te verminder, of om dit self te bekom, of om te wys dat hulle nie soveel het as wat daar oor die algemeen gemeen word nie . . . , want só sal die gees van afguns in ons boesem bevredig word.”—Romeine 1:29; Jakobus 4:5.

In teenstelling hiermee het Albert Barnes ’n interessante verklaring gemaak omtrent liefde, wat ‘nie afgunstig is nie’ (1 Korintiërs 13:4, NAV). Hy het geskryf: “Die liefde is nie afgunstig op ander weens die vreugde wat hulle geniet nie; hy verheug hom in hulle welvaart; en namate hulle vreugde vergroot word . . . , sal diegene wat deur liefde beïnvloed word . . . dit nie demp nie; hulle sal hulle nie verleë laat voel oor hulle besittings nie; hulle sal nie afbreuk doen aan daardie vreugde nie; hulle sal nie murmureer of kla oor die feit dat húlle nie so uiters bevoorreg is nie. . . . As ons ander liefhet—as ons ons in hulle vreugde verheug, moet ons nie op hulle afgunstig wees nie.”

[Prent op bladsy 10]

Pinehas was jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel