Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 1/15 bl. 29-31
  • Hy het Goddelike leiding aanvaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy het Goddelike leiding aanvaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Regverdige man met probleme
  • ’n Geestelike man
  • Josef se vooruitsigte
  • Hy het beskerm, hy het voorsien, hy het volhard
    Volg hulle geloof na
  • Hy het beskerm, voorsien en volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Hy het ’n groot verantwoordelikheid gehad
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • Maria – Swanger maar ongetroud
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 1/15 bl. 29-31

Hy het Goddelike leiding aanvaar

VERONDERSTEL ’n volmaakte kind is in jou sorg geplaas en daar is van jou verwag om hom behoorlik groot te maak. Wat ’n uitdaging tog! Hoe sou enige onvolmaakte mens dit kon doen? Alleenlik deur Goddelike leiding te aanvaar en dit in die daaglikse lewe toe te pas.

Dit is presies wat Josef, Jesus se aangenome vader, gedoen het. In teenstelling met die breedvoerige apokriewe oorleweringe oor Josef sê die Bybel min aangaande die nederige rol wat hy in Jesus se vroeë lewe gespeel het. Ons weet Josef en sy vrou, Maria, het Jesus, vier ander seuns en ook dogters grootgemaak.—Markus 6:3.

Josef was ’n nakomeling van Israel se koning Dawid in die geslagslyn van Salomo. Hy was die seun van Jakob en die skoonseun van Eli (Mattheüs 1:16; Lukas 3:23). As ’n timmerman in die stad Nasaret in Galilea het Josef beperkte geldmiddele gehad. (Mattheüs 13:55; Lukas 2:4, 24; vergelyk Levitikus 12:8.) Maar geestelik was hy ryk gewees (Spreuke 10:22). Dit was beslis omdat hy Goddelike leiding aanvaar het.

Josef was ongetwyfeld ’n sagmoedige en nederige Jood wat geloof in God gehad het en graag wou doen wat reg is. Die enkele gebeurtenisse van sy lewe wat in die Skrif opgeteken is, toon dat hy altyd aan Jehovah se bevele gehoorsaam was. Dit was die geval hetsy dit in die Wet was en of Josef hulle regstreeks deur engele ontvang het.

’n Regverdige man met probleme

Wat moet ’n godvrugtige persoon doen wanneer hy voor ’n groot probleem te staan kom? Wel, hy moet ‘sy sorg op die HERE werp’ en Goddelike leiding volg! (Psalm 55:23). Dit is wat Josef gedoen het. Terwyl hy aan Maria verloof was, ‘is sy swanger bevind uit die Heilige Gees voordat hulle saamgekom het’. Omdat Josef ‘regverdig en onwillig was om haar openbaar te maak, het hy hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei’. Nadat Josef daaroor nagedink het, het Jehovah se engel in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Toe Josef wakker word, het hy “gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem” (Mattheüs 1:18-25). Josef het Goddelike leiding aanvaar.

Keiser Augustus het beveel dat mense in hulle eie stede geregistreer moes word. In gehoorsaamheid daaraan het Josef en Maria na Betlehem, in Judea, gegaan. Daar is Jesus gebore en moes Maria hom in ’n krip neerlê omdat daar geen ander huisvesting beskikbaar was nie. Daardie nag het herders wat die engel se aankondiging van hierdie spesiale geboorte gehoor het, gekom om die kindjie te sien. Ongeveer 40 dae later het Josef en Maria die Wet nagekom deur Jesus, asook ’n offer, by die tempel in Jerusalem aan te bied. Albei is verbaas toe hulle die bejaarde Simeon se profetiese woorde hoor aangaande die grootse dinge wat Jesus sou doen.—Lukas 2:1-33; vergelyk Levitikus 12:2-4, 6-8.

Hoewel dit dalk lyk asof Lukas 2:39 toon dat Josef en Maria onmiddellik ná die aanbieding van Jesus by die tempel na Nasaret toe gegaan het, is hierdie teks deel van ’n verkorte verslag. Dit lyk asof Oosterse sterrewiggelaars (wyse manne) Maria en Jesus ’n hele ruk ná die aanbieding by die tempel in ’n huis in Betlehem besoek het. Goddelike ingryping het voorkom dat hierdie besoek tot Jesus se dood lei. Nadat die wyse manne weggegaan het, het Jehovah se engel in ’n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.” Josef het soos gewoonlik ag geslaan op Goddelike leiding en sy gesin na Egipte geneem.—Mattheüs 2:1-14.

By die dood van Herodes het ’n engel in ’n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel.” Toe Josef hoor dat Herodes se seun Archelaüs in sy vader se plek heers, was hy bevrees om na Judea terug te keer. Hy het ag geslaan op ’n goddelike waarskuwing wat in ’n droom gegee is en het na die landstreek van Galilea gegaan en in die stad Nasaret gaan woon.—Mattheüs 2:15-23.

’n Geestelike man

Josef het toegesien dat sy gesin die Goddelike wet nakom en dat hulle geestelik gevoed word. Elke jaar het hy sy hele gesin saam met hom na die Pasgaviering in Jerusalem geneem. By een van hierdie geleenthede, terwyl Josef en Maria na Nasaret teruggekeer het en al ’n dagreis van Jerusalem af was, het hulle agtergekom dat die 12-jarige Jesus weg was. Hulle het na Jerusalem teruggegaan en naarstiglik na hom gesoek en hom uiteindelik in die tempel aangetref, waar hy besig was om na die leraars te luister en hulle te ondervra.—Lukas 2:41-50.

Dit lyk asof Josef sy vrou toegelaat het om in sommige dinge die inisiatief te neem. Toe hulle byvoorbeeld na Jerusalem teruggekeer het en Jesus in die tempel aangetref het, was dit Maria wat met haar jong seun oor die saak gepraat het (Lukas 2:48, 49). Terwyl Jesus as die “seun van die timmerman” grootgeword het, het hy geestelike onderrigting ontvang. Josef het hom ook die timmermansambag geleer, aangesien Jesus “die timmerman, die seun van Maria”, genoem is (Mattheüs 13:55; Markus 6:3). Hedendaagse godvrugtige ouers moet soortgelyke geleenthede om hulle kinders te onderrig ten volle benut, veral deur aan hulle geestelike opleiding te gee.—Efesiërs 6:4; 2 Timotheüs 1:5; 3:14-16.

Josef se vooruitsigte

Die Skrif sê nie iets oor die dood van Josef nie. Maar dit is opmerklik dat Markus 6:3 Jesus “die seun van Maria” noem, nie die seun van Josef nie. Dit toon dat Josef toe al dood was. Daarbenewens sou die sterwende Jesus, as Josef in 33 G.J. nog gelewe het, Maria waarskynlik nie aan die sorg van die apostel Johannes toevertrou het nie.—Johannes 19:26, 27.

Josef sal dus onder die dooies wees wat die stem van die Seun van die mens sal hoor en opgewek sal word (Johannes 5:28, 29). Wanneer Josef van Jehovah se voorsiening van ewige lewe leer, sal hy ongetwyfeld met graagte daarvan gebruik maak en sal hy ’n gehoorsame onderdaan van die groot hemelse Koning, Jesus Christus, wees net soos hy meer as 1 900 jaar gelede op Goddelike leiding ag geslaan het.

[Prent op bladsy 31]

Josef het Jesus geestelike onderrigting gegee en hom ook die timmermansambag geleer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel