Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 1/15 bl. 4-7
  • Bewaar die werklike lewe as ’n skat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bewaar die werklike lewe as ’n skat
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die weg na “die werklike lewe”
  • Ons moet ons huidige lewe koester
  • Lewensbelangrike wet op bloed
  • Die werklike lewe word as ’n skat bewaar
  • ’n Goddelike beskouing van lewe
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Toon respek vir lewe
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Die Bloed wat werklik lewens red
    Hoe kan bloed jou lewe red?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 1/15 bl. 4-7

Bewaar die werklike lewe as ’n skat

IS HIERDIE lewe al wat daar is? Deur ons aan te spoor om ‘’n stewige houvas op die werklike lewe te kry’, toon die Bybel dat daar meer is (1 Timotheüs 6:17-19, NW). As ons huidige lewe nie die werklike lewe is nie, wat is dan?

Die verband van die bogenoemde teks toon dat dit “die ewige lewe” is waarop ’n godvresende mens ’n stewige houvas moet kry (1 Timotheüs 6:12). Vir die oorgrote meerderheid beteken dit die ewige lewe op die aarde. Adam, die eerste mens, het die vooruitsig gehad om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Genesis 1:26, 27). Hy sou slegs sterf as hy van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet (Genesis 2:17). Maar omdat Adam en sy vrou, Eva, ongehoorsaam was en van daardie boom geëet het, het God die doodsvonnis oor hulle uitgespreek. ‘Die dag toe hulle daarvan geëet het’, het hulle in God se oë gesterf, en hulle het ook in ’n fisiese sin begin sterf. Hulle lewe was nie meer van dieselfde gehalte as wat hulle vroeër geniet het nie.

Die weg na “die werklike lewe”

Ten einde “die werklike lewe” moontlik te maak, het Jehovah God gereël dat die mensdom gered word. Om ons te help om hierdie reëling te verstaan, kan ons aan ’n klein fabriek dink. Al die masjiene daarin is defektief en gee die operateurs probleme omdat die eerste werker jare gelede die gebruikshandleiding geïgnoreer en al die masjiene beskadig het. Die huidige operateurs kan net hulle bes doen om te werk met wat hulle het. Die fabriekseienaar wil die masjiene herstel om sy werkers te help, en hy sit die nodige fondse daarvoor opsy.

Die eerste ‘masjienoperateur’, Adam, het nie die lewe wat hy ontvang het as ’n skat bewaar nie. Hy het derhalwe ’n onvolmaakte lewe, soortgelyk aan ’n masjien wat nie behoorlik funksioneer nie, aan sy nageslag oorgedra (Romeine 5:12). Soos die latere operateurs in die fabriek, wat nie die situasie kon regstel nie, kon Adam se nageslag nie die werklike lewe vir hulleself verkry nie (Psalm 49:8). Om hierdie oënskynlik hopelose situasie reg te stel, het Jehovah sy eniggebore Seun aarde toe gestuur om die ewige lewe vir die mensdom terug te koop (Lukas 1:35; 1 Petrus 1:18, 19). Deur ter wille van die mensdom ’n offerdood te sterf, het God se eniggebore Seun, Jesus Christus, die fondse voorsien—die lewe wat ooreenstem met die lewe wat Adam verloor het (Mattheüs 20:28; 1 Petrus 2:22). Met hierdie kosbare offerande as grondslag kan Jehovah nou die werklike lewe voorsien.

Vir gehoorsame mense sal Jesus se losprysofferande die ewige lewe op ’n paradysaarde beteken (Psalm 37:29). Hierdie hoop word uitgehou aan al die oorlewendes van “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, wat Armageddon genoem word (Openbaring 16:14-16). Dit sal van alle goddeloosheid op die aarde ontslae raak (Psalm 37:9-11). Dié in God se geheue wat voor daardie tyd sterf, sal in die herstelde Paradys op aarde opgewek word met die vooruitsig om die werklike lewe te geniet wat op almal wag wat God gehoorsaam.—Johannes 5:28, 29.

Ons moet ons huidige lewe koester

Dit beteken nie dat ons die reg het om minagting te toon vir die heiligheid van ons huidige lewe nie. Sal die fabriekseienaar tyd en geld daaraan bestee om ’n masjien te herstel vir ’n werker wat dit nie oppas nie? Sal die werkgewer die herstelde masjien nie eerder aan iemand toevertrou wat sy bes gedoen het om die oue in stand te hou nie?

Die lewe is ’n kosbare gawe van Jehovah. As die welwillende bron van daardie gawe wil hy hê ons moet dit koester (Psalm 36:10; Jakobus 1:17). Met betrekking tot Jehovah se besorgdheid oor mense op die aarde het Jesus gesê: “Selfs die hare van julle hoof is almal getel” (Lukas 12:7). Jehovah het die Israeliete beveel dat hulle nie moord mag pleeg nie, wat natuurlik selfmoord insluit (Exodus 20:13, NAV). Daarom sal ons selfmoord nie as ’n keuse beskou nie.

Aangesien godvresende mense weet dat Jehovah liefdevol in ons welsyn belangstel, pas hulle Bybelbeginsels toe wanneer dit by hedendaagse gebruike kom. Omdat daar byvoorbeeld vereis word dat ware Christene ‘hulle van alle besoedeling van die vlees en die gees moet reinig en die heiligmaking in die vrees van God moet volbring’, vermy hulle tabak en breinwysigende, verslawende dwelms.—2 Korinthiërs 7:1.

God se belangstelling in die mens se lewe is verder te sien uit sy raad om “’n rustige hart” te behou en om onsedelike gedrag te vermy (Spreuke 14:30; Galasiërs 5:19-21). As ons by hierdie hoë standaarde bly, word ons teen dinge soos skadelike woedeuitbarstings en seksueel oordraagbare siektes beskerm.

Jehovah se besorgdheid oor die lewens van sy volk is ook duidelik te sien uit sy vermaning om nie te veel te eet of te drink nie (Deuteronomium 21:18-21, vgl. NW; Spreuke 23:20, 21). Christene word gewaarsku dat gierigaards en dronkaards nie die Koninkryk van God sal beërwe nie, dit wil sê, hulle sal nooit die werklike lewe ervaar nie (1 Korinthiërs 6:9, 10; 1 Petrus 4:3). Deur matigheid aan te moedig, leer Jehovah ons wat heilsaam is.—Jesaja 48:17.

Wanneer ons by God se standaarde bly, toon ons dat ons ons huidige lewe as ’n skat bewaar. Die werklike lewe is natuurlik selfs belangriker. Aangesien dit vir ewig sal duur, heg ware Christene meer waarde daaraan as aan hulle huidige lewe. Toe Jesus Christus sy lewe opgeoffer het, het hy hom aan die wil van Jehovah onderwerp. Gehoorsaamheid aan sy Vader was vir hom baie belangriker as sy lewe hier op die aarde. Jesus se lewenswandel het daartoe gelei dat hy opgewek is en onverganklike lewe in die hemel ontvang het (Romeine 6:9). Sy dood beteken ook die ewige lewe vir gehoorsame mense wat geloof in sy losprysofferande beoefen.—Hebreërs 5:8, 9; 12:2.

Lewensbelangrike wet op bloed

Dit is te verstane dat Jesus se volgelinge sy denke weerspieël. Hulle streef daarna om God in alles te behaag, net soos Christus gedoen het. Dit verklaar, om maar een ding te noem, waarom hulle bloedoortappings weier, wat volgens sommige dokters lewens red. Kom ons kyk hoe ’n mens toon dat hy die werklike lewe as ’n skat bewaar deur bloedoortappings te weier.

Soos Jesus Christus, wil ware Christene in God se oë lewend wees, en dit verg algehele gehoorsaamheid aan Hom. God se Woord beveel Christus se volgelinge: ‘Julle moet julle onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery’ (Handelinge 15:28, 29). Waarom is hierdie wet oor bloed ingesluit onder die bevele wat vir Christene geld?

Die Wet wat aan die Israeliete gegee is, het vereis dat hulle hulle van bloed onthou (Levitikus 17:13, 14). Christene is nie onder die Mosaïese Wet nie. Maar hulle besef dat die bevel om nie bloed te eet nie die Wet voorafgegaan het; dit is vroeër aan Noag gegee ná die Vloed (Genesis 9:3, 4; Kolossense 2:13, 14). Hierdie bevel was van toepassing op die hele nageslag van Noag, van wie al die nasies van die aarde afstam (Genesis 10:32). Daarbenewens help die Mosaïese Wet ons om te besef waarom God op die heiligheid van bloed aandring. Nadat God die Israeliete verbied het om enige soort bloed te eet, het hy gesê: “Die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel” (Levitikus 17:11). God het die gebruik van bloed tot offerandes op die altaar beperk. Sy wet op die heiligheid van bloed toon sy seggenskap oor alle lewe op die aarde (Esegiël 18:4; Openbaring 4:11). Omdat ons ons lewe uit Jehovah se oogpunt beskou, besef ons dat dit nie aan ons behoort nie, maar dat God dit net aan ons toevertrou het.

Net soos die operateur in ons illustrasie vir ’n masjien verantwoordelik was, is ons huidige lewe aan ons toevertrou. Wat sou jy doen as jou masjien herstelwerk nodig het en ’n werktuigkundige voorstel dat dit herstel word met onderdele wat uitdruklik in die gebruikshandleiding verbied word? Sou jy nie ander werktuigkundiges raadpleeg om te sien of die masjien volgens die handleiding se aanwysings herstel kan word nie? Die mens se lewe is baie belangriker en ingewikkelder as ’n masjien. Ons Maker verbied die gebruik van bloed om lewe te onderhou in sy geïnspireerde Woord, die handleiding om mense aan die lewe te hou (Deuteronomium 32:46, 47; Filippense 2:16). Is dit nie verstandig om by die voorskrifte van daardie handleiding te bly nie?

Christenpasiënte wat vra dat hulle sonder bloed behandel moet word, weier nie alle mediese behandeling nie. Hulle vra bloot behandeling wat respek sal toon vir hulle lewe—nou sowel as in die toekoms. Dokters wat moedig die standpunt eerbiedig wat Christene inneem, getuig van die voordele wat dit inhou om hulle in ooreenstemming met hulle versoek te behandel. “Toe ek met Jehovah se Getuies te doen gekry het, het dit my ’n nuwe stel waardes gegee”, sê een chirurg wat vantevore baie bloedoortappings gegee het. Nou probeer hy selfs mense wat nie Getuies is nie sonder bloed behandel.

Die werklike lewe word as ’n skat bewaar

Wat was die nuwe stel waardes wat hierdie chirurg gevind het omdat hy Jehovah se Getuies behandel het? Hy besef nou dat ’n pasiënt se behandeling nie net die siek liggaamsdeel behels nie, maar die hele mens. Moet ’n pasiënt nie toegelaat word om die beste versorging vir sy of haar fisiese, geestelike en emosionele welsyn te vra nie?

Vir die 15-jarige Koemiko was ’n bloedoortapping as behandeling vir haar dodelike leukemie die allerergste opsie. Om haar lewe op hierdie manier met ’n paar weke, maande of selfs jare te probeer verleng, was nie vir haar op die lange duur die koste werd nie. Aangesien sy haar huidige lewe aan Jehovah God toegewy het as een van sy Getuies, het sy respek gehad vir die heiligheid van lewe en bloed. Hoewel Koemiko se vader en ander familielede haar standpunt kwaai teëgestaan het, het sy standvastig gebly. Haar dokter het haar eenkeer gevra: “As jou God sondes vergewe, sal hy jou mos vergewe selfs as jy ’n bloedoortapping aanvaar, nie waar nie?” Koemiko het geweier om te swig en sodoende haar Bybelse oortuiging te verloën. ‘Deurdat sy die woord van die lewe vasgehou het’, het sy standvastig gebly (Filippense 2:16). Dit is soos haar ongelowige ouma gesê het: “Koemiko het nie haar geloof prysgegee nie.” Die gesindheid van haar vader en haar ouma sowel as dié van die dokters wat haar behandel het, het kort voor lank verander.

Koemiko se onwrikbare geloof in Jehovah God, wat haar uit die dood kan opwek, het baie harte geraak. Toe sy nog geleef het, het sy haar vader gesmeek: “Al gaan ek dood, sal ek in die Paradys opgewek word. Maar as Pa by Armageddon vernietig word, sal ek Pa nie sien nie. Daarom moet Pa asseblief die Bybel bestudeer.” Haar vader het net bly sê: “Ek sal wanneer jy gesond is.” Maar toe Koemiko aan haar genadelose siekte gesterf het, het haar vader ’n briefie in haar kis gesit met die woorde: “Ek sien jou in die Paradys, Koemiko.” Ná die begrafnis het hy met dié gesels wat die begrafnis bygewoon het en gesê: “Ek het Koemiko belowe dat ek haar in die Paradys sal sien. Al kan ek dit nog nie glo nie omdat ek nog nie genoeg gestudeer het nie, is ek vasbeslote om dit te ondersoek. Help my, asseblief.” Ander in haar familie het ook die Bybel begin bestudeer.

Koemiko het werklik respek vir die lewe gehad en wou leef. Sy het alles waardeer wat haar dokters gedoen het om haar huidige lewe te red. Maar deur die aanwysings in die Skepper se handleiding te volg, het sy bewys dat sy die werklike lewe as ’n skat bewaar. Vir miljoene sal dit die ewige lewe op ’n paradysaarde wees. Sal jy onder hulle wees?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel