Vrae van lesers
Waarom is Saul se soldate nie om die lewe gebring toe hulle vleis met bloed en al geëet het nie, aangesien dit die straf was wat God se Wet vereis het?
Hierdie manne het God se wet ten opsigte van bloed oortree, maar hulle is moontlik genade betoon omdat hulle wel respek vir bloed gehad het, hoewel hulle meer nougeset daarop moes gelet het om sulke respek te betoon.
Stel jou die situasie voor. Die Israeliete onder koning Saul en sy seun Jonatan was in ’n oorlog met die Filistyne gewikkel. Op ’n stadium toe ‘die manne van Israel aangedryf is’ in die stryd, het Saul impulsief ’n eed afgelê dat sy manskappe niks moes eet totdat die vyand verslaan was nie (1 Samuel 14:24). Kort voor lank het sy eed ’n probleem geskep.
Sy manskappe het die oorhand in ’n harde stryd begin kry, maar die geweldige inspanning het sy tol begin eis. Hulle was baie honger en uitgeput. Wat het hulle in daardie uiters moeilike situasie gedoen? “Die manskappe het op die buit afgestorm, en kleinvee en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en die manskappe het dit met bloed en al geëet.”—1 Samuel 14:32.
Dit was ’n skending van God se wet ten opsigte van bloed, soos sommige van Saul se manne vir hom gesê het: “Kyk, die manskappe besondig hulle teen die HERE deur met bloed en al te eet” (1 Samuel 14:33). Ja, volgens die Wet moes die bloed, wanneer diere geslag is, gedreineer word voordat die vleis geëet kon word. God het nie op buitensporige maatreëls vir die dreinering van bloed aangedring nie. Deur redelike stappe te doen om die bloed te dreineer, kon sy knegte respek vir die belangrikheid van bloed toon (Deuteronomium 12:15, 16, 21-25). Dierebloed kon vir offerdoeleindes op die altaar gebruik word, maar dit moes nie geëet word nie. Die doodstraf is aan enigiemand opgelê wat hierdie wet doelbewus geskend het, want daar is aan God se volk gesê: “Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.”—Levitikus 17:10-14.
Het koning Saul se soldate die Wet doelbewus oortree? Het hulle die Goddelike wet ten opsigte van bloed net geheel en al verontagsaam?—Vergelyk Numeri 15:30.
Dit is nie noodwendig die geval nie. Die verslag sê dat hulle ‘die diere op die grond geslag het en dit met bloed en al geëet het’. Hulle het dus moontlik die bloed probeer dreineer (Deuteronomium 15:23). Maar omdat hulle uitgeput en baie honger was, het hulle nie die karkasse opgehang en genoeg tyd toegelaat sodat die bloed behoorlik kon dreineer nie. Hulle het die kleinvee en beeste “op die grond” geslag, wat die dreinering kon vertraag het. En hulle het haastig vleis van karkasse afgesny wat moontlik in bloed gelê het. Al wou hulle dus God se wet gehoorsaam het, het hulle nie die regte of voldoende stappe gedoen nie.
Die gevolg was dat ‘die manskappe dit met bloed en al geëet het’, wat ’n sonde was. Saul het dit besef en het beveel dat ’n groot klip na hom toe gerol moes word. Hy het die soldate beveel: “Bring na my elkeen sy bees en elkeen sy stuk kleinvee, en slag dit hier en eet; maar besondig julle nie teen die HERE deur met bloed en al te eet nie” (1 Samuel 14:33, 34). Die skuldige soldate het dit gedoen en “Saul het vir die HERE ’n altaar gebou”.—1 Samuel 14:35.
Deur die diere op die klip te slag, kon die bloed waarskynlik behoorlik dreineer. Die diere se vleis sou weg van die slagplek af geëet word. Saul het moontlik van die gedreineerde bloed op die altaar gebruik om God se genade te verkry vir diegene wat gesondig het. Jehovah het genade betoon, omdat hy blykbaar geweet het dat die soldate, hoewel hulle baie moeg en honger was, die bloed probeer dreineer het. God het moontlik ook in ag geneem dat Saul se impulsiewe eed sy manskappe in daardie desperate situasie ingedryf het.
Hierdie verslag toon wel dat ’n noodsituasie nie ’n verskoning is om Goddelike wette te verontagsaam nie. Dit moet ons ook help om te sien hoe belangrik dit is om goed na te dink voordat ons ’n eed aflê, want ’n impulsiewe eed kan vir ons sowel as vir ander probleme skep.—Prediker 5:3-5.