Kosteliker as korale
Al hoe meer besoekers raak in vervoering oor pragtige tonele soos hierdie een wat in die waters van die Rooi See aangetref word.
Snorkelduikers wat in die helder water rondswem, vind die tallose visse wat met al die kleure en skakerings van die reënboog getooi is betowerend. Maar let op dat daar buiten die kleurryke visse wat hier gesien kan word ander treffende ondersese wonders is, waaronder helderkleurige korale.
Die pragtige korale kom in baie vorms en kleure voor. Soos jy jou kan voorstel, was pragtige stukke koraal selfs in antieke tye iets baie kosbaars. Vakmanne het dit gebruik om pragtige ornamente mee te maak, en Bybelskrywers het korale saam met goud, silwer en robyne gemeld (Spreuke 3:14, 15; Esegiël 27:16). Maar daardie skrywers help ons om verder te kyk as net die prag en waarde van korale self.
Hulle het beklemtoon dat party dinge selfs kosbaarder is en dat ons groter waarde daaraan moet heg. ’n Goeie, deugsame vrou word onder andere gemeld, want ons lees: “Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale” (Spreuke 31:10). Is jy ’n getroude man? Kyk weer na hierdie pragtige korale en vra jou af of jy jou vrou die waardering gee wat sy verdien.
Of ons nou mans of vroue is, getroud of ongetroud, wanneer ons na pragtige korale kyk, behoort dit ons te help besef dat Goddelike wysheid, onderskeidingsvermoë en kennis van selfs groter waarde is. God se Woord sê: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand [“onderskeidingsvermoë”, NW] verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.”—Spreuke 3:13-15; 8:11.
Of ons hulle dus sien deur self te gaan duik en of ons hulle op ’n foto sien, die korale van die Rooi See moet nie net vir ons pragtig wees nie, maar ons ook van nuttige stof tot nadenke voorsien.