Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 4/15 bl. 4-7
  • Waar kan jy betroubare leiding vind?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar kan jy betroubare leiding vind?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gemaak om Goddelike leiding te ontvang
  • Goddelike bron van die Bybel
  • Altyd nuttig—nooit nadelig nie
  • ’n Seker toekoms vir diegene wat God se leiding volg
  • Soek God se leiding in alles
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Is daar ’n betroubare gids wat jou kan help om ’n beter toekoms te hê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
  • Waarom moet jy jou tot die Bybel wend vir leiding?
    Ontwaak!—2006
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 4/15 bl. 4-7

Waar kan jy betroubare leiding vind?

“EK WEET, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie. Tugtig my, HERE.”—Jeremia 10:23, 24.

Die Bybelskrywer Jeremia het hierdie woorde sowat 25 eeue gelede geskryf. Die haglike toestand waarin die mens hom nou ná duisende jare van menslike leiding bevind, lewer bewys van die onbetwisbare waarheid van hierdie woorde. Maar jy vra moontlik: ‘Waar kan betroubare leiding gevind word?’

Die teks wat hierbo aangehaal word, dui op ’n bron van betroubare leiding wat baie hoër as die mens is—die mens se Skepper, Jehovah God. Niemand ken tog die mens se samestelling en sy behoeftes beter as ons Skepper nie. Maar stel God daarin belang om ons sulke leiding en rigsnoere te gee? Hoe doen hy dit? Is dit prakties vir die tye waarin ons lewe?

Gemaak om Goddelike leiding te ontvang

Dit is ’n welbekende feit dat ’n belangrike verskil wat die mens van diere onderskei met die struktuur, vermoë en funksies van die mensebrein verband hou. In diere is byna al die breinfunksies geprogrammeer sodat dit as instinktiewe wysheid bekend staan. Dit is nie die geval met mense nie.—Spreuke 30:24-28, vgl. NW.

Anders as die brein van diere, bevat ’n groot deel van die mensebrein geen vasgestelde programme nie. God het die mens wilsvryheid gegee, en dit stel hom in staat om intelligente besluite te neem en voortreflike eienskappe soos liefde, vrygewigheid, onselfsugtigheid, geregtigheid en wysheid aan die dag te lê.

Is dit logies om te dink dat God die mens met so ’n verstandelike vermoë sou skep sonder om hom enige leiding te gee oor hoe hy dit ten beste kan benut? God het die eerste mense direkte leiding gegee (Genesis 2:15-17, 19; 3:8, 9). Selfs ná die mens se sondeval het Jehovah aangehou om getroue manne en vroue te lei, en hy het dit veral deur sy eie, geïnspireerde Woord, die Bybel, gedoen (Psalm 119:105). Dit stel mense in staat om die daaglikse lewensprobleme met welslae die hoof te bied terwyl hulle hulle wilsvryheid verstandig gebruik.

Goddelike bron van die Bybel

Wat maak die Bybel ’n betroubare bron van leiding? Om maar een ding te noem, dit bevat inligting wat net die Skepper kan voorsien. Dit skets die geskiedenis van gebeure wat lank voor die begin van menselewe plaasgevind het. Dit vertel byvoorbeeld die geskiedenis van hoe die aarde in opeenvolgende stappe gereed gemaak is totdat dit geskik was om menselewe te onderhou (Genesis, hoofstukke 1, 2). Hoewel dit meer as 3 000 jaar gelede in die Bybel opgeteken is, strook dit met hedendaagse wetenskaplike begrippe.

Nog lank voor die mensdom oor die algemeen aanvaar het dat die aarde rond is, het die Bybel gesê: ‘God span die noorde uit oor die chaos en hang die aarde op oor ’n niks’ (Job 26:7). Die Bybel openbaar boonop die volgende: “Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane” (Jesaja 40:22). Net God, die Skepper, kon hierdie besonderhede verskaf het.

Die mens het nie die gawe ontvang om te kan sien wat in die toekoms gaan gebeur nie. Dit is eerder die Skepper wat die toekoms deur die bladsye van die Bybel voorspel. God het die profeet Jesaja geïnspireer om oor Hom te skryf: “Ek [is] God . . . en daar is geen ander nie; . . . en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie.”—Jesaja 46:9, 10.

Die Bybel het bewys dat dit die einde van die begin af met verbasende akkuraatheid kan voorspel. Dit het byvoorbeeld die opkoms, die val en die kenmerke van die vernaamste wêreldmagte gedurende duisende jare van mensegeskiedenis voorspel. Hierdie merkwaardige profesieë is geskryf honderde jare, en in sommige gevalle duisende jare, voor hulle vervul is. Die Bybel gee dus ’n akkurate voorspelling van hedendaagse gebeure asook wat die uiteinde daarvan sal wees. Die Bybel is ook uniek omdat dit die weg aandui wat tot oorlewing sal lei gedurende die vernietiging van onvolmaakte, mensgemaakte regerings tydens Armageddon, “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. God se Koninkryk in die hande van sy Seun, Jesus Christus, sal daardie groot daad verrig.—Openbaring 16:14, 16; 17:9-18; Daniël, hoofstukke 2, 8.

Altyd nuttig—nooit nadelig nie

Blote mensewysheid is onvolmaak; daarom is mense se raad nie altyd nuttig nie, al word dit met goeie bedoelings gegee. Dit is nie die geval met die Bybel se raad nie. God self sê: “Ek is die HERE . . . wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan. Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18.

Goddelike leiding help ons om prioriteite te stel en hoë waardes in die lewe te handhaaf. Terwyl die hedendaagse gemeenskap materiële prestasies en doelwitte beklemtoon, benadruk die Bybel hoe nuttig dit is as ons “nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Korinthiërs 4:18). Sodoende word ons aangemoedig om die beste doelwitte in die lewe te hê, naamlik geestelike doelwitte met betrekking tot die doen van God se wil, terwyl ons einddoelwit die ewige lewe in ’n regverdige nuwe stelsel is.

Terwyl die Christen hom inspan om hierdie verhewe doelwitte na te strewe, help Bybelraad hom om die heel beste soort lewe moontlik in hierdie goddelose stelsel van dinge te hê. Die hedendaagse menslike wysheid is geneig om die filosofie van die minste werk vir die meeste geld te bevorder. Daarteenoor sê die Bybel vir ons: “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.” Die apostel Paulus het aan die Hebreeuse Christene geskryf: “Ons het die vertroue dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra.”—Spreuke 10:4; Hebreërs 13:18, NW.

Die Bybel gee ook praktiese raad oor die gesinsreëling. Dit sê spesifiek wat die rol van die man sowel as die vrou in die huweliksreëling is, asook wat die regte manier is om die kinders groot te maak en te onderrig. Dit sê: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. . . . En die vrou moet die man eerbiedig. Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees . . . En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” As die Skepper se voortreflike raad gevolg word, dra dit grootliks tot die stabiliteit en geluk van gesinne by.—Efesiërs 5:21–6:4.

’n Seker toekoms vir diegene wat God se leiding volg

God se geskrewe Woord toon hoe God al die mensdom se probleme gaan oplos. Jehovah God sal in die nabye toekoms die huidige stelsel van dinge, met al sy pyn, ongeregtigheid en lyding, uit die weg ruim en dit met sy regverdige nuwe stelsel vervang. Die Bybel beskryf dit in 2 Petrus 3:7-10 en voeg in vers 13 by: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” Dit is verreweg die beste nuus wat vir die mensegesin gegee kan word. Dit is presies die boodskap wat die Bybel bevat en wat Jehovah se Getuies in meer as 200 lande en eilande van die see verkondig.

Wanneer God se wil op die hele aarde gedoen word, sal die ganse mensegesin daarby baat vind om die uitstekende leiding van hulle Skepper, Jehovah, te volg. Daar sal nie meer probleme soos armoede, misdaad en dwelms wees nie. Die mens sal ook nie meer deur siekte, ouderdom en die dood geteister word nie. Die mensegesin sal tot die volmaaktheid opgehef word wat ons eerste ouers gehad het voor hulle teen God se leiding in opstand gekom het.

Hoe goed som die laaste Bybelboek tog nie die gelukkige toestand op van diegene wat hulle vertroue in Goddelike leiding stel nie! Openbaring 21:4, 5 sê: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Ons Skepper het dit gewaarborg en gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Hy voeg by: “Hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”

Wat verwag God van ons as ons hierdie seëninge wil ontvang? Die apostel Paulus verduidelik dat dit God se wil is dat “alle mense gered word en tot [“juiste”, NW] kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:4). Jehovah se Getuies nooi jou hartlik uit om daardie juiste kennis van die waarheid deur ’n deeglike studie van die Bybel te verkry. Deur ywerig van die Goddelike wil te leer, kan jy ook deur ondervinding uitvind dat goddelike wysheid die enigste betroubare leiding in hierdie gevaarlike tye is. Die dringendheid van die tye maak dit nou noodsaakliker as ooit om dit te volg!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel