Het menslike leiding misluk?
WIE het alle dinge geskep? As jou antwoord “God” is, bevind jy jou in die geselskap van miljoene wat in die God van die Bybel, die Skepper, glo.
Baie wat in God glo, vind dit egter moeilik om te aanvaar dat hy daadwerklik daarby betrokke is om die mensdom se probleme op te los. Is dit realisties om te dink dat God met ’n program besig is wat vir die mensdom verligting sal bring? Baie meen dat daar geen gegronde bewys vir so iets bestaan nie.
Die mens eksperimenteer al duisende jare lank met tallose selfhelpmetodes in sy soeke na oplossings, terwyl hy God heeltemal buite rekening laat. Maar het die mens die oplossings gevind? Of raak die probleme al hoe ernstiger en moeiliker om op te los? Wat doen die mens in verband met die ernstige probleme wat vandag in die wêreld bestaan?
Een deskundige stel dit so: “Sedert die Industriële Revolusie het die ontwikkelde lande die wêreld se natuurlike hulpbronne deur onvolhoubare produksie- en verbruikspatrone oorbenut en die wêreldomgewing tot nadeel van die ontwikkelende lande beskadig.”
Die mens hou aan om die aarde te verniel. Die Argentynse koerant Clarín het gesê: “In die tweede helfte van hierdie eeu was ekonomiese hebsug, die gebrek aan oordeelkundigheid sowel as nalatigheid verantwoordelik vir groot rampe wat nie net menslike slagoffers geëis het nie, maar ook soms die omgewing in ’n onberekenbare mate verniel het.”
Uiterste armoede maak nou blykbaar permanent deel van die hedendaagse gemeenskap uit. Selfs die sogenoemde ryk lande van die wêreld knak onder die oorweldigende druk van armoede. Volgens The Globe and Mail van Toronto, Kanada, word daar geskat dat “’n derde van alle Kanadese die een of ander tyd in hulle werksjare armoede sal ly”. Die koerant voeg by dat “gesinsverbrokkeling een van die hoofredes vir armoede is en dat hierdie tendens in onlangse jare toegeneem het”.
Dwelmmisbruik is nog ’n kenmerk van ’n gemeenskap wat agteruitgaan. Wat kan die mens daaromtrent doen? Blykbaar oor die algemeen bloedweinig. Miljoene gaan steeds liggaamlik, verstandelik en sedelik agteruit as ’n regstreekse gevolg van hulle dwelmmisbruik. En die probleem versprei soos ’n veldbrand.
Dit lyk of wetenskaplikes die stryd teen siektes verloor. Die moderne tegnologie het weliswaar al baie oorwinnings behaal. Tog het party wetenskaplike prosedures al self bygedra tot die verskyning van gevaarlike, nuwe soorte mikrobes wat teen medisyne bestand is.
Menseregerings kan nie die algemene skending van menseregte keer nie. Ondanks die baie beloftes en wette wat ingestel word om slawerny te voorkom, word daar byvoorbeeld geskat dat meer as honderdmiljoen mense wêreldwyd noodgedwonge onder toestande werk wat op volslae slawerny neerkom.
Maar waarom het menslike leiding misluk? Beskou hierdie faktore. Menslike leiding kom van mense af—mense wat ernstige beperkings het. Hulle lewensondervinding is betreklik kort en word gewoonlik deur sekere kulture of omgewings beperk. Hulle kennis is ook beperk. Die leiding wat hulle gee, weerspieël altyd daardie beperkinge. Soos die apostel Paulus gesê het: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”—Romeine 3:23.
Die meeste van die probleme en moeilikhede wat deur die oorgrote meerderheid van die mensdom ondervind word, is in werklikheid die direkte of indirekte gevolg van die verontagsaming van God se leiding. Maar waar kan sulke leiding gevind word? Hoe voorsien God ons vandag van leiding? Die volgende artikel sal die antwoorde verstrek.