Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 4/15 bl. 8-13
  • Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Les uit die geskiedenis
  • ’n Profesie oor ons tye
  • Maai ryk voordele
  • Lewe ons werklik in “die laaste dae”?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • God se voorneme gaan binnekort verwesenlik word
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Lewe ons in “die laaste dae”?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wat beteken dit alles?
    Hou aan waak!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 4/15 bl. 8-13

Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye

“Weet dit, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. . . . Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word.”—2 TIMOTHEÜS 3:1, 13, NW.

1, 2. Waarom moet ons belangstel in watter leringe ons volg?

WORD jy gehelp, of word jy benadeel? Word jou probleme opgelos, of word hulle vererger? Waardeur? Deur leringe. Ja, die dinge wat jy geleer word, kan jou lewe grootliks ten goede of ten kwade beïnvloed.

2 Drie mede-professore het onlangs ’n studie hiervan gemaak en hulle bevindings in die Journal for the Scientific Study of Religion bekend gemaak. Hulle het weliswaar miskien nie ’n studie van jou of jou gesin gemaak nie. Maar hulle bevindings het getoon dat daar beslis ’n verband is tussen die dinge wat ’n mens geleer word en jou welslae, of jou onvermoë, om ons kritieke tye die hoof te bied. Ons sal hulle bevindings in die volgende artikel bespreek.

3, 4. Wat is sommige van die bewyse dat ons in kritieke tye lewe?

3 Maar beskou eers hierdie vraag: Stem jy saam dat ons in tye lewe wat moeilik is om deur te kom? Indien wel, sien jy ongetwyfeld die dinge raak wat bewys dat ons ons wel in ‘kritieke tye bevind wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timotheüs 3:1-5, NW). Mense word op verskillende maniere daardeur geraak. Jy weet waarskynlik byvoorbeeld van lande wat tans uitmekaar geskeur word terwyl verskillende faksies veg om die politieke oorhand te kry. Op ander plekke is godsdiens- of etniese verskille vir die slagting verantwoordelik. En dit is nie net soldate wat daaronder ly nie. Dink aan die tallose vroue en meisies wat wreed mishandel is of die bejaardes wat sonder voedsel, verwarming en onderdak gelaat is. Ongetelde menigtes kry uiters swaar, wat tot groot massas vlugtelinge en talle verwante ellendes lei.

4 Ons tye word ook gekenmerk deur ekonomiese probleme wat lei tot fabrieke wat toemaak, werkloosheid, verlies van voordele en pensioene, ’n daling in die waarde van geld en kleiner of minder maaltye. Kan jy aan nog probleme dink? Waarskynlik. Miljoene ander oor die aarde heen ly as gevolg van voedseltekorte en siektes. Jy het waarskynlik al grusame foto’s van uitgeteerde mans, vrouens en kinders uit Oos-Afrika gesien. Miljoene mense in Asië is in dieselfde bootjie.

5, 6. Waarom kan daar gesê word dat siekte ook ’n uiters belangrike aspek van ons kritieke tye is?

5 Ons het almal al gehoor van skrikwekkende siektes wat aan die toeneem is. Op 25 Januarie 1993 het The New York Times gesê: “Die vigs-epidemie van Latyns-Amerika wat te midde van seksuele promiskuïteit, skynheiligheid en lukrake voorkoming voortwoeker, sal binnekort groter wees as dié van die Verenigde State . . . Die toename is grootliks te wyte aan die stygende besmettingsyfer onder . . . vroue.” In Oktober 1992 het die U.S.News & World Report gesê: “Dit was slegs twee dekades gelede dat die Amerikaanse geneesheer-generaal een van die grootste oorwinnings van alle tye op die gebied van openbare gesondheid verwelkom het en gesê het dat die tyd aangebreek het om ‘die boek oor aansteeklike siektes toe te maak’.” Maar wat is tans die geval? “Hospitale word weer eens oorstroom deur slagoffers van plae wat kamtig oorwin is. . . . Mikrobes ontwikkel selfs slimmer genetiese strategieë wat hulle in staat stel om vinniger te ontwikkel as wat nuwe antibiotikums ontwikkel kan word. . . . ‘Ons gaan ’n nuwe tydperk van aansteeklike siektes binne.’”

6 As een voorbeeld hiervan het die Newsweek van 11 Januarie 1993 berig: “Malariaparasiete besmet tans jaarliks ’n geraamde 270 miljoen mense en veroorsaak die dood van tot 2 miljoen . . . en maak minstens 100 miljoen mense ernstig siek. . . . Terselfdertyd raak die siekte al hoe meer bestand teen vorige geneesmiddels. . . . Sommige vorme van die siekte sal binnekort dalk onbehandelbaar wees.” Dit laat ’n mens sidder.

7. Hoe reageer baie vandag op die moeilike tye?

7 Jy het moontlik al opgemerk dat baie mense in hierdie kritieke tye wat moeilik is om deur te kom, hulp soek om hulle probleme op te los. Dink aan diegene wat hulle wend tot boeke wat raad gee oor hoe om stres of die een of ander nuwe siekte die hoof te bied. Ander soek wanhopig raad oor ’n huwelik wat op die rotse afstuur, kindersorg, drank- of dwelmprobleme of oor hoe hulle ’n balans kan vind tussen die eise wat hulle betrekking aan hulle stel en die druk wat hulle tuis ondervind. Ja, hulle het beslis hulp nodig! Worstel jy met ’n persoonlike probleem of ervaar jy dalk van die ontberinge wat deur oorlog, hongersnood of ’n ramp veroorsaak is? Al lyk dit ook of daar geen oplossing vir ’n ernstige probleem is nie, het jy rede om te vra: ‘Waarom het ons so ’n kritieke stadium bereik?’

8. Waarom moet ons ons tot die Bybel wend vir insig en leiding?

8 Voordat ons ons probleme met welslae die hoof kan bied en nou en in die toekoms bevrediging uit die lewe kan put, moet ons weet waarom ons voor sulke kritieke tye te staan gekom het. Om die waarheid te sê, dit gee iedereen van ons rede om die Bybel te raadpleeg. Waarom vestig ons die aandag op die Bybel? Omdat slegs die Bybel akkurate profesieë bevat, geskiedenis wat neergeskryf is voordat dit gebeur het, wat ons inlig oor die oorsake van ons benarde toestand, waar ons ons in die tydstroom bevind en wat die toekoms vir ons inhou.

’n Les uit die geskiedenis

9, 10. Hoe is Jesus se profesie in Mattheüs hoofstuk 24 in die eerste eeu vervul?

9 Die Wagtoring van 15 Februarie 1994 het ’n merkwaardige hersiening van Jesus se aanskoulike profesie in Mattheüs hoofstuk 24 voorsien. As jy jou Bybel by daardie hoofstuk oopmaak, kan jy in vers 3 sien dat Jesus se apostels ’n teken aangaande sy toekomstige teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge gevra het. Daarna het Jesus, in verse 5 tot 14, valse Christusse, oorloë, hongersnode, die vervolging van Christene, wetteloosheid en ’n uitgebreide verkondiging van God se Koninkryk voorspel.

10 Die geskiedenis toon dat hierdie dinge inderdaad gedurende die voleinding van die Joodse stelsel van dinge gebeur het. Sou dit nie vir jou moeilike tye gewees het indien jy destyds gelewe het nie? Dinge het egter op ’n klimaks afgestuur—’n ongeëwenaarde verdrukking wat oor Jerusalem en die Joodse stelsel sou kom. In vers 15 begin ons lees van die dinge wat gebeur het nadat die Romeine Jerusalem in 66 G.J. aangeval het. Daardie gebeure het ’n klimaks bereik in die verdrukking waarvan Jesus in vers 21 melding gemaak het—die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J., die ergste verdrukking wat nog oor daardie stad gekom het. Maar soos jy weet, het die geskiedenis nie destyds geëindig nie, en Jesus het ook nie gesê dit sou nie. In verse 23 tot 28 het hy getoon dat daar ander dinge ná die verdrukking van 70 G.J. sou plaasvind.

11. Hoe hou die eerste-eeuse vervulling van Mattheüs hoofstuk 24 met ons dag verband?

11 Party is vandag dalk geneig om ongeërg oor sulke gebeure uit die verlede te sê: ‘En wat daarvan?’ Hulle begaan ’n fout as hulle dit doen. Die destydse vervulling van profesieë is van uiterste belang. Waarom? Wel, die oorloë, hongersnode, aardbewings, plae en vervolging gedurende die voleinding van die Joodse stelsel sou ná die verstryking van “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 ’n groter vervulling hê (Lukas 21:24, NW). Baie wat vandag nog leef, was ooggetuies van die Eerste Wêreldoorlog toe hierdie hedendaagse vervulling begin het. Maar al is jy ná 1914 gebore, het jy die vervulling van Jesus se profesie sedertdien gesien. Die gebeure van hierdie 20ste eeu bewys onteenseglik dat ons nou in die voleinding van hierdie teenswoordige goddelose stelsel lewe.

12. Wat kan ons volgens Jesus verwag om nog te sien?

12 Dit beteken dat “die verdrukking” van Mattheüs 24:29 vir ons voorlê. Dit sal tekens aan die hemele insluit wat ’n mens jou nie kan voorstel nie. Vers 30 toon dat mense dan ’n ander teken sal sien—’n teken wat bewys dat vernietiging op hande is. Volgens die parallelle verslag in Lukas 21:25-28 sal ‘mense se harte dan beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom’. Lukas se verslag sê ook dat Christene dan hulle hoofde sal ophef omdat hulle verlossing baie naby is.

13. Watter twee hoofpunte verdien ons aandag?

13 ‘Dit is alles goed en wel’, sê jy miskien, ‘maar ek het gedink die vraag is: Hoe kan ek ons moeilike tye verstaan en daarvoor gereed wees?’ Jy het gelyk. Ons eerste punt is om hoofprobleme te identifiseer en te sien hoe ons hulle kan vermy. Die tweede punt hang hiermee saam, en dit is hoe skriftuurlike leringe ons kan help om nou ’n beter lewe te geniet. Maak in hierdie verband jou Bybel oop by 2 Timotheüs hoofstuk 3, en kyk hoe die apostel Paulus se woorde jou kan help om deur die moeilike tye te kom.

’n Profesie oor ons tye

14. Waarom is daar rede om te glo dat ’n bespreking van 2 Timotheüs 3:1-5 vir ons nuttig kan wees?

14 God het Paulus geïnspireer om aan die lojale Christen Timotheüs te skryf en hom die baie goeie raad te gee wat hom gehelp het om ’n suksesvoller en gelukkiger lewe te lei. ’n Deel van wat Paulus geskryf het, sou hoofsaaklik op ons dag van toepassing wees. Al meen jy dat jy goed met hierdie profetiese woorde vertroud is, kan jy dit gerus aandagtig in 2 Timotheüs 3:1-5 (NW) volg. Paulus het geskryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”

15. Waarom moet 2 Timotheüs 3:1 nou vir ons van spesiale belang wees?

15 Let asseblief op dat daar 19 dinge opgenoem word. Voordat ons hierdie dinge ondersoek en dit ons tot nut kan wees, kan ons gerus eers ’n geheelbeeld kry. Kyk na vers 1. Paulus het voorspel: ‘In die laaste dae sal daar kritieke tye wees wat moeilik is om deur te kom.’ Watter “laaste dae”? Daar was al baie laaste dae, soos die laaste dae van eertydse Pompeji of die laaste dae van ’n koning of ’n vorstehuis. Selfs die Bybel maak melding van etlike laaste dae, soos die laaste dae van die Joodse stelsel (Handelinge 2:16, 17). Jesus het egter die grondslag gelê sodat ons kan verstaan dat “die laaste dae” wat Paulus hier genoem het na ons tyd verwys.

16. Watter situasie het die gelykenis oor die koring en die onkruid vir ons tyd voorspel?

16 Jesus het dit met ’n gelykenis oor koring en onkruid gedoen. Dit is in ’n land gesaai en toegelaat om te groei. Hy het gesê die koring en die onkruid stel mense voor—ware Christene en valse Christene. Ons meld hierdie gelykenis omdat dit bewys dat ’n lang tydperk sou verloop vóór die voleinding van die ganse goddelose stelsel. Wanneer dit aanbreek, sou iets volop voorkom. Wat? Afvalligheid, oftewel die versaking van die ware Christelike geloof, wat ’n groot oes van goddeloosheid sou voortbring. Ander Bybelprofesieë bevestig dat dit gedurende die laaste dae van die goddelose stelsel sou gebeur. Dit is waar ons ons bevind, aan die voleinding van die stelsel van dinge.—Mattheüs 13:24-30, 36-43.

17. Watter parallelle inligting voorsien 2 Timotheüs 3:1-5 vir ons oor die voleinding van die stelsel van dinge?

17 Besef jy wat dit beteken? Tweede Timotheüs 3:1-5 toon insgelyks aan ons dat Christene gedurende die voleinding van die stelsel, of die laaste dae, deur slegte vrugte omring sou wees. Paulus het nie gesê dat die 19 dinge wat hy opgenoem het die vernaamste manier sou wees om te bewys dat die laaste dae aangebreek het nie. Hy het eerder gewaarsku teen die dinge waarmee ons gedurende die laaste dae te kampe sou hê. Vers 1 praat van “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”. Hierdie uitdrukking kom uit die Grieks, en dit beteken letterlik “vasgestelde tye wreed” (Kingdom Interlinear). Stem jy saam dat “wreed” die situasie waarmee ons vandag te kampe het raak beskryf? Hierdie geïnspireerde Skrifgedeelte gee voorts Goddelike insig vir ons tyd.

18. Waarop moet ons veral let wanneer ons Paulus se profetiese woorde bestudeer?

18 Ons stel in hierdie profesie belang om tragiese voorbeelde te identifiseer wat wys hoe kritiek, of wreed, ons tyd is. Onthou ons twee hoofpunte: (1) om die probleme te identifiseer wat ons tye moeilik maak en om te sien hoe ons hulle kan vermy; (2) om leringe te volg wat waarlik prakties is en wat ons kan help om ’n beter lewe te geniet. Pleks van negatiewe dinge te beklemtoon, gaan ons dus die aandag vestig op leringe wat ons en ons gesin kan help in hierdie kritieke tye wat moeilik is om deur te kom.

Maai ryk voordele

19. Watter bewyse sien jy dat mense liefhebbers van hulleself is?

19 Paulus begin sy lys deur te voorspel dat mense in die laaste dae “liefhebbers van hulleself” sal wees (2 Timotheüs 3:2). Wat het hy bedoel? Jy kan tereg sê dat daar deur die geskiedenis heen nog altyd verwaande, selfsugtige manne en vroue was. Daar bestaan egter geen twyfel dat hierdie slegte eienskap vandag besonder algemeen voorkom nie. En in baie mense kom dit in die ergste graad voor. Dit is so te sê die reël in die politieke en sakewêreld. Manne en vroue jaag tot elke prys mag en roem na. Dit is gewoonlik ten koste van ander, want hierdie liefhebbers van hulleself gee nie om hoe hulle optrede ander benadeel nie. Hulle is gou om ander geregtelik te vervolg of om hulle te bedrieg. Jy kan verstaan waarom baie mense dit die “ek-geslag” noem. Verwaande en egosentriese mense is volop.

20. Hoe vorm Bybelse raad ’n teenstelling met die heersende gees van liefhebbers van self?

20 Ons hoef nie herinner te word aan onaangename ondervindinge wat ons gehad het toe ons met mense te doen gehad het wat “liefhebbers van hulleself” is nie. Dit is nogtans waar dat die Bybel ons in werklikheid help deur hierdie probleem duidelik te identifiseer, want dit leer ons hoe om hierdie strik te vermy. Dit is wat die Bybel sê: “Moenie enigiets doen uit selfsugtige ambisie of uit ’n ydele begeerte om te roem nie, maar wees nederig teenoor mekaar, en ag ander altyd beter as jouself. En sien na mekaar se belange om, nie net na jou eie nie.” “Moenie meer van jouself dink as wat jy behoort te dink nie. Wees eerder beskeie in jou denke.” Hierdie uitstekende raad word gevind in Filippense 2:3, 4 en Romeine 12:3, soos weergegee in die Today’s English Version.

21, 22. (a) Watter algemene bewys is daar dat sulke raad vandag nuttig kan wees? (b) Watter uitwerking het God se raad op gewone mense gehad?

21 Iemand sê dalk: ‘Dit klink goed, maar dit is nie prakties nie.’ O, ja, dit is. Dit kan werk, en dit werk vandag inderdaad vir gewone mense. In 1990 het die uitgewer vir die Universiteit van Oxford The Social Dimensions of Sectarianism gedruk. Hoofstuk 8 se opskrif is “Jehovah se Getuies in ’n Katolieke land”, en dit het ’n studie beskryf wat in België gedoen is. Ons lees: “Oor die positiewe trekkrag om ’n Getuie te word, benewens die trekkrag van ‘die Waarheid’ self, het respondente weer soms meer as een hoedanigheid genoem. . . . Hartlikheid, vriendelikheid, liefde en eenheid is hoedanighede wat die gereeldste genoem is, maar eerlikheid en persoonlike gedrag in ‘die navolging van Bybelse beginsels’ is ook hoedanighede wat die Getuies na aan die hart lê.”

22 Ons kan daardie algemene beskrywing met ’n foto vergelyk wat met ’n wyehoeklens geneem is; maar gestel jy gebruik ’n skuiflens, of ’n telefotolens, dan sal jy meer besonderhede sien, baie gevalle in die werklike lewe. Dit sou gevalle insluit van manne wat verwaand, baasspelerig of ontsettend selfsugtig was en wat nou sagmoediger is en eggenote en vaders geword het wat tere toegeneentheid en goedhartigheid teenoor hulle huweliksmaat, kinders en ander aan die dag lê. Dit sou ook gevalle insluit van vroue wat voorheen dominerend of ongevoelig was, maar wat ander nou help om die weg van die ware Christelike geloof te leer. Daar is honderdduisende sulke voorbeelde. Wees nou asseblief eerlik. Sou jy dit nie baie meer geniet om tussen sulke mense te wees as om voortdurend te doen te hê met manne en vroue wat hulleself allereerste liefhet nie? Sou dit dan nie makliker wees om ons kritieke tye die hoof te bied nie? Sou dit jou dan nie gelukkiger maak as jy hierdie dinge wat die Bybel ons leer, toepas nie?

23. Waarom sal dit die moeite werd wees om 2 Timotheüs 3:2-5 verder te ondersoek?

23 Maar ons het nog net die eerste punt op Paulus se lys in 2 Timotheüs 3:2-5 bespreek. Wat van die ander? Sal ’n noukeurige ondersoek daarvan jou ook help om die hoofprobleme van ons tyd te identifiseer sodat jy hulle kan vermy en kan insien watter optrede vir jou en jou geliefdes groter geluk sal verskaf? Die volgende artikel sal jou help om daardie vrae te beantwoord en ’n ryk seëning te verkry.

Punte om te onthou

◻ Wat is sommige bewyse dat ons in kritieke tye lewe?

◻ Waarom kan ons seker wees dat ons in die laaste dae lewe?

◻ Wat is twee hoofpunte wat ons uit ons studie van 2 Timotheüs 3:1-5 kry?

◻ Hoe het Bybelleringe Jehovah se volk gehelp gedurende hierdie tyd wanneer so baie mense liefhebbers van hulleself is?

[Foto-erkennings op bladsy 8]

Photo top left: Andy Hernandez/Sipa Press; photo bottom right: Jose Nicolas/Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel