Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 9/15 bl. 14-19
  • Voeg by julle volharding godvrugtige toegewydheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voeg by julle volharding godvrugtige toegewydheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat godvrugtige toegewydheid is
  • Hoe kweek ons godvrugtige toegewydheid aan?
  • Beoefen godvrugtige toegewydheid tuis
  • Godvrugtige toegewydheid en die bediening
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Streef godvrugtige toegewydheid as gedoopte Christene na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Welkom by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 9/15 bl. 14-19

Voeg by julle volharding godvrugtige toegewydheid

“Voeg by julle geloof . . . volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid.”—2 PETRUS 1:5, 6, NW.

1, 2. (a) Wat het van die dertigerjare af met Jehovah se Getuies in lande onder Nazi-bewind gebeur, en waarom? (b) Hoe het Jehovah se volk onder hierdie wrede behandeling gevaar?

DIT was ’n donker tydperk in die 20ste-eeuse geskiedenis. Van die dertigerjare af is duisende Getuies van Jehovah in lande onder Nazi-bewind ten onregte gearresteer en in konsentrasiekampe gegooi. Waarom? Omdat hulle die moed gehad het om neutraal te bly en geweier het om te sê: “Heil Hitler.” Hoe is hulle behandel? “Geen ander groep gevangenes . . . is so aan die sadisme van die SS-soldate onderwerp as die Bybelstudente [Jehovah se Getuies] nie. Dit was ’n sadisme wat gekenmerk is deur ’n eindelose reeks fisiese en geestelike martelings wat in geen taal ter wêreld beskryf kan word nie.”—Karl Wittig, ’n voormalige Duitse regeringsamptenaar.

2 Hoe het die Getuies gevaar? In haar boek The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity het dr. Christine E. King gesê: “Net teen die Getuies [in teenstelling met ander godsdiensgroepe] het die regering nie sukses behaal nie.” Ja, as ’n groep het Jehovah se Getuies standvastig gebly, al het dit vir honderde van hulle volharding tot die dood toe beteken.

3. Wat stel Jehovah se Getuies in staat om swaar beproewinge te deurstaan?

3 Wat het Jehovah se Getuies in staat gestel om, nie net in Nazi-Duitsland nie maar deur die hele wêreld, sulke beproewinge te deurstaan? Vanweë hulle godvrugtige toegewydheid help hulle hemelse Vader hulle om te volhard. “Jehovah weet hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos”, verduidelik die apostel Petrus (2 Petrus 2:9, NW). Vroeër in dieselfde brief het Petrus Christene aangespoor: “Voeg by julle geloof . . . volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid” (2 Petrus 1:5, 6, NW). Volharding hang dus ten nouste saam met godvrugtige toegewydheid. Trouens, as ons tot die einde toe wil volhard, moet ons ‘godvrugtige toegewydheid nastreef’ en dit aan die dag lê (1 Timotheüs 6:11, NW). Maar wat presies is godvrugtige toegewydheid?

Wat godvrugtige toegewydheid is

4, 5. Wat is godvrugtige toegewydheid?

4 Die Griekse selfstandige naamwoord vir “godvrugtige toegewydheid” (eu·seʹbei·a) kan letterlik as “goedvererend” vertaal word (2 Petrus 1:6, Kingdom Interlinear).a Dit dui op ’n hartlike, innige gevoel teenoor God. Volgens W. E. Vine dui die byvoeglike naamwoord eu·se·besʹ, wat letterlik “goedvererende” beteken, op “die ywer wat, beweeg deur ’n heilige ontsag vir God, uiting vind in toegewyde bedrywigheid”.—2 Petrus 2:9, Int.

5 Die uitdrukking “godvrugtige toegewydheid“ verwys derhalwe na die verering van of toegewydheid aan Jehovah wat ons beweeg om te doen wat hom behaag. Ons doen dit selfs wanneer ons voor swaar beproewinge te staan kom, omdat ons God uit die hart liefhet. Dit is ’n lojale, persoonlike gehegtheid aan Jehovah wat tot uiting kom in die manier waarop ons ons lewe lei. Ware Christene word aangespoor om te bid dat hulle “’n rustige en stil lewe kan lei in alle [“godvrugtige toegewydheid”, NW]” (1 Timotheüs 2:1, 2). Volgens die leksikograwe J. P. Louw en E. A. Nida “kan [eu·seʹbei·a] in 1 Tm 2.2 in etlike tale gepas vertaal word as ‘om te lewe soos God wil hê ons moet lewe’ of ‘om te lewe soos God gesê het ons moet lewe’”.

6. Wat is die verband tussen volharding en godvrugtige toegewydheid?

6 Ons kan nou beter verstaan wat die verband tussen volharding en godvrugtige toegewydheid is. Omdat ons lewe soos God wil hê ons moet lewe—met godvrugtige toegewydheid—haat die wêreld ons, en dít lei daartoe dat ons geloof gedurig op die proef gestel word (2 Timotheüs 3:12, NW). Maar ons sou nooit bereid gewees het om sulke beproewinge te verduur as dit nie vir ons persoonlike gehegtheid aan ons hemelse Vader was nie. Bowendien reageer Jehovah op sulke hartgrondige toegewydheid. Dink net hoe dit hom laat voel wanneer hy uit die hemele neerkyk en diegene sien wat hom, vanweë hulle toegewydheid aan hom, ondanks allerhande soorte teëstand probeer behaag. Dit is geen wonder dat hy bereid is om “mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” nie!

7. Waarom moet godvrugtige toegewydheid aangekweek word?

7 Maar ons word nie met godvrugtige toegewydheid gebore nie, en ons leer dit nie outomaties by godvrugtige ouers nie (Genesis 8:21). Dit moet eerder aangekweek word (1 Timotheüs 4:7, 10, NW). Ons moet ons daarop toelê om godvrugtige toegewydheid by ons volharding en by ons geloof te voeg. Dit, sê Petrus, verg “ywerige inspanning” (2 Petrus 1:5, NW). Hoe kan ons dan godvrugtige toegewydheid aankweek?

Hoe kweek ons godvrugtige toegewydheid aan?

8. Wat kan ons, volgens die apostel Petrus, help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek?

8 Die apostel Petrus het verduidelik wat ons kan help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek. Hy het gesê: “Mag onverdiende goedhartigheid en vrede vir julle vermeerder word deur ’n juiste kennis van God en van Jesus ons Heer, aangesien sy Goddelike mag ons vryelik al die dinge gegee het wat verband hou met die lewe en godvrugtige toegewydheid, deur die juiste kennis van die een wat ons deur heerlikheid en deug geroep het” (2 Petrus 1:2, 3, NW). As ons derhalwe godvrugtige toegewydheid by ons geloof en volharding wil voeg, moet ons toeneem in juiste, dit wil sê deeglike, of volkome, kennis van Jehovah God en Jesus Christus.

9. Watter illustrasie kan gebruik word om te toon dat juiste kennis van God en Christus meer behels as om net te weet wie hulle is?

9 Wat beteken dit om juiste kennis van God en Christus te hê? Dit behels ongetwyfeld meer as om net te weet wie hulle is. Ter toeligting: Jy weet moontlik wie jou buurman is en jy groet hom dalk selfs op sy naam. Maar sal jy hom ’n groot bedrag geld leen? Nie tensy jy werklik weet watter soort persoon hy is nie. (Vergelyk Spreuke 11:15.) Om juiste, of volkome, kennis van Jehovah en Jesus te hê, beteken eweneens meer as om net te glo dat hulle bestaan en hulle name te ken. As ons bereid gaan wees om selfs tot die dood toe beproewinge ter wille van hulle te deurstaan, moet ons hulle werklik intiem ken (Johannes 17:3). Wat behels dit?

10. Juiste kennis van Jehovah en Jesus behels watter twee dinge, en waarom?

10 Juiste, of volkome, kennis van Jehovah en Jesus behels twee dinge: (1) om hulle as persone te leer ken—hulle eienskappe, gevoelens en weë—en (2) om hulle voorbeeld te volg. Godvrugtige toegewydheid vereis ’n hartgrondige, persoonlike gehegtheid aan Jehovah en blyk duidelik uit die manier waarop ons ons lewe lei. As ons dit derhalwe wil aankweek, moet ons Jehovah persoonlik leer ken en so deeglik as wat menslik moontlik is met sy wil en weë vertroud raak. Om Jehovah, na wie se beeld ons geskep is, werklik te ken, moet ons sulke kennis gebruik en daarna strewe om soos hy te wees (Genesis 1:26-28; Kolossense 3:10). En aangesien Jesus Jehovah volmaak nagevolg het in wat hy gesê en gedoen het, is juiste kennis van Jesus ’n waardevolle hulpmiddel om godvrugtige toegewydheid aan te kweek.—Hebreërs 1:3.

11. (a) Hoe kan ons juiste kennis van God en Christus opdoen? (b) Waarom is dit belangrik om te peins oor wat ons lees?

11 Maar hoe kan ons sulke juiste kennis van God en Christus opdoen? Deur die Bybel en Bybelpublikasies ywerig te bestudeer.b Maar as ons wil hê dat ons persoonlike Bybelstudie ons moet help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek, is dit noodsaaklik dat ons tyd daaraan afstaan om te peins, dit wil sê om te besin, of na te dink, oor wat ons lees. (Vergelyk Josua 1:8.) Waarom is dit belangrik? Onthou dat godvrugtige toegewydheid ’n hartlike, innige gevoel teenoor God is. In die Skrif word bepeinsing herhaaldelik met die figuurlike hart—die innerlike mens—in verband gebring (Psalm 19:15; 49:4; Spreuke 15:28). Wanneer ons met waardering nadink oor wat ons lees, raak dit mettertyd die innerlike mens, wat dan weer ons gevoelens wek, ons emosies raak en ons denke beïnvloed. Slegs dan kan studie ons persoonlike gehegtheid aan Jehovah versterk en ons beweeg om, selfs ten spyte van moeilike omstandighede of swaar beproewinge, ons lewe te lei op ’n manier wat God behaag.

Beoefen godvrugtige toegewydheid tuis

12. (a) Hoe kan ’n Christen volgens Paulus godvrugtige toegewydheid tuis beoefen? (b) Waarom sorg ware Christene vir bejaarde ouers?

12 Godvrugtige toegewydheid moet tuis begin. Die apostel Paulus sê: “As enige weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om in hulle eie huisgesin godvrugtige toegewydheid te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë” (1 Timotheüs 5:4, NW). Die versorging van bejaarde ouers is, soos Paulus sê, ’n manier om godvrugtige toegewydheid te beoefen. Ware Christene voorsien hierdie sorg nie net uit ’n pligsgevoel nie, maar uit liefde vir hulle ouers. Maar hulle besef boonop hoe belangrik dit in Jehovah se oë is dat ’n mens vir jou gesin sorg. Hulle besef terdeë dat indien hulle hulle ouers ten tye van nood die rug sou toekeer dit net so ernstig sou wees as ‘om die geloof te verloën’.—1 Timotheüs 5:8.

13. Waarom kan dit ’n groot uitdaging wees om godvrugtige toegewydheid tuis te beoefen, maar watter bevrediging put ’n mens uit die versorging van jou ouers?

13 Dit is weliswaar nie altyd maklik om godvrugtige toegewydheid tuis te beoefen nie. Gesinslede woon dalk baie ver van mekaar af. Die volwasse kinders het miskien hulle eie gesin en sukkel moontlik om ’n bestaan te maak. Die soort of die hoeveelheid sorg wat ’n ouer nodig het, kan hoë eise stel aan die fisiese, verstandelike en emosionele gesondheid van diegene wat die sorg voorsien. Dit kan nietemin ware bevrediging meebring as ’n mens weet dat die versorging van jou ouers nie alleen “’n verskuldigde vergoeding” is nie, maar dat dit ook die Een behaag “van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang”.—Efesiërs 3:14, 15.

14, 15. Gee ’n voorbeeld van hoe godvrugtige kinders vir ’n ouer sorg.

14 Kom ons beskou ’n waarlik roerende voorbeeld. Dit is vir Ellis en vyf van sy broers en susters ’n groot uitdaging om hulle vader tuis te versorg. “In 1986 het my pa ’n beroerteaanval gehad, en nou is hy heeltemal verlam”, verduidelik Ellis. Die ses kinders dra almal by tot die versorging van hulle vader, wat onder andere behels dat hulle hom moet bad en hom gereeld moet omdraai sodat hy nie bedsere kry nie. “Ons lees vir hom, praat met hom, speel vir hom musiek. Ons is nie seker of hy weet wat om hom aangaan nie, maar ons behandel hom asof hy heeltemal van alles bewus is.”

15 Waarom sorg die kinders só vir hulle vader? Ellis sê voorts: “Ná ons moeder se dood in 1964 het my pa ons alleen grootgemaak. Op daardie tydstip het ons ouderdomme gewissel van 5 tot 14. Hy het toe vir ons gesorg; nou sorg ons vir hom.” Dit is beslis nie maklik om sulke sorg te voorsien nie, en die kinders raak wel soms mismoedig. “Maar ons besef dat my pa se toestand ’n tydelike probleem is”, sê Ellis. “Ons sien uit na die tyd wanneer my pa weer goeie gesondheid sal geniet en ons met my ma herenig kan word” (Jesaja 33:24; Johannes 5:28, 29). Sulke liefdevolle versorging van ’n ouer verbly gewis die hart van die Een wat kinders beveel om hulle ouers te eer!c—Efesiërs 6:1, 2.

Godvrugtige toegewydheid en die bediening

16. Wat moet die hoofrede wees vir wat ons in die bediening doen?

16 Wanneer ons Jesus se uitnodiging aanvaar om ‘hom te volg’, moet ons die Goddelike opdrag gehoorsaam om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Mattheüs 16:24; 24:14; 28:19). Dit is onteenseglik ’n Christelike verpligting om gedurende hierdie “laaste dae” aan die bediening deel te neem (2 Timotheüs 3:1). Maar ons moenie preek en mense onderrig net omdat ons voel dit is ons plig of dat ons gedwing word nie. Innige liefde vir Jehovah moet die hoofrede wees vir ons deelname aan die bediening sowel as vir hoeveel ons in die bediening doen. “Uit die oorvloed van die hart praat die mond”, het Jesus gesê (Mattheüs 12:34). Ja, wanneer ons hart oorloop van liefde vir Jehovah voel ons genoodsaak om vir ander oor hom te getuig. Wanneer liefde vir God ons beweegrede is, is ons bediening ’n betekenisvolle bewys van ons godvrugtige toegewydheid.

17. Hoe kan ons die regte beweegrede vir die bediening aankweek?

17 Hoe kan ons die regte beweegrede vir die bediening aankweek? Ons kan met waardering nadink oor drie redes wat Jehovah ons gegee het om hom lief te hê. (1) Ons het Jehovah lief vanweë die dinge wat hy reeds vir ons gedoen het. Hy kon nie groter liefde betoon het as om die losprys te voorsien nie (Mattheüs 20:28; Johannes 15:13). (2) Ons het Jehovah lief vanweë die dinge wat hy nou vir ons doen. Ons kan Jehovah met vrymoedigheid nader en hy verhoor ons gebede (Psalm 65:3; Hebreërs 4:14-16). Ons het die lewensbenodighede omdat ons Koninkryksbelange eerste stel (Mattheüs 6:25-33). Ons ontvang gereeld geestelike voedsel wat ons help om ons probleme die hoof te bied (Mattheüs 24:45). En ons geniet die seëning om ’n deel van ’n wêreldwye Christenbroederskap te wees wat ons werklik afskei van die res van die wêreld (1 Petrus 2:17). (3) Ons het Jehovah ook lief vanweë die dinge wat hy nog vir ons gaan doen. As gevolg van sy liefde het ons “’n stewige greep op die werklike lewe”—die ewige lewe in die toekoms (1 Timotheüs 6:12, 19, NW). Wanneer ons Jehovah se liefde vir ons in oënskou neem, sal ons hart ons sekerlik beweeg om ’n volle deelname daaraan te hê om ander van hom en sy kosbare voornemens te vertel! Ander sal nie vir ons hoef te sê wat of hoeveel ons in die bediening moet doen nie. Ons hart sal ons beweeg om te doen wat ons kan.

18, 19. Watter struikelblok het ’n suster oorkom om aan die bediening deel te neem?

18 ’n Hart wat deur godvrugtige toegewydheid beweeg word, sal selfs onder moeilike omstandighede wil praat. (Vergelyk Jeremia 20:9.) Dit word deur die geval van Stella, ’n baie skaam Christenvrou, toegelig. Toe sy die Bybel begin bestudeer het, het sy gedink: ‘Ek sal nooit van huis tot huis kan gaan nie!’ Sy verduidelik: “Ek was nog altyd baie stil. Ek kon nooit ’n gesprek met ander aanknoop nie.” Namate sy met haar studie voortgegaan het, het haar liefde vir Jehovah gegroei en het sy ’n brandende begeerte ontwikkel om met ander oor hom te praat. “Ek onthou toe ek vir my Bybelstudiehouer gesê het: ‘Ek wil so graag daaroor praat, maar ek kan eenvoudig nie, en dit kwel my werklik.’ Ek sal nooit vergeet wat sy vir my gesê het nie: ‘Stella, jy moet dankbaar wees dat jy wil praat.’”

19 Kort voor lank het Stella vir haar buurvrou begin getuig. Toe het sy ’n reusestap gedoen—sy het vir die eerste keer aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem (Handelinge 20:20, 21). Sy sê: “Ek het my aanbieding uitgeskryf. Hoewel ek dit voor my gehad het, was ek weens my vrees te senuweeagtig om af te kyk na my notas!” Nou, meer as 35 jaar later, is Stella steeds van nature baie skaam. Tog is sy lief vir die veldbediening en het sy nog steeds ’n betekenisvolle deelname daaraan.

20. Watter voorbeeld toon dat nie eens vervolging of gevangenskap toegewyde Getuies van Jehovah se mond kan snoer nie?

20 Nie eens vervolging of gevangenskap kan toegewyde Getuies van Jehovah se mond snoer nie. Neem as voorbeeld Ernst en Hildegard Seliger van Duitsland. Weens hulle geloof het hulle saam meer as 40 jaar in Nazi-konsentrasiekampe en Kommunistiese gevangenisse deurgebring. Selfs in die gevangenis het hulle aangehou om vir hulle medegevangenes te getuig. Hildegard sê: “Gevangenisowerhede het my as baie gevaarlik geklassifiseer, want, soos een vroulike bewaarder gesê het, ek het die hele dag oor die Bybel gepraat. Daarom is ek in ’n keldersel opgesluit.” Nadat hulle uiteindelik vrygelaat is, het broer en suster Seliger voltyds aan die Christelike bediening deelgeneem. Hulle het albei getrou gedien tot hulle dood toe—broer Seliger in 1985 en sy vrou in 1992.

21. Hoe kan ons godvrugtige toegewydheid by ons volharding voeg?

21 As ons God se Woord ywerig bestudeer en tyd daaraan afstaan om met waardering te peins oor wat ons leer, sal ons in juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus toeneem. Dit weer sal daartoe lei dat ons daardie kosbare eienskap—godvrugtige toegewydheid—in groter mate aankweek. Sonder godvrugtige toegewydheid kan ons nie die verskillende beproewinge verduur wat oor ons as Christene kom nie. Laat ons dus die apostel Petrus se raad toepas en voortgaan om ‘by ons geloof volharding te voeg en by ons volharding godvrugtige toegewydheid’.—2 Petrus 1:5, 6, NW.

[Voetnote]

a William Barclay sê aangaande eu·seʹbei·a: “Dit is die seb-gedeelte [die wortel] van die woord wat verering of aanbidding beteken. Eu is die Griekse woord vir goed; eusebeia is dus aanbidding, verering wat op ’n goeie of behoorlike manier gegee word.”—New Testament Words.

b Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1993, bladsye 12-17, vir ’n bespreking oor hoe studie ons kennis van God se Woord kan opbou.

c Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1987, bladsye 13-18, vir ’n volledige bespreking van hoe ’n mens godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers kan beoefen.

Wat is jou antwoord?

◻ Wat is godvrugtige toegewydheid?

◻ Wat is die verband tussen volharding en godvrugtige toegewydheid?

◻ Wat kan ons help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek?

◻ Hoe kan ’n Christen godvrugtige toegewydheid tuis beoefen?

◻ Wat moet die hoofrede wees vir wat ons in die bediening doen?

[Prent op bladsy 18]

Volharding en godvrugtige toegewydheid is aan die dag gelê deur Getuies van Jehovah wat in die Nazi-konsentrasiekamp by Ravensbrück gevange gehou is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel