Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/15 bl. 6-9
  • Die hel—Ewige marteling of gemeenskaplike graf?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die hel—Ewige marteling of gemeenskaplike graf?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die taalles
  • Interpretasies van helvuurbeskrywings
  • Skeiding van ’n teologiese tweeling
  • Hel
    Redenering uit die Skrif
  • Wat is die poel van vuur? Is dit dieselfde as die hel of Gehenna?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wat is die hel werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Is die hel ’n regte plek? Wat is die hel volgens die Bybel?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/15 bl. 6-9

Die hel—Ewige marteling of gemeenskaplike graf?

IS DAAR vir jou vertel dat die vroeë Kerkvaders, middeleeuse teoloë en Hervormers geredeneer het dat die folteringe wat in die hel ondervind word ewigdurend is? Indien wel, verbaas dit jou moontlik om te weet dat party hoogaangeskrewe Bybelkenners daardie beskouing nou bevraagteken. In Brittanje skryf een van hulle, John R. W. Stott, dat die “Skrif op vernietiging wys, en dat ‘ewige, bewuste foltering’ ’n tradisie is wat aan die hoogste gesag van die Skrif moet toegee”.—Essentials—A Liberal-Evangelical Dialogue.

Wat het hom tot die slotsom laat kom dat ewige foltering nie op die Bybel gegrond is nie?

Die taalles

Sy eerste argument berus op taal. Hy verduidelik dat wanneer die Bybel van die uiteindelike toestand van veroordeling (“Gehenna”; sien venster, bladsy 8) praat, dit dikwels woorde soos “vernietiging”, die Griekse “werkwoord apollumi (om te vernietig) en die selfstandige naamwoord apòleia (vernietiging)” gebruik. Verwys hierdie woorde na foltering? John R. W. Stott toon dat die werkwoord “apollumi” “doodmaak” beteken wanneer dit aktief en oorganklik is (Mattheüs 2:13; 12:14; 21:41). Wanneer die King James Version gevolglik in Mattheüs 10:28 sê dat God “siel sowel as liggaam in die hel” vernietig, is die inherente gedagte dié van vernietiging in die dood, nie in ewige lyding nie. In Mattheüs 7:13, 14 kontrasteer Jesus die ‘nou poort wat na die lewe lei’ met die ‘breë poort wat na die verderf lei’. John R. W. Stott sê: “Dit sal gevolglik eienaardig wees as mense wat vernietig moet word in werklikheid nie vernietig word nie.” Hy kom dus met reg tot die gevolgtrekking: “As doodmaak beteken dat die liggaam van lewe ontneem word, is die hel blykbaar die onthouding van fisiese sowel as geestelike lewe, dit is, ’n vernietiging van lewe.”—Essentials, bladsye 315-16.

Interpretasies van helvuurbeskrywings

Baie godsdienstige mense sal nogtans saamstem met die Suid-Baptistegenootskap se president, Morris H. Chapman, wat gesê het: “Ek verkondig ’n letterlike hel.” Hy het bygevoeg: “Die Bybel noem dit ’n ‘poel van vuur’ en ek dink nie dat daar op daardie definisie verbeter kan word nie.”

Dit is weliswaar so dat die beeldspraak van vuur wat in die Bybel gebruik word ’n beeld van foltering in jou gedagtes kan laat vorm. Maar die boek Essentials sê: “Dit is ongetwyfeld omdat ons almal al die akute pyn ondervind het wanneer ons ons gebrand het dat vuur in ons gedagtes met ‘bewuste foltering’ geassosieer word. Maar die hooffunksie van vuur is nie om pyn te veroorsaak nie, maar om vernietiging te verseker, soos al die verbrandingsoonde van die wêreld bewys” (Bladsy 316). As jy daardie belangrike verskil in gedagte hou, sal dit jou help om nie iets uit die Skrif af te lei wat in werklikheid nie daar is nie. ’n Paar voorbeelde:

Jesus het aangaande diegene wat in Gehenna gewerp word, gesê dat “hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie” (Markus 9:47, 48). Party Bybelkommentare wat beïnvloed is deur die woorde in die apokriewe boek Judit (“Hy gee hulle vlees aan die vuur en die wurms, sodat hulle ewig sal weeklaag in smart.”—Judit 16:17, Die Bybel met Deutero-kanonieke boeke) sê dat Jesus se woorde ewige foltering beteken. Tog is die apokriewe boek Judit, wat nie deur God geïnspireer is nie, nie ’n maatstaf waarvolgens die betekenis van Markus se geskrifte gemeet kan word nie. Jesaja 66:24, die teks waarop Jesus blykbaar gesinspeel het, sê dat die vuur en die wurm die dooie liggame (“die lyke”, sê Jesaja) van God se vyande vernietig. Daar is geen sinspeling op ewige, bewuste foltering in óf Jesaja se woorde óf Jesus s’n nie. Die beskrywings van vuur simboliseer algehele vernietiging.

Openbaring 14:9-11 praat van party wat “gepynig word met vuur en swawel . . . En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid.”a Is dit ’n bewys van ewige, bewuste foltering in ’n helse vuur? Al wat hierdie gedeelte in werklikheid sê, is dat die goddeloses gefolter word, nie dat hulle vir ewig gefolter word nie. Die teks sê dat dit die rook—die bewys dat die vuur vernietiging meegebring het—is wat vir ewig aanhou, nie die vurige foltering nie.

Openbaring 20:10-15 sê dat hulle in ‘die poel van vuur en swawel dag en nag gepynig sal word tot in alle ewigheid’. As ’n mens dit die eerste keer lees, klink dit moontlik na ’n bewys van ewige, bewuste foltering deur vuur, maar dit is beslis nie. Waarom nie? Een van die redes is dat “die dier en die valse profeet” en “die dood en die doderyk [“Hades”, NW]”, uiteindelik gewerp sal word in wat hier “die poel van vuur” genoem word. Jy kan maklik tot die slotsom kom dat die dier, die valse profeet, die dood en Hades nie letterlike mense is nie; daarom kan hulle nie bewuste foltering ondergaan nie. Pleks daarvan skryf G. B. Caird in A Commentary on the Revelation of St. John the Divine dat “die poel van vuur vernietiging en algehele vergetelheid” beteken. Dit behoort maklik te wees om te verstaan, aangesien die Bybel self aangaande hierdie poel van vuur sê: “Die poel van vuur . . . Dit is die tweede dood.”—Openbaring 20:14.

Skeiding van ’n teologiese tweeling

Baie gelowiges dring ten spyte van hierdie argumente daarop aan dat “vernietiging” nie beteken wat die woord sê nie, maar dat dit ewige foltering beteken. Waarom? Hulle denkwyse word beïnvloed deur die helse vuur se godsdienstweeling—die leerstelling oor die onsterflikheid van die mensesiel. En aangesien hulle kerk hierdie tweeling moontlik eeue lank vertroetel het, meen hulle dalk dat tekste wat van vernietiging praat eintlik ewige marteling bedoel. Die onsterflike mensesiel kan in elk geval nie ophou bestaan nie—of so redeneer baie.

Maar let op die punt wat die Anglikaanse geestelike Philip E. Hughes gestel het: “Om te sê dat die mensesiel onsterflik geskep is, is om ’n standpunt in te neem wat nêrens in die leer van die Skrif goedgekeur word nie, want in die Bybelse beskrywing van wat die mens is, word hy altyd gesien as ’n wese waarvan die gees en die liggaam onlosmaaklik deel is van hom. . . . God se waarskuwing aan die begin aangaande die verbode boom, ‘Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe’, is gerig aan die mens as ’n skepsel wat uit liggaam en gees bestaan—as hy daarvan geëet het, sou hy sterf as ’n skepsel wat uit liggaam en gees bestaan. Daar was geen aanduiding dat ’n deel van hom onsterflik was en dat net ’n deel van hom sou sterf nie.”—The True Image—The Origin and Destiny of Man in Christ.

Die teoloog Clark Pinnock sê ook: “Hierdie konsep [dat die mensesiel onsterflik is] beïnvloed teologie al baie, baie lank, maar dit is nie op die Bybel gegrond nie. Die Bybel leer nie dat die siel van nature onsterflik is nie.” Esegiël 18:4, 20 en Mattheüs 10:28 bevestig dit. Boonop het Jesus self van sy afgestorwe vriend Lasarus gepraat as een wat “slaap”. Jesus het gesê dat hy “gaan om hom wakker te maak” (Johannes 11:11-14). Die menslike wese, of mensesiel, Lasarus, het gesterf, maar selfs na die verloop van tyd kon hy opgewek, weer tot die lewe teruggebring, word. Die feite lewer bewys daarvan. Jesus het Lasarus uit die dood opgewek.—Johannes 11:17-44.

Hoe raak hierdie punte die leerstelling oor ewige foltering? Reeds in die 17de eeu het die essayis William Temple gesê: “Daar is [tekste] wat daarvan praat dat ’n mens in ’n onblusbare vuur gewerp word. Maar as ons nie hierdie tekste beskou in die lig dat dit wat daarin gewerp word onvernietigbaar is nie, sal ons nie die idee vorm dat dit vir ewig sal brand nie, maar dat dit vernietig sal word.” Daardie korrekte ontleding is steeds waar, want dit is wat die Bybel in werklikheid leer.

Jy het ongetwyfeld dwingende redes om die gedagte van ewige, bewuste foltering in die hel te bevraagteken. Of miskien wil jy dit nie net bevraagteken nie, maar die raad volg wat die teologieprofessor Clark H. Pinnock gegee het: “Ons moet op grond van geloofwaardige dogma van al die opvattinge oor hel, asook oneindige marteling, . . . ontslae raak.” Ja, sedelikheid, geregtigheid en—die belangrikste—God se Woord, die Bybel, sê vir jou om presies dit te doen.

As jy dit doen, sal jy sien dat dit wat die hel in werklikheid is beslis geloofwaardig is. Jy kan nuttige inligting oor hierdie onderwerp vind in die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe.b Vra asseblief daarvoor wanneer jy Getuies van Jehovah teëkom. Lees die hoofstukke “Wat gebeur by die dood?” “Watter soort plek is die hel?” en “Die opstanding—Vir wie, en waar?” Jy sal vind dat wat die hel in werklikheid is nie net geloofwaardig nie, maar ook belowend is.

[Voetnote]

a In hierdie Bybelgedeelte verwys ‘gepynig met vuur’ hoofsaaklik na ’n geestelike, tog tydelike, foltering. Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word (vir meer besonderhede).

b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Venster op bladsy 8]

DEFINISIES VAN DIE TERME

In hierdie artikel kom die terme “hel” en “helse vuur”, soos dit deur teoloë in die Christendom gebruik word, van die Griekse woord geʹen·na, wat 12 keer in die “Nuwe Testament” voorkom (Mattheüs 5:22, 29, 30; 10:28; 18:9; 23:15, 33; Markus 9:43, 45, 47; Lukas 12:5; Jakobus 3:6). Hoewel verskeie Bybelvertalings hierdie Griekse woord as “hel” vertaal, translitereer ander vertalings dit as “Gehenna”. Dit kom ooreen met “die poel van vuur . . . die tweede dood”, ’n simbool van ewige vernietiging wat in die laaste boek van die Bybel gevind word.—Openbaring 20:14.

A Dictionary of the Bible (1914), onder redaksie van William Smith, het aangaande twee ander woorde wat soms as “hel” vertaal word, gesê: “Hel . . . is die woord wat gewoonlik en ongelukkig deur ons vertalers gebruik word om die Hebreeuse Sjeool mee te vertaal. Dit sou waarskynlik beter gewees het om die Hebreeuse woord Sjeool te behou, of om dit altyd met ‘die graf’ of ‘die kuil’ te vertaal. . . . In die N[uwe] T[estament] beteken die woord Hades, soos Sjeool, eenvoudig ‘die graf’ . . . Dit is wat die geloofsbelydenisse bedoel waar hulle sê ons Here ‘het na die hel neergedaal’, wat die algemene toestand van die dood beteken.”

In teenstelling met Gehenna, wat ewige vernietiging simboliseer, verwys Sjeool en Hades na die dood in die gemeenskaplike graf van die mensdom, met die vooruitsig om weer tot die lewe opgewek te word.—Openbaring 20:13.

[Prent op bladsy 9]

Jesus het Lasarus uit die slaap van die dood opgewek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel