Ewige foltering—Waarom is dit ’n ontstellende leerstelling?
“Ek hoor julle het julle leraar afgedank. Wat was fout?”
“Wel, hy het heeltyd vir ons gesê dat ons almal hel toe gaan.”
“Wat sê die nuwe leraar?”
“Hy sê ook dat ons hel toe gaan.”
“Wat is dan die verskil?”
“Wel, die verskil is toe die vorige leraar dit gesê het, het dit geklink asof hy bly was daaroor; maar wanneer die nuwe een dit sê, klink dit asof dit sy hart breek.”
HIERDIE verhaal, wat in ’n boek met illustrasies opgeteken is, toon op sy eie manier dat baie Bybelleraars, sowel as kerkgangers, nie op hulle gemak is met die helvuurleerstelling nie. In ’n breër konteks bevestig dit ook wat die Kanadese teoloog Clark H. Pinnock opgemerk het: “Van al die artikels van die teologie wat die mens se gewete deur die eeue heen gepla het, meen ek dat nie een groter bekommernis veroorsaak het nie as die aanvaarde interpretasie van die hel as ’n ewige, bewuste foltering van die liggaam en siel.”
Sedelike gevolge
Waarom word baie dan ontstel deur die tonele van ’n inferno wat in die Christendom uitgebeeld word? (Sien venster.) Professor Pinnock sê: “Die gedagte dat ’n bewuste skepsel vir ewig fisiese en verstandelike marteling moet ondergaan, is hoogs ontstellend, en die gedagte dat dít deur ’n Goddelike raadsbesluit aan hulle opgelê is, druis in teen my oortuiging van God se liefde.”
Ja, die leerstelling oor ewige foltering hou ’n sedelike probleem in. Opregte Christene dink byvoorbeeld na oor die vrae wat die Katolieke teoloog Hans Küng geopper het: “Moet die God van liefde . . . vir ewig hierdie eindelose, wanhopige, onbarmhartige, liefdelose, wrede fisiese-psigologiese marteling van sy skepsele aanskou?” Hans Küng sê voorts: “Is hy so ’n hardvogtige krediteur? . . . Wat sal ons van ’n mens dink wat sy dors na wraak so onversoenlik en onversadiglik les?”a Trouens, hoe kan die God wat in die Bybel vir ons sê om ons vyande lief te hê sy vyande vir ewig wil martel? (1 Johannes 4:8-10). Dit is nie verbasend nie dat party mense tot die gevolgtrekking kom dat hierdie begrip van die hel eenvoudig nie versoenbaar met God se geaardheid is nie, dat hierdie leerstelling nie sedelik sin het nie.
Baie ander gelowiges probeer hulle gewete stil deur hierdie vrae te vermy. Maar dié moeilike kwessies verdwyn nie as ’n mens die vrae ignoreer nie. Kom ons ondersoek dus hierdie geskil. Watter sedelike gevolge hou hierdie leerstelling in? In die Criswell Theological Review skryf professor Pinnock: “Ewige foltering kan nie vanuit ’n sedelike oogpunt geduld word nie omdat dit God as ’n bloeddorstige monster uitbeeld wat ’n ewigdurende Auschwitz in stand hou vir slagoffers wat hy nie eers toelaat om te sterf nie.” Hy vra: “Hoe kan enigiemand wat barmhartig is, kalm bly terwyl hy aan so iets [die tradisionele leerstelling oor die hel] dink? . . . Hoe kan Christene hulle enigsins ’n god voorstel wat so wreed en wraaksugtig is?”
Professor Pinnock sê aangaande die bose invloed wat hierdie leerstelling moontlik op die mens se gedrag kon gehad het: “Ek wonder selfs watter gruwels gepleeg is deur diegene wat geglo het in ’n God wat sy vyande martel?” Hy sluit af: “Is dit nie ’n hoogs ontstellende konsep waaroor ons weer goed moet nadink nie?” Ja, as sulke wreedheid aan God toegeskryf word, is dit nie verbasend dat sensitiewe kerkgangers weer die helse vuur ondersoek nie. En wat vind hulle? Nog ’n probleem waarvoor die gedagte van ewige foltering te staan kom.
Die hel en geregtigheid
Baie wat nadink oor die tradisionele leerstelling oor die hel vind dat dit lyk asof dit God uitbeeld as een wat onregverdig optree, en daarom druis dit in teen hulle natuurlike sin vir geregtigheid. Op watter manier?
Jy kan ’n antwoord vind deur die leerstelling oor ewige foltering te vergelyk met ’n standaard van geregtigheid wat deur God gestel is: “Oog vir oog, tand vir tand” (Exodus 21:24). Pas argumentshalwe hierdie Goddelike wet wat aan eertydse Israel gegee is, ’n wet van presiese vergelding, op die helvuurleerstelling toe. Tot watter slotsom sal jy waarskynlik kom? Dat slegs daardie sondaars wat ewige foltering veroorsaak dieselfde ewige foltering verdien—ewige foltering vir ewige foltering. Maar aangesien mense (ongeag hoe goddeloos hulle is) net tydelike foltering kan veroorsaak, skep dit ’n oneweredigheid tussen hulle misdade en die ewige straf van die helse vuur as hulle die straf van ewige foltering opgelê word.
Die straf sal kortom te swaar wees. Dit sal baie verder gaan as “oog vir oog, tand vir tand”. As jy daaraan dink dat Jesus se leer die gedagte van weerwraak versag het, erken jy moontlik dat ware Christene dit moeilik sal vind om geregtigheid in ewige foltering te sien.—Mattheüs 5:38, 39; Romeine 12:17.
Regverdiging van die leerstelling
Nietemin probeer baie gelowiges die leerstelling regverdig. Hoe? Die Britse skrywer Clive S. Lewis praat namens die meeste verdedigers daarvan in sy boek The Problem of Pain: “Daar is geen leerstelling wat ek, as ek die mag gehad het, liewer uit die Christendom wil verwyder as hierdie een nie. Maar dit word ten volle deur die Skrif ondersteun en veral ook deur Ons Here se eie woorde.” Ondersteuners erken dus dat ewige foltering skrikwekkend is, maar terselfdertyd hou hulle vol dat die leerstelling verpligtend is omdat hulle glo dat die Bybel dit leer. Die teoloog Clark H. Pinnock sê: “Deur die onaangenaamheid daarvan te erken, hoop hulle om hulle onwrikbare getrouheid aan die Bybel en ’n sekere heldhaftigheid te bewys omdat hulle so ’n aaklige waarheid glo net omdat die Skrif dit leer. Hulle laat dit klink asof die onfeilbaarheid van die Bybel op die spel is. Maar is dit werklik?”
Jy wonder moontlik ook of getrouheid aan die Bybel jou geen ander keuse laat as om hierdie leerstelling te aanvaar nie. Wat sê die Bybel werklik?
[Voetnoot]
a Eternal Life?—Life After Death as a Medical, Philosophical, and Theological Problem, bladsy 136.
[Venster op bladsy 5]
DRIE EENVORMIGE VOORSTELLINGS
Die Westminsterse Geloofsbelydenis, wat deur baie Protestante aanvaar word, verklaar dat diegene wat nie hemel toe gaan nie “in ewige folteringe gewerp sal word en met ewige vernietiging gestraf sal word”. “In die Rooms-Katolieke Christelike geloof”, verduidelik The Encyclopedia of Religion, “word die hel beskou as ’n toestand van ewige straf . . . gekenmerk . . . deur lyding deur middel van vuur en ander martelings.” Hierdie ensiklopedie voeg by dat ook “die Oos-Ortodokse Christelike geloof die leerstelling [ondersteun] dat die hel ’n bestemming is van ewige vuur en straf wat op die vervloektes wag”.—Deel 6, bladsye 238-9.