Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/15 bl. 10-13
  • Hoop—noodsaaklike beskerming in ’n wêreld vol vertwyfeling

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoop—noodsaaklike beskerming in ’n wêreld vol vertwyfeling
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Soos ’n helm
  • Die grondslag van ware hoop
  • Hoe om jou hoop te versterk
  • Beskou mense in ’n lig van hoop
  • Hou jou Christelike hoop sterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Waar kan jy ware hoop vind?
    Ontwaak!—2004
  • Hoop op Jehovah, en wees moedig
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Geniet ’n hoop sonder teleurstelling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/15 bl. 10-13

Hoop—noodsaaklike beskerming in ’n wêreld vol vertwyfeling

’n Jong Koreaanse seun wou sy ma help om ’n universiteitstudent te oortuig hoe belangrik dit is om hoop vir die toekoms te hê. Hy het ’n illustrasie onthou wat hy by ’n Christelike vergadering gehoor het en die student gevra of sy hom sou help om ’n raaisel op te los. Sy het ingestem. Hy het gesê: “Daar was twee gesinne. Albei was baie arm. Dit het hard gereën en die dakke van albei huise het gelek. Een gesin was baie terneergedruk en hulle het baie oor die lekplekke gekla. Maar die ander gesin was gelukkig en vriendelik terwyl hulle hulle dak herstel het. Waarom was daar so ’n groot verskil tussen hierdie twee gesinne?” Die jong vrou was nuuskierig en het geantwoord dat sy nie weet nie. “Wel”, het die seun gesê, “die tweede gesin was gelukkig omdat hulle kort tevore ’n kennisgewing van die stadsowerheid ontvang het dat hulle ’n nuwe huis gaan kry. Hulle het dus hoop gehad. Dit was die verskil!”

DIE seun se raaisel lig ’n eenvoudige waarheid toe: Hoop verander hoe ons oor die lewe voel, en dit dikwels ten spyte van ons omstandighede. Baie van ons moet, soos die twee gesinne wat hy beskryf het, beproewinge in die lewe verduur—gesondheidsprobleme, geldprobleme, spanning in die gesin, misdaad en tallose ander beproewinge en wantoestande. Ons kan sulke probleme dikwels net so min laat verdwyn as wat ons ’n donderstorm kan beveel om uit ons omgewing uit weg te gaan. Ons voel dus moontlik gefrustreerd, alleen—kortom, hulpeloos. Om die situasie te vererger, is ons dalk in die kerk geleer dat die toekoms vir die meeste sondaars duister is, dat dit dalk ewige straf insluit.

Daar is al gesê dat hulpeloosheid en hopeloosheid ’n resep vir depressie is. Maar ons kan beslis een van hierdie bestanddele verwyder; nie een van ons hoef sonder hoop te wees nie. En hoop self kan die beste wapen wees waarmee die ander bestanddeel, ’n gevoel van hulpeloosheid, afgeweer kan word. As ons hoop het, kan ons die lewe se storms met ’n mate van kalmte en tevredenheid verduur pleks van in volslae ellende voort te sukkel. Ja, hoop is ’n noodsaaklike beskerming.

Laat so ’n bewering jou skepties voel? Is hoop werklik so kragtig dat dit so ’n groot verskil kan maak? En is daar ’n betroubare hoop vir elkeen van ons?

Soos ’n helm

Die merkwaardige krag wat hoop inhou, begin nou op mediese gebied erkenning geniet. ’n Oorlewende van die Nazi-slagting, stresspesialis dr. Shlomo Breznitz, het gesê dat stres in die geval van die meeste lewensprobleme “die gevolg is van ons eie interpretasie van hoe moeilik die probleme is en nie van die probleme op sigself nie. Hoop verlig die las wat hulle meebring.” ’n Artikel in The Journal of the American Medical Association het gesê dat hoop “’n kragtige geneesmiddel” is. Die tydskrif American Health het gesê: “Daar is baie voorbeelde van pasiënte, veral kankerpasiënte, wie se toestand skielik versleg wanneer iets hulle hulle hoop laat verloor—of wat skielik verbeter wanneer hulle iets nuuts vind om voor te leef.”—Vergelyk Spreuke 17:22.

Bybelstudente weet lank reeds hoe belangrik hoop is. In 1 Thessalonicense 5:8 het die apostel Paulus Christene aangespoor: “Laat ons . . . nugter wees, met . . . as helm die hoop op die saligheid.” Hoe is “die hoop op die saligheid” soos ’n helm?

Dink aan wat ’n helm doen. Die soldaat in Bybeltye het ’n helm van koper of yster gedra wat oor ’n mus van vilt, wol of leer gepas het. Hierdie helm het sy kop beskerm teen die vlieënde pyle, swaaiende knuppels en skerp swaarde van oorlogvoering. Daarom sou min soldate gehuiwer het om ’n helm te dra as hulle een gehad het. Maar dit het nie beteken dat die soldaat onoorwinlik was of dat hy niks gevoel het wanneer sy kop getref is terwyl hy die helm gedra het nie; die helm het net verseker dat die meeste houe afgeweer is pleks dat dit dodelik was.

Soos ’n helm die kop beskerm, beskerm hoop die verstand. Hoop sal ons miskien nie in staat stel om elke krisis of teenslag af te weer asof dit niks is nie. Maar hoop versag sulke teenslae en help om te verseker dat hulle nie dodelik is vir ons verstandelike, emosionele of geestelike gesondheid nie.

Dit is duidelik dat die getroue man Abraham hierdie figuurlike helm gedra het. Jehovah het hom gevra om sy geliefde seun, Isak, op te offer (Genesis 22:1, 2). Hoe maklik sou dit tog vir Abraham gewees het om wanhopig te raak, ’n gevoel wat heel moontlik tot ongehoorsaamheid aan God kon lei. Wat het sy verstand teen sulke gevoelens beskerm? Hoop het ’n sleutelrol gespeel. Volgens Hebreërs 11:18 “het [hy] gereken dat God mag het om [Isak] selfs uit die dode op te wek”. Job se hoop op ’n opstanding het eweneens gehelp om ook sy verstand teen verbitterdheid te beskerm, en dit kon daartoe gelei het dat hy God vervloek (Job 2:9, 10; 14:13-15). Toe ’n pynlike dood Jesus Christus in die gesig gestaar het, het hy krag en vertroosting geput uit sy vreugdevolle hoop vir die toekoms (Hebreërs 12:2). Die vertroue dat God nooit iets verkeerd sal doen nie, nooit sal faal om sy woord te vervul nie, is die grondslag van ware hoop.—Hebreërs 11:1.

Die grondslag van ware hoop

Soos geloof word ware hoop op feite, die werklikheid, die waarheid, gegrond. Dit verbaas party dalk. Soos een skrywer dit gestel het, “dink die meeste mense blykbaar dat hoop net ’n simpel manier is om die waarheid te ontken”. Maar ware hoop is nie net optimisme wat op leë beloftes gegrond is nie, ’n flou geloof dat ons sal kry wat ons ook al wil hê of dat selfs ons kleinste probleempie vir ons opgelos sal word nie. Die werklikheid maak ’n einde aan sulke onwerklike wanindrukke.—Prediker 9:11.

Ware hoop is anders. Dit spruit uit kennis, nie wense nie. Dink aan die tweede gesin in die raaisel wat aan die begin genoem is. Watter hoop sou hulle gehad het as hulle regering daarvoor bekend was dat hulle hulle beloftes verbreek? Die belofte en die bewys van hulle betroubaarheid het die gesin ’n vaste grondslag vir hoop gegee.

Jehovah se Getuies het vandag ook ’n hoop wat in noue verband staan met ’n regering—God se Koninkryk. Hierdie Koninkryk is die hooftema van die Bybel se boodskap. Dit is al millenniums lank die bron van hoop vir vroue en mans, soos Abraham (Hebreërs 11:10). God belowe dat hy deur sy Koninkryk ’n einde sal maak aan hierdie verdorwe ou wêreldstelsel en dat hy ’n nuwe een sal inbring (Romeine 8:20-22; 2 Petrus 3:13). Hierdie Koninkrykshoop is ’n werklikheid, nie ’n droom nie. Die bron daarvan—Jehovah God, Soewereine Heer van die heelal—is, om die minste te sê, onkreukbaar. Ons hoef net God se fisiese skeppingswerke te ondersoek om te sien dat hy bestaan en oorvloedige krag het om al sy beloftes na te kom (Romeine 1:20). Ons hoef net die verslag van sy handelinge met die mens noukeurig te ondersoek om te sien dat sy woord nooit onvervuld bly nie.—Jesaja 55:11.

Maar ongelukkig het die meeste mense wat sê dat hulle Christene is ware hoop uit die oog verloor. Die teoloog Paul Tillich het in ’n preek wat onlangs gepubliseer is, gesê: “Die [vroeë] Christene het geleer om op die einde te wag. Maar hulle het stadigaan opgehou wag. . . . Die hoop op ’n nuwe toestand van dinge op aarde het verswak, hoewel hulle in elke Onse Vader-gebed daarvoor gebid het—Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde!”

Wat ’n tragedie! Miljoene, selfs miljarde, mense wat hoop uiters nodig het, het geen hoop nie, en tog is dit geredelik aan hulle beskikbaar reg daar in hulle eie Bybel. Kyk na die treurige gevolge! Is dit enige wonder dat baie hulle deur ’n wanhopige, “slegte gesindheid [“geestestoestand”, NW]” laat lei het om die wêreld met toenemende onsedelikheid en misdaad te besoedel? (Romeine 1:28). Dit is noodsaaklik dat ons nooit in dieselfde strik val nie. Pleks dat ons van die helm van hoop ontslae raak, moet ons dit voortdurend versterk.

Hoe om jou hoop te versterk

Die beste manier waarop jy jou hoop kan versterk, is om ag te gee op die bron daarvan, Jehovah God. Bestudeer sy Woord, die Bybel, ywerig. Romeine 15:4 sê: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”

Ons moet ook seker maak dat ons hoop vir die toekoms nie net ’n vae begrip is nie. Ons moet dit ’n werklikheid maak in ons verstand. Het jy die hoop om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe? Wil jy graag weer jou afgestorwe dierbares sien wanneer hulle op die aarde opgewek word? Indien wel, sien jy jouself op daardie tydstip daar? Jesaja 65:21, 22 praat byvoorbeeld van elkeen wat sy eie huis bou en dit dan bewoon. Kan jy jou oë sluit en jou voorstel waar jy aan die dak van jou nuwe huis werk, waar jy die laaste dakspaan vasspyker? Dink net hoe jy om jou kyk na die vrug van al jou beplanning en arbeid. Die opgewekte geluide van bouwerk raak stil; jy kyk na die landskap terwyl die middagskaduwee daaroor strek. ’n Bries laat die bome saggies swaai en koel jou af van die hitte van jou werk. Die gelag van kinders, wat ineenvloei met die sang van voëls, bereik jou ore. Die geselskap van jou geliefdes kom vanuit die huis onder jou.

Dit is nie nuttelose bespiegeling wanneer jy jou so ’n gelukkige oomblik in jou gedagtes voorstel nie; dit is in werklikheid bepeinsing oor ’n profesie wat beslis vervul sal word (2 Korinthiërs 4:18). Hoe groter die werklikheid van daardie vooruitsig vir jou is, hoe sterker is jou hoop dat jy daar sal wees. So ’n vaste, duidelike hoop sal jou beskerm sodat jy nie ‘skaam is oor die evangelie’ nie, wat dalk daartoe kan lei dat jy nie die toewysing wil aanvaar om vir ander daarvan te vertel nie (Romeine 1:16). Daarenteen sal jy soos die apostel Paulus ‘op die hoop roem’ deur dit met vertroue aan ander te vertel.—Hebreërs 3:6.

Daar is meer as die ewige toekoms wat hoop bied. Daar is ook nou bronne van hoop. Hoe so? ’n Romeinse staatsman van die vyfde eeu G.J. genaamd Kassiodorus het gesê: “Hy wat ’n voordeel kan uitken wat reeds plaasgevind het, ontvang hoop in toekomstige voordele.” Wyse woorde! Watter bemoediging sal ons in beloftes van toekomstige seëninge vind as ons nie teenswoordige seëninge kan waardeer nie?

Gebed versterk ook nóú hoop. Ons moet om die langdurige toekoms asook om ons teenswoordige behoeftes bid. Ons kan dalk hoop op en bid om verbeterde verhoudinge met gesinslede en mede-Christene, bid om ons volgende geestelike maaltyd en selfs dat ons materiële behoeftes bevredig word (Psalm 25:4; Mattheüs 6:11). As ons sulke verwagtinge in Jehovah se hande laat, sal dit ons help om dag na dag te volhard (Psalm 55:23). Terwyl ons volhard, sal ons volharding self ook die helm van hoop versterk.—Romeine 5:3-5.

Beskou mense in ’n lig van hoop

Negatiewe denke is soos roes op die helm van hoop. Dit is afbrekend en kan die helm naderhand nutteloos maak. Het jy geleer hoe om negatiewe denke uit te ken en daarteen te stry? Moenie mislei word deur die verkeerde gedagte dat ’n siniese, kritiese, pessimistiese gesindheid dieselfde as intelligensie is nie. Negatiewe denke vereis in werklikheid nie veel intelligensie nie.

Dit is veels te maklik om ’n hopelose gesindheid oor ons medemens te hê. Party twyfel weens pynlike ondervindinge in die verlede daaraan dat hulle ooit weer hulp of bemoediging van mense kan ontvang. “’n Esel stamp hom nie twee maal teen dieselfde klip nie”, is hulle leuse. Hulle huiwer dalk selfs om na Christen- ouere manne te gaan om hulp met hulle probleme te kry.

Die Bybel help ons om ’n meer gebalanseerde beskouing van mense te hê. Dit is weliswaar onverstandig om al ons hoop op mense te stel (Psalm 146:3, 4). Maar in die Christengemeente dien die ouere manne as “gawes aan die mense” wat van Jehovah kom (Efesiërs 4:8, 11). Hulle is pligsgetroue, ervare Christene wat opreg “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” wil wees.—Jesaja 32:2.

Baie ander in die Christengemeente is ook diep besorg daaroor om ’n bron van hoop te wees. Dink net aan hoeveel honderdduisende van hulle op hierdie oomblik as moeders, vaders, susters, broers en kinders optree teenoor diegene wat hulle eie gesin verloor het; dink aan hoeveel ander as vriende optree wat teenoor diegene wat angs ondervind “sterker aanhang as ’n broer”.—Spreuke 18:24; Markus 10:30.

As jy tot Jehovah om hulp gebid het, moet jy nie moed verloor nie. Hy het moontlik al jou gebed verhoor; daar is dalk ’n ouere man of ’n ander ryp Christen wat op hierdie oomblik gereed is om jou te help as jy bekend maak dat jy ’n behoefte het. As ons ’n gebalanseerde gesindheid teenoor mense het, beskerm dit ons sodat ons ons nie van almal afsonder en ons afskei nie, wat tot selfsugtige, onpraktiese gedrag kan lei.—Spreuke 18:1.

Ook wanneer ons ’n probleem met ’n mede-Christen het, moet ons nie die situasie met ’n hopelose, negatiewe gesindheid benader nie. Trouens, “die liefde hoop alles” (1 Korinthiërs 13:4-7). Probeer Christenbroers en -susters beskou soos Jehovah hulle beskou—met hoop. Spits jou toe op hulle goeie eienskappe, gee hulle die voordeel van die twyfel en probeer om probleme op te los. So ’n hoop beskerm ons teen twiste en rusies waarby niemand baat vind nie.

Moet nooit aan die hopeloosheid van hierdie sterwende ou wêreld toegee nie. Daar is hoop—vir ons ewige toekoms sowel as vir die oplossing van baie van die probleme wat ons tans ondervind. Sal jy hierdie hoop aangryp? As die hoop op die saligheid soos ’n beskermende helm gedra word, sal geen dienaar van Jehovah werklik sonder hulp wees nie—ongeag hoe erg die omstandighede is. As ons dit self nie opgee nie, kan niks in die hemel of op aarde die hoop wegneem wat Jehovah vir ons gegee het nie.—Vergelyk Romeine 8:38, 39.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel