Ek het saam met Jehovah se organisasie in Suid-Afrika gegroei
Soos vertel deur Frans Muller
TOE ek en my broer David die aandtrein nader wat ons gewoonlik van die Kaapstadse stasie af huis toe gehaal het, was ons verbaas om die teken “Slegs Blankes” te sien. Die Nasionale Party het die verkiesing in 1948 gewen en die apartheidsbeleid ingestel.
Rassesegregasie is natuurlik reeds lank in Suid-Afrika beoefen, soos in die meeste Afrika-lande gedurende die koloniale tydperk. Maar nou is dit deur wetgewing afgedwing, en ons is nie toegelaat om saam met anderskleurige Suid-Afrikaners in dieselfde spoorwegwa te ry nie. Apartheid word tans, 45 jaar later, deur wetgewing afgeskaf.
Gedurende die hele tydperk van gewettigde apartheid—wat ons voor uitdagings gestel het om ons bediening voort te sit soos ons graag wou—het ek as ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies gedien. Nou, op 65-jarige leeftyd, kan ek terugkyk op die wonderlike wyse waarop Jehovah se organisasie in Suider-Afrika gegroei het, en ek is dankbaar vir die voorreg wat ek gehad het om saam met die organisasie te groei.
’n Christelike erfenis
Toe my pa ’n jong seun was, moes hy vroeg elke oggend vir my oupa hardop uit die Bybel voorlees. Mettertyd het Pa baie lief vir God se Woord geword. Toe ek in 1928 gebore is, het my pa op die kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Potgietersrus gedien. Daardie jaar het my oom hom ’n eksemplaar van die boek Die harp van God gegee.
Pa het egter vir Ma gesê om die boek in die vuur te steek omdat dit volgens hom deur ’n sekte uitgegee is. Maar sy het die boek gehou, en eendag toe Pa dit toevallig optel, het die boek oopgeval by die opskrif “Pynig God iemand?” Hoewel hy oortuig was dat die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, op ’n dwaalweg was, het sy nuuskierigheid die oorhand gekry, en hy het begin lees. Hy kon die boek nie neersit nie. Toe hy net voor dagbreek in die bed klim, het hy gesê: “Ma, ek is bevrees hulle het die waarheid.”
Die volgende dag het Pa 50 kilometer ver met sy fiets gery om nog boeke by die naaste Bybelstudent te gaan kry. Hy het gereeld tot laat snags gelees. Hy het selfs die NG-predikant probeer oortuig aangaande die Bybelwaarhede wat hy geleer het in die hoop dat die kerk hulle leerstellings sou regstel. Sy pogings was tevergeefs; daarom het hy uit die kerk bedank en met ywer aan die predikingswerk begin deelneem. Bybelwaarheid het sy lewe en die belangrikste ding in ons huis geword. Dít is die milieu waarin ek grootgeword het.
Pa het later ’n pionier, of voltydse bedienaar, geword. Hy het groot afstande in ’n ou model T-Ford afgelê om te preek. Ná enkele jare het die behoeftes van ons groeiende gesin hom genoodsaak om uit die pionierdiens te tree, maar hy was steeds baie bedrywig in die predikingswerk. Party Sondae het ons tot 90 kilometer ver gery om saam met hom in Pietersburg te gaan preek.
’n Florerende sakeonderneming
Pa het mettertyd ’n algemene handelaarswinkeltjie geopen. Die winkel het spoedig verdubbel, en ’n tweede winkel is geopen. Van die ryk boere het ’n vennootskap met Pa gesluit, en mettertyd het hulle saam ’n groothandelsaak en ses kettingwinkels gehad wat oor ’n groot gebied geleë was.
Van my ouer broers het in die handelsonderneming begin werk en het nou die vooruitsig gehad om ryk te word. Maar ons geestelikheid het hieronder begin ly. Ons het meer aanvaarbaar vir wêreldse vriende en bure geword, wat ons na hulle gesellighede genooi het. Pa het besef watter gevaar dit inhou en ons gesin vir kajuitraad byeengeroep en besluit om die onderneming te verkoop en na Pretoria te trek sodat ons meer in Jehovah se diens kon doen. Hy het net een winkel behou, wat deur gehuurde werkers behartig is.
My broers Koos en David het in pionierdiens getree en sodoende aangesluit by my oudste suster, Lina. Gedurende een maand in 1942 het ons gesin van tien altesaam 1 000 uur aan die predikingswerk bestee. Daardie jaar het ek die toewyding van my lewe aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Waarom ek vroeg die skool verlaat het
In 1944, terwyl die Tweede Wêreldoorlog op sy felste gewoed het, het broer Gert Nel, ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies, my gevra of ek van plan is om ’n pionier te word. “Ja”, het ek geantwoord, “oor twee jaar, wanneer ek my hoërskoolopleiding voltooi het.”
Hy het die beskouing uitgespreek wat baie van Jehovah se Getuies destyds gehuldig het, deur die waarskuwing: “Pasop dat Armageddon jou nie op die skoolbanke betrap nie!” Ek wou nie hê dat dit moes gebeur nie; daarom het ek die skool verlaat en op 1 Januarie 1945 in die pionierdiens getree.
My eerste toewysing was in Vereeniging, en my pioniermaats was Piet Wentzel en Danie Otto. Ek het dikwels meer as 200 uur per maand aan die predikingswerk bestee. Later het Piet ’n ander toewysing na Pretoria ontvang, en Danie moes uit die pionierdiens tree om sy bejaarde pa op die plaas te gaan help. Nou was ek die enigste Getuie in Vereeniging en ek moes na 23 tuisbybelstudies omsien.
Nie lank hierna nie, het ek ’n brief van die takkantoor ontvang met ’n toewysing na Pretoria. Hoewel ek nie destyds die rede vir hierdie nuwe toewysing begryp het nie, het ek later besef dat dit onverstandig sou gewees het om ’n onervare 17-jarige op sy eie te laat aangaan. Ek moes nog baie opleiding ontvang en kon ontmoedig geraak het.
Nadat ek in Pretoria gedien en die nodige ondervinding opgedoen het, is ek genooi om ’n spesiale pionier te word. Piet Wentzel en ek het toe gereël om praktiese opleiding in die bediening te gee aan jong verkondigers wat na Pretoria toe gekom het om daar pionierdiens te doen. Teen hierdie tyd was Piet reeds as die reisende opsiener in die omgewing aangestel. Hy is later met my suster Lina getroud, en hulle dien tans saam by die Suid-Afrikaanse takkantoor.
Onder die jong Getuies wat in Pretoria pionierdiens kom doen het, was Martie Vos, ’n aanvallige jong meisie wat in ’n Getuiegesin grootgeword het. Ons het romanties tot mekaar aangetrokke gevoel, maar ons was nog tieners, té jonk om aan trou te dink. Maar toe ons toewysings na ander plekke ontvang het, het ons deur briewe met mekaar in aanraking gebly.
Betheldiens en Gileadskool
In 1948 is ek genooi om by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Kaapstad te gaan dien. Destyds was daar nie ’n gemeenskaplike woonplek vir ons 17 wat in die drie gehuurde kantore en ’n klein nabygeleë fabriek gewerk het nie. Party van ons het by gesinne ingewoon en ander het in losieshuise gebly.
Elke werksdag het die 17 lede van die Bethelgesin in die kleedkamer van die klein fabriek vir oggendaanbidding byeengekom. Baie van ons moes ons eie reëlings vir middagete tref. Dan, na ’n volle dag se werk, moes ons na ons huisvesting in verskillende dele van Kaapstad reis. Dit was juis eendag toe ons op pad was na ons huisvesting dat ek en my broer David, soos reeds gemeld, so verbaas was om die teken “Slegs Blankes” te sien.
Toe ek aanvanklik by die takkantoor in Kaapstad aangekom het, het ek besef dat ek nog baie het om te leer; dus het ek broer Phillips, ons takopsiener, gevra: “Wat moet ek doen om die agterstand in te haal?”
“Frans”, was sy antwoord, “moenie die agterstand probeer inhaal nie. Hou net tred!” Ek het dit altyd probeer doen, en ek het geleer as ’n mens tred hou met wat Jehovah se organisasie in die vorm van geestelike voedsel en leiding voorsien, sal jy aanhou om saam met die organisasie te groei.
In 1950 is ek genooi om die 16de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon om opleiding in sendingwerk te ontvang. Die skool was toe in South Lansing, New York, ongeveer 400 kilometer noord van Brooklyn, New York, geleë. Terwyl ek tydelik by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn gedien het, het my eie oë die kern van Jehovah se sigbare organisasie waargeneem. Die heelhartige toegewydheid van diegene wat die leiding daar neem, het my met ’n diepe waardering vir Jehovah se organisasie vervul.
My voortgesette diens
Ná my terugkoms in Suid-Afrika is ek aangestel as ’n reisende opsiener in Noord-Transvaal, waar ek grootgeword het. Nadat ek en Martie ses jaar gekorrespondeer het, is ons in Desember 1952 getroud, en sy het by my in die kringwerk aangesluit. Die waardering wat ons Christenbroers vir ons besoeke getoon het, was vir ons ’n riem onder die hart.
Eenkeer toe ons ’n gemeente in ’n plaasgemeenskap besoek het, het ons byvoorbeeld by ’n gesin tuisgegaan wat verskoning gemaak het omdat hulle nie melk vir die tee of koffie gehad het nie. Later het ons uitgevind dat hulle hulle enigste melkkoei verkoop het om genoeg geld vir brandstof te hê sodat ons afgeleë dele van hulle gebied kon besoek om vir die boere te getuig. Hoe lief het ons tog nie sulke broers nie!
Soms het ek onbevoeg gevoel vir die kringwerk, veral wanneer ek met probleme te doen gekry het waarby van die ouer garde betrokke was. By een geleentheid het ek emosioneel so uitgemergel gevoel dat ek vir Martie gesê het sy moet nie verbaas wees as ons weens my gebrek aan ervaring na die pioniergeledere teruggestuur word nie. Sy het my verseker dat sy gelukkig sou wees om in enige hoedanigheid te dien solank ons net in die voltydse bediening kon bly.
Stel julle ons verbasing voor toe ons by die volgende gemeente aankom en daar onder ons pos ’n aanstellingsbrief vir my was om in die streekwerk te dien! Bykans twee jaar het ons deur die hele Suid-Afrika en Namibië, destyds Suidwes-Afrika, gereis. Maar weens die apartheidstelsel was ons werk dikwels moeilik. Ons is dikwels permitte geweier om die swart woonbuurtes binne te gaan en soms is ons toestemming vir byeenkomste geweier.
In 1960 het ons byvoorbeeld toestemming ontvang om ’n streekbyeenkoms in Soweto te hou. Die swart broers van verafgeleë gemeentes het reeds trein- en buskaartjies gekoop om na die byeenkoms te kom, maar die owerheid het van ons planne te hore gekom en die toestemming teruggetrek. Ons het met groot omsigtigheid ’n goedgesinde superintendent in ’n dorp 20 kilometer aan die ander kant van Johannesburg genader. Hy het ons goedgunstig van selfs beter fasiliteite voorsien, en ons het ’n wonderlike byeenkoms gehad, wat deur meer as 12 000 geniet is.
Hoe het die situasie tog nie in onlangse jare verander nie! Noudat apartheid afgeskaf word, kan ons vrylik oral in swart, wit, kleurling- of Indiërgebiede bymekaarkom. Almal kan, ongeag ras, saam sit en mekaar se geselskap geniet. Slegs taalverskille bepaal nou waar iemand sal kies om te sit.
’n Smartlike les
Destyds in 1947 het my pa ’n groot misstap begaan. Sy winkel, wat meer as 200 kilometer was van waar hy en Ma gewoon het, was weens oneerlike bestuur nie meer winsgewend nie, en daarom het hy alleen teruggegaan om self die winkel te bestuur. Lang tydperke wat hy van Ma af weg was, het daartoe gelei dat hy voor versoeking geswig het. Gevolglik is hy uit die Christengemeente gesit.
Dit het op ’n smartlike, persoonlike wyse by my die feit ingeskerp dat ’n ywer vir Bybelwaarhede op sigself nie genoeg is nie. Ons almal moet by Bybelbeginsels bly (1 Korinthiërs 7:5). Ná baie jare is Pa as ’n lid van die Christengemeente herstel en het getrou gedien tot sy dood in 1970. My dierbare moeder het getrou gebly tot haar dood in 1991.
Verdere seëninge
In 1958 het ek en Martie die grootste byeenkoms wat Jehovah se Getuies ooit gehou het, bygewoon by Yankeestadion en die Poloterrein in New York. Ons het eenvoudig oorgeborrel van blydskap omdat ons deel is van Jehovah se wonderlike organisasie. Om onder daardie groot skare van meer as 253 000 die Sondagmiddag te wees, was ’n belewenis wat ons nooit sal vergeet nie. Hier het ons die werklikheid aanskou van die ‘groot menigte uit al die nasies’ wat vreedsaam byeen vergader was (Openbaring 7:9, 10). Martie het in New York agtergebly om Gileadskool by te woon, en ek het teruggekeer na die streekwerk in Suid-Afrika.
In 1959, toe Martie teruggekeer het nadat sy die 32ste klas van Gileadskool bygewoon het, is ons genooi om by die Suid-Afrikaanse takkantoor te dien wat destyds naby Elandsfontein, oos van Johannesburg, geleë was. Met die jare het ek die vooruitgang van die organisasie in so baie opsigte gesien, veral in die wyse waarop die organisasie in liefde en empatie gegroei het. Ek het geleer dat Jehovah sy organisasie deur Jesus Christus rig en diegene sal gebruik wat hulle beskikbaar stel.
In 1962 is ek weer na Brooklyn, New York, om ’n tien maande lange opleidingskursus vir takpersoneel by te woon. Dit het my baie goed te pas gekom toe ek in 1967 as die Suid-Afrikaanse takopsiener aangestel is. In 1976 is Takkomitees aangestel, en nou rus die verantwoordelikheid om belangrike besluite in Suid-Afrika te neem op die skouers van vyf ervare Christen- ouere manne.
Die lewe onder apartheid
Die apartheidswette het die werking van ons takkantoor nadelig geraak. Toe die Elandsfonteinse Bethelhuis in 1952 gebou is, het die wet vereis dat ’n afsonderlike gebou agter die hoofgebou opgerig word om die swart en die kleurlingbroers te huisves. Die wet het ook vereis dat hulle in hulle eie woonkwartier apart van die blankes eet. Later is gereël dat hulle in die Bethelkombuis eet. Dit was die etereëling toe ons in 1959 in Bethel ingekom het. My hele wese het in opstand gekom teen hierdie skeiding op grond van ras.
Later het die owerheid die toestemming teruggetrek dat ons swart broers in die gebou agter die Bethelhoofgebou kon bly. Hierdie broers moes in ’n swart woonbuurt ongeveer 20 kilometer ver gaan bly. Party het in huurhuise en ander in hostelle vir ongetroude mans gebly. Hierdie situasie wat ons dwars in die krop gesteek het, het baie jare voortgeduur.
Betheluitbreiding
Intussen moes die Elandsfonteinse Bethel vergroot word. Nadat ons drie keer daar aangebou het, het ons die perke van ons stuk grond bereik. Die Bestuursliggaam het ons opdrag gegee om na ’n nuwe stuk grond te soek in ’n gebied waar die plaaslike owerheid ons hopelik sou toelaat om ’n Bethelkompleks te bou waar ons swart broers ook kon bly. Die Bethelgesin het Jehovah elke oggend in gebed gevra om op die een of ander manier die weg hiervoor te open.
Wat ’n heuglike dag was dit tog nie toe ons uiteindelik ’n geskikte stuk grond aan die buitewyke van Krugersdorp, wes van Johannesburg, gevind het nie! Ons moes egter weer eens ’n afsonderlike gebou vir ons swart broers bou. Ons het dit gedoen, maar kon net toestemming kry om 20 swart broers hier te huisves. Ons is dankbaar dat die situasie teen die middel van die tagtigerjare begin verander het. Die regering het sy streng apartheidswette begin verslap, en meer swart, kleurling- en Indiërbroers is genooi om saam met ons by Bethel te kom dien.
Nou is ons ’n gelukkige, verenigde Bethelgesin, waar mense, ongeag ras of kleur, in enige van die geboue kan woon waar hulle wil. Na ons jare daarvoor geveg het, het ons ook eindelik wetlike erkenning as ’n godsdiens ontvang. ’n Plaaslike regsliggaam is gestig en as “Jehovah se Getuies van Suid-Afrika” geregistreer. Nou het ons ons eie huweliksbeamptes, en in die swart woonbuurtes verrys Koninkryksale soos paddastoele.
Hoe het Jehovah se organisasie tog nie vooruitgegaan sedert die vroeë dae toe ek in die Kaapstadse takkantoor gedien het nie! Van ’n gesinnetjie van 17 sonder ’n Bethelhuis het ons nou gegroei tot ’n Bethelgesin van oor die 460, wat ’n moderne Bethelkompleks met gesofistikeerde rekenaars, rolperse en ’n lieflike Bethelhuis het! Ja, ek het die voorreg gehad om saam met Jehovah se organisasie in Suid-Afrika te groei. Ons het vermeerder van sowat 400 Koninkryksverkondigers toe ek sowat 50 jaar gelede in die bediening begin het tot bykans 55 000 vandag!
Ek dank Jehovah dat ek die afgelope 40 jaar ’n vrou aan my sy gehad het wat my so getrou bygestaan het. “My beker loop oor” (Psalm 23:5). Ek en Martie is dankbaar om deel te wees van Jehovah se geesgerigte organisasie, en ons is vasbeslote om Jehovah in sy huis, in Bethel, met volharding te dien en tred te hou met sy organisasie wat steeds vooruitbeweeg.
[Kaarte op bladsy 19]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ANGOLA
ZAÏRE
ZAMBIË
ZIMBABWE
BOTSWANA
NAMIBIË
SWAZILAND
LESOTHO
SUID-AFRIKA
Pretoria
Johannesburg
Kaapstad
Port Elizabeth
SUID-ATLANTIESE OSEAAN
INDIESEOSEAAN
MOSAMBIEK-KANAAL
[Prent op bladsy 20]
Piet Wentzel en Frans Muller (links) in die pionierdiens in 1945
[Prent op bladsy 23]
Frans en Martie Muller