Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/1 bl. 7-12
  • Die seën van Jehovah maak ryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die seën van Jehovah maak ryk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die belangrikste soort voorspoed
  • Geestelike rykdom vandag
  • Tiendes en offerandes
  • “Gee ag op wat julle wedervaar het”
  • Hulle beroof Jehovah
  • Die oordeel van “die ware Heer”
  • “Bring die hele tiende na die skathuis”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Bybelboek nommer 39—Maleagi
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Tyd van toetsing en sifting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • ‘’n Seën totdat daar geen gebrek meer is nie’
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/1 bl. 7-12

Die seën van Jehovah maak ryk

“Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen smart by nie.”—SPREUKE 10:22, NW.

1-3. Hoewel baie mense bekommerd is oor materiële dinge, moet watter feit aangaande materiële rykdom besef word?

SOMMIGE mense hou nooit op om oor geld—of die gebrek daaraan—te praat nie. Ongelukkig was daar in onlangse jare heelwat waaroor hulle kon gesels. In 1992 het selfs die welvarende Weste ’n resessie ondervind en uitvoerende bestuurders sowel as gewone werkers het sonder werk gesit. Baie het gewonder of hulle ooit weer ’n tyd van bestendige voorspoed sou beleef.

2 Is dit verkeerd om ons oor ons materiële welstand te bekommer? Nee, dit is in sekere mate net natuurlik. Terselfdertyd is daar ’n grondwaarheid wat ons aangaande rykdom moet besef. Alle materiële dinge kom per slot van rekening van die Skepper af. Hy is “die ware God, Jehovah, . . . wat die aarde uitsprei met alles wat dit voortbring, wat asem gee aan die volk daarop, en gees aan diegene wat daarop wandel”.—Jesaja 42:5, NW.

3 Hoewel Jehovah nie vooraf bepaal wie ryk en wie arm gaan wees nie, is ons almal verantwoordelik vir die manier waarop ons ons deel, hoe groot of hoe klein ook al, van ‘die aarde en alles wat dit voortbring’, gebruik. As ons ons rykdom gebruik om oor ander baas te speel, sal Jehovah ons daarvoor aanspreeklik hou. En enigeen wat rykdom in plaas van Jehovah dien, sal uitvind dat die een wat “op sy rykdom vertrou, dié sal val” (Spreuke 11:28; Mattheüs 6:24; 1 Timotheüs 6:9). Materiële voorspoed sonder ’n hart wat aan Jehovah onderworpe is, is op die lange duur waardeloos.—Prediker 2:3-11, 18, 19; Lukas 16:9.

Die belangrikste soort voorspoed

4. Waarom is geestelike voorspoed beter as materiële oorvloed?

4 Benewens materiële voorspoed praat die Bybel ook van geestelike voorspoed. Laasgenoemde is beslis beter (Mattheüs 6:19-21). Geestelike voorspoed behels ’n bevredigende verhouding met Jehovah wat tot in ewigheid kan duur (Prediker 7:12). Daarbenewens geniet knegte van God wat geestelik ryk is ook materiële seëninge. In die nuwe wêreld sal geestelike rykdom met materiële voorspoed verband hou. Getroue persone sal materiële sekuriteit geniet wat nie, soos dit vandag so dikwels die geval is, deur bitter mededinging of ten koste van gesondheid en geluk verkry word nie (Psalm 72:16; Spreuke 10:28; Jesaja 25:6-8). Hulle sal in alle opsigte vind “die seën van Jehovah . . . maak ryk, en hy voeg daar geen smart by nie”.—Spreuke 10:22, NW.

5. Watter belofte het Jesus aangaande materiële dinge gemaak?

5 Selfs vandag ervaar diegene wat waarde aan geestelike dinge heg ’n sekere gerustheid wat materiële dinge betref. Hulle werk weliswaar om hulle rekeninge te betaal en hulle gesinne te voed. Of sommige verloor dalk gedurende tye van resessie selfs hulle werk. Maar hulle word nie deur sulke sorge oorweldig nie. Hulle glo eerder Jesus se belofte waar hy gesê het: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want . . . julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:31-33.

Geestelike rykdom vandag

6, 7. (a) Beskryf sommige aspekte van die geestelike voorspoed van God se volk. (b) Watter profesie word vandag vervul, en watter vrae laat dit ontstaan?

6 Jehovah se volk het gevolglik gekies om die Koninkryk eerste in hulle lewe te stel, en hoe geseënd is hulle tog! Hulle behaal groot welslae in hulle dissipelmaakwerk (Jesaja 60:22). Hulle word deur Jehovah geleer, en hulle geniet ’n ononderbroke stroom van geestelik goeie dinge wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word (Mattheüs 24:45-47; Jesaja 54:13). Bowendien rus Jehovah se gees op hulle, en dit maak hulle ’n lieflike internasionale broederskap.—Psalm 133:1; Markus 10:29, 30.

7 Dit is voorwaar geestelike voorspoed, iets wat geld nie kan koop nie. Dit is ’n treffende vervulling van Jehovah se belofte: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleagi 3:10). Ons het vandag die vervulling van hierdie belofte gesien. Maar waarom vra Jehovah, die Bron van alle rykdom, dat sy knegte ’n tiende van alles moet inbring? Wie vind baat by die tiende? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons uitvind waarom Jehovah hierdie woorde in die vyfde eeu v.G.J. deur Maleagi gespreek het.

Tiendes en offerandes

8. Waarvan het Israel se voorspoed ooreenkomstig die Wetsverbond afgehang?

8 God se volk was in Maleagi se tyd nie voorspoedig nie. Waarom nie? Dit het deels verband gehou met offerandes en tiendes. Israel was op daardie tydstip onder die Mosaïese Wetsverbond. Toe Jehovah daardie verbond met hulle gesluit het, het hy belowe dat hy Israel geestelik en materieël sou seën as hulle hulle deel daarvan nakom. Israel se voorspoed het in werklikheid van hulle getrouheid afgehang.—Deuteronomium 28:1-19.

9. Waarom het Jehovah in die tyd van eertydse Israel vereis dat Israel tiendes betaal en offerandes bring?

9 ’n Deel van Israel se verpligting onder die Wet was om offerandes na die tempel te bring en om tiendes te betaal. Party van die offerandes is heeltemal op die altaar van Jehovah verbrand, terwyl ander verdeel is onder die priesters en diegene wat die offerandes aangebied het, nadat spesiale dele aan Jehovah geoffer is (Levitikus 1:3-9; 7:1-15). Wat tiendes betref, het Moses vir die Israeliete gesê: “Al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE” (Levitikus 27:30). Die tiendes is aan die Levitiese werkers by die tabernakel en later by die tempel gegee. Leviete wat nie as priesters gedien het nie, het op hulle beurt ’n tiende van wat hulle ontvang het aan die Aäronitiese priesters gegee (Numeri 18:21-29). Waarom het Jehovah vereis dat Israel tiendes betaal? Eerstens, sodat hulle hulle waardering vir Jehovah se goedheid op ’n tasbare wyse kon toon. En tweedens, sodat hulle tot die onderhoud van die Leviete kon bydra, wat hulle dan kon toespits op hulle verpligtinge, wat onderrigting in die Wet ingesluit het (2 Kronieke 17:7-9). Sodoende is ware aanbidding ook ondersteun, en almal het daarby baat gevind.

10. Wat het gebeur wanneer Israel nie hulle tiendes en offerandes gebring het nie?

10 Hoewel die tiendes en offerandes later deur die Leviete gebruik is, was hulle in werklikheid gawes aan Jehovah en moes hulle dus van goeie gehalte wees, gawes wat hom waardig was (Levitikus 22:21-25). Wat het gebeur wanneer die Israeliete nie hulle tiendes gebring het nie of wanneer hulle minderwaardige offerandes gebring het? Die Wet het geen straf voorgeskryf nie, maar dit het ’n nadraai gehad. Jehovah het sy seën weerhou, en die Leviete, wat van hulle materiële hulp ontneem is, het opgehou om hulle werk in die tempel te verrig sodat hulle hulleself kon onderhou. Die hele Israel het dus gely.

“Gee ag op wat julle wedervaar het”

11, 12. (a) Wat het gebeur omdat Israel nie die Wet gehoorsaam het nie? (b) Watter opdrag het Jehovah Israel gegee toe hy hulle uit Babilon teruggebring het?

11 Gedurende Israel se geskiedenis was daar sommige wat die Wet, waaronder die betaling van tiendes, voorbeeldig probeer gehoorsaam het (2 Kronieke 31:2-16). Maar die nasie was oor die algemeen nalatig. Hulle het die verbond met Jehovah keer op keer verbreek, tot hy uiteindelik toegelaat het dat hulle verslaan en in 607 v.G.J. na Babilon weggevoer word.—2 Kronieke 36:15-21.

12 Op hierdie wyse is hulle streng gedissiplineer, maar ná 70 jaar het Jehovah sy volk na hulle tuisland teruggebring. Baie van die Paradysprofesieë in Jesaja sou hulle eerste vervulling ná daardie terugkeer hê (Jesaja 35:1, 2; 52:1-9; 65:17-19). Maar die hoofrede waarom Jehovah sy volk teruggebring het, was nie om ’n aardse paradys te skep nie, maar om die tempel te herbou en ware aanbidding te herstel (Esra 1:2, 3). As Israel aan Jehovah gehoorsaam was, sou hulle materiële voordele geniet, en die seën van Jehovah sou hulle geestelik sowel as materieël ryk maak. Die Jode het gevolglik net nadat hulle in 537 v.G.J. in hulle tuisland gekom het ’n altaar in Jerusalem gebou en met die bouwerk aan die tempel begin. Maar hulle het kwaai teenstand ondervind en het opgehou (Esra 4:1-4, 23). Israel het gevolglik nie Jehovah se seën geniet nie.

13, 14. (a) Wat het gebeur toe Israel nie die tempel herbou het nie? (b) Hoe is die tempel uiteindelik herbou, maar hoe het Israel weer teruggeval?

13 In die jaar 520 v.G.J. het Jehovah die profete Haggai en Sagaria verwek om Israel aan te spoor om die tempelbouwerk voort te sit. Haggai het getoon dat die nasie materieel swaarkry en dat dit verband hou met hulle gebrek aan ywer vir Jehovah se huis. Hy het gesê: “So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek. So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ’n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE.”—Haggai 1:5-8.

14 Aangemoedig deur Haggai en Sagaria het die Israeliete ag gegee op wat hulle wedervaar het, en die tempel is gebou. Maar sowat 60 jaar later het Nehemia Jerusalem besoek en gevind dat Israel weer Jehovah se Wet veronagsaam het. Hy het dit reggestel. Maar tydens ’n tweede besoek het hy gevind dat dinge weer eens agteruitgegaan het. Hy sê: “Ook het ek verneem dat die aandele van die Leviete nie gegee is nie, sodat die Leviete en die sangers wat die dienswerk moes verrig, elkeen na sy grond gevlug het” (Nehemia 13:10). Hierdie probleem is reggestel en “die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring”.—Nehemia 13:12.

Hulle beroof Jehovah

15, 16. Op watter tekortkominge wys Jehovah Israel deur Maleagi tereg?

15 Maleagi het waarskynlik tydens hierdie selfde tydperk geprofeteer, en die profeet vertel ons meer van Israel se ontrouheid. Hy herhaal Jehovah se woorde aan Israel: “‘As Ek dan ’n vader is, waar is my eer? En as ek ’n voortreflike meester is, waar is die vrees vir my?’ het Jehovah van die leërskare gesê aan julle, o priesters wat my naam verag.” Wat was verkeerd? Jehovah verduidelik: “Wanneer julle ’n blinde dier as slagoffer aanbied [sê julle]: ‘Dit is nie iets slegs nie.’ En wanneer julle ’n kreupel of siek dier aanbied [sê julle]: ‘Dit is nie iets slegs nie.’”—Maleagi 1:6-8, NW.

16 Op hierdie aanskoulike wyse toon Maleagi dat die Israeliete wel offerandes gebring het, maar dat die swak gehalte van hierdie offerandes ’n teken van verregaande oneerbiedigheid was. Maleagi het ook geskryf: “Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare.” Die Israeliete het gewonder wat hulle in die besonder moes doen, en hulle het dus gevra: “Waarin moet ons terugkeer?” Jehovah het geantwoord: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My.” Hoe kon Israel Jehovah, die Bron van alle rykdom, beroof? Jehovah het geantwoord: “In die tiendes en die offergawe” (Maleagi 3:7, 8). Ja, Israel het Jehovah beroof deur nie hulle tiendes en offerandes te bring nie!

17. Watter doel het tiendes en offerandes in Israel gedien, en watter belofte maak Jehovah aangaande tiendes?

17 Hierdie geskiedkundige agtergrond toon hoe belangrik tiendes en offerandes in Israel was. Dit was ’n blyk van die gewer se waardering. En dit het gehelp om ware aanbidding op ’n materiële wyse te ondersteun. Jehovah het Israel verder aangemoedig: “Bring die hele tiende na die skathuis.” Jehovah het getoon wat sou gebeur as hulle dit doen toe hy die volgende belofte gemaak het: ‘Ek sal ’n oorvloedige seën op julle uitstort’ (Maleagi 3:10). Die seën van Jehovah sou hulle ryk maak.

Die oordeel van “die ware Heer”

18. (a) Oor wie se koms waarsku Jehovah? (b) Wanneer was daar ’n koms na die tempel, wie was daarby betrokke en wat was die gevolg vir Israel?

18 Jehovah het deur Maleagi ook gewaarsku dat hy sou kom om sy volk te oordeel. “Kyk! Ek stuur my boodskapper, en hy moet die weg voor my aangesig baan. En skielik sal daar na Sy tempel kom die ware Heer, na wie julle mense soek, en die boodskapper van die verbond, in wie julle behae het. Kyk! Hy sal stellig kom” (Maleagi 3:1, NW). Wanneer het hierdie beloofde koms na die tempel plaasgevind? In Mattheüs 11:10 het Jesus Maleagi se profesie aangaande ’n boodskapper wat die weg sou berei, aangehaal en dit op Johannes die Doper toegepas (Maleagi 4:5; Mattheüs 11:14). Die oordeelstyd het dus in 29 G.J. aangebreek! Wie was die tweede boodskapper, die boodskapper van die verbond wat Jehovah, “die ware Heer”, na die tempel sou vergesel? Jesus self, en by twee geleenthede het hy na die tempel in Jerusalem gekom en dit op dramatiese wyse gereinig deur die oneerlike geldwisselaars uit te jaag (Markus 11:15-17; Johannes 2:14-17). Jehovah vra profeties aangaande hierdie eerste-eeuse oordeelstyd: “Wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?” (Maleagi 3:2). Om die waarheid te sê, Israel het nie standgehou nie. Hulle is ondersoek, te lig bevind, en in 33 G.J. is hulle as Jehovah se uitverkore volk verwerp.—Mattheüs 23:37-39.

19. Op watter wyse het ’n oorblyfsel in die eerste eeu na Jehovah teruggekeer, en hoe is hulle geseën?

19 Maar Maleagi het ook geskryf: “[Jehovah] moet sit as ’n louteraar en reiniger van silwer en moet die seuns van Levi reinig; en hy moet hulle suiwer soos goud en soos silwer, en hulle sal beslis voor Jehovah mense word wat ’n offergawe aanbied in geregtigheid” (Maleagi 3:3, NW). Hoewel die meeste verwerp is wat in die eerste eeu beweer het dat hulle Jehovah dien, is sommige in ooreenstemming met hierdie profesie gereinig en het hulle met aanneemlike offerandes na Jehovah gekom. Wie was hulle? Diegene wat na Jesus, die boodskapper van die verbond, geluister het. Op Pinkster 33 G.J. was 120 van hierdie persone wat gehoor gegee het saam in ’n bovertrek in Jerusalem vergader. Omdat hulle deur heilige gees versterk is, het hulle ’n offergawe in geregtigheid begin aanbied, en hulle getalle het vinnig toegeneem. Kort voor lank het hulle deur die Romeinse Ryk versprei (Handelinge 2:41; 4:4; 5:14). Sodoende het ’n oorblyfsel tot Jehovah teruggekeer.—Maleagi 3:7.

20. Wat het met die nuwe Israel van God gebeur toe Jerusalem en die tempel vernietig is?

20 Hierdie oorblyfsel van Israel, wat later nie-Jode ingesluit het wat as ’t ware op die wortelstok van Israel ingeënt is, was ’n nuwe “Israel van God”, ’n nasie wat uit geesgesalfde Christene bestaan het (Galasiërs 6:16; Romeine 11:17). In 70 G.J. het ’n ‘dag wat brand soos ’n oond’ oor vleeslike Israel gekom toe Jerusalem en sy tempel deur Romeinse leërs vernietig is (Maleagi 4:1; Lukas 19:41-44). Wat het met die geestelike Israel van God gebeur? Jehovah het ‘medelye met hulle gehad soos ’n man medelye het met sy seun wat hom dien’ (Maleagi 3:17). Die gesalfde Christengemeente het op Jesus se profetiese waarskuwing ag geslaan (Mattheüs 24:15, 16). Hulle het dit oorleef, en Jehovah se seën het hulle deurgaans geestelik ryk gemaak.

21. Watter vrae in verband met Maleagi 3:1 en 10 moet nog beantwoord word?

21 Wat ’n verheerliking van Jehovah was dit tog! Maar hoe word Maleagi 3:1 vandag vervul? En hoe moet ’n Christen gehoor gee aan die aanmoediging in Maleagi 3:10 om die hele tiende na die skathuis, oftewel voorraadskuur, te bring? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

Kan jy verduidelik?

◻ Wie is die Bron van alle rykdom?

◻ Waarom is geestelike voorspoed beter as materiële rykdom?

◻ Van watter nut was tiendes en offerandes in Israel?

◻ Wanneer het Jehovah, “die ware Heer”, na die tempel gekom om Israel te oordeel, en met watter gevolg?

◻ Wie het na Jehovah teruggekeer nadat hy in die eerste eeu G.J. na sy tempel gekom het?

[Prent op bladsy 10]

Die boodskapper van die verbond, Jesus, wat Jehovah verteenwoordig het, het in die eerste eeu G.J. na die tempel gekom om te oordeel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel