Wie geniet God se guns?
ONS wil almal hê dat ons metgeselle van ons moet hou. Vir ’n Christen is dit veel belangriker om God se guns te geniet. In Psalm 84:11 word daar van Jehovah God gesê: “Die HERE sal genade [“guns”, NW] en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.” Met Jesus se geboorte het die vreugdevolle uitroep van die hemelse engele “vrede op aarde” beloof “vir mense wat Sy guns geniet!”—Lukas 2:14, Moffatt.
Maar wie staan in guns by God? Is God se standaarde dieselfde as die mens s’n? Soos die bespreking in die vorige artikel getoon het, is dit te verstane dat dit nie die geval is nie. Trouens, aangesien Christene vermaan word om ‘navolgers van God te wees’, kan elkeen van ons gerus vra: ‘Is ek gunstig gesind teenoor diegene wat by God in guns staan, of is ek geneig om wêreldse standaarde te volg wanneer ek mense beoordeel?’ (Efesiërs 5:1). Om Jehovah se guns en goedkeuring te verkry, moet ons dinge uit sy oogpunt sien.
God se hoër standaarde
‘God is geen aannemer van die persoon nie’, het die apostel Petrus gesê, ‘maar in elke nasie is die een wat Hom vrees en geregtigheid doen vir Hom welgevallig.’ Verder het die apostel Paulus verklaar dat God “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak” het (Handelinge 10:34, 35; 17:26). Daarom is dit net redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat alle mense in God se oë gelyk is, ongeag wat hulle fisiese karaktertrekke is. As dit die geval is, sal dit onvanpas wees van ’n Christen om aan iemand oormatige guns te bewys bloot omdat hy van ’n bepaalde streek af kom, ’n sekere velkleur het of aan ’n ander ras behoort. Hy kan gerus eerder sy Voorbeeld, Jesus Christus, navolg van wie selfs vyande erken het dat hy geen vooroordeel getoon het nie.—Mattheüs 22:16.
Die uitdrukking “veldiep” word soms gebruik om iets te beskryf wat oppervlakkig of onbelangrik is. Dit is presies wat velkleur is; net veldiep. Iemand se velkleur weerspieël geensins sy persoonlikheid of innerlike eienskappe nie. Wanneer ons besluit met wie om te assosieer, saam te eet of wie om met die hand te groet, moet ons gewis nie in die besonder na velkleur kyk nie. Onthou dat die meisie wat van die mooiste en mees romantiese digkuns ooit geïnspireer het van haarself gesê het: “Ek is ’n swart meisie, maar ek is mooi, . . . ek is donker omdat die son my gebrand het” (Hooglied 1:5, 6, NW). Nie ras óf kleur is ’n behoorlike grondslag om aan iemand guns te betoon nie. Dit is baie belangriker dat ’n persoon God vrees en regskape optree.
Hoe beskou God iemand wat materieel ryk is? Van almal wat God liefhet en wat sy guns geniet, is sy Seun, Jesus Christus, die belangrikste. Maar toe Jesus op aarde was, was daar “geen plek waar Hy sy hoof [kon] neerlê nie” (Mattheüs 8:20). Hy het geen grond, huise, landerye, vrugtebome of diere besit nie. Nogtans het Jehovah hom vereer en hom tot ’n posisie bo almal in die heelal behalwe God self verhoog.—Filippense 2:9.
Jesus Christus het guns gevind by God omdat hy ryk was, nie in materiële dinge nie, maar in goeie werke. (Vergelyk 1 Timotheüs 6:17, 18.) Hy het sy volgelinge vermaan: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Mattheüs 6:19, 20). Daarom sal Christene, in plaas van net guns te betoon aan diegene wat ryk is in die dinge van hierdie wêreld, geen onderskeid tref op grond van wêreldse besittings nie. Hulle sal die geselskap van diegene soek wat ryk is ten opsigte van God ongeag of hulle materieel ryk of arm is. Moet nooit vergeet dat “God . . . die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk” nie (Jakobus 2:5). As jy God se sienswyse huldig, sal jy nooit die slagoffer word van die algemene gebruik om dié wat materieel ryk is te begunstig nie.
Wat geleerdheid betref, toon die Bybel duidelik dat God ons aanspoor om kennis en wysheid te verwerf en dat Jesus Christus die grootste onderwyser ooit op aarde was (Spreuke 4:7; Mattheüs 7:29; Johannes 7:46). Maar dit is nie wêreldse wysheid of geleerdheid wat guns by God vind nie. Daarenteen sê Paulus vir ons dat “nie baie wyse na die vlees [geroep is] nie, . . . maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam”.—1 Korinthiërs 1:26, 27.
God betoon guns aan diegene wat goed geleerd is, nie in die sekulêre vakke wat by institute van hoër onderwys geleer word nie, maar in die “suiwer taal” van die waarheid wat in sy Woord, die Bybel, gevind word (Sefanja 3:9, NW). Trouens, Jehovah self onderrig vandag sy volk deur middel van ’n opleidingsprogram wat tot by die uithoeke van die aarde uitbrei. Soos die profeet Jesaja voorspel het, reageer mense van alle nasies daarop deur te sê: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.” Daarom sal Christene, in plaas van sekulêre geleerdheid te verheerlik, diegene se geselskap soek wat deur hulle woorde en dade bewys dat hulle werklik ‘mense is wat deur Jehovah geleer word’. Sodoende sal hulle die “oorvloedige vrede” geniet wat God gee.—Jesaja 2:3; 54:13, NW.
Ons kan God se guns verkry
Ja, God se standaarde waarvolgens hy guns aan ander bewys, is baie anders as die mens s’n. Ons moet nietemin daarna streef om deur sy weë gelei te word as ons guns in sy oë wil verkry. Dit beteken dat ons moet leer om ander uit God se oogpunt te sien en nie op grond van menslike standaarde wat beïnvloed kan word deur selfsug en vooroordeel nie. Hoe kan ons dit doen?
Jehovah God ondersoek ’n mens se hart en toon guns aan diegene wat eienskappe soos liefde, goedheid, vriendelikheid en lankmoedigheid aan die dag lê. Ons moet dieselfde doen (1 Samuel 16:7; Galasiërs 5:22). Ons moet na die innerlike persoon kyk, sover dit vir ons as mense moontlik is, en nie na sy velkleur of etniese agtergrond nie. In plaas van diegene se geselskap te soek wat materieel ryk is, is dit goed om God se beskouing van rykdom in gedagte te hou en daarna te streef om “ryk [te] wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam” (1 Timotheüs 6:18). Om God se guns te verkry, moet ons voortdurend streef na juiste kennis aangaande God en sy Seun, Jesus Christus, en goed geleerd raak in die suiwer taal van die waarheid (Johannes 17:3, 17). Sodoende sal ons ook onder diegene wees wat God se guns geniet.