Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/1 bl. 12-17
  • “Bring die hele tiende na die skathuis”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Bring die hele tiende na die skathuis”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die koms na die geestelike tempel
  • ’n Reiningingswerk
  • Offerandes en tiendes
  • ’n Oorvloedige seën
  • Die seën van Jehovah maak ryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat sê die Bybel oor tiendes?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • ‘’n Seën totdat daar geen gebrek meer is nie’
    Lewe met Jehovah se dag in gedagte
  • Hoe kan ons Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/1 bl. 12-17

“Bring die hele tiende na die skathuis”

‘Beproef My tog hierin, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak nie.’—MALEAGI 3:10.

1. (a) Watter uitnodiging het Jehovah in die vyfde eeu v.G.J. aan sy volk gerig? (b) Wat was die gevolg toe Jehovah in die eerste eeu G.J. na die tempel gekom het om te oordeel?

IN DIE vyfde eeu v.G.J. was die Israeliete ontrou aan Jehovah. Hulle het hulle tiendes weerhou en gebrekkige diere as offerandes na die tempel gebring. Nogtans het Jehovah belowe dat hy ’n oorvloedige seën op hulle sou uitstort as hulle die hele tiende na die skathuis, oftewel voorraadskuur, bring (Maleagi 3:8-10). Sowat 500 jaar later het Jehovah, verteenwoordig deur Jesus as Sy boodskappper van die verbond, na die tempel in Jerusalem gekom om te oordeel (Maleagi 3:1). Israel as ’n nasie is te lig bevind, maar diegene wat na Jehovah teruggekeer het, is ryklik geseën (Maleagi 3:7). Hulle is gesalf om Jehovah se geestelike seuns, ’n nuwe skepping, “die Israel van God”, te word.—Galasiërs 6:16; Romeine 3:25, 26.

2. Wanneer sou Maleagi 3:1-10 ’n tweede vervulling ondergaan, en wat word ons genooi om na aanleiding hiervan te doen?

2 Amper 1 900 jaar later, in 1914, is Jesus as Koning van God se hemelse Koninkryk gekroon, en die Goddelik geïnspireerde woorde in Maleagi 3:1-10 sou nou ’n tweede vervulling ondergaan. Hedendaagse Christene word na aanleiding van hierdie opwindende gebeurtenis genooi om die hele tiende na die voorraadskuur te bring. As ons dit doen, sal ons ook oorvloedige seëninge geniet.

3. Wie was die boodskapper wat die weg voor Jehovah berei het (a) in die eerste eeu? (b) voor die Eerste Wêreldoorlog?

3 Jehovah het aangaande sy koms na die tempel gesê: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan” (Maleagi 3:1). As ’n eerste-eeuse vervulling hiervan het Johannes die Doper na Israel gekom en ’n bekering van sondes verkondig (Markus 1:2, 3). Was daar ’n voorbereidingswerk wat met Jehovah se tweede koms na sy tempel gedoen moes word? Ja. In die dekades voor die Eerste Wêreldoorlog het die Bybelstudente op die wêreldtoneel verskyn, en hulle het onderrig gegee in die suiwer leer van die Bybel en God-onterende leuens, soos die leerstellings van die Drie-eenheid en die helse vuur, blootgelê. Hulle het ook oor die komende einde van die Heidense Tye in 1914 gewaarsku. Baie het na hierdie ligdraers van waarheid geluister.—Psalm 43:3; Mattheüs 5:14, 16.

4. Watter vraag moet gedurende die dag van die Here beantwoord word?

4 Die jaar 1914 was die begin van wat die Bybel “die dag van die Here” noem (Openbaring 1:10). Betekenisvolle gebeure sou gedurende daardie dag plaasvind, met inbegrip van die identifisering van “die getroue en verstandige dienskneg” en die aanstelling van daardie een “oor al [die Heer se] besittings” (Mattheüs 24:45-47). In 1914 was daar duisende kerke wat beweer het dat hulle Christelik is. Watter groep sou deur die Heer, Jesus Christus, as sy getroue en verstandige dienskneg erken word? Daardie vraag sou met Jehovah se koms na die tempel beantwoord word.

Die koms na die geestelike tempel

5, 6. (a) Na watter tempel het Jehovah gekom om te oordeel? (b) Watter oordeel het die Christendom van Jehovah ontvang?

5 Maar na watter tempel het hy gekom? Gewis nie na die letterlike tempel in Jerusalem nie. Die laaste van daardie tempels is reeds in 70 G.J. vernietig. Jehovah het egter ’n groter tempel wat deur die tempel in Jerusalem afgebeeld is. Paulus het van hierdie groter tempel gepraat en getoon hoe groots dit waarlik is, met ’n heiligdom in die hemel en ’n voorhof hier op die aarde (Hebreërs 9:11, 12, 24; 10:19, 20). Dit is na hierdie groot geestelike tempel wat Jehovah gekom het om te oordeel.—Vergelyk Openbaring 11:1; 15:8.

6 Wanneer het dit gebeur? Volgens duidelik beskikbare bewyse was dit in 1918.a Wat was die gevolg? Wat die Christendom betref, het Jehovah ’n organisasie gesien wie se hande vol bloed was, ’n korrupte godsdiensstelsel wat haarself aan hierdie wêreld oorgegee het, wat haar met die rykes vereenselwig het en die armes onderdruk het, wat heidense leerstellings geleer het pleks van ware aanbidding te beoefen (Jakobus 1:27; 4:4). Jehovah het deur Maleagi gewaarsku: “Ek sal ’n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk” (Maleagi 3:5). Die Christendom het al hierdie en erger dinge gedoen. Teen 1919 was dit duidelik dat Jehovah die Christendom tot vernietiging verdoem het, saam met die res van Babilon die Grote, die wêreldwye struktuur van valse godsdiens. Van toe af het die oproep aan regskapenes uitgegaan: “Gaan uit haar uit, my volk.”—Openbaring 18:1, 4.

7. Wie is deur Jesus as sy getroue en verstandige dienskneg erken?

7 Wie was die getroue en verstandige dienskneg dan? In die eerste eeu het dit met die klein groepie begin wat gehoor gegee het aan die predikingswerk van Johannes die Doper en Jesus, die boodskapper van die verbond. In ons eeu was dit die paar duisend wat gedurende die jare vóór 1914 gunstig gereageer het op die voorbereidingswerk van die Bybelstudente. Hierdie persone het gedurende die Eerste Wêreldoorlog bitter beproewinge verduur, maar hulle het getoon dat hulle hart met Jehovah was.

’n Reiningingswerk

8, 9. In watter opsigte moes die getroue en verstandige dienskneg in 1918 gereinig word, en watter belofte het Jehovah in verband hiermee gemaak?

8 Maar selfs hierdie groep moes gereinig word. Sommige wat hulle by hierdie groep geskaar het, was al die tyd vyande van die geloof en moes verwyder word (Filippense 3:18). Ander was onwillig om die verantwoordelikheid van diens aan Jehovah te dra en het weggedryf (Hebreërs 2:1). Daarbenewens was daar oorblywende Babiloniese gebruike wat uitgesuiwer moes word. Die getroue en verstandige dienskneg moes ook op organisatoriese gebied gereinig word. ’n Gepaste standpunt van neutraliteit teenoor hierdie wêreld moes geleer en toegepas word. En namate die wêreld al hoe meer verdorwe geraak het, moes hulle ’n harde stryd voer om sedelike en geestelike onreinheid uit die gemeentes te hou.—Vergelyk Judas 3, 4.

9 Ja, reiniging was nodig, maar Jehovah het liefdevol aangaande die gekroonde Jesus gesê: “Hy sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ’n offer sal bring” (Maleagi 3:3). Van 1918 af het Jehovah, deur middel van hierdie boodskapper van die verbond, sy belofte nagekom en sy volk gereinig.

10. Watter soort offerandes het God se volk gebring, en watter uitnodiging het Jehovah aan hulle gerig?

10 Die gesalfde broers van Christus en die groot menigte wat later by hulle in Jehovah se diens aangesluit het, het almal baat gevind by Jehovah se optrede as ’n smelter en reiniger van silwer (Openbaring 7:9, 14, 15). As ’n organisasie het hulle gekom, en hulle kom steeds, om ’n offerande in geregtigheid te bring. En hulle offerande is “vir die HERE aangenaam . . . soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd” (Maleagi 3:4). Dit was hulle wat Jehovah profeties genooi het: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”—Maleagi 3:10.

Offerandes en tiendes

11. Waarom is offerandes volgens die Mosaïese Wetstelsel nie meer nodig nie?

11 In Maleagi se dag het God se volk letterlike offerandes en tiendes, soos graan, vrugte en vee, gebring. Selfs in Jesus se dag het getroue Israeliete letterlike offerandes na die tempel gebring. Maar ná Jesus se dood het dit alles verander. Die Wet is afgeskaf, waaronder die bevel om bepaalde materiële offerandes en tiendes te bring (Efesiërs 2:15). Jesus het die profetiese tipe van die offerandes onder die Wet vervul (Efesiërs 5:2; Hebreërs 10:1, 2, 10). Hoe kan Christene dan offerandes en tiendes bring?

12. Watter geestelike offerandes bring Christene?

12 Vir hulle is offerandes hoofsaaklik geestelik. (Vergelyk Filippense 2:17; 2 Timotheüs 4:6.) Paulus het byvoorbeeld van die predikingswerk as ’n offerande gepraat toe hy gesê het: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Hy het van ’n ander soort geestelike offerande gepraat toe hy gesê het: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers” (Hebreërs 13:15, 16). Wanneer ouers hulle kinders aanmoedig om die pionierdiens te betree, kan ’n mens as ’t ware sê dat hulle hulle kinders aan Jehovah offer, soos Jefta sy dogter as “’n brandoffer” gebring het aan God wat hom die oorwinning gegee het.—Rigters 11:30, 31, 39.

13. Waarom word daar nie van Christene vereis om ’n letterlike tiende van hulle inkomste te gee nie?

13 Maar wat van tiendes? Is Christene verplig om ’n tiende van hulle materiële inkomste opsy te sit en dit aan Jehovah se organisasie te gee, soos dit in sommige kerke van die Christendom gedoen word? Nee, dit is nie nodig nie. Daar is geen teks wat so ’n reël vir Christene neerlê nie. Toe Paulus bydraes vir behoeftiges in Judea ingesamel het, het hy nie ’n spesifieke persentasie genoem wat gegee moes word nie. Hy het eerder gesê: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7). Toe Paulus van diegene gepraat het wat in die spesiale bediening is, het hy getoon dat hoewel sommige met reg deur vrywillige bydraes onderhou is, hy bereid was om te werk en homself te onderhou (Handelinge 18:3, 4; 1 Korinthiërs 9:13-15). Daar is geen tiendes vir hierdie doel opsygesit nie.

14. (a) Waarom verteenwoordig die tiende wat ons bring nie die feit dat ons ons ten volle aan Jehovah gee nie? (b) Wat word deur die tiende verteenwoordig?

14 Dit is duidelik dat die tiende vir Christene iets simboliseer, of verteenwoordig. Aangesien dit ’n tiende is en die getal tien dikwels aardse volledigheid in die Bybel simboliseer, ontstaan die vraag of die tiende dan simboliseer dat ons ons ten volle aan Jehovah moet gee. Nee. Dit is wanneer ons ons aan Jehovah toewy en dit deur waterdoop simboliseer dat ons ons ten volle aan hom gee. Van die tyd van ons toewyding af het ons niks wat nie reeds Jehovah s’n is nie. Maar Jehovah laat individue toe om af te staan wat hulle s’n is. Die tiende verteenwoordig dus dié deel van wat ons s’n is wat ons aan Jehovah bring, of in Jehovah se diens gebruik, as ’n blyk van ons liefde vir hom en ons erkenning van die feit dat ons aan hom behoort. Die hedendaagse tiende hoef nie net ’n tiende te wees nie. In sommige gevalle sal dit minder wees. In ander gevalle sal dit meer wees. Elkeen bring wat sy hart hom beweeg om te bring en wat sy omstandighede toelaat.

15, 16. Wat sluit ons geestelike tiende in?

15 Wat sluit hierdie geestelike tiende in? Om maar een ding te noem, ons gee ons tyd en energie aan Jehovah. Die tyd wat ons by vergaderinge, byeenkomste en in die velddiens deurbring, is alles iets wat ons aan Jehovah gee—’n deel van ons tiende. Die tyd en energie wat ons daaraan bestee om die siekes te besoek en ander te help—dit is weer eens alles ’n deel van ons tiende. Wanneer ons met die bou van Koninkryksale help en help om die saal in stand te hou en skoon te maak, is dit eweneens ’n deel daarvan.

16 Ons tiende sluit ook ons finansiële bydraes in. Met die ongelooflike vermeerdering in Jehovah se organisasie in onlangse jare het finansiële verpligtinge toegeneem. Nuwe Koninkryksale is nodig asook nuwe takfasiliteite en nuwe Byeenkomssale, sowel as die onderhoud van dié wat reeds gebou is. Om die uitgawes van diegene te dek wat hulle vir spesiale diens beskikbaar stel—en hulle doen dit dikwels met groot persoonlike opoffering—bied ook ’n ontsaglike uitdaging. In 1991 het die koste om net sendelinge, reisende opsieners en spesiale pioniers te onderhou meer as 110 miljoen rand beloop, en dit is alles deur vrywillige bydraes gedek.

17. Wat presies moet ons as ons geestelike tiende gee?

17 Wat presies moet ons as ons geestelike tiende gee? Jehovah stel nie ’n persentasie vas nie. Nietemin sal ’n gevoel van toegewydheid, ’n opregte liefde vir Jehovah en die broers sowel as ’n gevoel van dringendheid in die besef dat daar lewens is wat gered moet word ons aanmoedig om ons hele geestelike tiende te bring. Ons word beweeg om Jehovah in die grootste mate moontlik te dien. As ons suinig is of teësinnig van onsself of ons middele gee, sal dit daarop neerkom dat ons God beroof.—Vergelyk Lukas 21:1-4.

’n Oorvloedige seën

18, 19. Hoe is Jehovah se volk geseën omdat hulle hulle hele tiende gebring het?

18 Jehovah se volk gee al sedert 1919 ruimhartig van hulle tyd, energie en finansiële middele om die nodige vir die predikingswerk te voorsien. Hulle het waarlik die hele tiende na die voorraadskuur gebring. Jehovah het gevolglik sy belofte nagekom en ’n oorvloedige seën op hulle uitgestort. Dit was veral in opvallende mate duidelik uit die groei van hulle getalle. Van die paar duisend gesalfdes wat Jehovah gedien het toe hy in 1918 na sy tempel gekom het, het hulle getalle gegroei sodat die gesalfdes saam met hulle metgeselle, die ander skape, vandag meer as viermiljoen in 211 lande tel (Jesaja 60:22). Hulle is ook met ’n toenemende begrip van die waarheid geseën. Die profetiese woord is vir hulle vaster gemaak. Hulle vertroue in die vervulling van Jehovah se voornemens is stewig gevestig (2 Petrus 1:19, NW). Hulle is waarlik ’n volk wat “deur Jehovah geleer” word.—Jesaja 54:13, NW.

19 Jehovah het deur Maleagi ’n verdere seën voorspel: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer” (Maleagi 3:16). Van al die organisasies wat beweer dat hulle Christelik is, is Jehovah se Getuies die enigstes wat sy naam eer en dit onder die nasies grootmaak (Psalm 34:4). Hoe verheug is hulle tog oor die versekering dat Jehovah hulle getrouheid onthou!

20, 21. (a) Watter geseënde verhouding geniet ware Christene? (b) Watter verskil word, wat die Christelike geloof betref, al hoe duideliker?

20 Die gesalfde oorblyfsel is Jehovah se spesiale volk en die groot menigte, wat instroom om saam met hulle te wees, geniet saam met hulle die seëninge van reine aanbidding (Sagaria 8:23). Jehovah belowe deur Maleagi: “Hulle sal My tot eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos ’n man medelye het met sy seun wat hom dien” (Maleagi 3:17). Wat ’n seën is dit tog dat Jehovah sulke tere toegeneentheid vir hulle het!

21 Trouens, die verskil tussen die ware Christene en die valses word al hoe duideliker. Terwyl Jehovah se volk daarna streef om aan sy standaarde te voldoen, sink die Christendom al hoe dieper weg in hierdie wêreld se moeras van onreinheid. Waarlik, Jehovah se woorde is waar bewys: “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”—Maleagi 3:18.

22. Na watter seëninge kan ons met vertroue uitsien as ons aanhou om die hele tiende te bring?

22 Die dag van afrekening gaan binnekort vir die valse Christene aanbreek. “Kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare” (Maleagi 4:1). Jehovah se volk weet dat hy hulle op daardie dag sal beskerm, soos hy sy geestelike nasie destyds in 70 G.J. beskerm het (Maleagi 4:2). Hoe bly is hulle tog om daardie versekering te hê! Laat elkeen van ons derhalwe tot daardie tyd ons waardering en liefde vir Jehovah toon deur die hele tiende na die voorraadskuur te bring. Dan kan ons vol vertroue wees dat hy sal voortgaan om ’n oorvloedige seën op ons uit te stort.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Junie 1987, bladsye 14-20, vir verdere inligting.

Kan jy verduidelik?

◻ Wanneer het Jehovah in hedendaagse tye saam met sy boodskapper van die verbond na die tempel gekom?

◻ Wie is die getroue en verstandige dienskneg, en watter reiniging het hulle ná 1918 nodig gehad?

◻ Watter soort geestelike offerandes bring ware Christene aan Jehovah?

◻ Wat is die tiende wat Christene genooi word om na die voorraadskuur te bring?

◻ Watter seëninge geniet God se volk omdat hulle geestelike tiendes offer?

[Prent op bladsy 15]

Ons geestelike tiendes sluit in dat ons ons krag en middele opoffer om Koninkryksale te bou

[Prent op bladsy 16]

Omdat Jehovah se seën op sy volk rus, moes daar al baie bouwerk gedoen word, onder andere Koninkryk- en Byeenkomssale

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel