Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 12/1 bl. 3-5
  • Watter soort mense tel by jou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Watter soort mense tel by jou?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Algemene standaarde vir waardes
  • Is hierdie standaarde gegrond?
  • Wie geniet God se guns?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Geleerdheid—Wat dit kos, wat dit bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Maak wyse besluite wanneer dit by addisionele opvoeding kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Kan opvoeding en geld ’n beter toekoms waarborg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 12/1 bl. 3-5

Watter soort mense tel by jou?

“BRUID WORD GESOEK. Moet lig van vel en slank wees, met matriek of verkieslik naskoolse opleiding. Moet uit ’n goeie gesin kom wat eiendom besit. Verkieslik van dieselfde kaste.”

SO LUI ’n tipiese huweliksadvertensie wat jy in ’n Indiese koerant kan lees. Jy kan waarskynlik in baie ander dele van die wêreld iets soortgelyks sien. In Indië word die berig gewoonlik deur die ouers van ’n aanstaande bruidegom geplaas. Antwoorde sluit miskien ’n foto in van ’n meisie in ’n bloedrooi sari wat baie goue juweliersware dra. As die seun se familie haar goedkeur, begin onderhandelinge met die oog op ’n huwelik.

Algemene standaarde vir waardes

In Indië is versoeke om ’n ligte bruid baie algemeen. Dit is die gevolg van ’n diepgewortelde oortuiging dat die sogenaamde laer kastes van die Hindoe-samelewing donker van vel is. ’n Program op Indiese televisie het onlangs ’n verhaal van twee meisies vertel, een was lig en die ander een donker. Die ligte meisie was wreed en ongemanierd; die donker meisie was goedhartig en saggeaard. ’n Wonderdadige ommekeer het plaasgevind en die ligte meisie het as straf donker geword terwyl die donker meisie lig gemaak is. Die sedeles van die verhaal is blykbaar dat, hoewel goedheid uiteindelik seëvier, ’n ligte vel ’n begeerlike beloning is.

Sulke rassegevoel is dikwels baie dieper gesetel as wat ’n mens dalk besef. Byvoorbeeld, ’n Asiaat besoek dalk ’n Westerse land en kla dat hy as gevolg van sy velkleur of die vorm van sy oë sleg behandel is. Sulke optrede ontstel hom, en hy meen dat daar teen hom gediskrimineer is. Maar wanneer hy na sy geboorteland terugkeer, behandel hy dalk mense van ’n ander etniese groep presies dieselfde. Selfs vandag speel velkleur en etniese agtergrond by baie mense ’n groot rol wat hulle beskouing van ander mense se waarde betref.

“Geld verskaf alles”, het die eertydse koning Salomo gesê (Prediker 10:19). Hoe waar is dit tog nie! Rykdom beïnvloed ook die manier waarop mense beskou word. Die oorsprong van die rykdom word selde bevraagteken. Het ’n man ryk geword deur hard te werk of sy geld noukeurig te bestuur, of was hy oneerlik? Dit maak glad nie saak nie. Rykdom, of dit nou oneerlik verkry is of nie, veroorsaak dat baie mense in die guns van die besitter probeer kom.

In hierdie mededingende wêreld word geleerdheid ook op ’n voetstuk geplaas. Sodra ’n kind gebore word, word ouers aangespoor om groot bedrae geld vir geleerdheid te begin wegsit. Teen die tyd dat hy twee of drie is, bekommer hulle hulle oor die regte kleuterskool of kindertuin vir hom as ’n eerste stap op die lang pad na ’n universiteitsgraad. Party mense dink blykbaar dat ’n gesaghebbende diploma hulle die reg gee om guns en respek van ander te verwag.

Ja, velkleur, geleerdheid, geld, etniese agtergrond—hierdie dinge het die standaarde geword waarvolgens baie mense ander oordeel of eerder vooruit veroordeel. Dit is die faktore wat bepaal aan wie hulle guns bewys en van wie hulle dit weerhou. Wat van jou? Wie tel by jou? Dink jy dat iemand met geld, ’n ligte vel of geleerdheid eerder guns en respek verdien? Indien wel, moet jy die grondslag vir jou gevoelens ernstig oorweeg.

Is hierdie standaarde gegrond?

Die boek Hindu World sê: “Enigeen uit die laer kastes wat ’n Brahmaan doodmaak, kon tot die dood toe gemartel word, hulle kon sy besittings konfiskeer, en sy siel was vir ewig verdoem. ’n Brahmaan wat iemand doodmaak, kon net beboet word, en hy is nooit met die dood gestraf nie.” Die boek praat nou wel van antieke tye, maar wat van vandag? Rassevooroordeel en gemeenskapspanning het selfs in die 20ste eeu riviere van bloed laat vloei. En dit was nie tot Indië beperk nie. Die haat en geweld wat as gevolg van apartheid in Suid-Afrika voortduur, rassevooroordeel in die Verenigde State, nasionalistiese vooroordeel in die Baltiese lande—die lys hou net aan en aan—is alles dinge wat deur ingebore meerderwaardigheidsgevoelens veroorsaak word. So ’n begunstiging van een persoon bo ’n ander weens sy ras of nasionaliteit het beslis nie goeie, vreedsame vrugte voortgebring nie.

Wat van rykdom? Baie mense word ongetwyfeld ryk deur eerlike, harde werk. Maar ontsaglike rykdom is deur die boewewêreld, swartmarkhandelaars, dwelmhandelaars, onwettige wapenhandelaars en andere bymekaargemaak. Party skenk weliswaar geld aan liefdadigheid of ondersteun projekte om die armes te help. Nogtans het hulle kriminele dade eindelose lyding en ellende vir hulle slagoffers veroorsaak. Selfs betreklik onbenullige ondernemers, soos dié wat omgekoop word of ’n deel het aan twyfelagtige sakepraktyke, veroorsaak frustrasie, skade en die dood wanneer hulle produkte of dienste te kort skiet en onklaar raak. Net die feit dat iemand ryk is, is in werklikheid geen basis om hom gunstig te beoordeel nie.

Wat dan van geleerdheid? Verseker ’n lang lys grade en titels agter iemand se naam dat hy eerlik en opreg is? Beteken dit dat hy in ’n gunstige lig beskou moet word? Geleerdheid kan weliswaar jou horison verruim, en baie wat hulle geleerdheid tot ander se voordeel gebruik het, verdien eer en respek. Maar die geskiedenis wemel van voorbeelde waar die opgevoede klas die massa uitgebuit en onderdruk het. En dink maar aan wat vandag op kollege en universiteit gebeur. Kampusse word geteister deur probleme met dwelmmisbruik en seksueel oordraagbare siektes, en baie studente skryf uitsluitlik in om geld, mag en roem na te jaag. ’n Persoon se opleiding alleen is nouliks ’n betroubare beeld van sy ware karakter.

Nee, velkleur, geleerdheid, geld, etniese agtergrond en ander soortgelyke faktore is nie ’n gegronde basis om ’n ander persoon se waarde te oordeel nie. Christene moet nie met hierdie sake behep wees om ander se guns te probeer verkry nie. Waaroor moet ’n mens dan besorg wees? Watter standaarde moet ’n mens volg?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel