Beoefen suiwer godsdiens sodat jy behoue kan bly
“Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om . . . jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”—JAKOBUS 1:27, NAV.
1. Hoe is godsdiens al gedefinieer, en wie het logieserwys die reg om te bepaal wat die verskil tussen valse godsdiens en ware godsdiens is?
GODSDIENS is al gedefinieer as “die uiting van die mens se geloof in en eerbied vir ’n bomenslike mag wat as die skepper en regeerder van die heelal erken word”. Wie het dan logieserwys die reg om te bepaal wat die verskil tussen ware godsdiens en valse godsdiens is? Dit moet beslis die Een wees in wie daar geglo word en wat eerbiedig word, die Skepper. Jehovah het sy standpunt oor ware en valse godsdiens duidelik in sy Woord uiteengesit.
Die woord “godsdiens” in die Bybel
2. Hoe verduidelik woordeboeke die oorspronklike Griekse woord wat met “vorm van aanbidding” of “godsdiens” vertaal word, en op watter soorte aanbidding kan dit toegepas word?
2 Die Griekse woord wat met “vorm van aanbidding”, of “godsdiens”, vertaal word, is thre·skeiʹa. A Greek-English Lexicon of the New Testament definieer hierdie woord as “die aanbidding van God, godsdiens, veral soos dit in godsdienstige dienste of kultusse beoefen word”. Die Theological Dictionary of the New Testament gee verdere besonderhede en sê: “Die etimologie word betwis; . . . hedendaagse geleerdes is ten gunste van ’n skakel met therap- (‘om te dien’). . . . Daar kan ook op ’n verskil in betekenis gelet word. In ’n goeie sin is dit ‘godsdiensywer’ . . . , ‘aanbidding van God’, ‘godsdiens’, . . . Maar dit kan ook in ’n slegte sin wees, d.w.s., ‘godsdiensoormaat’, ‘verkeerde aanbidding’.” Thre·skeiʹa kan dus óf met “godsdiens” óf met “vorm van aanbidding”, hetsy goed of sleg, vertaal word.
3. Hoe het die apostel Paulus die woord gebruik wat met “vorm van aanbidding” vertaal word, en watter interessante kommentaar word gemaak oor die vertaling van Kolossense 2:18?
3 Hierdie woord verskyn slegs vier keer in die Christelike Griekse Geskrifte. Die apostel Paulus het dit twee keer gebruik om valse godsdiens aan te dui. Hy het in Handelinge 26:5 gesê dat hy, voordat hy ’n Christen geword het, “volgens die strengste party van ons godsdiens [“vorm van aanbidding”, NW] as Fariseër geleef het”. In sy brief aan die Kolossense het hy gewaarsku: “Laat geen mens wat behae skep in skynnederigheid en ’n vorm van aanbidding van die engele julle van die prys beroof nie” (Kolossense 2:18, NW). Sulke engelaanbidding was in daardie dae blykbaar algemeen in Frigië, maar dit was ’n vorm van valse godsdiens.a Hoewel party Bybelvertalings thre·skeiʹa in Kolossense 2:18 met “godsdiens” vertaal, is dit interessant dat die meeste die woord “aanbidding” gebruik. Die New World Translation vertaal thre·skeiʹa konsekwent met “vorm van aanbidding”, en ’n voetnoot in die naslaanuitgawe meld elke keer dat die alternatiewe vertaling “godsdiens” in die Latynse vertalings gebruik word.
‘Rein en onbesmet’ voor God
4, 5. (a) Wie se standpunt oor godsdiens is volgens Jakobus die belangrikste? (b) Wat kan iemand se vorm van aanbidding tevergeefs maak, en wat word bedoel met die woord wat met “tevergeefs” vertaal word?
4 Die ander twee kere wat die woord thre·skeiʹa voorkom, is in die brief van die dissipel Jakobus, ’n lid van die bestuursliggaam van die eerste-eeuse Christengemeente. Hy het geskryf: “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig [“’n vormlike aanbidder”, NW] is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens [“vorm van aanbidding”, NW] van hierdie man is tevergeefs. Reine en onbesmette godsdiens [“vorm van aanbidding”, NW] voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”—Jakobus 1:26, 27.
5 Ja, dit is uiters belangrik dat ons Jehovah se standpunt oor godsdiens het as ons sy goedkeuring wil hê en behoue wil bly om in die nuwe wêreld wat hy belowe het te lewe (2 Petrus 3:13). Jakobus toon dat iemand dalk meen dat hy waarlik godsdienstig is en dat sy vorm van aanbidding nogtans tevergeefs kan wees. Die Griekse woord wat hier met “tevergeefs” vertaal word, beteken ook “ledig, leeg, vrugteloos, nutteloos, kragteloos, van die waarheid ontbloot”. Dit kan die geval wees as iemand wat beweer dat hy ’n Christen is nie sy tong in toom hou en dit nie gebruik om God te loof en sy mede-Christene op te bou nie. Hy sal “sy hart mislei” en nie “egte en suiwer godsdiens voor God” beoefen nie (NAV). Dit is Jehovah se standpunt wat belangrik is.
6. (a) Wat is die tema van die brief van Jakobus? (b) Watter vereiste vir suiwer aanbidding het Jakobus beklemtoon, en wat het die hedendaagse Bestuursliggaam in hierdie verband gesê?
6 Jakobus noem nie al die dinge op wat Jehovah vir suiwer aanbidding vereis nie. In ooreenstemming met die algemene tema van sy brief, naamlik geloof wat deur werke gerugsteun word en die noodsaaklikheid daarvan om nie ’n vriend van Satan se wêreld te wees nie, beklemtoon hy net twee vereistes. Een is “om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek”. Dit behels ware Christelike liefde. Jehovah het nog altyd liefdevolle besorgdheid teenoor wese en weduwees geopenbaar (Deuteronomium 10:17, 18; Maleagi 3:5). Een van die eerste dade van die eerste-eeuse bestuursliggaam van die Christengemeente was ten behoewe van Christenweduwees (Handelinge 6:1-6). Die apostel Paulus het breedvoerige instruksies gegee oor die verlening van liefdevolle hulp aan behoeftige bejaarde weduwees wat deur die jare heen bewys het dat hulle getrou is en wat geen familie gehad het om hulle te help nie (1 Timotheüs 5:3-16). Die hedendaagse Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gee eweneens noukeurige instruksies oor “Armsorg” en sê: “Ware aanbidding behels die versorging van getroue en lojale persone wat hulpbehoewend is.” (Sien die boek Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsye 122-3.) Liggame van ouere manne of individuele Christene wat in hierdie verband nalatig is, verwaarloos ’n belangrike aspek van die vorm van aanbidding wat rein en onbesmet voor ons God en Vader is.
‘Bewaar jou vlekkeloos van die wêreld’
7, 8. (a) Watter tweede vereiste vir ware godsdiens het Jakobus gemeld? (b) Voldoen die geestelikes en priesters aan hierdie vereiste? (c) Wat kan gesê word van Jehovah se Getuies?
7 Die tweede vereiste vir ware godsdiens wat Jakobus gemeld het, is om “jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld”. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie”; sy ware volgelinge sal eweneens “nie van die wêreld” wees nie (Johannes 15:19; 18:36). Kan dit gesê word van die geestelikes en priesters van enige van hierdie wêreld se godsdienste? Hulle ondersteun die Verenigde Nasies. Baie van hulle leiers het die pous se uitnodiging aanvaar om op Oktober 1986 in Assisi, Italië, bymekaar te kom en saam te bid om die welslae van die “Internasionale Vredesjaar” wat deur die VN uitgeroep is. Maar hulle pogings was tevergeefs, te oordeel na die miljoene wat in die oorloë van daardie jaar en in die jare sedertdien doodgemaak is. Die geestelikes is dikwels kop in een mus met die heersende politieke party, terwyl hulle huigelagtig geheime ooreenkomste met die opposisie aangaan sodat hulle as “vriende” beskou sal word deur wie ook al aan bewind is.—Jakobus 4:4.
8 Jehovah se Getuies het vir hulself ’n reputasie opgebou as Christene wat neutraal bly ten opsigte van politieke aangeleenthede en die konflikte van hierdie wêreld. Hulle handhaaf hierdie standpunt op alle vastelande en in alle nasies, soos persberigte en hedendaagse geskiedverslae in alle wêrelddele bevestig. Hulle bewaar hulself werklik ‘vlekkeloos van die wêreld’. Hulle godsdiens is “egte en suiwer godsdiens voor God”.—Jakobus 1:27, NAV.
Ander kenmerke van die ware godsdiens
9. Wat is ’n derde vereiste vir ware godsdiens, en waarom?
9 As godsdiens “eerbied [is] vir ’n bomenslike mag wat as die skepper en regeerder van die heelal erken word”, moet die ware godsdiens beslis aanbidding tot die enigste ware God, Jehovah, rig. Dit moet nie mense se begrip van God benewel deur heidense idees te leer soos ’n drie-enige god waarin die Vader sy almag, heerlikheid en ewigheid met twee ander persone in ’n verborge Drie-eenheid deel nie (Deuteronomium 6:4; 1 Korinthiërs 8:6). Dit moet ook God se weergalose naam, Jehovah, bekend maak en daardie naam eer, trouens God se naam as ’n georganiseerde volk dra (Psalm 83:18, NW; Handelinge 15:14). Die beoefenaars daarvan moet in hierdie opsig Christus Jesus se voorbeeld navolg (Johannes 17:6). Watter mense behalwe die Christengetuies van Jehovah voldoen vandag aan hierdie vereiste?
10. Wat moet ’n godsdiens doen sodat mense behoue kan bly om in God se nuwe wêreld te lewe, en waarom?
10 Die apostel Petrus het gesê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam [Jesus Christus] onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:8-12). Suiwer godsdiens waardeur ons behoue kan bly om in God se nuwe wêreld te lewe, moet derhalwe geloof in Christus en in die waarde van die losprysoffer inboesem (Johannes 3:16, 36; 17:3; Efesiërs 1:7). Daarbenewens moet dit ware aanbidders help om hulle aan Christus as Jehovah se heersende Koning en gesalfde Hoëpriester te onderwerp.—Psalm 2:6-8; Filippense 2:9-11; Hebreërs 4:14, 15.
11. Waarop moet ware godsdiens gebaseer wees, en wat is Jehovah se Getuies se standpunt in hierdie opsig?
11 Suiwer godsdiens moet gebaseer wees op die geopenbaarde wil van die een ware God en nie op mensgemaakte tradisies of filosofieë nie. Ons sou niks van Jehovah en sy wonderlike voornemens of van Jesus en die losprysoffer geweet het as dit nie vir die Bybel was nie. Jehovah se Getuies bou onwrikbare vertroue in die Bybel by mense. Hulle toon ook deur hulle daaglikse lewe dat hulle met die apostel Paulus se woorde saamstem: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, . . . sodat die mens van God volkome bekwaam kan wees, volledig toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timotheüs 3:16, 17, NW.
Die ware godsdiens—’n leefwyse
12. Wat is nodig vir ware aanbidding benewens geloof, en in watter opsigte is ware godsdiens ’n leefwyse?
12 Jesus het gesê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Die ware godsdiens, of vorm van aanbidding, is derhalwe nie ’n seremoniële, ritualistiese, uiterlike vertoon van godsvrug nie. Suiwer aanbidding is geestelik, gegrond op geloof (Hebreërs 11:6). Daardie geloof moet egter deur werke gerugsteun word (Jakobus 2:17). Ware godsdiens verwerp gewilde neigings. Dit bly by die Bybel se standaarde vir sedelikheid en rein spraak (1 Korinthiërs 6:9, 10; Efesiërs 5:3-5). Die beoefenaars daarvan streef opreg daarna om die vrug van God se gees in hulle gesinslewe, by hulle sekulêre werk, op skool en selfs in hulle ontspanning voort te bring (Galasiërs 5:22). Jehovah se Getuies probeer om nooit die apostel Paulus se raad te vergeet nie: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God” (1 Korinthiërs 10:31). Hulle godsdiens is nie blote vormdiens nie; dit is ’n leefwyse.
13. Wat sluit ware aanbidding in, en waarom kan daar gesê word dat Jehovah se Getuies waarlik godsdienstige mense is?
13 Natuurlik sluit ware godsdiens geestelike bedrywighede in. Dit is onder andere persoonlike en gesinsgebed, die gereelde bestudering van God se Woord en Bybelstudiehulpe en die bywoning van gemeentelike vergaderinge vir ware Christene. Laasgenoemde word geopen en afgesluit met lofliedere aan Jehovah en met gebed (Mattheüs 26:30; Efesiërs 5:19). Opbouende geestelike onderwerpe word ondersoek deur middel van toesprake en vraag-en-antwoordbesprekings van gedrukte materiaal wat vir almal beskikbaar is. Sulke vergaderinge word gewoonlik in netjiese maar eenvoudige Koninkryksale gehou, wat uitsluitlik vir godsdienstige redes gebruik word: gereelde vergaderinge, huweliksplegtighede, gedenkdienste. Jehovah se Getuies respekteer hulle Koninkryksale en groter Byeenkomssale as plekke wat aan Jehovah se aanbidding toegewy is. In teenstelling met talle kerke van die Christendom is Koninkryksale nie sosiale klubs nie.
14. Wat het aanbidding vir Hebreeussprekende mense beteken, en watter werk is vandag ’n kenmerk van Jehovah se Getuies?
14 Ons het vroeër gesien dat geleerdes die Griekse woord wat met “vorm van aanbidding” of “godsdiens” vertaal word, koppel met die werkwoord “om te dien”. Dit is interessant dat die Hebreeuse ekwivalent, ‛avo·dhahʹ, met “diens” of “aanbidding” vertaal kan word. (Vergelyk die voetnote by Exodus 3:12 en 10:26, NW.) Vir Hebreërs het aanbidding diens beteken. En dit is wat dit vir ware aanbidders vandag beteken. ’n Uiters belangrike, opvallende kenmerk van die ware godsdiens is dat almal wat dit beoefen, deelneem aan die godvrugtige diens om ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde tot ’n getuienis vir al die nasies’ te verkondig (Mattheüs 24:14, NW; Handelinge 1:8; 5:42). Watter godsdiens is wêreldwyd daarvoor bekend dat hy van God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop in die openbaar getuig?
’n Positiewe, verenigende krag
15. Wat is ’n opvallende kenmerk van ware godsdiens?
15 Valse godsdiens verdeel. Dit het haat en bloedvergieting veroorsaak en veroorsaak dit steeds. Daarenteen verenig ware godsdiens. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Die liefde wat Jehovah se Getuies verenig, is kragtiger as die nasionale, maatskaplike, ekonomiese en rassegrense wat die res van die mensdom verdeel. Die Getuies ‘staan vas in een gees en, een van siel, stry hulle saam vir die geloof van die goeie nuus’.—Filippense 1:27, vgl. NW.
16. (a) Watter “goeie nuus” verkondig Jehovah se Getuies? (b) Watter profesieë word deur Jehovah se volk vervul, en watter seëninge het gevolg?
16 Die “goeie nuus” wat hulle verkondig, is dat God se onveranderlike voorneme binnekort verwesenlik sal word. Sy wil sal geskied “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Jehovah se glorieryke naam sal geheilig word, en die aarde sal ’n paradys word waar ware aanbidders vir ewig sal kan lewe (Psalm 37:29). Letterlik miljoene mense in alle lande gaan met Jehovah se Getuies om en sê ter vervulling van Bybelprofesie: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Jehovah seën sy volk. “Die geringste” het waarlik “’n magtige nasie” geword, ’n wêreldwye gemeente wat in alle aspekte—in gedagte, in werk, in aanbidding—volkome verenig is (Jesaja 60:22). Dit is iets wat valse godsdiens nooit kon regkry nie.
Die oorwinning van suiwer godsdiens
17. Wat wag op Babilon die Grote, en hoe gaan dit bewerkstellig word?
17 God se Woord het die vernietiging voorspel van die wêreldryk van valse godsdiens, wat simbolies “Babilon die Grote” genoem word. Die Bybel beeld ook die “konings”, of politieke heersers, van die aarde af deur die simbool van die horings van ’n wilde dier. Dit sê vir ons dat God dit in die harte van hierdie heersers sal plaas om hierdie hoeragtige instelling van Satan die Duiwel omver te werp en heeltemal te vernietig.—Sien Openbaring 17:1, 2, 5, 6, 12, 13, 15-18, vgl. NW.b
18. Watter belangrike rede gee die Bybel vir die vernietiging van Babilon die Grote, en wanneer het valse godsdiens hierdie ontsettende weg ingeslaan?
18 Waarom verdien Babilon die Grote vernietiging? Die Bybel antwoord: “Die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openbaring 18:24). Jesus het getoon dat hierdie bloedskuld van valse godsdiens selfs verder teruggaan as die oprigting van Babilon en het die godsdiensleiers van Judaïsme, wat hulle met Babilon die Grote verbind het, veroordeel toe hy gesê het: “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel [“Gehenna”, NW] ontvlug? . . . oor julle [sal] kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af” (Mattheüs 23:33-35). Ja, valse godsdiens, wat ten tyde van die opstand in Eden op die aarde begin het, moet verantwoording doen vir sy ontsettende bloedskuld.
19, 20. (a) Wat sal ware aanbidders doen nadat oordeel aan Babilon die Grote voltrek is? (b) Wat sal dan plaasvind, en watter vooruitsig sal alle ware aanbidders hê?
19 Na die vernietiging van Babilon die Grote sal ware aanbidders op aarde hulle stemme verhef saam met die hemelse koor wat sing: “Halleluja . . . want Hy het die groot hoer geoordeel . . . en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek. . . . En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.”—Openbaring 19:1-3.
20 Dan sal die ander integrerende dele van Satan se sigbare organisasie vernietig word (Openbaring 19:17-21). Hierna sal Satan, die stigter van alle valse godsdiens, en sy demone in die afgrond gewerp word. Hulle sal nie meer vry wees om ware aanbidders van Jehovah te vervolg nie (Openbaring 20:1-3). Suiwer godsdiens sal oor valse godsdiens geseëvier het. Getroue mans en vroue wat ag slaan op die goddelike waarskuwing om nou uit Babilon die Grote te vlug, sal die geleentheid hê om behoue te bly en in God se nuwe wêreld te lewe. Daar sal hulle ware godsdiens kan beoefen en Jehovah vir ewig kan aanbid.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring, 15 Julie 1985, bladsye 12-13, vir ’n verduideliking van die aanbidding van engele, waarvan Kolossense 2:18 melding maak.
b Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., hoofstukke 33-6, vir ’n breedvoerige verduideliking van hierdie profesie.
Toets jou geheue
◻ Wie se standpunt oor godsdiens is die belangrikste, en waarom?
◻ Watter twee vereistes vir ware godsdiens het Jakobus beklemtoon?
◻ Wat is ander vereistes vir suiwer aanbidding?
◻ Watter “goeie nuus” verkondig Jehovah se Getuies?
◻ Hoe sal ware godsdiens oor valse godsdiens seëvier?
[Prent op bladsy 17]
Godsdiensleiers het in Oktober 1986 in Assisi, Italië, vergader
[Prent op bladsy 19]
Ware godsdiens sluit in dat ons vir aanbidding vergader