Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/1 bl. 9-14
  • Maak jou los van valse godsdiens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak jou los van valse godsdiens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsprong van valse godsdiens
  • Ware godsdiens
  • Babiloniese gevangenskap
  • Maak jou los van valse godsdiens in die tyd van die einde
  • Ware en valse godsdiens
  • Beoefen suiwer godsdiens sodat jy behoue kan bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Bly weg van valse aanbidding!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe valse godsdiens mense die verkeerde idee van God gee
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Aanbidding wat God se goedkeuring wegdra
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/1 bl. 9-14

Maak jou los van valse godsdiens

“Gaan onder hulle uit . . . spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”—2 KORINTHIËRS 6:17.

1. Watter vergelyk het Satan met Jesus probeer tref, en watter twee dinge leer ons uit sy aanbod?

“AL HIERDIE dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.” Hoewel hierdie aanbod duisende jare ná die begin van valse godsdiens gedoen is, help dit ons om te verstaan wie agter valse aanbidding sit en wat sy doel is. Laat in 29 G.J. het die Duiwel Jesus al die koninkryke van die wêreld aangebied in ruil vir ’n daad van aanbidding. Ons leer twee dinge uit hierdie voorval: dat die koninkryke van hierdie wêreld Satan s’n was om te gee en dat die einddoel van valse godsdiens Duiwelaanbidding is.—Mattheüs 4:8, 9.

2. Wat leer ons uit Jesus se woorde in Mattheüs 4:10?

2 Jesus het deur sy antwoord nie net valse godsdiens verwerp nie, maar hy het ook getoon wat ware godsdiens behels. Hy het gesê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:10). Die doel van ware godsdiens is dus om die een ware God, Jehovah, te aanbid. Dit verg geloof en gehoorsaamheid en dat ons Jehovah se wil doen.

Die oorsprong van valse godsdiens

3. (a) Wanneer en hoe het valse godsdiens op die aarde begin? (b) Wat is die eerste opgetekende daad van godsdiensonverdraagsaamheid, en hoe het godsdiensvervolging sedertdien voortgeduur?

3 Valse godsdiens het op die aarde begin toe die eerste mense aan God ongehoorsaam was en die Slang se voorstel aanvaar het om vir hulleself te besluit wat “goed en kwaad” is (Genesis 3:5). Toe hulle dit gedoen het, het hulle Jehovah se regverdige soewereiniteit verwerp en die regte aanbidding, ware godsdiens, versaak. Hulle was die eerste mense “wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper” (Romeine 1:25). Die skepsel wat hulle onwetend verkies het om te aanbid, was niemand anders as Satan die Duiwel, “die ou slang”, nie (Openbaring 12:9). Hulle oudste seun, Kaïn, het geweier om Jehovah se liefdevolle raad te volg en het dus teen Sy soewereiniteit in opstand gekom. Wetend of onwetend het Kaïn “’n kind van die bose”, Satan, en ’n beoefenaar van Duiwelaanbidding geword. Hy het sy jonger broer Abel, wat ware aanbidding, ware godsdiens, beoefen het, doodgemaak (1 Johannes 3:12, Revised English Bible; Genesis 4:3-8; Hebreërs 11:4). Abel se bloed was die eerste bloed wat weens godsdiensonverdraagsaamheid vergiet is. Ongelukkig het valse godsdiens tot vandag toe aangehou om onskuldige bloed te vergiet.—Sien Mattheüs 23:29-35; 24:3, 9.

4. Watter tekste toon die aard van ware godsdiens in die geval van Noag?

4 Voor die Vloed het Satan daarin geslaag om die meerderheid van die mensdom van die ware godsdiens af te keer. Noag het egter “guns gevind in die oë van Jehovah”. Waarom? Omdat hy ‘met die ware God gewandel het’. Met ander woorde, hy het ware aanbidding beoefen. Ware godsdiens is nie ’n seremonie of ritueel nie, maar ’n leefwyse. Dit behels dat ons geloof in Jehovah stel, hom gehoorsaam dien en ‘met hom wandel’. Noag het dit gedoen.—Genesis 6:8, 9, 22, NW; 7:1; Hebreërs 11:6, 7.

5. (a) Wat het die Duiwel na die Vloed probeer tot stand bring, en hoe? (b) Hoe het Jehovah die Duiwel se plan gedwarsboom, en wat was die gevolg?

5 Nie lank na die Vloed nie, het die Duiwel Nimrod, ’n man wat berug was vir sy “verset teen Jehovah”, blykbaar gebruik in ’n poging om die hele mensdom te verenig in ’n vorm van aanbidding wat weer eens in verset teen Jehovah sou wees (Genesis 10:8, 9, NW; 11:2-4). Dit sou een verenigde valse godsdiens, verenigde Duiwelaanbidding, wees, waarvan die stad en die toring wat sy aanbidders gebou het die middelpunt sou wees. Jehovah het hierdie plan gedwarsboom deur die “een taal” wat die hele mensdom toe gepraat het te verwar (Genesis 11:5-9). Daarom is die stad Babel, en later Babilon, genoem, wat albei “Verwarring” beteken. Hierdie taalverwarring het die verstrooiing van die mensdom oor die aarde teweeg gebring.

6. (a) Met watter godsdiensidees is Satan se aanbidders in Babilon gevul voordat hulle verstrooi is? (b) Waarom het godsdienste oor die hele wêreld soortgelyke opvattings? (c) Hoe het Babilon aan Satan se doel beantwoord, en waarvan het daardie eertydse stad die simbool geword?

6 Op grond van die geskiedenis van die mitologie en godsdiens wil dit egter voorkom of Satan, voor die verstrooiing van die mensdom deur Jehovah, die verstande van sy aanbidders met sekere grondbegrippe van valse godsdiens gevul het. Dit het godsdiensidees ingesluit van ’n siel wat na die dood voortleef, vrees vir die dooies en die bestaan van ’n onderwêreld, asook die aanbidding van ontelbare gode en godinne, waarvan sommige in triades gegroepeer is. Sulke opvattings is deur die verskillende taalgroepe oor die hele wêreld versprei. Met verloop van tyd het hierdie grondidees veranderings ondergaan. Maar hulle het oor die algemeen die raamwerk van valse godsdiens in alle dele van die wêreld gevorm. Hoewel Satan se poging gedwarsboom is om een verenigde valse godsdiens met sy wêreldhoofstad in Babilon te skep, was hy tevrede met uiteenlopende vorme van valse aanbidding wat van Babiloniese oorsprong was en daarop gemik was om die aanbidding wat Jehovah toekom vir homself te verkry. Babilon was eeue lank ’n invloedryke sentrum van afgodediens, towerkuns en astrologie—almal belangrike komponente van valse godsdiens. Dit is nie verbasend dat die boek Openbaring die wêreldryk van valse godsdiens afbeeld as ’n verfoeilike hoer met die naam Babilon die Grote nie.—Openbaring 17:1-5, vgl. NW.

Ware godsdiens

7. (a) Waarom het die verwarring van taal ware godsdiens nie geraak nie? (b) Wie het as “die vader . . . van almal wat glo” bekend geword, en waarom?

7 Klaarblyklik is ware godsdiens nie daardeur geraak toe Jehovah die mensdom se spraak by Babel verwar het nie. Voor die Vloed het getroue manne en vroue, soos Abel, Henog, Noag, Noag se vrou en Noag se seuns en skoondogters, ware aanbidding beoefen. Na die Vloed is ware aanbidding voortgesit in die geslagslyn van Noag se seun Sem. Abraham, ’n afstammeling van Sem, het die ware godsdiens beoefen en het bekend geword as “die vader . . . van almal wat glo” (Romeine 4:11). Sy geloof is deur werke gerugsteun (Jakobus 2:21-23). Sy godsdiens was ’n leefwyse.

8. (a) Hoe het die ware godsdiens in die 16de eeu v.G.J. ’n stryd teen valse godsdiens gevoer, en wat was die gevolg? (b) Watter nuwe reëling het Jehovah ten opsigte van sy suiwer aanbidding ingestel?

8 Ware aanbidding is steeds beoefen in die lyn van Abraham se afstammelinge—Isak, Jakob (of Israel) en die 12 seuns van Jakob, van wie die 12 stamme van Israel afgestam het. Teen die einde van die 16de eeu v.G.J. het Abraham se afstammelinge deur Isak ’n stryd gevoer om die suiwer godsdiens te bewaar in ’n vyandige, heidense omgewing—Egipte— waar hulle aan slawerny onderwerp is. Jehovah het sy getroue kneg Moses, van die stam van Levi, gebruik om Sy aanbidders te verlos van die juk van Egipte, ’n land wat deurtrek was van valse godsdiens. Deur Moses het Jehovah ’n verbond met Israel gesluit en hulle Sy uitverkore volk gemaak. Op daardie stadium het Jehovah sy aanbidding in ’n stelsel van geskrewe wette saamgevat wat bepaal het dat dit tydelik beoefen word binne die raamwerk van ’n stelsel van offerandes wat deur ’n priesterdom aangebied is en wat ’n stoflike heiligdom gehad het, eers die vervoerbare tabernakel en later die tempel in Jerusalem.

9. (a) Hoe is ware aanbidding voor die Wetsverbond beoefen? (b) Hoe het Jesus getoon dat die stoflike aspekte van die Wet nie permanent was nie?

9 Let egter op dat hierdie stoflike aspekte nie permanente komponente van die ware godsdiens moes word nie. Die Wet was “’n skaduwee . . . van die toekomstige dinge” (Kolossense 2:17; Hebreërs 9:8-10; 10:1). Voor die Mosaïese Wet het familiehoofde in patriargale tye hulle families blykbaar verteenwoordig deur offers te bring op altare wat hulle opgerig het (Genesis 12:8; 26:25; 35:2, 3; Job 1:5). Maar daar was geen georganiseerde priesterdom of stelsel van offerandes met seremonies en rituele nie. Daarbenewens het Jesus self getoon dat aanbidding volgens ’n stelsel van wette met Jerusalem as middelpunt tydelik van aard was toe hy vir ’n Samaritaanse vrou gesê het: “Daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg [Gerisim, vorige terrein van ’n Samaritaanse tempel] en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. . . . Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid” (Johannes 4:21-23). Jesus het getoon dat ware godsdiens, nie met stoflike dinge nie, maar in gees en waarheid beoefen moet word.

Babiloniese gevangenskap

10. (a) Waarom het Jehovah toegelaat dat sy volk as gevangenes na Babilon weggevoer word? (b) Op watter twee maniere het Jehovah ’n getroue oorblyfsel in 537 v.G.J. bevry, en wat was die vernaamste rede vir hulle terugkeer na Juda?

10 Sedert die opstand in Eden was daar voortdurend vyandskap tussen ware godsdiens en valse godsdiens. Met tye is ware aanbidders, simbolies gesproke, gevange geneem deur valse godsdiens, wat sedert Nimrod se tyd deur Babilon afgebeeld is. Jehovah se volk was reeds slagoffers van Babiloniese valse godsdiens voordat Hy toegelaat het dat hulle in 617 v.G.J. en 607 v.G.J. as gevangenes na Babilon weggevoer word (Jeremia 2:13-23; 15:2; 20:6; Esegiël 12:10, 11). In 537 v.G.J. het ’n getroue oorblyfsel na Juda teruggekeer (Jesaja 10:21). Hulle het ag geslaan op die profetiese bevel: “Gaan weg uit Babel” (Jesaja 48:20). Dit sou nie bloot ’n fisiese bevryding wees nie. Dit was ook ’n geestelike bevryding van ’n omgewing van onreine, afgodiese valse godsdiens. Hierdie getroue oorblyfsel is derhalwe beveel: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!” (Jesaja 52:11). Die vernaamste rede vir hulle terugkeer na Juda was om suiwer aanbidding, ware godsdiens, te herstel.

11. Watter nuwe godsdiensontwikkelings het, benewens die herstel van suiwer aanbidding in Juda, in die sesde eeu v.G.J. plaasgevind?

11 Dit is interessant dat nuwe vertakkings van valse godsdiens juis in die sesde eeu v.G.J. in Babilon die Grote verskyn het. Dit was die begin van Boeddhisme, Confucianisme, Zoroastrisme en Djainisme, om nie te praat van rasionalistiese Griekse filosofie nie, waardeur die kerke van die Christendom later so sterk beïnvloed is. Terwyl suiwer aanbidding in Juda herstel is, het God se aartsvyand dus ’n wyer keuse van alternatiewe in valse godsdiens voorsien.

12. Watter bevryding van Babiloniese gevangenskap het in die eerste eeu G.J. plaasgevind, en watter waarskuwing het Paulus gegee?

12 Toe Jesus in Israel verskyn het, het die meeste van die Jode verskeie vorme van Judaïsme beoefen, ’n vorm van godsdiens wat talle Babiloniese godsdiensidees aanvaar het. Judaïsme het hom met Babilon die Grote verbind. Christus het dit veroordeel en sy dissipels van Babiloniese gevangenskap bevry (Mattheüs, hoofstuk 23; Lukas 4:18, 19). Aangesien valse godsdiens en Griekse filosofie algemeen was in die gebiede waar die apostel Paulus gepreek het, het hy Jesaja se profesie aangehaal en dit op Christene toegepas, wat vry moes bly van die onreine invloed van Babilon die Grote. Hy het geskryf: “Watter ooreenkoms het die tempel van God met die [Babiloniese] afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.”—2 Korinthiërs 6:16, 17.

Maak jou los van valse godsdiens in die tyd van die einde

13. Wat het die boodskappe getoon wat Christus aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur het, en wat het gevolglik verskyn?

13 Die boodskappe wat Christus deur middel van die Openbaring aan die apostel Johannes aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur het, toon duidelik dat Babiloniese godsdiensgebruike en gesindhede teen die einde van die eerste eeu G.J. in die Christengemeente ingesypel het (Openbaring, hoofstukke 2 en 3). Die afvalligheid het veral van die tweede eeu tot die vyfde eeu G.J. gebloei, en dit het daartoe gelei dat ’n verdorwe namaaksel van die suiwer Christelike godsdiens verskyn het. Babiloniese leerstellings soos die onsterflikheid van die siel, ’n brandende hel en die Drie-eenheid is met die leerstellings van die afvallige Christelike godsdiens vermeng. Die Katolieke, die Ortodokse en later die Protestantse kerke het almal hierdie valse leerstellings aanvaar en het derhalwe ’n deel van Babilon die Grote, die Duiwel se wêreldryk van valse godsdiens, geword.

14, 15. (a) Wat het Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid getoon? (b) Wat het teen die einde van die 19de eeu gebeur, en watter vordering het ware Christene teen 1914 gemaak ten opsigte van leerstellings?

14 Ware godsdiens is nooit volkome uitgewis nie. Daar was deur die eeue heen altyd liefhebbers van die waarheid, en sommige het met hulle lewe betaal vir hulle trou aan Jehovah en sy Woord, die Bybel. Maar soos Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid toon, sou die simboliese koring, of gesalfde kinders van die Koninkryk, net met “die voleinding van die stelsel van dinge” van die onkruid, of kinders van die bose, geskei word (Mattheüs 13:24-30, 36-43, vgl. NW). Toe die tyd van die einde—die tyd wanneer hierdie skeiding sou plaasvind—nader gekom het, het opregte Bybelstudente in die laat 19de eeu hulle van slawerny aan valse godsdiens begin losmaak.

15 Teen 1914 het hierdie Christene, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend staan, sterk geloof in die losprys opgebou. Hulle het geweet dat Christus se teenwoordigheid onsigbaar moet wees. Hulle het besef dat 1914 die einde van “die tye van die Heidene” aangedui het (Lukas 21:24, King James Version). En hulle het duidelik verstaan wat die siel en die opstanding beteken. Hulle het ook besef hoe verkeerd die kerke se leerstellings oor die helse vuur en die Drie-eenheid is. Hulle het geleer wat die goddelike naam is en dit begin gebruik, en hulle het gesien dat die evolusieteorie en die beoefening van spiritisme verkeerd is.

16. Op watter bevel het Christene in 1919 ag geslaan?

16 Daar is ’n goeie begin gemaak om die boeie van valse godsdiens af te gooi. En in 1919 het Babilon die Grote sy houvas op God se volk geheel en al verloor. Net soos ’n oorblyfsel Jode in 537 v.G.J. van Babilon bevry is, so het die getroue oorblyfsel van gesalfde Christene ag geslaan op die bevel om “uit hulle [Babilon die Grote se] midde uit” te gaan.—Jesaja 52:11.

17. (a) Wat het vanaf 1922 ontwikkel, en wat was nodig onder God se volk? (b) Watter uiters streng standpunt is ingeneem, en waarom is dit verstaanbaar?

17 Vanaf 1922 is kragtige Bybelwaarhede wat Babiloniese valse godsdiens, in die besonder die Christendom se kerke, aan die kaak gestel het, gedruk en in die openbaar versprei. Dit was nodig om God se gereinigde volk daarop te wys dat hulle hul geheel en al van alle vorme van valse godsdiens moes losmaak. Daarom is selfs die woord “godsdiens” jare lank nie gebruik nie wanneer daar van suiwer aanbidding gepraat is. Slagspreuke soos “Godsdiens is ’n strik en ’n bedrogspul” is in die strate van groot stede op plakkate vertoon. Boeke soos Government (1928) en “Die waarheid sal julle vrymaak” (1943, Engelse uitgawe) het ’n duidelike onderskeid getref tussen “die Christelike geloof” en “godsdiens”. Hierdie streng standpunt is verstaanbaar, aangesien hulle hul heeltemal moes losmaak van die aldeurdringende godsdiensstelsels van Babilon die Grote.

Ware en valse godsdiens

18. Watter nuwe begrip van “godsdiens” is in 1951 gegee, en hoe is dit in die jaarboek vir 1975 verduidelik?

18 Toe, in 1951, was die tyd ryp vir Jehovah om sy volk ’n glashelder begrip te gee van die verskil tussen ware godsdiens en valse godsdiens. Die 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses berig: “In 1951 het voorstanders van ware aanbidding iets betekenisvols oor die woord ‘godsdiens’ geleer. Party van hulle kon 1938 goed onthou toe hulle soms die gedagteprikkelende teken ‘Godsdiens is ’n strik en ’n bedrogspul’ gedra het. Wat hulle destyds betref het, was alle ‘godsdiens’ onchristelik, van die Duiwel. Maar The Watchtower van 15 Maart 1951 het die gebruik van die byvoeglike naamwoorde ‘ware’ en ‘valse’ met betrekking tot godsdiens goedgekeur. Daarbenewens het die boeiende boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen? (in 1951 in Engels uitgegee en gedurende die ‘Reine Aanbidding’-byeenkoms by Wembley-stadion, Londen, Engeland, uitgereik) die volgende gesê: ‘Geneem volgens die manier waarop dit gebruik word, beteken “godsdiens” in sy eenvoudigste definisie ’n stelsel van aanbidding, ’n vorm van aanbidding, sonder om die vraag of dit ware of valse aanbidding is in aanmerking te neem. Dit kom ooreen met die betekenis van die Hebreeuse woord daarvoor, ’a·boh·dáh, wat letterlik “diens” beteken, afgesien daarvan aan wie dit bewys word.’ Daarna het die uitdrukkings ‘valse godsdiens’ en ‘ware godsdiens’ algemeen onder Jehovah se getuies geword.”—Bladsy 225.

19, 20. (a) Waarom moes ware aanbidders nie ontsteld wees oor die gebruik van die woord “godsdiens” wanneer dit op suiwer aanbidding van toepassing is nie? (b) Wat het hierdie nuwe begrip Jehovah se volk in staat gestel om te doen?

19 In antwoord op ’n leser se vraag het The Watchtower van 15 Augustus 1951 gesê: “Niemand moet oor die gebruik van die woord ‘godsdiens’ ontsteld wees nie. Die feit dat ons dit gebruik, plaas ons nie in die klas van die tradisievaste valse godsdiens nie, net soos dit ons nie in die klas van die valse Christene of die Christendom plaas as ons onsself Christene noem nie.”

20 Hierdie nuwe begrip van die woord “godsdiens” was allesbehalwe ’n kompromis en het Jehovah se volk in staat gestel om die gaping tussen ware en valse aanbidding groter te maak, soos die volgende artikel sal toon.

Toets jou begrip

◻ Wanneer en hoe het valse godsdiens op die aarde begin?

◻ Wat het Satan na die Vloed probeer instel, en hoe is sy plan gedwarsboom?

◻ Waarvan het Babilon die simbool geword?

◻ Watter bevrydings het plaasgevind in 537 v.G.J., in die eerste eeu G.J. en in 1919?

◻ Watter nuwe begrip van die woord “godsdiens” is in 1951 gegee, en waarom juis toe?

[Venster/Prent op bladsy 11]

Valse leerstellings wat oor die hele wêreld geglo word, het hulle oorsprong in Babilon:

◻ Drie-eenhede, of triades, van gode

◻ Die mensesiel leef na die dood voort

◻ Spiritisme—om met die “dooies” te praat

◻ Gebruik van beelde in aanbidding

◻ Gebruik van towerspreuke om demone te paai

◻ Oorheersing deur ’n magtige geestelikeklas

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel