Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/1 bl. 21-23
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die seëninge van Gileadopleiding versprei deur die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Gileadopleiding in die allerheiligste geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/1 bl. 21-23

Meer sendelinge vir die wêreldoes

SEPTEMBER is ’n oesmaand vir boere, maar ’n baie belangriker oeswerk het ’n groot skare op 8 September 1991 na die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, net oorkant die Hudsonrivier van New York-stad, getrek. Die 91ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead het gegradueer. Ongeveer 4 263 lede van die Bethelgesin en genooide gaste was daar, en nog 1 151 by die hoofkwartier in Brooklyn en die Watchtower Farms by Wallkill en Patterson is telefonies met die program verbind.

Die president van Gileadskool, Frederick W. Franz, byna 98 jaar oud, het die program geopen met ’n roerende en uiters eerbiedige gebed. Albert D. Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam en voormalige sekretaris en instrukteur van die skool, het as voorsitter van die program gedien. Hy het die gehoor se aandag gevestig op Psalm 2:1, 2 en ander profesieë wat hierdie tyd van woelinge onder die nasies voorspel. Hierdie toestand van ontwrigting het beteken dat baie nuwe velde vir die oeswerk oopgegaan het.

Die eerste toespraak van die dag is deur George M. Couch, ’n lid van die Bethelkomitee, gehou. Sy tema was “Tel jou seëninge”. Hy het die Gileadstudente daaraan herinner dat dit nooit te vroeg is om met hierdie gewoonte te begin nie. Hy het gesê dat die studente self beslis geseënd is, maar dat hulle hierdie seëninge net ná baie harde werk gekry het. Die 97-jarige Jakob het eweneens ’n hele nag lank met ’n engel geworstel—net om ’n seën te ontvang (Genesis 32:24-32). Broer Couch het die studente aangemoedig om nie oor negatiewe dinge te tob nie, maar om ’n seën vir ander te wees deur gemoedsrus aan te kweek deur middel van gebed en vasbeslotenheid.

John E. Barr van die Bestuursliggaam het daarna gepraat oor die tema: “Julle moet liefde onder mekaar hê.” Jesus se volgelinge was bereid om vir mekaar te sterf. “Voel julle dat so ’n liefde in julle hart opwel?” het hy die studente gevra. ‘Sonder hierdie liefde’, het hy gesê, ‘is ons niks nie. Dis hoe eenvoudig dit is’ (1 Korinthiërs 13:3). Broer Barr het ’n paar praktiese maniere gemeld waarop liefde betoon kan word. Hy het die studente aangespoor om mede-sendelinge met respek te behandel en altyd te probeer om dinge op ’n taktvolle manier te sê. ‘Vergeet die klein geskilletjies’, het hy hulle aangeraai en 1 Petrus 4:8 aangehaal. Hy het gesê dat selfs die kookdae van sendelinge geleenthede is waartydens hulle liefde kan betoon deur die werk nie bloot as ’n alledaagse plig te beskou nie. Hy het die studente daaraan herinner dat “ons nooit ophou om ons broers en susters liefde te skuld nie”.—Romeine 13:8.

“Hoeveel vertroue het jy?” was die interessante tema wat David A. Olson van die Diensafdelingskomitee bespreek het. Hy het twee gebiede van vertroue beklemtoon: in Jehovah en sy organisasie, waarvoor ons ontelbare redes het (Spreuke 14:6; Jeremia 17:8); en in jouself. Sendelinge het rede om ’n mate van selfvertroue te hê, onder andere hulle agtergrond as bedienaars en die vertroue wat Jehovah en sy organisasie in hulle stel. Die apostel Paulus het om soortgelyke redes sulke vertroue gehad (1 Korinthiërs 16:13; Filippense 4:13). Broer Olson het hulle egter gewaarsku teen te veel selfvertroue wat deur die wêreld aangemoedig word, soos toegelig word deur die voorbeeld van ’n bekende skrywer wat volgens berig gesê het: “Ek haal my eie woorde dikwels aan. Dit gee smaak aan my gesprek.” Maar vertroue wat met nederigheid gepaard gaan, kan by ander vertroue inboesem. Dit was beslis waar in Paulus se geval.—Filippense 1:12-14.

Lyman A. Swingle van die Bestuursliggaam het die studente daarna aangespoor: “Gileadgegradueerdes, gaan na die velde wat geoes moet word!” Hy het gesê dat dit ’n oesdag vir Gileadskool en vir die broederskap in die hele wêreld is, aangesien die gegradueerdes sal uitgaan en hulle sal aansluit by die geledere van duisende vorige gegradueerdes wat nog sendingwerk doen—party van die eerste, tweede en derde klas uit die veertigerjare! Broer Swingle het gesê dat niemand destyds geweet het dat die sendingwerk 50 jaar daarna nog sal aanhou, of dat Nazisme, Fascisme en ander regeringsinstellings wat die predikingswerk belemmer het, inmekaar sou stort nie. Toe het hy gevra: “As ons verstom staan oor wat Jehovah in die verlede gedoen het, wat van die toekoms?” Hy het afgesluit met die besielende uitnodiging aan die studente: “Gaan na die veld!”

Die twee hoofinstrukteurs van Gileadskool het die 91ste klas toe vir die laaste keer toegespreek. Jack D. Redford het gepraat oor die tema: “Verkry wysheid.” Gileadskool, het hy die studente meegedeel, leer hulle kennis en insig, maar hulle moet wysheid, die vermoë om hulle kennis op die regte manier te gebruik, verkry. Hy het die studente aangespoor om die mite te verwerp dat hulle alles by Gilead geleer het. “Dit is wat julle ná die skool leer wat belangrik is.” Van die dinge wat hulle nog moet leer: om vreedsaam met mense saam te leef, om vir ’n maat, vir mede-sendelinge en vir plaaslike broers en susters te kan sê: “Ek is jammer”; om versigtig te wees dat hulle nie op eerste indrukke staatmaak nie en om te besef dat elke probleem kompleks is en dat ’n diep begrip van omstandighede nodig is voordat wyse raad gegee kan word; en om die plaaslike broers te respekteer vir hulle vermoë om in moeilike omstandighede ’n bestaan te voer.—Spreuke 15:28; 16:23; Jakobus 1:19.

Ulysses V. Glass, die sekretaris van Gileadskool, het Filippense 3:16 (NW) as tema vir sy toespraak gebruik. Hy het die klas geprys vir die vordering wat hulle gemaak het en het hulle aangemoedig om, in ooreenstemming met daardie teks, daarmee voort te gaan. Hoewel die studente moet aanhou om juiste kennis op te doen, het hy gesê dat hulle nooit alles sal weet nie. Hy het die gedagte toegelig met ’n syferhorlosie. Die eienaar daarvan weet dalk hoe om dit te laat werk, maar weet nie presies hoe dit werklik werk nie. Sendelinge moet eweneens nie neersien nie op diegene wat, hoewel hulle nie sulke diep kennis soos die sendelinge het nie, weet wat belangrik is—hoe om Jehovah te vrees (Spreuke 1:7). Hy het die klas daaraan herinner hoe belangrik dit is om hulle “oog suiwer” te hou (Mattheüs 6:22, NW). Die geestelike oog kan net soos die letterlike oog belemmer word. Party het byvoorbeeld tonnelvisie—hulle is so ingestel op ’n paar besonderhede dat hulle nie die hele beeld sien nie—terwyl ander daarenteen net die oppervlakkige geskille sien en hulle aandag altyd afgelei word van belangrike geskille wat hulle aandag verg.

Die laaste toespraak van die oggend met die titel “Identifiseer en werk saam met Jehovah se organisasie” is deur Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam gehou. Broer Jaracz het gesê dat, hoewel daar duisende organisasies en genootskappe in die wêreld is, net een van hulle nie sy oorsprong by die wêreld het nie. Hoe identifiseer ’n mens die organisasie wat Jehovah verteenwoordig? God se Woord verskaf die identifiserende kenmerke. Die Bybel toon dat sy hemelse organisasie hoogs georganiseerd is (Psalm 103:20, 21; Jesaja 40:26). Jehovah se aardse organisasie kan ook geïdentifiseer word deur sy ordelikheid asook deur sy afgeskeidenheid van die wêreld, sy streng getrouheid aan Bybelbeginsels, sy hoë vlak van sedelike reinheid en die liefde onder sy lede. Broer Jaracz het die Gileadstudente aangespoor om soveel mense moontlik in hulle toewysings te help om Jehovah se organisasie volgens die Skrif te identifiseer. In daardie verband het hy ’n heuglike aankondiging gedoen: Gileadskool sal binnekort twee keer so groot wees, met ongeveer 50 studente in die 93ste klas! Klasse van die Gileaduitbreidingskool sal omstreeks dieselfde tyd ook in Duitsland begin. Die applous was lank en hard!

Die oggend het ’n hoogtepunt bereik toe al 24 Gileadstudente diplomas ontvang het. Hulle sou binnekort na 12 lande oor die hele wêreld vertrek. Die klas het ’n hartgrondige resolusie aangeneem en die Bestuursliggaam en die Bethelgesin bedank. Na middagete het broer Charles J. Rice van die Watchtower Farms-komitee ’n verkorte Wagtoring-studie gehou. Toe het die gegradueerdes ’n lewendige program aangebied deur party van die ondervindinge wat hulle gedurende hulle vyf maande lange kursus by Wallkill, New York, gehad het op te voer. Daarna het verkondigers uit ’n paar plaaslike gemeentes ’n drama aangebied met die titel Jongmense wat hulle Skepper nou onthou.

Broer George Gangas, ’n 95-jarige lid van die Bestuursliggaam, het die program afgesluit met ’n kenmerkend lewendige gebed aan Jehovah. Die gehoor was met vreugde vervul toe hulle vertrek het, en elkeen is ongetwyfeld beweeg om altyd ’n groter aandeel aan die wêreldwye oeswerk te hê.

[Venster op bladsy 22]

Klasstatistiek

Aantal lande verteenwoordig: 6

Aantal lande waarheen gestuur: 12

Aantal studente: 24

Aantal egpare: 12

Gemiddelde ouderdom: 33,4

Gemiddelde jare in waarheid: 16,13

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 11,3

[Prent op bladsy 23]

91ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) McDowell, A.; Youngquist, L.; Skokan, B.; Wargnier, N.; Miller, Y.; Muñoz, M. (2) Bales, M.; Perez, D.; Attick, E.; Vainikainen, A.; Mostberg, K. (3) DePriest, D.; DePriest, T.; Perez, R.; Wargnier, J.; Muñoz, J.; Miller, J. (4) McDowell, S.; Bales, D.; Skokan, M.; Attick, C.; Youngquist, W.; Vainikainen, J.; Mostberg, S.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel