Het die vroeë kerk geleer dat God ’n Drie-eenheid is?
Deel 1—Het Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer verkondig?
Het Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer verkondig? Het kerkleiers van die daaropvolgende paar eeue dit verkondig? Hoe het dit ontstaan? En waarom is dit belangrik dat ons die waarheid omtrent hierdie opvatting moet weet? Hierdie is die eerste van ’n reeks artikels waarin Die Wagtoring hierdie vrae sal bespreek. Ander artikels in die reeks sal van tyd tot tyd in toekomstige nommers verskyn.
DIEGENE wat die Bybel as God se Woord aanvaar, besef dat hulle ’n verantwoordelikheid het om ander omtrent die Skepper te leer. Hulle besef ook dat alles wat hulle ander omtrent God leer waar moet wees.
God het Job se “vertroosters” berispe omdat hulle versuim het om dit te doen. “Die HERE [sê] aan Elifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”—Job 42:7.
Toe die apostel Paulus die opstanding bespreek het, het hy gesê dat ons “valse getuies van God bevind” sou word indien ons iets omtrent God se dade sou verkondig wat nie waar is nie (1 Korinthiërs 15:15). As dit die geval is met die opstandingsleer, hoe versigtig moet ons dan nie wees as dit kom by wat ons oor die wese van God verkondig nie!
Die Drie-eenheidsleer
Bykans al die kerke van die Christendom leer dat God ’n Drie-eenheid is. The Catholic Encyclopedia noem die Drie-eenheidsleer “die sentrale leerstelling van die Christelike godsdiens” en omskryf dit soos volg:
“Die eenheid van die Godheid bestaan uit Drie Persone, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, waarin hierdie Drie Persone waarlik van mekaar onderskeie is. Met ander woorde, soos die Athanasiaanse Geloofsbelydenis sê: ‘die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God, en tog is daar nie drie Gode nie maar een God’. . . . Die Persone is mede-ewig en gelyk: hulle is almal ongeskape en alvermoënd.”1
The Baptist Encyclopædia gee ’n soortgelyke omskrywing. Dit sê:
“[Jesus] is . . . die ewige Jehovah . . . Die Heilige Gees is Jehovah . . . Die Seun en die Gees word presies gelykgestel aan die Vader. As hy Jehovah is, dan is hulle ook.”2
Teenstanders vervloek
In 325 G.J. het ’n konsilie van biskoppe in Nicea in Klein-Asië ’n geloofsbelydenis geformuleer wat verklaar het dat die Seun van God “waarlik God” is net soos die Vader “waarlik God” is. Daardie belydenis het gedeeltelik gesê:
“Maar wat diegene betref wat sê: ‘Daar was [’n tyd] toe [die Seun] nie bestaan het nie’, en: ‘Voordat Hy gebore is, het Hy nie bestaan nie’, en dat Hy uit niks ontstaan het nie, of wat beweer dat die Seun van God ’n ander hipostase of substansie het, of geskep is, of onderhewig is aan wysiging of verandering—sulke mense word deur die Katolieke Kerk vervloek.”3
Enigiemand wat dus geglo het dat die Seun van God nie mede-ewig aan die Vader is nie, of dat die Seun geskep is, is aan die ewige verdoemenis oorgelewer. ’n Mens kan jou voorstel watter druk dit op al die gewone gelowiges geplaas het om daarmee te konformeer.
In die jaar 381 G.J. het ’n ander konsilie in Konstantinopel vergader en verklaar dat die heilige gees net soos die Vader en die Seun aanbid en vereer moet word. ’n Jaar later, in 382 G.J., het nog ’n sinode in Konstantinopel vergader en die leer aangaande die volle godheid van die heilige gees aangeneem.4 Daardie selfde jaar het pous Damasus ’n versameling leringe wat deur die kerk verdoem moes word aan ’n konsilie in Rome voorgelê. Die dokument, wat die Foliant van Damasus genoem is, het die volgende stellings ingesluit:
“As enigiemand ontken dat die Vader ewig is, dat die Seun ewig is en dat die Heilige Gees ewig is: hy is ’n ketter.”
“As enigiemand ontken dat die Seun van God waarlik God is, net soos die Vader waarlik God is, en alle mag besit, alles weet en aan die Vader gelyk is: hy is ’n ketter.”
“As enigiemand ontken dat die Heilige Gees . . . waarlik God is . . . alle mag besit en alles weet, . . . hy is ’n ketter.”
“As enigiemand ontken dat die drie persone, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, waarlik persone is, gelyk, ewig, dat hulle alle sigbare en onsigbare dinge bevat, dat hulle alvermoënd is, . . . hy is ’n ketter.”
“As enigiemand sê dat [die Seun wat] vlees gemaak [is] nie by die Vader in die hemel was terwyl hy op die aarde was nie: hy is ’n ketter.”
“As enigiemand, hoewel hy sê dat die Vader God is en die Seun God is en die Heilige Gees God is, . . . nie sê dat hulle een God is nie, . . . hy is ’n ketter.”5
Die Jesuïet-geleerdes wat die voorgaande uit Latyn vertaal het, het die volgende opmerking bygevoeg: “Pous St. Celestinus I (422-32) het hierdie kerkreëls klaarblyklik as wet beskou; hulle kan beskou word as omskrywings van die geloof.”6 En geleerde Edmund J. Fortman beweer dat die foliant “betroubare en gegronde trinitariese leerstelling” verteenwoordig.7
Omskryf hierdie stellings jou geloof indien jy aan ’n kerk behoort wat die Drie-eenheidsleer aanvaar? En het jy besef dat die Drie-eenheidsleer soos dit deur die kerke geleer word van jou verwag om te glo dat Jesus in die hemel was terwyl hy op aarde was? Hierdie leer is soortgelyk aan wat die vierde-eeuse kerkman Athanasius in sy boek On the Incarnation beweer het:
“Die Woord [Jesus] was nie in sy liggaam vasgekeer nie, en sy teenwoordigheid in die liggaam het Hom nie verhinder om ook elders te wees nie. Wanneer Hy sy liggaam beweeg het, het Hy nie opgehou om ook die heelal deur sy Verstand en mag te rig nie. . . . Hy was steeds die Bron van lewe vir die hele heelal, teenwoordig in elke deel daarvan, en tog buite die geheel.”8
Wat die Drie-eenheidsleer beteken
Party mense het die gevolgtrekking gemaak dat die Drie-eenheidsleer bloot beteken dat ’n mens goddelikheid of godheid aan Jesus moet toeskryf. Vir ander mense beteken geloof in die Drie-eenheid eenvoudig geloof in die Vader, die Seun en die heilige gees.
’n Noukeurige ondersoek van die Christendom se geloofsbelydenisse openbaar egter dat sulke begrippe nie naastenby die amptelike leer weerspieël nie. Amptelike omskrywings stel dit duidelik dat die Drie-eenheidsleer nie ’n eenvoudige begrip is nie. Inteendeel, dit is ’n ingewikkelde stel afsonderlike begrippe wat oor ’n lang tydperk saamgebring en met mekaar verbind is.
Uit die beskrywing van die Drie-eenheidsleer wat ná die Konsilie van Konstantinopel in 381 G.J. verskyn het, uit die Foliant van Damasus in 382 G.J., uit die Athanasiaanse Geloofsbelydenis wat later gekom het en uit ander dokumente kan ons duidelik vasstel wat die Christendom met die Drie-eenheidsleer bedoel. Dit sluit die volgende uitdruklike begrippe in:
1. Na bewering is daar drie goddelike persone—die Vader, die Seun en die heilige gees—in die Godheid.
2. Na bewering is elkeen van hierdie onderskeie persone ewig en kom geeneen vóór of ná die ander in tyd nie.
3. Na bewering is elkeen almagtig en is geeneen groter of minder as die ander nie.
4. Na bewering is elkeen alwetend.
5. Na bewering is elkeen waarlik God.
6. Na bewering is daar egter nie drie Gode nie maar slegs een God.
Die Drie-eenheidsleer is ongetwyfeld ’n ingewikkelde stel begrippe en sluit minstens die voorafgaande noodsaaklike elemente in, maar dit behels selfs meer, soos ’n nadere ondersoek van die besonderhede toon. Maar as ons net die voorafgaande basiese begrippe ondersoek, is dit duidelik dat dít wat oorbly indien enige deel daarvan weggeneem word, nie meer die Christendom se Drie-eenheid is nie. Indien ons die totale prentjie wil hê, moet al hierdie dele teenwoordig wees.
Noudat ons die begrip “Drie-eenheid” beter verstaan, kan ons vra: Was dit een van Jesus en sy dissipels se leringe? Indien wel, moes dit in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling ten volle ontwikkel voorgekom het. En aangesien die dinge wat hulle verkondig het in die Bybel gevind word, is die Drie-eenheidsleer óf ’n Bybelse leerstelling, óf dit is nie. Indien dit wel is, behoort dit duidelik in die Bybel geleer te word.
Dit is onredelik om te dink dat Jesus en sy dissipels mense omtrent God sou leer en tog nie vir hulle sou vertel wie God is nie, veral aangesien daar van sommige gelowiges verwag sou word om hulle lewe vir God op te offer. Jesus en sy dissipels sou derhalwe die hoogste prioriteit daaraan geheg het om ander omtrent hierdie noodsaaklike leerstelling te leer.
Ondersoek die Skrif
In Handelinge hoofstuk 17 vers 11 word mense ‘edelmoedig’ genoem, want hulle het “elke dag die Skrifte ondersoek [of, “noukeurig ondersoek”, NW] of hierdie dinge so was”, dinge wat deur die apostel Paulus verkondig is. Hulle is aangemoedig om die Skrif te gebruik om selfs die leringe van ’n apostel te bevestig. Jy behoort dieselfde te doen.
Hou in gedagte dat die Skrif “deur God ingegee” is, en dat dit gebruik moet word “tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). Die Bybel is dus volkome wat sy leerstellige sake betref. Indien die Drie-eenheidsleer waar is, moet dit in die Bybel voorkom.
Ondersoek gerus die Bybel, veral die 27 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte, sodat jy self kan sien of Jesus en sy dissipels ’n Drie-eenheid verkondig het. Wanneer jy ondersoek instel, vra jou af:
1. Is daar enige teks waarin die woord “Drie-eenheid” voorkom?
2. Is daar enige teks wat sê dat God uit drie onderskeie persone bestaan, naamlik Vader, Seun en heilige gees, maar dat die drie net een God is?
3. Is daar enige teks wat sê dat die Vader, die Seun en die heilige gees in alle opsigte gelyk is, soos in ewigheid, mag, posisie en wysheid?
Jy kan soek so hard soos jy wil, jy sal nie een teks vind wat die woord Drie-eenheid gebruik nie, en jy sal ook geen teks vind wat sê dat die Vader, die Seun en die heilige gees in alle opsigte, soos in ewigheid, mag, posisie en wysheid, gelyk is nie. Nie eers een teks sê dat die Seun in daardie opsigte aan die Vader gelyk is nie—en indien daar so ’n teks was, sou dit nie ’n Drie-eenheid bewys nie, maar hoogstens ’n “tweeheid”. Nêrens in die Bybel word die heilige gees met die Vader gelykgestel nie.
Wat baie geleerdes sê
Baie geleerdes, met inbegrip van Trinitariërs, gee toe dat die Bybel in werklikheid nie ’n Drie-eenheidsleer bevat nie. The Encyclopedia of Religion sê byvoorbeeld:
“Teksverklaarders en teoloë is dit vandag eens dat die Hebreeuse Bybel nie ’n Drie-eenheidsleer bevat nie . . . Hoewel die Hebreeuse Bybel God as die vader van Israel uitbeeld en personifikasies van God gebruik, soos Woord (dawar), Gees (ruah), Wysheid (hokhmah) en Teenwoordigheid (shekhinah), sou dit die bedoeling en gees van die Ou Testament geweld aandoen indien ’n mens hierdie begrippe met die latere trinitariese leer in verband sou bring.
“Teksverklaarders en teoloë is dit verder eens dat die Nuwe Testament ook nie ’n uitdruklike Drie-eenheidsleer bevat nie. God die Vader is die bron van alles wat bestaan (Pantokrator) en is ook Jesus Christus se vader; ‘Vader’ is nie ’n titel vir die eerste persoon van die Drie-eenheid nie, maar ’n sinoniem vir God. . . .
“Daar is geen deurdenkte bewustheid van die metafisiese aard van God (‘Wesensdrie-eenheid’) in die Nuwe Testament nie, en die Nuwe Testament bevat ook nie die tegniese taal van latere leerstelling nie (hupostasis, ousia, substantia, subsistentia, prosōpon, persona). . . . Dit is onbetwisbaar dat die leerstelling nie slegs op grond van skriftuurlike bewyse vasgestel kan word nie.”9
Wat die geskiedkundige feite van dié saak betref, sê The New Encyclopædia Britannica:
“Nóg die woord Drie-eenheid nóg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor . . .
“Die leerstelling het geleidelik oor etlike eeue heen en deur talle geskille heen ontstaan. . . .
“Die afsonderlikheid van die drie en hulle eenheid is eers in die 4de eeu in ’n enkele ortodokse leerstelling van een wese en drie persone saamgebring.”10
Die New Catholic Encyclopedia maak ’n soortgelyke verklaring omtrent die oorsprong van die Drie-eenheid:
“Teksverklaarders en Bybelteoloë, wat al hoe meer Rooms-Katolieke insluit, erken dat ’n mens nie sonder ernstige voorbehoud van Trinitarianisme in die Nuwe Testament behoort te praat nie. In noue verband hiermee erken geskiedkundiges van die dogmatiek en sistematiese teoloë dat ’n mens, wanneer jy wel sonder voorbehoud van Trinitarianisme praat, weg beweeg het van die oorsprong van die Christelike godsdiens na, sê maar, die laaste kwart van die 4de eeu. Dit was eers tóé dat wat die definitiewe Trinitariese dogma van ‘een God in drie Persone’ genoem kon word ten volle in die Christelike lewe en denke opgeneem is. . . .
“Die formulier self weerspieël nie regstreeks die presiese tydperk van sy oorsprong nie; dit was die produk van 3 eeue van leerstellige ontwikkeling.”11
Word dit “geïmpliseer”?
Trinitariërs sê dalk dat die Bybel ’n Drie-eenheid “impliseer”. Maar hierdie bewering word gemaak lank nadat die Bybel geskryf is. Dit is ’n poging om leerstellings waarop geestelikes van later tye eiemagtig besluit het uit die Bybel te probeer aflei.
Vra jou af: Waarom sou die Bybel sy belangrikste leerstelling—wie God is—bloot “impliseer”? Die Bybel spreek hom duidelik uit oor ander grondleerstellings; waarom nie ook oor die belangrikste leerstelling nie? Sou die Skepper van die heelal nie ’n boek laat skryf wat duidelik is oor die feit dat hy ’n Drie-eenheid is, indien dit die geval was nie?
Daar is ’n eenvoudige rede waarom die Bybel nie die Drie-eenheid uitdruklik leer nie: Dit is nie ’n Bybelse leerstelling nie. As God ’n Drie-eenheid was, sou hy dit beslis duidelik gemaak het sodat Jesus en sy dissipels ander daarvan kon leer. En daardie noodsaaklike inligting sou in God se geïnspireerde Woord ingesluit gewees het. Dit sou nie aan onvolmaakte mense oorgelaat word om eeue later daarmee te worstel nie.
Wat vind ons wanneer ons tekste ondersoek wat deur Trinitariërs voorgehou word as bewys daarvan dat die Bybel ’n Drie-eenheid “impliseer”? ’n Eerlike ondersoek toon dat die tekste wat voorgehou word nie van die Christendom se Drie-eenheid praat nie. Pleks daarvan probeer teoloë hulle vooropgestelde idees oor ’n Drie-eenheid in die teks inlees. Maar daardie begrippe kom nie in die tekste voor nie. Trouens, daardie Trinitariese begrippe weerspreek die duidelike getuienis van die Bybel in sy geheel.
’n Voorbeeld van so ’n teks word in Mattheüs 28:19 gevind. Daar word die Vader, die Seun en die heilige gees saam gemeld. Party beweer dat dit ’n Drie-eenheid impliseer. Maar lees self die vers. Is daar enigiets in daardie teks wat sê dat die drie een God is met gelyke ewigheid, mag, posisie en wysheid? Nee, daar is nie. Dieselfde geld vir ander tekste wat die drie saam meld.
Wat diegene betref wat Trinitariese implikasies in Mattheüs 28:19 sien omdat “naam” in die enkelvoud gebruik word vir die Vader, die Seun en die heilige gees, vergelyk gerus die gebruik van “naam”, in die enkelvoud, vir Abraham en Isak in Genesis 48:16.—Die Afrikaanse Bybel; New World Translation of the Holy Scriptures.
Trinitariërs wys ook op Johannes 1:1 in party vertalings wat sê dat “die Woord” “by God” was en dat hy “God” is. Maar ander Bybelvertalings sê dat die Woord “’n god” of “goddelik” was, wat nie noodwendig beteken dat hy God is nie, maar dat hy ’n magtige persoon is. Boonop sê daardie Bybelvers dat “die Woord” “by” God was. Dit sou redelikerwys beteken dat hy nie daardie selfde God kan wees nie. En ongeag tot watter slotsom daar omtrent “die Woord” gekom word, die feit is dat net twee persone in Johannes 1:1 gemeld word, nie drie nie. Wanneer ons al die tekste eerlik ondersoek wat mense gebruik om die Drie-eenheidsleer te staaf, vind ons keer op keer dat die tekste dit glad nie doen nie.a
’n Ander faktor wat in gedagte gehou moet word is: Indien die Drie-eenheidsleer deur Jesus en sy dissipels verkondig is, sou vooraanstaande kerkmanne wat direk ná hulle gekom het dit ongetwyfeld ook verkondig het. Maar het daardie manne, wat vandag die Apostoliese Vaders genoem word, die Drie-eenheidsleer verkondig? Hierdie vraag sal in Deel 2 van hierdie reeks in ’n toekomstige nommer van Die Wagtoring bespreek word.
Bronnelys
1. The Catholic Encyclopedia, 1912, Deel XV, bladsy 47.
2. The Baptist Encyclopædia, onder redaksie van William Cathcart, 1883, bladsye 1168-9.
3. A Short History of Christian Doctrine, deur Bernhard Lohse, Uitgawe van 1980, bladsy 53.
4. Ibid., bladsye 64-5.
5. The Church Teaches, vertaal en geredigeer deur John F. Clarkson, S.J., John H. Edwards, S.J., William J. Kelly, S.J., en John J. Welch, S.J., 1955, bladsye 125-7.
6. Ibid., bladsy 125.
7. The Triune God, deur Edmund J. Fortman, Uitgawe van 1982, bladsy 126.
8. On the Incarnation, vertaal deur Penelope Lawson, Uitgawe van 1981, bladsye 27-8.
9. The Encyclopedia of Religion, Mircea Eliade, hoofredakteur, 1987, Deel 15, bladsy 54.
10. The New Encyclopædia Britannica, 15de Uitgawe, 1985, Deel 11, Micropædia, bladsy 928.
11. New Catholic Encyclopedia, 1967, Deel XIV, bladsy 295.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat uitgegee word deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania vir ’n vollediger bespreking van sulke tekste.
[Prent op bladsy 19]
Church at Tagnon, France