Is dit onteenseglik ’n Bybelleerstelling?
AS DIE Drie-eenheid waar is, moet dit duidelik en konsekwent in die Bybel uiteengesit word. Waarom? Omdat die Bybel, soos die apostels bevestig het, God se openbaring van homself aan die mensdom is. En aangesien ons God moet ken om hom op aanvaarbare wyse te kan aanbid, moet die Bybel ons ondubbelsinnig meedeel wie hy werklik is.
Eerste-eeuse gelowiges het die Skrif as die geloofwaardige openbaring van God aanvaar. Dit was die grondslag van hulle oortuigings, die hoogste gesag. Toe die apostel Paulus byvoorbeeld vir mense in die stad Berea getuig het, het hulle “die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was”.—Handelinge 17:10, 11.
Wat het vooraanstaande manne van God destyds as hulle gesag gebruik? Handelinge 17:2, 3 (NW) deel ons mee: “Paulus het volgens sy gewoonte . . . aan die hand van die Skrif met hulle geredeneer, en deur middel van verwysings [uit die Skrif] verduidelik en bewys dat die Christus moes ly.”
Jesus self het die voorbeeld gestel deur die Skrif as die grondslag van sy lering te gebruik en het herhaaldelik gesê: “Daar is geskrywe.” “Hy het . . . vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”—Mattheüs 4:4, 7; Lukas 24:27.
Jesus, Paulus en eerste-eeuse gelowiges het dus die Skrif as die grondslag van hulle lering gebruik. Hulle het geweet dat ‘die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing [‘om verkeerdhede reg te stel’, NAV], tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus’.—2 Timotheüs 3:16, 17; sien ook 1 Korinthiërs 4:6; 1 Thessalonicense 2:13; 2 Petrus 1:20, 21.
Aangesien die Bybel ‘verkeerdhede kan regstel’, moet dit duidelike inligting bevat oor so ’n fundamentele kwessie soos wat die Drie-eenheid na bewering is. Maar sê teoloë en geskiedskrywers self dat dit onteenseglik ’n Bybelleerstelling is?
Is die “Drie-eenheid” in die Bybel?
’N PROTESTANTSE publikasie sê: “Die woord Drie-eenheid kom nie in die Bybel voor nie . . . Dit is eers in die 4de eeu formeel in die teologie van die kerk opgeneem” (The Illustrated Bible Dictionary). En ’n Katolieke gesaghebbende sê dat die Drie-eenheid “nie . . . regstreeks en onmiddellik [die] woord van God is nie”.—New Catholic Encyclopedia.
The Catholic Encyclopedia sê ook: “In die Skrif is daar tot nou toe geen enkele term waardeur die Drie Goddelike Persone saam aangedui word nie. Die woord τρίας [triʹas] (waarvan die Latynse trinitas ’n vertaling is) kom vir die eerste keer omstreeks 180 n.C. in Theophilus van Antiochië voor. . . . Kort daarna kom dit in die Latynse vorm trinitas in Tertullianus voor.”
Maar dit is nie op sigself ’n bewys dat Tertullianus die Drie-eenheid geleer het nie. Die Katolieke werk Trinitas—A Theological Encyclopedia of the Holy Trinity sê byvoorbeeld dat party van Tertullianus se woorde later deur ander gebruik is om die Drie-eenheid te beskryf. Dan maan dit: “Maar oorhaastige gevolgtrekkings kan nie op grond van gebruik gemaak word nie, want hy pas nie die woorde op die Trinitariese teologie toe nie.”
Die getuienis van die Hebreeuse Skrifte
ONS het reeds gesien dat die woord “Drie-eenheid” nie in die Bybel voorkom nie. Maar word ten minste die gedagte van die Drie-eenheid duidelik daarin uiteengesit? Wat toon die Hebreeuse Skrifte (“Ou Testament”) byvoorbeeld?
The Encyclopedia of Religion erken: “Hedendaagse teoloë is dit eens dat die Hebreeuse Bybel nie ’n Drie-eenheidsleer bevat nie.” En die New Catholic Encyclopedia sê ook: “Die leerstelling oor die Heilige Drie-eenheid word nie in die O[u] T[estament] geleer nie.”
In sy boek The Triune God erken die Jesuïet Edmund Fortman eweneens: “Die Ou Testament . . . sê ons niks, hetsy uitdruklik of deur noodsaaklike implikasie, van ’n Drie-enige God wat Vader, Seun en Heilige Gees is nie. . . . Daar is geen getuienis dat enige Bybelskrywer selfs vermoed het dat daar ’n [Drie-eenheid] in die Godheid bestaan nie. . . . Selfs die beskouing dat [die “Ou Testament”] aanduidings of voorafskaduwings of ‘bedekte tekens’ van die drie-eenheid van persone bevat, doen die woorde en bedoelings van die Bybelskrywers geweld aan.”—Ons kursiveer.
’n Ondersoek van die Hebreeuse Skrifte self sal hierdie kommentare bevestig. Daar is dus geen duidelike Drie-eenheidsleer in die eerste 39 boeke van die Bybel wat die ware kanon van die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte uitmaak nie.
Die getuienis van die Griekse Skrifte
WEL, is daar dan ’n duidelike uiteensetting van ’n Drie-eenheid in die Christelike Griekse Skrifte (“Nuwe Testament”)?
The Encyclopedia of Religion sê: “Teoloë is dit eens dat die Nuwe Testament ook nie ’n uitdruklike Drie-eenheidsleer bevat nie.”
Die Jesuïet Fortman sê: “Die Nieu-Testamentiese skrywers . . . gee ons geen formele of geformuleerde Drie-eenheidsleer nie, geen uitdruklike leer dat daar in een God drie gelyke, goddelike persone is nie. . . . Ons vind nêrens ’n trinitariese leerstelling oor drie aparte subjekte van goddelike lewe en bedrywigheid in dieselfde Godheid nie.”
The New Encyclopædia Britannica sê: “Nòg die woord Drie-eenheid, nòg die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor.”
Bernhard Lohse sê in A Short History of Christian Doctrine: “’n Mens vind nie ’n Drie-eenheidsleer in die Nuwe Testament nie.”
The New International Dictionary of New Testament Theology sê eweneens: “Die N[uwe] T[estament] bevat nie die geformuleerde Drie-eenheidsleer nie. ‘In die Bybel ontbreek die uitdruklike verklaring dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees in wese gelyk is’, [het Protestantse teoloog Karl Barth gesê].”
Professor E. Washburn Hopkins van die Yale-Universiteit het bevestig: “Die Drie-eenheidsleer was blykbaar vir Jesus en Paulus onbekend; . . . hulle sê niks daarvan nie.”—Origin and Evolution of Religion.
Geskiedskrywer Arthur Weigall sê: “Jesus Christus het nooit so ’n verskynsel gemeld nie, en die woord ‘Drie-eenheid’ kom nêrens in die Nuwe Testament voor nie. Die opvatting is eers driehonderd jaar ná die dood van onse Here deur die Kerk aangeneem.”—The Paganism in Our Christianity.
Nòg die 39 boeke van die Hebreeuse Skrifte, nòg die kanon van 27 geïnspireerde boeke van die Christelike Griekse Skrifte bevat dus ’n duidelike Drie-eenheidsleer.
Het die vroeë Christene dit verkondig?
HET die vroeë Christene die Drie-eenheid verkondig? Let op die volgende kommentare van geskiedskrywers en teoloë:
“Die primitiewe Christelike godsdiens het nie ’n uitdruklike Drie-eenheidsleer gehad soos dié wat later in die geloofsbelydenisse uitgebou is nie.”—The New International Dictionary of New Testament Theology.
“Die vroeë Christene het aanvanklik nie daaraan gedink om die opvatting [aangaande die Drie-eenheid] op hulle eie geloof toe te pas nie. Hulle het God die Vader en Jesus Christus, die Seun van God, vereer, en hulle het die . . . Heilige Gees erken; maar hulle het glad nie gedink dat hierdie drie ’n Drie-eenheid, gelyk en Enig, uitmaak nie.”—The Paganism in Our Christianity.
“Die Christelike geloof was aanvanklik nie Trinitaries nie . . . Dit geld vir die apostoliese en subapostoliese tydperk, soos blyk uit die N[uwe] T[estament] en ander vroeg-Christelike geskrifte.”—Encyclopædia of Religion and Ethics.
“Die formulering ‘een God in drie Persone’ was nie voor die einde van die 4de eeu stewig gevestig nie en was beslis nie voor daardie tyd ten volle in die Christelike lewe en sy geloofsbelydenis opgeneem nie. . . . Onder die Apostoliese Vaders was daar niks wat in die minste met so ’n mentaliteit of perspektief ooreengekom het nie.”—New Catholic Encyclopedia.
Wat die voor-Niceense Vaders verkondig het
DIE voor-Niceense Vaders is erken as vooraanstaande godsdiensleraars in die eerste eeue na Christus se geboorte. Hulle leer is interessant.
Justinus Martyr, wat omstreeks 165 G.J. gesterf het, het die voormenslike Jesus ’n geskape engel genoem wat “onderskeie [is] van die God wat alles gemaak het”. Hy het gesê dat Jesus ondergeskik aan God is en “niks gedoen het buiten wat die Skepper . . . wou hê dat hy moes doen en sê nie”.
Ireneus, wat omstreeks 200 G.J. gesterf het, het gesê dat die voormenslike Jesus afsonderlik van God bestaan het en ondergeskik aan hom was. Hy het getoon dat Jesus nie gelyk is aan die “Een ware en enigste God” nie, wat “oppermagtig is en buiten wie daar geen ander is nie”.
Clemens van Alexandrië, wat omstreeks 215 G.J. gesterf het, het Jesus in sy voormenslike bestaan “’n skepsel” genoem, maar God “die ongeskape en onverganklike en enigste ware God”. Hy het gesê dat die Seun “naas die enigste alvermoënde Vader is”, maar nie aan hom gelyk is nie.
Tertullianus, wat omstreeks 230 G.J. gesterf het, het die oppermag van God verkondig. Hy het gesê: “Die Vader is verskillend van die Seun (’n ander), aangesien hy groter is; net soos hy wat verwek verskillend is van hom wat verwek word; hy wat stuur, verskillend van hom wat gestuur word.” Hy het ook gesê: “Daar was ’n tyd toe die Seun nie bestaan het nie. . . . Voor alle dinge was God alleen.”
Hippolutus, wat omstreeks 235 G.J. gesterf het, het gesê dat God “die een God, die Eerste en die Enigste, die Skepper en Heer van alles” is, wat “niks tydgenootliks [van dieselfde ouderdom] gehad het nie . . . Maar hy was Een, heeltemal alleen; wat, omdat hy dit gewil het, in aansyn geroep het wat nie voorheen bestaan het nie”, soos die geskape, voormenslike Jesus.
Origines, wat omstreeks 250 G.J. gesterf het, het gesê dat “die Vader en Seun twee substansies is . . . twee dinge wat hulle wese betref”, en dat die Seun “in vergelyking met die Vader ’n baie klein liggie is”.
Ter opsomming van die geskiedkundige getuienis sê Alvan Lamson in The Church of the First Three Centuries: “Die hedendaagse, gewilde Drie-eenheidsleer . . . kry geen steun uit die taal van Justinus [Martyr] nie: en hierdie waarneming kan tot al die voor-Niceense Vaders uitgebrei word; dit wil sê, tot alle Christenskrywers gedurende drie eeue na die geboorte van Christus. Hulle praat weliswaar van die Vader, Seun en . . . heilige Gees, maar nie as gelyk nie, nie as een numeriese wese nie, nie as Drie in Een in enige sin wat nou deur Trinitariërs aanvaar word nie. Presies die teenoorgestelde is waar.”
Die getuienis van die Bybel en van die geskiedenis toon dus duidelik dat die Drie-eenheid gedurende Bybeltye en etlike eeue daarna onbekend was.
[Lokteks op bladsy 7]
“Daar is geen getuienis dat enige Bybelskrywer selfs vermoed het dat daar ’n [Drie-eenheid] in die Godheid bestaan nie.”—The Triune God