Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/15 bl. 9-14
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is geloof?
  • Op grondwaarhede gegrond
  • ’n Vrug van die heilige gees
  • Vervolmaak geloof
  • Waarom ons geloof ondersoek?
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Geloof – ’n Eienskap wat ons help om sterk te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • “Gee ons meer geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/15 bl. 9-14

Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is

“Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom [“ernstig”, “NW”] soek.”—HEBREËRS 11:6.

1, 2. Hoe is Adam se geloof getoets, en wat was die gevolge?

GELOOF behels meer as om net te glo dat God bestaan. Die eerste mens, Adam, het nie getwyfel aan die bestaan van Jehovah God nie. God het heel waarskynlik deur Sy Seun, die Woord, met Adam gekommunikeer (Johannes 1:1-3; Kolossense 1:15-17). Nogtans het Adam die vooruitsig op ewige lewe verloor omdat hy nie aan Jehovah gehoorsaam was en geloof in hom beoefen het nie.

2 Dit het gelyk asof Adam se toekomstige geluk op die spel geplaas is toe sy vrou, Eva, aan Jehovah ongehoorsaam was. Selfs net die gedagte dat hy haar kon verloor, was ’n toets vir die eerste man se geloof! Kon God hierdie probleem só oplos dat Adam se toekomstige geluk en welsyn verseker sou wees? Deur Eva se voorbeeld te volg het Adam getoon dat hy blykbaar nie gedink het dat God dit kon doen nie. Hy het die probleem op sy manier probeer oplos pleks van ernstig goddelike leiding te soek. Omdat hy nie geloof in Jehovah beoefen het nie, het Adam die dood oor homself en oor al sy nakomelinge gebring.—Romeine 5:12.

Wat is geloof?

3. Hoe verskil die Bybel se definisie van geloof van dié wat een woordeboek gee?

3 Een woordeboek definieer geloof as die “vaste vertroue in iets waarvoor daar geen bewys is nie”. Die Bybel steun egter nie daardie gedagte nie. Dit beklemtoon eerder die teenoorgestelde. Geloof is gegrond op feite, op werklikhede, op die waarheid. Die Skrif sê: “Geloof is die versekerde verwagting van dinge waarop daar gehoop word, die duidelike demonstrasie van werklikhede wat egter nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1, NW). Iemand wat geloof het, het die versekering dat alles wat God beloof het so goed as vervul is. Die oortuigende bewys van onsigbare werklikhede is so sterk dat daar gesê word dat geloof gelykstaande met daardie getuienis is.

4. Hoe steun een naslaanwerk die Bybelse definisie van geloof?

4 In die New World Translation word die kousatiewe vorm van die Hebreeuse werkwoord ʼa·manʹ soms met “beoefen geloof” vertaal. Volgens die Theological Wordbook of the Old Testament “is die gedagte van sekerheid die kernbetekenis van die grondwoord . . . wat in stryd is met hedendaagse begrippe van geloof as iets wat moontlik, hopelik waar is, maar nie seker is nie”. Dieselfde naslaanwerk sê: “Die derivatief ʼāmēn ‘voorwaar’ word in die Nuwe Testament oorgedra met die woord amēn wat [die] Engelse woord ‘amen’ is. Jesus het die woord gereeld gebruik (Mt 5:18, 26, ens.) om die sekerheid van ’n saak te beklemtoon.” Die woord wat in die Christelike Griekse Geskrifte met “geloof” vertaal word, beteken ook vertroue in iets wat stewig op feite of die waarheid gegrond is.

5. Hoe is die Griekse woord wat in Hebreërs 11:1 met “versekerde verwagting” vertaal word in eertydse sakedokumente gebruik, en van watter belang is dit vir Christene?

5 Die Griekse woord (hu·poʹsta·sis) wat in Hebreërs 11:1 met “versekerde verwagting” vertaal word, is algemeen gebruik in eertydse papirussakedokumente om die gedagte oor te dra van iets wat toekomstige besitting verseker. Geleerdes Moulton en Milligan doen die volgende vertaling aan die hand: “Geloof is die grondbrief van die dinge waarop ons hoop” (Vocabulary of the Greek Testament). As iemand die grondbrief van eiendom het, kan hy vanselfsprekend die “versekerde verwagting” hê dat sy hoop om dit te bekom eendag verwesenlik sal word.

6. Wat is die betekenis van die Griekse woord wat in Hebreërs 11:1 met “duidelike demonstrasie” vertaal word?

6 In Hebreërs 11:1 dra die Griekse woord wat met “duidelike demonstrasie” (eʹlegh·khos) vertaal word, die gedagte oor van getuienis wat voorgelê word om iets te demonstreer, veral iets wat anders voorkom as wat dit werklik is. Positiewe of tasbare getuienis maak die dinge wat voorheen nie gesien is nie duidelik, en weerlê so dinge wat lyk of dit die waarheid is. In die Hebreeuse sowel as die Griekse Geskrifte is geloof dus allermins die “vaste vertroue in iets waarvoor daar geen bewys is nie”. Inteendeel, geloof is op die waarheid gegrond.

Op grondwaarhede gegrond

7. Hoe beskryf Paulus en Dawid diegene wat God se bestaan loën?

7 Die apostel Paulus het ’n grondwaarheid gemeld toe hy geskryf het die Skepper se “onsigbare dinge [“eienskappe”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat [teenstanders van die waarheid] geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Ja, “die hemele vertel die eer van God” en “die aarde is vol van [sy] skepsele” (Psalm 19:2; 104:24). Maar sê nou iemand is nie bereid om die getuienis te oorweeg nie? Die psalmis Dawid het gesê: “Die goddelose, met sy neus in die hoogte [“omdat hy arrogant is”, The New English Bible], sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie—dit is al sy gedagtes!” (Psalm 10:4; 14:1). Geloof is deels gegrond op die grondwaarheid dat God bestaan.

8. Watter versekering en insig het diegene wat geloof beoefen?

8 Jehovah bestaan nie net nie; hy is ook betroubaar, en ons kan op sy beloftes staatmaak. Hy het gesê: “Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand” (Jesaja 14:24; 46:9, 10). Dit is nie leë woorde nie. Daar is duidelike bewys dat honderde profesieë wat in God se Woord opgeteken is, vervul is. Met hulle oë só verlig, kan diegene wat geloof beoefen, sien hoe baie ander Bybelprofesieë in vervulling gaan (Efesiërs 1:18). Hulle sien byvoorbeeld die vervulling van “die teken” van Jesus se teenwoordigheid, waaronder die toenemende verkondiging van die opgerigte Koninkryk, asook die voorspelde uitbreiding van ware aanbidding (Mattheüs 24:3-14; Jesaja 2:2-4; 60:8, 22). Hulle weet dat die nasies binnekort “Vrede en veiligheid” sal uitroep en dat God kort daarna ‘die verderwers van die aarde sal verderf’ (1 Thessalonicense 5:3; Openbaring 11:18). Wat ’n seën is dit tog om geloof te hê wat op profetiese waarhede gegrond is!

’n Vrug van die heilige gees

9. Wat is die verband tussen geloof en die heilige gees?

9 Die waarheid waarop geloof gegrond is, word in die Bybel, ’n produk van God se heilige gees, gevind (2 Samuel 23:2; Sagaria 7:12; Markus 12:36). Dit is dus logies dat geloof nie kan bestaan sonder die werking van die heilige gees nie. Dit is waarom Paulus kon skryf: “Die vrug van die gees [sluit] . . . geloof [in]” (Galasiërs 5:22, NW). Maar baie verwerp goddelike waarheid en besoedel hulle lewe met vleeslike begeertes en beskouings wat God se gees bedroef. Derhalwe is “geloof . . . nie die deel van almal nie”, want hulle het geen fondament waarop hulle dit kan bou nie.—2 Thessalonicense 3:2; Galasiërs 5:16-21; Efesiërs 4:30.

10. Hoe het sommige eertydse knegte van Jehovah getoon dat hulle geloof beoefen het?

10 Maar daar was sommige individue onder Adam se nakomelinge wat geloof beoefen het. Hebreërs hoofstuk 11 meld Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara, Isak, Jakob, Josef, Moses, Ragab, Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel saam met talle knegte van Jehovah wie se name nie genoem word nie, wat “deur die geloof getuienis ontvang het”. Let op wat “deur die geloof” gedoen is. Abel het deur die geloof ’n “offer aan God gebring” en Noag het “die ark gebou”. Deur die geloof het Abraham “gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang”. En deur die geloof het Moses “Egipte verlaat”.—Hebreërs 11:4, 7, 8, 27, 29, 39, vgl. NAV.

11. Wat toon Handelinge 5:32 ten opsigte van mense wat aan God gehoorsaam is?

11 Dit is duidelik dat al daardie knegte van Jehovah meer gedoen het as om net aan God se bestaan te glo. Hulle het geloof beoefen deur op hom te vertrou as die Een wat “’n beloner is van die wat Hom [“ernstig”, NW] soek” (Hebreërs 11:6). Hulle het gedoen soos God se gees hulle gelei het en het opgetree volgens die juiste kennis van die waarheid wat toe beskikbaar was, hoewel dit beperk was. Hoe anders as Adam! Hy het nie in geloof wat op die waarheid gegrond was of volgens die leiding van die heilige gees opgetree nie. God gee sy gees net aan dié wat hom gehoorsaam.—Handelinge 5:32.

12. (a) Waarin het Abel geloof gestel, en hoe het hy dit getoon? (b) Wat het voor-Christelike getuies van Jehovah nie ontvang nie, ondanks hulle geloof?

12 In teenstelling met sy vader, Adam, het godvrugtige Abel geloof gehad. Hy het blykbaar by sy ouers geleer wat die eerste profesie was wat uitgespreek is: “Ek [Jehovah God] sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). God het dus beloof om goddeloosheid uit te wis en om geregtigheid te herstel. Abel het nie geweet hoe hierdie profesie vervul sou word nie. Maar sy geloof dat God die Beloner is van dié wat Hom ernstig soek, was sterk genoeg om hom te beweeg om ’n offer te bring. Hy het waarskynlik baie oor die profesie nagedink en geglo dat bloed vergiet sou moes word om die belofte te vervul en die mensdom tot volmaaktheid op te hef. Abel se diereoffer was dus gepas. Maar ondanks hulle geloof het Abel en ander voor-Christelike getuies van Jehovah “die belofte nie verkry nie”.—Hebreërs 11:39.

Vervolmaak geloof

13. (a) Wat het Abraham en Dawid geleer oor die vervulling van die belofte? (b) Waarom kan daar gesê word “die waarheid het deur Jesus Christus gekom”?

13 God het deur die eeue heen van tyd tot tyd bykomende waarhede geopenbaar oor hoe die belofte van ‘die saad van die vrou’ vervul sou word. Daar is aan Abraham gesê: “Deur bemiddeling van jou saad sal alle nasies van die aarde hulleself kan seën” (Genesis 22:18, NW). Later is koning Dawid meegedeel dat die beloofde Saad deur sy koninklike lyn sou kom. In 29 G.J. het Jesus Christus as daardie Saad verskyn (Psalm 89:4, 5; Mattheüs 1:1; 3:16, 17). In teenstelling met Adam, wat nie geloof beoefen het nie, het “die laaste Adam”, Jesus Christus, ’n voorbeeld gestel wat die betoning van geloof betref (1 Korinthiërs 15:45). Hy het ’n lewe van toegewyde diens aan Jehovah gelei en het die talle profesieë aangaande die Messias vervul. Jesus het sodoende die waarheid oor die beloofde Saad duideliker gemaak en het die dinge wat deur die Mosaïese Wet afgebeeld is ’n werklikheid gemaak (Kolossense 2:16, 17, NW). Daar kan derhalwe gesê word “die waarheid het deur Jesus Christus gekom”.—Johannes 1:17.

14. Hoe het Paulus vir die Galasiërs getoon dat geloof ’n nuwe dimensie aangeneem het?

14 Noudat die waarheid deur Jesus Christus gekom het, was daar ’n groter fondament waarop geloof in “die belofte” gegrond kon word. Geloof is versterk, het as ’t ware ’n nuwe dimensie aangeneem. Paulus het in hierdie verband aan gesalfde mede-Christene gesê: “Die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word. Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus.”—Galasiërs 3:22-26.

15. Slegs hoe kon geloof vervolmaak word?

15 Die Israeliete het geloof beoefen in die wyse waarop God met hulle deur middel van die Wetsverbond gehandel het. Maar nou moes hierdie geloof toeneem. Hoe? Deur geloof te beoefen in die geesgesalfde Jesus na wie die Wet hulle moes lei. Slegs op daardie manier kon voor-Christelike geloof vervolmaak word. Hoe noodsaaklik was dit tog dat daardie eertydse Christene ‘die oog gevestig hou op Jesus, die Hoofbewerker en Volmaker van hulle geloof’! (Hebreërs 12:2, NW). Trouens, alle Christene moet dit doen.

16. Hoe het die heilige gees op ’n kragtiger manier gekom, en waarom?

16 Sou die heilige gees ook op ’n kragtiger manier kom, vanweë die groter kennis van goddelike waarheid en die gevolglike vervolmaakte geloof? Ja. Op Pinkster 33 G.J. is God se gees, die beloofde helper waarvan Jesus gepraat het, op sy dissipels uitgestort (Johannes 14:26, NW; Handelinge 2:1-4). Die heilige gees het toe op ’n heeltemal nuwe manier op hulle as gesalfde broers van Christus ingewerk. Hulle geloof, ’n vrug van die heilige gees, is versterk. Dit het hulle toegerus vir die groot dissipelmaakwerk wat voorgelê het.—Mattheüs 28:19, 20.

17. (a) Hoe het die waarheid gekom en hoe is geloof sedert 1914 vervolmaak? (b) Watter bewys het ons sedert 1919 van die werking van die heilige gees?

17 Die geloof het gekom toe Jesus hom meer as 1 900 jaar gelede as aangewese Koning aangebied het. Maar noudat hy ’n heersende hemelse Koning is, het ons grondslag vir geloof—geopenbaarde waarheid—geweldig toegeneem en is ons geloof sodoende vervolmaak. Die werking van die heilige gees het eweneens toegeneem. Daar was in 1919 duidelike bewys hiervan toe die heilige gees God se toegewyde knegte met nuwe krag besiel het ná ’n toestand van feitlike onbedrywigheid (Esegiël 37:1-14; Openbaring 11:7-12). Toe is die grondslag gelê vir ’n geestelike paradys, wat in die daaropvolgende dekades jaar na jaar al hoe duideliker en glansryker geword het. Kan daar enige groter bewys wees dat God se heilige gees in werking is?

Waarom ons geloof ondersoek?

18. Hoe het die Israelitiese verkenners van mekaar verskil wat geloof betref?

18 Kort nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos is, is 12 manne uitgestuur om die land Kanaän te gaan verken. Maar tien van hulle het ’n gebrek aan geloof gehad en het getwyfel aan Jehovah se vermoë om sy belofte na te kom om aan Israel die land te gee. Hulle het gehandel na aanleiding van die dinge wat hulle gesien het, na aanleiding van fisiese dinge. Van die 12 het net Josua en Kaleb getoon dat hulle deur geloof, nie deur aanskouing nie, gewandel het. (Vergelyk 2 Korinthiërs 5:7.) Omdat hulle geloof beoefen het, het net hulle van al daardie manne bly lewe om die Beloofde Land binne te gaan.—Numeri 13:1-33; 14:35-38.

19. Hoe is die fondament waarop geloof gegrond word vandag sterker as ooit tevore, en wat moet ons nogtans doen?

19 Vandag staan ons op die grense van God se nuwe wêreld van geregtigheid. As ons dit wil binnegaan, is geloof noodsaaklik. Gelukkig is die fondament van die waarheid waarop geloof gegrond is nou sterker as ooit tevore. Ons het die hele Woord van God, die voorbeeld van Jesus Christus en sy gesalfde volgelinge, die ondersteuning van miljoene geestelike broers en susters en God se gees wat ons krag gee soos nog nooit tevore nie. Tog is dit goed as ons ons geloof ondersoek en stappe doen om dit te versterk terwyl ons nog kan.

20. Watter vrae moet ons ons gepas afvra?

20 ‘O, ek glo dit is die waarheid’, sê jy dalk. Maar hoe sterk is jou geloof? Vra jou af: ‘Is Jehovah se hemelse Koninkryk vir my net so ’n werklikheid soos ’n menseregering? Erken en ondersteun ek Jehovah se sigbare organisasie en sy Bestuursliggaam ten volle? Kan ek met die oë van geloof sien dat die nasies nou in die laaste posisie vir Armageddon gemanipuleer word? Vergelyk my geloof goed met dié van die “groot wolk van getuies” wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word?’—Hebreërs 12:1; Openbaring 16:14-16.

21. Hoe motiveer geloof diegene wat dit het, en hoe word hulle geseën? (Sluit kommentare oor venster op bladsy 13 in.)

21 Diegene wat geloof het wat op die waarheid gegrond is, word gemotiveer om op te tree. Soos die aanvaarbare offer wat Abel gebring het, is hulle lofoffers vir God welbehaaglik (Hebreërs 13:15, 16). Soos Noag, ’n prediker van geregtigheid wat aan God gehoorsaam was, streef hulle as Koninkrykspredikers ’n lewe van geregtigheid na (Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5). Soos Abraham is diegene met geloof wat op die waarheid gegrond is, ondanks ongerief en selfs onder die moeilikste omstandighede, aan Jehovah gehoorsaam (Hebreërs 11:17-19). Soos Jehovah se getroue eertydse knegte word diegene met geloof vandag ryklik geseën deur hulle liefdevolle hemelse Vader, en hy sorg vir hulle.—Mattheüs 6:25-34; 1 Timotheüs 6:6-10.

22. Hoe kan geloof versterk word?

22 Wat kan jy doen as jy ’n kneg van Jehovah is maar vind dat jou geloof in die een of ander opsig swak is? Versterk jou geloof deur God se Woord ywerig te bestudeer, en laat jou mond oorborrel van die waters van waarheid waarmee jou hart gevul is (Spreuke 18:4). As jou geloof nie gereeld versterk word nie, kan dit swak, onaktief en self dood raak (1 Timotheüs 1:19; Jakobus 2:20, 26, vgl. NW). Neem jou vas voor dat dit nooit met jou geloof sal gebeur nie. Smeek Jehovah om hulp en bid: “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”—Markus 9:24, NW.

Wat is jou antwoorde?

◻ Wat is geloof?

◻ Waarom kan geloof nie afsonderlik van die waarheid en die heilige gees bestaan nie?

◻ Hoe het Jesus Christus die Volmaker van ons geloof geword?

◻ Waarom moet ons ondersoek hoe sterk ons geloof is?

[Venster op bladsy 13]

DIEGENE WAT GELOOF HET,...

◻ praat oor Jehovah.—2 Korinthiërs 4:13.

◻ doen werke soos dié van Jesus.—Johannes 14:12.

◻ is bronne van bemoediging vir ander.—Romeine 1:8, 11, 12.

◻ oorwin die wêreld.—1 Johannes 5:5.

◻ het geen rede om bevrees te wees nie.—Jesaja 28:16, NW.

◻ is in ’n posisie om die ewige lewe te kry.—Johannes 3:16.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel