Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/15 bl. 7-8
  • Gebede wat gewis verhoor sal word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebede wat gewis verhoor sal word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Laat u naam geheilig word”
  • “Laat u koninkryk kom”
  • “Laat u wil geskied”
  • Wanneer die Koninkryk heers
  • “Here, leer ons hoe om te bid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Lewe in ooreenstemming met die modelgebed—Deel I
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wie se gebede word verhoor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Oor gebede wat God verhoor
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/15 bl. 7-8

Gebede wat gewis verhoor sal word

DAAR is gebede wat gewis verhoor sal word. Die kern van hierdie gebede is vervat in ’n model wat Jesus Christus aan sy dissipels gegee het toe hy gesê het: “So moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”.—Mattheüs 6:9-13.

Daardie woorde van Jesus se modelgebed is al miljoene kere herhaal. Hoewel Christus nie verwag het dat sy ware volgelinge hierdie gebed bloot moes opsê nie, sal hulle versoeke, wanneer dit soortgelyke gedagtes bevat, gewis verhoor word (Mattheüs 6:7, 8). Wat beteken dit dan dat God se naam geheilig moet word? Waarom moet ons bid dat sy Koninkryk moet kom? En waarom moet ons vra dat God se wil geskied?

“Laat u naam geheilig word”

Jehovah, “die Allerhoogste . . . oor die hele aarde”, is die Een wat deur Jesus as “onse Vader wat in die hemele is”, aangespreek is (Psalm 83:18). God het die Israeliete “verwek” deur hulle uit slawerny in Egipte te verlos en deur met hulle in ’n verbondsverhouding te tree (Deuteronomium 32:6, 18; Exodus 4:22; Jesaja 63:16). Gesalfde Christene het vandag ’n tere eerbied vir Jehovah as hulle Vader (Romeine 8:15). En hulle metgeselle wat ’n aardse hoop het, bid eweneens tot Jehovah God as hulle Vader.—Johannes 10:16; Openbaring 7:1-9.

Maar waarom moet ons bid dat God se naam geheilig moet word? Wel, sedert die opstand van die eerste mensepaar in die tuin van Eden is daar oneer op die goddelike naam gebring. In antwoord op dié gebed sal Jehovah al die oneer uit die weg ruim wat ooit op sy gedenknaam gebring is (Psalm 135:13). Hy sal dit doen deur goddeloosheid van die aarde af te verwyder. Aangaande daardie tyd het God deur die profeet Esegiël gesê: “So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.”—Esegiël 38:23.

Jehovah God is heilig en rein. Daarom moet sy naam geheilig word, of as heilig afgesonder word. Hy sal sy heiligheid bewys deur op te tree om homself voor die ganse skepping te heilig (Esegiël 36:23). Diegene wat sy guns en die ewige lewe wil geniet, moet Jehovah met ontsag bejeën en sy naam heilig deur dit as afgeskeie van en hoër as alle ander name te beskou (Levitikus 22:32; Jesaja 8:13; 29:23). Gevolglik het Jesus vir sy volgelinge gesê om te bid: “Laat u Naam geheilig word” of “gewyd geag word; as heilig beskou word”. Ons kan seker wees dat God hierdie deel van Jesus se modelgebed sal verhoor.

“Laat u koninkryk kom”

Jesus het vir sy volgelinge ook gesê om te bid: “Laat u koninkryk kom.” Gebede dat God se Koninkryk moet kom, sal beslis verhoor word. Die Koninkryk is Jehovah se oppermagtige heerskappy wat beliggaam word in ’n hemelse Messiaanse regering in die hande van sy Seun, Jesus Christus, en sy mede-“heiliges” (Daniël 7:13, 14, 18, 22, 27; Jesaja 9:5, 6). Jehovah se Getuies het lank reeds uit die Skrif bewys dat Jesus in die jaar 1914 as hemelse Koning gekroon is. Waarom moet enigiemand dan in daardie geval bid dat die Koninkryk moet “kom”?

Wanneer ons bid dat die Koninkryk moet kom, vra ons in werklikheid dat dit teen alle teenstanders van goddelike heerskappy op aarde moet optree. Binnekort sal die “koninkryk [van God] . . . al daardie [aardse] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Hierdie gebeurtenis sal tot die heiliging van Jehovah se heilige naam bydra.

“Laat u wil geskied”

Jesus het sy dissipels voorts opdrag gegee om te bid: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Dit is ’n versoek dat Jehovah ooreenkomstig sy wil vir die aarde moet optree. Dit is soortgelyk aan die psalmis se verklaring: “Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes. Hy wat die dampe laat opgaan van die einde van die aarde af, bliksemstrale by die reën maak, die wind uit sy skatkamers laat uitgaan; wat die eersgeborenes van Egipte getref het, van mense sowel as van vee; wat tekens en wonders gestuur het binne-in jou, o Egipte, teen Farao en teen al sy knegte; wat baie nasies verslaan het en magtige konings gedood het.”—Psalm 135:6-10.

Wanneer ons bid dat Jehovah se wil op aarde moet geskied, vra ons dat hy sy voorneme met betrekking tot hierdie aardbol moet uitvoer. Dit sluit die algehele uitwissing van sy teenstanders in, net soos hy hulle op klein skaal in die ou tyd uitgewis het (Psalm 83:10-19; Openbaring 19:19-21). Gebede dat Jehovah se wil wêreldwyd en dwarsdeur die heelal moet geskied, sal gewis verhoor word.

Wanneer die Koninkryk heers

Vandag heers goddeloosheid in die mensegemeenskap. Maar wat kan ons te wagte wees wanneer God se Koninkryk heers en die goddelike wil op aarde geskied net soos in die hemel? Volgens die apostel Petrus “verwag [ons] volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Die “nuwe hemele” is regverdige geesregeerders—Jesus Christus en 144 000 mede-erfgename in die hemelse Koninkryk (Romeine 8:16, 17; Openbaring 14:1-5; 20:4-6). “’n Nuwe aarde” is nie ’n ander aardbol nie. Dit is eerder ’n regverdige mensegemeenskap wat op die aarde woon.—Vergelyk Psalm 96:1.

Onder Koninkryksheerskappy sal die aarde in ’n wêreldwye paradys verander word (Lukas 23:43). Ware vrede en voorspoed sal dan deur die hele gehoorsame mensdom geniet word (Psalm 72:1-15; Openbaring 21:1-5). Jy kan onder daardie gelukkige menigtes tel as jy ’n lojale voorstander van Messiaanse heerskappy oor gehoorsame aardse onderdane is. Voorstanders van hierdie heerskappy bid opreg vir die heiliging van Jehovah se naam, vir sy Koninkryk om te kom en vir sy wil om te geskied. Hulle hartgrondige gebede sal gewis verhoor word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel